1. Inleiding
Tertius Kapp word in 2015 bekroon met die Hertzogprys vir sy dramas Oorsee (Tafelberg, 2014) en Rooiland (Tafelberg, 2013). Hierdie dramas is tevore reeds met ander pryse bekroon – onder andere die AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir beide Oorsee (2013) en Rooiland (2011) en ’n Fleur du Cap-prys vir die Beste Nuwe Suid-Afrikaanse Teks vir Rooiland (2014). Ander tekste uit sy pen sluit gedigte in wat in Nuwe Stemme en Groot verseboek opgeneem is. Kapp het die libretto vir die onlangse opera Poskantoor geskryf en dié het ook opslae gemaak en ’n toekenning vir die Beste Produksie by die Clover Aardklop Kunstefees (2014) ingepalm. Op die filmtoneel is Kapp veral bekend vir sy verwerking van die romans Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer, geskryf deur Anchien Troskie, in die rolprent Dis ek, Anna, onder die regie van Sara Belcher en vervaardig deur Niel van Deventer.
Emma Kotze skryf in ’n resensie: “Oorsee as parodie speel in op die ironieë van die Afrikanervolk en lewer sterk en kritiese kommentaar daarop” (Kotze 2014). Verder skryf sy dat die teks kompleks is met sterk en bekende Afrikaanse en Bybelse verwysings. Volgens Marius Crous se resensie (2015) is die teks nie net “Afrikaner-bashing” nie, maar ook ’n teks wat vrae stel oor “nasionalisme, eksklusiwisme, maar ook die vasklou aan die eie en die bekende”.
2. Oorsee
Van die temas wat identifiseer kan word in Oorsee is onder andere ’n soeke na die verstaan van die Afrikaner-identiteit, ’n ondersoek na die Afrikaner-mentaliteit, integriteit, opregtheid, die plek van tradisie en rituele, die afbreek van die sogenaamde heilige koeie, vervreemding, die absurde, ’n verbruikerskultuurbewussyn, die Woord en taal, primitiwiteit teenoor kannibalisme en aardsheid, of die dierlike, die relatiwiteit van geskiedenis, onskuld, die vervlakking van kennis en kultuur, rituele offerandes en selfmoord, die digotomie van utopie en distopie, die verbrokkeling van magstrukture en lewe en dood.
Die absurde manifesteer in Oorsee deur middel van die konflik tussen die hede, die verlede, die moontlikheid van ’n utopiese toekoms en die verbrokkeling van die verwysingspunte en gesagstrukture van die verlede. Die verlede word gerelativeer binne die konteks van die hede en die Suid-Afrikaanse werklikheid dien as verwysingspunt vir bekende gesagstrukture wat die leser in staat stel om die absurditeite van die werklikheid waar te neem.
In die teks is daar twee generasies karakters wat sin probeer skep in ’n postapokaliptiese wêreld waarin bestaande magstrukture verval het en waar die jonger generasie nie kennis dra van die gesagstrukture en kultuurkodes waarmee die ouer generasie bekend was nie. Dit is veral ook teen die agtergrond van ’n distopiese hede en die uitkyk na ’n utopiese toekoms wat die Absurde manifesteer.
Intertekstuele verwysings na die utopiese ideale en karakters in Shakespeare se The Tempest word in Oorsee betrek. Lesings van die teks moet hierdie agtergrond in berekening bring. Die karakter Mossie wys ooreenstemminge met Prospero, Canola met Miranda, en Abrie met Caliban. In sommige gevalle is daar direkte ooreenstemminge tussen die tekste en in ander gevalle gaan dit spesifiek oor die verskille tussen die twee tekste, of karakters, waardeur ’n satiriese effek tot stand gebring word.
Die ruimte waarin die handeling plaasvind, is op ’n skip wat onderweg is na ’n onsekere bestemming, en die bestemming verteenwoordig die moontlike utopie. Op die skip is daar vyf passasiers wat twee generasies en twee families, die Verfkanne en die Waterboers, verteenwoordig. Die skip is verslete en die karakters is al vir ’n onsekere tyd op die skip – langer as minstens 16 jaar (Kapp 2014:25). Wanneer die karakters moet uitwys presies waar hulle is, kan hulle ook nie sê nie, soos wat aangedui word uit Mossie se “Waar de donner is ons?” (27).
