Filmresensie: Poppie Nongena

  • 2

Poppie Nongena
Afrikaans en Xhosa, met Engelse onderskrifte

Draaiboek: Christiaan Olwagen en Saartjie Botha
Regie: Christiaan Olwagen
Akteurs: Clementine Mosimane, Chris Gxalaba, Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Rolanda Marais, Nomsa Nene, Deon Nebulane

Met Johnny is nie dood nie, en veral Kanarie, het Christiaan Olwagen sy reputasie as regisseur behoorlik gevestig, en Poppie Nongena bou daarop voort. Dis in alle opsigte ’n grootse film, gevul met opruiende aksie, indrukwekkende stelle en ’n outentieke inkleding, onder meer deurdat die karakters vrylik Xhosa praat.

Die bronteks is Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in 2000 tereg aangewys is as een van die honderd belangrikste romans in Afrika. Dié verhaal strek oor jare van Poppie se lewe, terwyl die film konsentreer op die waterskeidingsjaar 1976, met die uitkringende Soweto-opstande wat in werklikheid reeds deel van ’n binnelandse oorlog was.

Die draaiboekskrywers verdien absoluut lof vir die veelvlakkige uitbeelding van die komplekse Suid-Afrikaanse werklikheid: die gruwelike gekheid van die apartheidsideologie met sy onbuigsame wette; hardvogtige wit mense teenoor simpatieke wit mense; Poppie se ondergeskikte posisie as vrou, al is sy die broodwinner vir die hele gesin; die rol van die Christelike geloof sowel as Afrika-spiritualiteit; tradisie versus moderniteit; die generasiegaping van woedende kinders teen ’n verslane ouer generasie; die politieke faksies van townshipbewoners en trekarbeiders.

Die einde kom baie skielik, eintlik abrup, maar ná ’n oomblik se nadenke besef ’n mens dis perfek, want die gebeure word in die kyker se gedagtes voltooi. Só word Poppie se verhaal op briljante wyse deurgetrek na die realiteit van 2020.

Afgesien van al die ander redes waarom kykers hierdie film behoort te gaan kyk, is daar Clementine Mosimane in die titelrol – haar toneelspel is eenvoudig in ’n ander klas.

Sterre: 5

Kyk die lokprent hier:

  • 2

Kommentaar

  • Poppie was vir my op vele vlakke eenvoudig uitmuntend. Dit was my grootwordtyd. Sharpeville was in die tyd wat my stiefpa in die SAP Kollege was vir sy offisierskursus. Hulle moes daarheen opruk. Dit was ook my matriekjaar. Ons drie dogters (ek, die middelste) het alleen, saam met my ma, op die rand van die dorp gewoon. Ek het Apartheid en opstand in brute felheid geken. Terwyl ek na die film gekyk het, het alles weer in my gedagtes voor my afgespeel. Teen die einde kon ek die skoonmakertjie 'n lekker vet druk gee en vir haar sê: "I'm so very sorry for what happened." Christiaan, ek hoop jy sal nou kan verstaan dat elke keer wanneer ons mekaar raakloop ek net so graag met jou hieroor wou praat. Maar, voor ek my mond kan oopmaak, bedank jy my dat ek so goed vir jou pa was. Dit was vir my bloot 'n liefdestaak, hy was my man se kamermaat. Ek wou so baie van my herinneringe met jou deel. Soos bv toe ek self by 'n SAP-kantoor gewerk het. Hoe ek elke keer as die vangwa ingery het en hope paslose wesens in die klein vertrekkie agter die aanklagkantoor ingeprop het, beleef het. Ek het die vuiste hoor klap en kon later
    die bloedspatsels teen die mure sien. Daar is nog baie meer wat ek jou kan vertel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top