Tertius Kapp oor Rooiland

  • 0

Die dramaturg Tertius Kapp se jongste toneelstuk, Rooiland, is op die oomblik by die Baxter-teater in Kaapstad te sien. Hy beantwoord enkele vrae.

Goeiedag, Tertius. Hoe gaan dit?

Dag Henry. Dit gaan goed dankie. Dis lente in Pole. 

Jou jongste toneelstuk, Rooiland, is op die oomblik te sien by die Baxter-teater in Kaapstad. Die stuk maak al sedert die debuut opslae – hoe voel jy oor die reaksie? Het jy dit voorsien?

Rooiland verbaas my steeds. Hiermee bedoel ek nie dat ek die produksie geringskat nie - inteendeel, ek is nou darem kordaat genoeg om te sê ek dink dis 'n goeie teks, en dat Jaco en die produksiespan 'n geweldig goeie vertolking daarvan lewer.

Rooiland het egter amper 'n stille dood gesterf. Dit is in 2008/2009 geskryf as deel van die Aardklop-teksontwikkelingsprogram. Daar was grondige kritiek op die eerste weergawe van die teks, maar ek het met terugvoer van Rosa Keet gewerk aan die teks tot by 'n finale weergawe – eintlik 'n totaal herskrewe teks, waar slegs die name van die karakters nog dieselfde was. Op daardie stadium het ek gevoel dit was iets waarop mens trots kan wees. 'n Toneelteks is egter niks sonder 'n produksie nie, en daar was nie veel entoesiasme om dit te vervaardig nie. Terselfdertyd het ander projekte waaraan ek in Suid-Afrika gewerk het, ook stilgestaan, en ek het dus besluit om van die geleentheid om in Pole te doseer gebruik te maak – dit het ook geblyk ’n goeie besluit te wees. Op hierdie stadium was Rooiland 'n dokument op 'n afgeleë lêer in my rekenaar. Dit is toe wel vir Aardklop 2011 vervaardig, en selfs toe het ek nie geweet hoe gehore en resensente gaan reageer nie. Gelukkig was hulle toe, ten spyte van die moeilike inhoud van die toneelstuk, positief. Dit wys mens seker dat teksontwikkelingsprogramme broodnodig is. 

Wat dink jy is die elemente van die stuk wat teatergangers so treffend vind?

Ek dink dit is die bekende onbekende elemente. Ons het al almal (dalk onwetend) weergawes van tronktaal gehoor, selfgemaakte tatoeëermerke uit die tronk gesien. Op een of ander manier weet ons dat daar iets soos ’n 28 en ’n 27 is. Die Departement van Vervoer gebruik selfs tronkgeweld om ons te probeer oorreed om die wet te gehoorsaam. Ek dink Rooiland maak ’n deur oop op hierdie geweldig interessante, dog vreesaanjaende wêreld. Gelukkig is dit ook, in terme van mitologie en narratief, ’n ryk en komplekse omgewing wat ’n mens bly intrek en nuuskierig hou.

Hoe het die idee vir die stuk ontstaan en hoe het die konseptualisering verloop?

Ek het gesukkel met ’n ander ruimtelike teks, genaamd Gyselaars (wat toe nooit gerealiseer het nie). Dit wou nie werk nie, en ek was terselfdertyd besig om Jonny Steinberg se The Number te lees. Dit was duidelik dat daar baie dramatiese materiaal was om mee te werk, en ek het die nuwe projek begin. Aanvanklik was die teks se naam Doggy Dog, gebaseer op die Nieuwoudtville-moorde in die 1990’s, en later Frans (oor ’n ongeïnisieerde in die tronk). Toe hulle die stuk begin vervaardig, was dit egter pas na my pa oorlede is. Sy naam was Frans, en ek wou nie enige verwarring skep nie. Rooiland het hom voorgedoen as ’n baie goeie plaasvervanger (dit is die bees waarvan die vel gebruik is om die bende se wette op te skryf – dit is nou in die mitologie van die tronkbendes). Ek is baie bly ek het die nuwe naam gekies.
Verder het dit maar soos ander konseptualiseringsprosesse verloop: karakters begin verskyn, eers as geraamtes waarop die vlees stadig groei, en dan begin moontlike eindes vorm kry, mens begin skryf en verander alles oor en oor totdat die teks op sy eie bene kan staan.

