What the water remembers: ’n onderhoud met Pieter Odendaal

  • 0

..........

“Die produksie is gegrond in die onlangse droogte in Kaapstad, maar kring uiteindelik uit om die persoonlike, politieke, historiese en geestelike weerklanke van water in die Moederstad in Afrikaans, Engels, Xhosa en Somalies te ondersoek.”

..........

Cliffordene Norton gesels met Pieter Odendaal oor digkuns en die poësieproduksie What the water remembers, wat tydens die Toyota US Woordfees (6–15 Maart 2020) te siene is.

Jy neem tydens die 2020-Woordfees deel aan die veeltalige poësieproduksie What the water remembers. Vertel asseblief meer oor die stuk.

What the water remembers is die hoogtepunt van my PhD-navorsing by Queensland University of Technology oor hoe spoken word poetry ons veranderende verhoudings met die meer-as-menslike wêreld kan verwoord. Die produksie is gegrond in die onlangse droogte in Kaapstad, maar kring uiteindelik uit om die persoonlike, politieke, historiese en geestelike weerklanke van water in die Moederstad in Afrikaans, Engels, Xhosa en Somalies te ondersoek.

Voor: Lwanda Sindaphi en Afeefa Omar, agter: Toni Stuart en Pieter Odendaal

Na verskeie werkswinkels en waterbesoeke het ek, Lwanda Sindaphi, Toni Stuart en Afeefa Omar saam die poësieteks geskryf, en met behulp van die regisseur Jason Jacobs, sangeres Babalwa Zimbini Embo Makwetu en multi-instrumentalis Nceba Gongxeka het ons lewe in die woorde ingeblaas.

..........

“Wat van mý moet ek prysgee om beter na water te kan luister?”

..........

Uiteindelik probeer ons sin maak van die voortslepende traumas rondom water en hoe poësie ons kan help om hierdie traumas te begin genees.

Met die onlangse vure in Australië is die impak van klimaatsverandering weer eens beklemtoon. Hoe voel jy kan digkuns ’n bydrae lewer tot bewusmaking oor klimaatsverandering?

What the water remembers is een konteksspesifieke antwoord op jou vraag. Die geskiedenis van protespoësie in Suid-Afrika bied ons ook vele voorbeelde van hoe digters gedigte gebruik om gemeenskapskwessies aan te spreek.

What the water remembers-poësieproduksie

Ek dink egter nie dat poësie se enigste, of dalk selfs belangrikste, bydrae in bewusmaking lê nie – daar is berge artikels wat feitelike inligting oor die effekte van klimaatsverandering op globale en plaaslike vlak verskaf. Maar miskien kan gedigte eerder help met die verpersoonliking van al hierdie inligting, om ’n interne landskap te skryf/kweek vir die tye waarin ons leef. Die kombinasie van potensiële reikwydte en spesifisiteit beteken dat gedigte oorweldigende krisisse soos klimaatsverandering intens voelbaar kan maak; terug “aarde” toe kan bring.

“Ek wil graag meer optree, my hand aan teatertekste waag en miskien ’n roman aanpak.” – Pieter Odendaal

Hoe rou ’n mens byvoorbeeld die onlangse dood van meer as 500 miljoen diere in Australië? Wat van mý moet ek prysgee om beter na water te kan luister? Waar lê die brûe tussen die persoonlike en die planetêre?

Wie is opkomende digters na wie lesers moet uitsien?

Ashwin Arendse, Tshiamo Malatji, Ryan Pedro, Chrystal Williams, en Afeefa Omar.

Wat is die huidige stand van Suid-Afrikaanse digkuns?

Ons vaar nie te sleg nie. Verkope was nog altyd klein gewees vir poësie, maar wat my opgewonde maak, is die fisiese en digitale platforms vir spoken word wat steeds groei, en die internasionale aandag wat jong stemme soos Koleka Putuma geniet. Dit beteken dat die digkuns hier, soos elders in die wêreld, nuwe maniere vind om te floreer, en dat meer mense aan belangrike stemme blootgestel word.

“Na verskeie werkswinkels en waterbesoeke het ek, Lwanda Sindaphi, Toni Stuart en Afeefa Omar saam die poësieteks geskryf.” – Pieter Odendaal

Ander jongelinge, soos Siphokazi Jonas wat deesdae poësie/teater cross-overs nes What the water remembers doen, die formidabele Tshiamo Malatji wat ’n stuk of 40 digters by UV met sy Poetry Club lei, en die uitgewer Vangile Gantsho (Impepho Press) is drie voorbeelde van vele wat self sorg dat die digkuns aanhou uitdy.

Watter Suid-Afrikaanse digters inspireer jou?

In terme van genesingswaarde: Malika Ndlovu, Vangile Gantsho, Phillippa Yaa de Villiers, Toni Stuart. In terme van vakmanskap: Antjie Krog, Jolyn Phillips, Ronelda Kamfer, Loftus Marais.

Watter drome wil jy binne die volgende vyf jaar bereik?

Ek sal eerstens graag die PhD agter die rug wil kry (nog ses maande oor – jippie!). Andersins wil ek graag meer optree, my hand aan teatertekste waag, miskien ’n roman aanpak en uiteindelik ’n plekkie vind waar ek rustig saam met my langafstandliefde kan woon.

    • Foto’s: Retha Ferguson

Kom woon die What the water remembers-poësieproduksie in die Adam Small Laboratorium tydens die Toyota US Woordfees by.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top