Die leser is nooit presies seker wat gebeur het dat die karakters op die skip beland het nie. Daar is slegs ’n vae “Noag en sy Ark” mitologiese verwysing uit die Bybel wat ’n moontlike refleksie kan wees op wat min of meer gebeur het (31). Die leser is onmiddellik in ’n postapokaliptiese hede gedompel en moet die situasie met al sy onsekerhede aanvaar, aangesien die karakters se vertellings van die verlede heeltemal relatief is en hulle vertellings daarom ook nie vertrou kan word nie. Die leser kan daarom ook net dít glo waarmee hy direk in die teks gekonfronteer word.
3. ’n Ou en Nuwe Wêreld
Die leser is onmiddellik bewus van die onderskeid tussen ’n ou en ’n nuwe, voorgestelde wêreld wanneer die karakters ’n heildronk instel, op “die toekoms”, “[d]ie verlede” en dan “[d]ie Nuwe Wêreld” (12). Saam met hierdie bewussyn is daar ook die besef dat die karakters in ’n liminale ruimte leef – ’n ruimte tussen die Ou Wêreld en die Nuwe Wêreld, ’n onbekende bestemming waarheen hulle onderweg is. Die karakters se heen en weer tussen rituele en herinneringe van die Ou Wêreld en ideale en drome van die Nuwe Wêreld dui eweneens op hierdie liminaliteit.
Die liminale wêreld waarin die karakters hulle bevind, kan egter beskryf word as ’n distopie as gevolg van die verskillende elemente wat as negatief ervaar word; voedselskaarste (14); Eeufeesia wat sê die “son suig die laaste klamte uit my uit” (11); en die karakters se uitsigloosheid wat Canola beskryf wanneer sy sê: “Geen siel op die horison nie. Net see, see, see” (11). Die karakters verwys ook gedurig na dinge uit die Ou Wêreld wat hulle mis, byvoorbeeld melktert, malvapoeding, rugby en so meer (15, 23). Die beelde van die hede is dus alles uiters negatief, en daarom die distopiese beeld.
Die verwagting van die Nuwe Wêreld word deur die ouer generasie by die jong generasie geskep, soos wat gesien kan word deur Abrie se woorde: “Ma sê ons is op pad na ’n nuwe wêreld. Melk en heuning” (14). Mossie is egter die karakter wat sinies is oor die bestaan van hierdie Nuwe Wêreld en die eiland waarheen hulle op pad is en hy sê: “Nou praat jy mos die kind se kop level vol stront […] [h]oop? Op wat?” (19). Onmiddellik word daar kontras en spanning geskep tussen ’n verlede en ’n toekoms wat ’n moontlike utopie is.
4. Die toekoms – utopie
Volgens die geskiedkundige Russell Jacoby is daar twee vorme van utopie waarna die term utopie kan verwys: eerstens die “blueprint utopianism”, wat implisiet is in die verwesenliking van ’n utopiese samelewing deur ’n regering, en tweedens ’n “iconoclastic utopianism”, wat verwys na die noodsaaklikheid vir die bestaan van die idee van ’n utopie in die verbeelding (Greene 2011:2). Die tweede definisie hou ook verband met die definisie van ’n utopie soos wat dit uiteengesit word in die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) (Odendal 1994:1140), waar ’n utopie beskryf word as ’n “[d]enkbeeldige land waar vrede, geluk en welvaart heers; ideale verblyfoord” of ’n “[d]roombeeld, denkbeeldige ideaal”. Verder is utopiese ideale gewoonlik “nostalgiese projeksies” van ’n herstruktureerde verlede of verafgeleë toneel in die toekoms of in ’n fantasiewêreld (Greene 2011:2). Die idee van ’n utopie word gewoonlik geskep met die doel om ’n beter of alternatiewe sisteem vir die regerende sosiale, politieke en kulturele sisteme te bied. Die ou orde moet egter tydelik opgehef word voor enige veranderinge kan plaasvind (Bulger 1994:38).