Die stuk spreek maatskaplike kwessies aan – oftewel, die temas hou verband met maatskaplike kwessies. Het jy met die aanpak van die stuk gevoel daar moet ’n “boodskap” wees met stukke van dié aard, of hoe benader jy dit?

Nee. Ek is versigtig vir boodskappe van enige aard. Hulle maak tekste vroeg oud, en daar is ook ’n mate van arrogansie daarin om te wil aktivis wees vir ’n maatskappy waar jy ’n buitestander is.

Watter navorsing het jy gedoen voor en/of terwyl jy die stuk aangepak het?

Ek het draaiboekskryf-werkswinkels aangebied in Pollsmoor, waar ek ’n aantal gevangenes redelik goed leer ken het. (Ek sou graag weer so ’n projek wou aanpak.) Een van hulle het my gehelp met ’n bietjie Salambom en ek kon ’n indruk kry van hoe dit moet wees om in die tronk te leef. Kom ons sê maar net wanneer ek hoor dat mense sê “Dis lekker in die tronk; misdadigers gaan soontoe vir vakansie”, skud ek my kop in ongeloof.

Verder het ek alles wat ek oor tronk- en misdaadkultuur kon kry, gelees. Jonny Steinberg, Charles van Onselen, Nicholas Haysom, KDP Makhudu, ’n verhandeling deur ene Andries Weyers, ensovoorts. Die lekker aspek daarvan is dat ek dit nou self kan gebruik vir navorsingsdoeleindes. Trouens, ek is oor ’n uur of twee op pad na ’n kongres in Amsterdam, waar ek oor die tronkmitologieë gaan gesels.

Dink of hoop jy die aard van die stuk (die eerlikheid, dapperheid en dies meer word wyd geprys) sal ’n nalatenskap in Afrikaanse teater laat, met regisseurs en skrywers wat deure meer oop sal vind om moeilike onderwerpe te takel?

Ek het al dinge op ’n verhoog gesien wat net so “hard” is soos Rooiland. Verkragtingstonele is seker omtrent so oud soos teater self. Teater, met sy kleiner begroting (as byvoorbeeld televisie of film) leen hom juis tot die verkenning van moeilike onderwerpe – ’n mens kan daardie kans waag. Internasionaal word dit ook dikwels so aangewend. Daarom is dit belangrik dat ons dit in Suid-Afrika ook doen, sodat ons kan loskom van die naïewe propaganda wat dikwels op ons TV-skerms opgedis word. Ek wil regtig nie voorgee dat Rooiland die eerste stuk is wat eerlikheid en dapperheid aan die dag lê nie. Selfs ons eie werk het al voorheen gehoorlede laat flou val. Maar as dit die stuk is wat by ’n beduidende groep teaterlui die oortuiging vestig dat dit in Afrikaanse teater ook mag, dan is dit goed. Ek verwonder my aan die akteurs se stamina om dit aand na aand te doen.

Hoe behou jy in Pole jou verbintenis met Suid-Afrika en Afrikaans, of vind jy dit maklik om jou in jou gedagtes te vervoer terwyl jy skryf?

Ek is in Pole amper meer besig met Suid-Afrika en Afrikaans as toe ek in Suid-Afrika was! Ek werk hier by die Departement van Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies aan Adam Mickiewicz Universiteit in Pozna?, en die druk om Suid-Afrika aan studente te “verduidelik” gee mens self soveel nuwe insigte in die land en sy geskiedenis dat dit eintlik ook ’n hele kopskuif teweegbring.

Rooiland het ’n paar toekennings opgeraap. Hoe voel jy oor hierdie soort toekennings in die algemeen en die relevansie daarvan in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf?

Hulle is baie belangrik om erkenning te gee aan besonder talentvolle mense wat hul gatte af werk om ’n lewendige teaterbedryf aan die gang te hou. Dit is baie relevant, en alhoewel dit altyd moeilik is met subjektiewe beoordeling, help dit ’n breë gehoor om goeie teater te leer ken.

Wat hou die toekoms in vir jou as dramaturg, of met watter ander projekte hou jy jou besig?

Ek het pas klaar herskryf aan ’n teks genaamd Oorsee, ’n donker komedie wat hopelik op een of ander stadium op die planke sal verskyn. Ek is nog nie reg om die volgende projek te beplan nie, maar ek wil ook werk aan die kortverhale en gedigte wat op my hardeskyf lê. Verder verhuis ek binnekort na Oos-Londen, waar ek in die Universiteit van Fort Hare se Departement Afrikaans gaan klasgee.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top