Kerneels Breytenbach (1952–)

  • 0
kerneelsbreytenbach280
Foto © Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Cornelis Tobias (Kerneels) Breytenbach is op 13 April 1952 in Emmarentia, Johannesburg gebore – die oudste kind van die gesin met een jonger suster, Elsebe. Sy pa, Braam, soms ook bekend as Breyt, was ’n skoolinspekteur in die ou Transvaal nadat hy die gebruiklike pad van onderwyser tot skoolhoof, ens. gevolg het. Hy het op die plaas Leliefontein tussen Carolina en Belfast grootgeword en was lid van die Breytenbach-tak wat van Swellendam via Humansdorp na die Transvaal getrek het.

Kerneels se ma was ’n nooi Schumann – haar pa was PWS Schumann, dramaturg van Hantie kom huis toe en Katrina, en op sy dag hoof van die Hoërskool Monument. Kerneels se ma was ook in die onderwys, onderwyseres aan die Hoërskool JG Strijdom en Suidheuwels (die omstreke waar die sepie Agter elke man afgespeel het).

“In my eerste vier lewensjare het my oupa Schumann nog by ons ingewoon ná die afsterwe van my ouma. My pa-hulle het in die nadraai van die oorlog vier groot erwe in New Redruth, Alberton gekoop, waarvan drie gebruik is vir vrugtebome. Dit was ’n klein paradys, en tussen dié boorde het ek gespeel. Sulke donker, vrugbare hoëveldse grond.” (Aan LitNet)

Kerneels vertel aan Murray la Vita: “(Daar was) altyd druiwe, altyd vye, appelkose ... hy het selfs mielies gegroei, aarbeie en dan nog groot hoenderhokke ook aan die een kant. Dit was eintlik ... dit was vreeslike idilliese, paradyslike kinderjare. Maar toe het dit te veel vir hom geword en hy het die plek verkoop. Ons het net een van die erwe gehou.”

Aan LitNet: “My oupa het in daardie jare homself besig gehou deur vir Nasionale Boekhandel boeke by skole te bemark. Ek het by hom in sy kamer met die groot boekrakke geboer – daar was altyd boeke. Hy het my verbeelding oopgemaak met die stories wat hy vertel het uit die ou klassieke (hy is een van die geslag wat nog Plato se Republiek in Grieks gelees het), en met die geïllustreerde kinderboeke van Nasionale Boekhandel en die ou JL van Schaik. Een wat ek spesifiek onthou, is ’n Duitse uitgawe van Heinrich Hoffmann se Der Struwwelpeter. Hy het dit nog saamgebring uit Duitsland waar hy kortliks voor die oorlog met nagraadse studies besig was voordat die rassehaat hom laat terugvlug het. My ma het speurverhale verslind, en ek het my eerste JT Edson-boek by my pa geleen.”

Kerneels woon die Laerskool Generaal Alberts by en voltooi sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Alberton in 1969. “Ons hoërskool was in daardie jare een van die Transvaal se top-presteerders en het puik onderwysers gelok. Die twee wat die grootste invloed op my gehad het, was Mafie Geyser, die Engelse onderwyseres (wat nogal ’n besielende soort mens was) en Johann (Tjol) van der Westhuizen, die wiskunde-onderwyser – ’n ongelooflike mens, en tragies vroeg oorlede. Ons klas was daardie jaar in die eindeksamen gemiddeld 10% bo die Transvaal-gemiddeld.”

Van Kerneels se herinneringe uit sy kinderjare is dié van New Redruth Fish & Chips wat net om die draai van die Laerskool Generaal Alberts was. “Dáár het my pa elke Saterdagmiddag vir ons vis en tjips gaan koop. Saterdagmiddag was vir my die kulinêre hoogtepunt van die week. Dit was die voorspel tot die aand se inry-bioskoop, en ek en my suster het baklei vir die leeue-aandeel van die tjips.

“Teen die tyd wat ek besig was met katkisasie, was ek al heeltemal verslaaf aan tjips. Ek het tydens die diens gemaak of ek my kollektegeld ingooi, en ná die katkisasieklas saam met ’n paar mede-katkisante op pad huis toe ons kollektegeld gebruik om ’n pakkie slaptjips met asyn te koop. Dit het maande lank aangegaan totdat ’n Van Rooyen-outjie ’n gaatjie onder in sy sakkie ontwikkel het en sy asyn met ’n boog oor my Sondagpak uitgespuit het. Sedertdien kan ek asyn slegs oor my lippe kry as dit hewig gemaskeer is.”

