Biebouw-resensie: Oorsee deur Tertius Kapp

  • 0

Titel: Oorsee
Outeur: Tertius Kapp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624070801

Koop Oorsee by Kalahari.com

Tertius Kapp, bekend vir sy aangrypende werk Rooiland,wat die verhaal vertel van vier karakters in ’n Pollsmoor-tronksel, skep dié slag ‘n satiriese apokaliptiese verhaal met sy nuwe drama, Oorsee. Kapp skep ’n komplekse teks wat wemel van bekende Afrikaanse verwysings van die Bybel tot NP Van Wyk Louw. Hy kry dit reg om standhoudend ‘n kontras tussen hierdie sterk Afrikaanse verwysings op te stel, en skep sodoende ‘n geloofwaardige beeld van die parodie wat die Afrikanervolk is.

Oorsee vertel die storie van die Waterboers en die Verfkanne, twee gesinne wat al vir ’n geruime tyd saam op ’n skip op see vasgevang is. Alhoewel die struktuur van die teks redelik eenvoudig is, is dit die aard van, en verhouding en kommunikasie tussen, die vyf karakters wat aan die teks sy kompleksiteit verleen.

Die karakters kan nie as tradisionele argetipes beskryf word nie, maar hulle is noukeurig geskep om baie definitiewe rolle in die Afrikanervolk te verteenwoordig en/of te parodieer. Mossie (Marius Waterboer) speel deur verwysing en beskrywing direk in op die Griekwaleier Andries Waterboer. Marius is die “ontnugterde volksvader”. Mossie is ook die een wat deur “die Asem” geroep is om van die berg soos ’n tafel, waar die volk ná ’n groot storm vasgevang gelê het, noordwaarts te seil, na die beloofde land van “melk en heuning”. Alhoewel hierdie karakter sterk ooreenkomste toon met die Bybelse Moses en Noag, staan geloof hom ironies genoeg glad nie aan nie en het hy byna alle vertroue in die bestaan van “die Asem” verloor. Mossie het wel ’n verskeidenheid heilige tekste op die skip saamgebring, onder andere Germanicus en werke van DJ Opperman, Adam Small en ander wat die kanon voltooi. Hy het homself as beskermheer daaroor aangestel en eer die inhoud daarvan bo alle ander kennis. Die kanon word die een en enigste soort leermateriaal op die skip en word saamgeneem as ’n sleutelelement wat saam met die nuwe volk in stand gehou moet word.

Direk teenoor Mossie staan Josua (Jos) Verfkan. Jos klou verbete aan die woord en belofte van “die Asem”. Ironies, daarteenoor, is hy egter ook die een wat swig onder sy begeertes en wat die grootste swakheid van gees toon. Hiermee sou mens kon sê dat Kapp streng kommentaar lewer op die gevolge van blindelingse ondeurdagte geloof wat ’n groot deel uitmaak van die tradisionele Afrikaner-mentaliteit, dikwels ten koste van integriteit en opregtheid.

Eeufeesia Verfkan, die “volksmoeder”, staan as simbool van vroulikheid in die teks. Dit is interessant dat Kapp haar “noordelike Afrikaans” laat praat; en tesame met haar naam, wat klink op die ikoniese eeufees, is sy die ware Afrikanervrou. Gepas is sy dan ook hoof van die departement van voedselsekerheid.

Die jongmense op die skip staan in sterk kontras teenoor mekaar as ’n moontlike voorstelling van die “jeug van vandag”. Die “dom maar nie kwaadwillige” Abraham

(Abrie) Verfkan, met ’n WP-truitjie en naïewe geloof, teenoor Canola Waterboer, die “Yolandi Vi$$er” van die skip, wat deur intelligensie en nukkerigheid belas word. Dié twee teenpole, wat vir almal op die skip die hoop vir die voortbestaan van die uitverkore volk is, stel ’n misleide Afrikanerjeug voor.

Oorsee as parodie speel in op die ironieë van die Afrikanervolk en lewer sterk en kritiese kommentaar daarop. Alhoewel ek die stuk al vantevore op die verhoog gesien het, kry dit ’n ander en nuwe lewe by die lees daarvan. Die teks is haarfyn beplan en bestaan uit laag op laag van intertekstuele, populêre en tradisionele kulturele verwysings. Die digtheid van die teks maak dit byna onmoontlik om met alles tred te hou in ’n opvoering en gevolglik is dit, bo en behalwe die sukses van die toneelstuk op die planke, ideaal vir letterkundige studie.

Kapp vra belangrike en uitdagende vrae oor die plek van tradisie en dit waarop ’n volk se kultuur baseer word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top