In Oorsee probeer die ouer generasie steeds om die ou orde in stand te hou, maar die ou orde word relatief en sal opgehef word en die nuwe orde sal tot stand kom in die Nuwe Wêreld, of utopie. Dit is egter ook duidelik dat ’n nuwe orde daargestel móét word vir die mens se voortbestaan, andersins sal die mens as spesie uitsterwe. Mossie se voorstel om “’n magsvakuum te skep waarbinne tydelike anargie ’n nuwe orde op die been kan bring” (51) is krities belangrik, want indien dit sou plaasvind, kan dit moontlik tot die uitsterwe van die menslike spesie lei. Die bereidwilligheid van alle burgers om by die voorskrifte van die nuwe samelewing te hou is dus krities vir die sukses van so ’n nuwe samelewing.
Die reisigers wat vanaf die Ou Wêreld na die Nuwe Wêreld, of die utopie, reis, dra met hulle saam vooropgestelde idees, ouwêreldse konsepte en gelowe wat hulle die Nuwe Wêreld sal inneem, maar dit is ook so dat deur die reistogte die ouwêreldse idees agtergelaat, verlore en vergete sal raak (Frey 1979:34). In Oorsee is hierdie proses duidelik aan die gebeur en die leser is daarvan bewus deur die relativering van die geskiedenis in die monde van die karakters. Die kis met die boeke op die skip verteenwoordig die kanon van die letterkunde van die Ou Wêreld en dit verteenwoordig alle kennis en alles wat belangrik was van die ou orde en wêreld. In The Tempest word Prospero en sy dogter uitgespoel op die eiland met ’n kis vol boeke. Die kis vol boeke is ’n simbool van mag en ook die magiese en dit is simbool van kennis en verteenwoordigend van die “Renaissance man” van die Renaissance-tydperk. Teen hierdie agtergrond is die kis met boeke in Oorsee ook ’n kragtige simbool en dra dit al hierdie betekenisse oor in die teks. Mossie word uitgebeeld as die wyse man wat al hierdie kennis in pag het en wat bemagtig word deur woorde en wysheid. Die ironie is dat die mag van die woord gerelativeer word deur die absurde.
Soos in The Tempest is Mossie besig om vir Canola te onderrig uit die boeke in die kis en haar onderrig sal haar voorberei om uiteindelik die perfekte kandidaat te wees om die Nuwe Wêreld, of utopie, te betree en te regeer. Abrie se karakter kan parallel gelees word met Caliban, die kannibaal in The Tempest, wat die aardse, fisiese, of die blote natuurlike of dierlike van die mens voorstel. Abrie se karakter staan in kontras met Canola wat die intellek en rede verteenwoordig. Abrie besef egter dat die rede en intellek belangrik is en hy vra vir Mossie dat hy die geskrifte wil leer “[l]ees én verstaan” (46). Die ironie is dat Mossie deur sy rede en wysheid probeer regeer, maar steeds ’n toestand van “tydelike anargie” (51) voorstel, wat dui op die kannibalistiese of barbaarse.
Die karakters se toekoms – en die Nuwe Wêreld – is afhanklik van die voortbestaan van die kinders en dit is dus belangrik dat Abrie en Canola die “fakkeldraers” sal wees en die “wêreld van man en vrou betree” (25). Jos en Eeufeesia is bewus van hierdie situasie en alhoewel Mossie seer sekerlik ook hierdie wete deel, wil hy nie hê dat sy dogter met Abrie ’n toekoms moet deel nie, omdat Abrie verstandelik gestremd is. Mossie is egter negatief oor die toekoms en bestaan van die Nuwe Wêreld en dring daarop aan dat Canola die keuse gegun sal word of sy saam met Abrie hierdie wêreld wil betree al dan nie (26). Volgens Mossie is die toekoms nie definitief ’n utopiese toekoms nie. Die ander karakters sien uit na ’n moontlike toekoms wat positief kan wees en die land word deur Abrie beskryf as die land van “[m]elk en heuning” (19).
