Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie

  • 2

Stormkind
Riana Scheepers

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084303

Riana Scheepers se jongste roman het pas by Tafelberg verskyn en neem die leser op ’n stormreis tussen droom en werklikheid. Dit is ’n roman wat verskillende grense oorskry: jeugliteratuur, plaasroman, magiese realisme, geskiedenisroman, vroueliteratuur, sprokies en mitologieë.

’n Vername tema van Scheepers se vroeë werke is die sterk vroulike karakters – en in dié roman kom hulle weer voor. Stormkind handel oor die verhale van vyf vroue; die manlike karakters is net randfigure.

Die roman vertel in die hede die verhaal van Jana van Deventer (Stormjana) wie se ma tien jaar tevore in Ierland verdwyn het. Die gegewe van ’n moederlose dogtertjie wat alleen grootword en haar ma mis, is nie iets nuuts in die Afrikaanse letterkunde nie. Maar die interessante Jana-karakter wat Scheepers geskep het, maak haar uniek en besonders. Jana loop in haar slaap, veral as die wind verwoed waai tydens storms. Sy gaan in ’n ander magiese wêreld in waar werklikheid en droom ineengevleg raak. Sy sien byvoorbeeld die spookperd, Tarsis, en dwaal vreesloos rond sonder dat daar iets met haar gebeur. Een aand ontmoet sy die Boesmandogtertjie !X’uri wat haar leer om nie net te kyk nie, maar om werklik te sien, sodat sy die antwoord op haar ma se verdwyning kan verskaf.

Tussendeur word die jeugverhaal van Jana se ouma Lien vertel en van haar vriendskap met Letjie Stamboom, wat vir Lien se ma gewerk het en ’n Boesman-afstammeling is. Letjie leer vir Lien van die geheime van die Boesmans net soos !X’uri vir Jana leer van intuïsie en die gebruik van haar sintuie. Die leser besef later dat Letjie en !X’uri een en dieselfde mens is. Pragtig uitgebeeld is die besonderse verhouding en band tussen ouma en kleinkind: “Dit is Jana se plek hierdie, haar en ouma Lien se plek” en “Ek het so gretig vir jou gewag, Jana! Die dag toe ek gehoor het jy is op pad, was ek die blyste mens op aarde.”

Die volgende verhaallyn is dié van Deidre O’Donnell, ’n Ierse rooikop (wat fluit speel) op wie Jana se pa verlief raak toe hy saam met die universiteitskoor deur Ierland toer. Deidre keer, toe Jana drie jaar oud is, terug na Ierland om haar sterwende ma te gaan groet en verdwyn dan spoorloos. En dit is hierdie gebeurtenis wat aanleiding gee tot die dwalende en soekende Jana en die verlangende pa-figuur wat nou tien jaar later terugkeer na Ierland om finaal te probeer vasstel wat met Deidre gebeur het.

Tipies Scheepers is die verbintenis met Afrika duidelik in die roman te bemerk. Die verbintenis met die natuur en die grond kom op vele plekke duidelik na vore – soos gesien kan word aan onder meer die hoofstuktitels, soos “Storm”, “Klip”, “Vuur” en “Winter”, om enkeles te noem. Soos in vorige werke van Scheepers is die rol van die voorvadergeeste en die mitologieë van Afrika belangrik – soos gesien in die karakters van Letjie en !X’ure. Asook Skeelpiet wat spoke kan sien: “Wat dit nog erger maak van dié ou plase, is dat dit nie net een soort nasie is wat spook nie. Dis nie net sy eie mense wat snags woelig is nie, maar Slamaaiers en Engelse en Franse en sommer ’n paar Boesmans op die koop toe ook.”

Fyn verweef in die roman is die oordra van die kultuur en kennis van en oor die Boesmans: ons lees hoe !X’uri vir Jana vertel dat die wind eers ’n meisie was, en Letjie vertel vir Lena om die vallende ster te gaan kry wat dan ’n klip word. !X’uri leer vir Jana om na die wind te luister sodat sy kan hoor waar haar ma is of om te ruik waar die stroompie water is. Die (pedantiese?) voorwoord sê: “Hierdie boek word met deernis opgedra aan die eerste inwoners van ons land, die Boesmans. Hulle het ’n beskawingspeil gehad waarvan ons maar net kan droom.”

Die roman toon weer eens Scheepers se meesterlike en byna poëtiese taalgebruik: “nagloopkind”, “bloedrooi robyne”, “matjiesmure”, “sterklip”, “Die hele lug is vol musiek” en “Die Melkweg lê in ’n dik roomstreep oor die lug”. Treffend is die stormbeeld wat ’n deurlopende motief word: die voorblad verbeeld ’n windverwaaide gesig; die plaas se naam is Stormkloof; daar is Kleinstorm en Oustorm en Stormjana; en tussendeur is daar alles wat met storms verband hou: weerlig, wind, donderweer. Die verhaal begin met ’n storm in Afrika en eindig met ’n storm in Ierland – dit verskaf ’n redelik sikliese verloop aan die roman. Die taalgebruik is so beeldend dat mens as leser die gebeure sintuiglik beleef: jy hoor en voel die wind wat verwoed waai; jy hoor en sien die weerligblitse; jy sien vir Tarsis wat ronddwaal in die nag; en jy sien vir Raka in Ierland. Die leser word magies ingesleep in die wonderwêreld wat Scheepers skep.

In die roman kom intertekstualiteit voor: daar is verwysings na sprokiesverhale, byvoorbeeld: “Ek sal blaas en ek sal blaas tot ek jou huisie omblaas, grom die gruwelike wolf.” Jana se hond se naam is Raka. Hy beskerm haar en pas haar op en volg Jana orals waar sy gaan – hy is selfs in Ierland om haar te beskerm toe sy haar ma in die stromweer gaan soek. Daar is verwysings na ’n Bruce Springsteen-liedjie en ’n tradisionele Ierse liedjie. Voor in die boek is ’n aanhaling uit DH Lawrence se gedig “Cypresses” wat ook na die belangrike tema van voorvaarders en die geheimenisse van die lewe verwys.

Scheepers het haar al bewys as ’n meesterskrywer van jeugverhale, kortverhale en volwasseneverhale. Sy stel in Stormkind nie teleur nie. Sy skryf toeganklik en oop vir die leser en neem ons op ’n magiese reis oor die landskappe van Afrika en Ierland.

  • 2

Kommentaar

  • Alnanto Henley

    Ek het ook die boek gelees. Dis rêrig 'n baie interesante boek wat ek eendag vir my kinders kan vertel, of vir hulle lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top