Die swerfjare van COVID-19

  • 5

Gisteraand hoor ons: Lockdown. Bly tuis vir 21 dae.

Tien dae gelede hoes daar iemand in die fliek. Die filmteater by die Woordfees se sitplekke is vol.

Daar is geen kenwysie wat vooraf speel nie. In plaas van musiek, is daar die klank van ’n stempel wat klik. Tjap, tjap, Poppie Nongena.

Poppie smeek vir ’n verlenging van haar pas. Sy moet werk, haar man is siek. Die polisie weier. Sy swerf met ’n swaar gemoed terug na die huis waar sy ’n huiswerker is. Haar bekommernis hang soos ’n wolk oor haar. Sy maak skoon. Die trappe, die badkamer, al die mooi vertrekke. Sy sorg vir die mense waar sy werk se dogtertjie, borsel haar hare, lees vir haar die Bybelstorie van Sara en Hagar. Haar werkgewer kry nie die polisie oortuig dat Poppie se pas verleng mag word nie. Die protesmakers in Kaapstad ook nie. Selfs die ystervrou-maatskaplike werker met haar moederlike ontferming kan Poppie se saak nie verander nie. Die manlike sisteem onderdruk alle vroue van alle kultuurgroepe en velkleur. Poppie swerf terug na die township.

Hier talm my gedagtes, by die sinkplaathuise op die skerm. Ek sien eers die strate. Dan die binnekant van ’n doodgewone gesin se baksteenhuis, waar hulle aan tafel sit. Poppie en haar sieklike man, haar eie kinders wat sy nie meer ken nie.

My gedagtes bly by Poppie se leefwêreld, haar woedende seun met die baba wat hy nie wil hê nie. Die tienerseun wat vir haar sê dat sy hom lankal nie meer ken nie, omdat sy werk waar sy werk; en terselfdertyd verduidelik hy hoekom hy protesteer: “It is for you, I do it for you, Mama.” Haar seun draai weg van haar af in die naglig, en stap die res van die township in terwyl sy by haar eenvoudige huis bly.

Op die TV sê president Ramaphosa: “The spread of COVID-19 is extremely dangerous for a population like South Africa, with a large number of people with suppressed immunity … with high levels of poverty and malnutrition.”

Oor die film Poppie Nongena kon ek nog nie ’n woord skryf nie, omdat dit my te diep geruk het. Maar gisteraand, nadat president Ramaphosa gepraat het, kan ek nie verder daaroor swyg nie.

Verlede Sondag, met die vorige aankondiging, het die President gepraat met die middelklasmense in die land, in huise vol tegnologie en alledaagse, vanselfsprekende luukshede. Hy het woorde gebruik soos “social distancing” en “self-isolation”.

Gisteraand se toespraak was ter wille van die mense waarom nou die dag se vergete Mensregtedag in die land gevier behoort te word, in tye wanneer mense mag saamkom. Vanaand se toespraak was ter wille van Poppie Nongena. Mag sy die virus vryspring en die res van ons ook.

Mag COVID-19 ophou swerf en mag dit, na ’n onbekende aantal weke se lockdown, doodgewoon sterf.

  • Lees ’n resensie van Poppie Nongena hier:

Filmresensie: Poppie Nongena

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Janet van Eeden

    Perfectly written, Naomi. The film touched me deeply too, and I've been thinking about people in our country who have so little defence against a virus of this magnitude because of their poverty. God bless Africa.

  • Marietjie Warrington
    Marietjie Warrington

    Mooier as mooi – ’n sensitiewe relaas wat sorg vir ’n knop-in-die-keel oordenking! Dankie Naomi.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Waarom “lockdown”? Behoort Afrikaanssprekendes nie sensitief vir die idioom van Afrikaans te wees nie? In vandag (29.03.2020) se Rapport is daar die mooi Afrikaanse woord “grendeltyd”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top