5. Die hede – distopie en die absurde
Lees ook: |
---|
• Biebouw-resensie deur Emma Kotzé: Oorsee deur Tertius Kapp |
• Onderhoud: Tertius Kapp oor Rooiland |
• NP Van Wyk Louw-gedenklesing deur Tertius Kapp: “Met bier en bloed en dans en trom” |
Die karakters verwys deurgaans na dinge van die Ou Wêreld wat voorwerpe, aksies, rituele, godsdienstige elemente, asook plekke insluit, soos byvoorbeeld rugby (15), skaaptjops, soetpatats (17), malvapoeding, melktert (23), Koffiefontein, Vorsterplein en Sharpeville (60). Enersyds word die leser in sommige gevalle daarvan bewus gemaak dat die karakter van die onderliggende betekenisse bewus is, andersyds kan die leser by tye sien dat die karakters onbewus is van die betekenisse van die dinge waarna verwys word.
Daar is ’n proses wat plaasvind waarin die verlede al hoe meer gerelativeer word, selfs in die mond van die ouer generasie, vir wie die verlede al hoe vaer word, en alhoewel die magstrukture van die verlede steeds in die geheue van die ouer generasie is, word dit simbool van iets wat leeg en betekenisloos word. Een van die sterkste voorbeelde hiervan sien ons wanneer Mossie geskiedenislesse gee en die geskiedenis gerelativeer word – die name van die mense in die geskiedenis, die plekname en die gebeurtenisse is nie korrek nie en word alles vervangbaar en omruilbaar. Dit dui daarop dat die verlede eintlik nie meer belangrik is vir die toekoms nie, aangesien Canola en Abrie ’n nuwe toekoms sal betree en die verlede heeltemal sal agterlaat.
Selfs geloof word relatief wanneer Mossie laster: “God” (15) en ook “Here” (16). In teenstelling daarmee word daar respek getoon vir die “Asem” (14, 21, 31, 36), wat eintlik heeltemal betekenisloos is in die konteks van die Ou Wêreld. Die karakter vir wie die verlede nog die meeste waarde dra, is Mossie. Mossie gee die geskiedenislesse vir Canola en Abrie en dit word as hulle plig beskou om die kanon oor te dra na die toekomstige generasies. Al Mossie se vertroue is egter in Canola, aangesien hy glo dat Abrie nie intelligent genoeg is om die kennis te leer en oor te dra nie. Die ironie is egter dat Jos die karakter is wat die plekname uit die verlede akkuraat oordra en dit laat die leser vrae vra oor Mossie se karakter: Is hy doelbewus besig om die verlede verkeerd oor te dra aan die jonger generasie?
Die hede word gevul deur aksies wat ’n mengsel is van absurde rituele van die vorige wêreld waarvandaan hulle kom wat struktuur aan hulle bestaan gee en nuwe rituele wat net so leeg en betekenisloos is. Hierdie aksies sluit in rituele soos tafelgebed (21), ’n tipiese braaivleissituasie rondom die vuur (14), nonsenspraatjies oor rugby (15), heildronke wat ingestel word (12), die tipiese Sondagmiddagete-rituele aan tafel (22), die vroulike pligte in die huis (23), die jaar wat beplan word rondom vakansiedae (24), troupraatjies (27), skoolhou (29), oefeninge in die oggende (45) en burokratiese vergaderings (47). Al hierdie rituele is ’n spieëlbeeld van soortgelyke rituele in die Ou Wêreld, maar hierdie rituele is absoluut absurd teen die agtergrond van die postapokaliptiese toneel waarin sulke rituele geen begronding het en sin maak nie.
Aangesien die rituele wat uitgevoer word, absoluut leeg en betekenisloos is teen die agtergrond van die postapokaliptiese realiteit, is die ironie dat die leser ook die waarde van die rituele in die Ou Wêreld bevraagteken, waar sommige van hierdie rituele vantevore ook as leeg en betekenisloos beskou kan word. Dit is byvoorbeeld ironies dat rugby se waarde is dat die karakters “iets vir mekaar te sê sou gehad het” (16). Dit dui daarop dat suksesvolle kommunikasie van iets soos sport afhang. Dieselfde geld ook vir die Sondagmiddagete-parodie (22). Die karakters se aksies word net so leeg soos hulle woorde en andersom. Dit kan gelees word as ’n refleksie op die samelewing van die Ou Wêreld en die absurditeite in daardie samelewing.
Wanneer Jos vir Mossie herinner aan sy “portefeulje” om die vakansiedae te onthou waarvolgens hulle die jaar rig en duidelik beplan, dui dit op die absolute absurditeit van die situasie, aangesien hierdie tipe vakansiedae slegs betekenis sal dra in die breër konteks van ’n land waar daar meer mense en ook ’n kultuur is (24). Die vakansiedae se name het ook relatief geword en Kersfees is nou “Koorsfees”, en so meer. Ook plekname word omvergewerp: Johannesburg word “Janniesberg”, Bloemfontein word “Blommetjiesfontein”, Port Elizabeth word “Port Eybers”, Pretoria word “Retorika” en Kaapstad word “Aapstad” (29).
Die vergadering wat die karakters hou en die verskillende portefeuljes wat hulle beklee, is absurd in die konteks van die postapokaliptiese milieu en die onsekerheid oor die toekoms. Die portefeuljes herinner aan dié van ’n regering van ’n land en die verskillende ministers se portefeuljes, die departemente van visserye, voedselbereiding, onderwys, nywerheid; en dan is daar ook die skeepskaptein, wat herinner aan ’n president. Die verkiesingsprosedure vir die portefeuljes en die skeepskaptein word beheer deur ’n demokratiese verkiesingsproses. Die vergaderingtoneel herinner aan ’n toneel in ’n parlementsitting. Dit word dus ’n parodie van so ’n sitting en is ook uiters absurd in die postapokaliptiese konteks.
’n Verbruikersbewussyn word geskep deur verwysings na onder andere Huisgenoot en 7de Laan, Viagra en Shoprite Checkers se Champion Boerewors (69). In die konteks van die drama is hierdie verwysings absurd, omdat die betekenis heeltemal ontneem word en ’n nuwe betekenis daaraan geheg word in die postapokaliptiese milieu. Canola en Abrie lag vir grappies in Huisgenoot alhoewel die humor en die grappie glad nie vir hulle sin maak nie, aangesien die verwysing buite hulle raamwerk lê, en verder lag hulle vir die inhoud van die tydskrif wat glad nie as grappig bedoel is nie. Dit is absurd en dit dui ook op die relatiwiteit van die inligting wat vir die karakters beskikbaar is en die relatiwiteit van die betekenis van daardie inligting vir die karakters.
6. Ten slotte
Kapp se Oorsee is ryk aan verdere intertekstuele verwysings, simboliek, metafore en sinspelings wat nog ondersoek kan word. Onderdele wat in meer besonderhede ondersoek kan word, is die ooreenstemminge tussen die karakters van Shakespeare se The Tempest en Kapp se Oorsee, die rol wat offerandes en selfmoord speel, die verhouding tussen kennis en die vervlakking van kennis wat moontlik ’n refleksie op die moderne samelewing is, asook die verbruikerskultuurbewussyn wat deurskemer. Oorsee slaag daarin om op ’n speelse manier die absurditeite van bestaande hiërargieë te bevraagteken en sodoende kontroversiële onderwerpe te ondersoek.
Bibliografie
Bulger, T. 1994. The utopic structure of The Tempest. Utopian Studies,5(1):38-47.
Crous, M. 2015. Oorsee: Kapp se blik op Afrikaner. Netwerk24. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/Oorsee-Kapp-se-blik-op-Afrikaner-20150321 (19 Januarie 2016 geraadpleeg).
Frey, C. 1979. The Tempest and the new world. Shakespeare Quarterly, 30(1):29-41.
Greene, V. 2011. Utopia/dystopia. American Art,25(2):2–7.
Kapp, T. 2014. Oorsee. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2015. Rooiland. Kaapstad: Tafelberg.
Kotze, E. 2014. Biebouw-resensie: Oorsee deur Tertius Kapp. LitNet. https://www.litnet.co.za/biebouw-resensie-oorsee-deur-tertius-kapp (19 Januarie 2016 geraadpleeg).
Odendal, FF ea (reds.). 2005. HAT (Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal). Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Shakespeare, W. 1963. The Tempest. Edinburgh: Longmans, Green and Co Ltd.