Hy beskryf sy ouers as uiteenlopende mense. “[M]y pa was joviaal en ontsettend lief vir die jongste skinnernuus. Sy skolekring was die Suid- en Oos-Transvaal, en ek het altyd die indruk gehad dat hy feitlik almal ken en weet watse kattekwaad hulle aanvang. My ma weer sou niks leliks van enigiemand sê nie, het glad nie geskinder nie, maar kon haar verkneukel aan my pa se stories. Wat my ouers wel spesiaal gemaak het, was dat hulle kinders as gelykes benader het – nooit neergepraat op jou nie.”

Kerneels se oupa se boeke het hom, nog voor hy kon skryf, laat besluit hy wil ’n skrywer word, en teen die tyd dat hy ’n tiener was, het hy al begin boeke koop met sy sakgeld. “Ek het nou nog die oorspronklike stel Fritz Deelmans en wens ek het vasgeklou aan my ou Swart Luiperd-, Trompie- en Keurboslaan-boeke!”

Sy eerste stuk skryfwerk was ’n Bybelse drama, Die sterre sal buig, wat in 1969 deur hulle matriekklas van Hoërskool Alberton op die planke gebring is, vertel hy op LitNet aan Lien Botha. "Gelukkig moes ’n klomp klasmaats my bystaan met die redigering, anders sou dit nooit op die planke gekom het nie. Wat wel lekker was, was dat my oupa die eerste opvoering kon bywoon."

Oor die oorsprong van sy liefde vir musiek vertel Kerneels: “Musiek is ’n ander storie. My ma het ’n musiekgraad op Stellenbosch verwerf, en het Engels op skool gegee en musiek tuis aan privaatstudente. Daar was altyd musiek in die huis. Fritz Potgieter, een van my pa se vriende, het my eerste plate as geskenke aan my gegee toe ek vier was: Harry Belafonte se ‘Banana Boat Song’ en Chris Blignault se ‘Bosveld Bul’ (met ‘Kom dans nou saam op die Nuwe Jaar’ aan die ander kant). Ek het nie voor my ouers na LM-radio geluister nie, maar by die bure. Só het ek versot geraak op Elvis, die Beatles, die Stones en veral die Beach Boys. Ek het eers laat in die laerskool voor my ouers na rock geluister, en was verbaas toe my ma ook van die melodieë hou.”

Verdere studie en werk

In 1970 is Kerneels weermag toe – na Geneeskundige Dienste te Voortrekkerhoogte. Hy vertel dat die kamp oorvol was en dat die weermag redes gesoek het om mense medies ongeskik te verklaar. “Ek is glad nie lief vir militêre dinge nie, en hulle het met my saamgestem dat ’n letsel wat ek met ’n sonsverduistering opgedoen het, my baie ernstig kortwiek. Hulle het ook mense met asma en plat voete vrygestel. Toe moes ek blitsvinnig ’n besluit neem. My neef, Peter Schumann, het in Bloemfontein ingeskryf om te gaan leer vir argitek. Ek dag ek sou sy voorbeeld volg, maar die enigste universiteit waar daar nog plek was, was Natal s’n in Durban. Binne twee maande het dit tot my deurgedring dat ek op pad na groot ellende was (Fisika het gelol), en het ek stert tussen die bene huis toe gevlug.”

Hy het die res van die jaar as kassier by Volkskas gewerk en genoeg tyd gehad om te kon insien wat hy met sy lewe wou doen. In 1971 is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom vir ’n BA-graad ingeskryf het. In 1975 verwerf hy sy MA-graad met die verhandeling “Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde” onder DJ Opperman. Die besluit om aan die US te gaan studeer was ’n voortsetting van ’n tradisie: sy ma se mense, die Schumanns, is ’n ou Bolandse familie met diep verbintenisse met Stellenbosch en met die universiteit.

Kerneels was die laaste student wat ’n MA by DJ Opperman gekry het voor sy koma; ná Opperman se herstel, toe Kerneels reeds by Die Burger was, het ’n ander soort vriendskapsband tussen hulle ontwikkel. Opperman was aanvanklik vir hom ’n groot enigma. “Hy was nie naastenby so aangrypend agter die podium as WEG Louw nie, maar tog het hy, waarskynlik danksy sy status as digter en boheem, daarin geslaag om mens deeglik te toets en te besiel. Ek was wel deeglik daarvan bewus dat Opperman ná die koma ’n heeltemal ander mens as daarvoor was. Voor die koma was hy kamerasku, daarna was hy die een wat versoek het dat ons ’n foto moes kom neem van hom terwyl hy herstel. Die foto het nogal opspraak verwek, maar hy was tevrede daarmee. Opperman het my beïnvloed om die letterkunde op ’n sekere manier te benader, maar sy invloed was nie naastenby so groot op my soos dié van JJ Degenaar nie.”

In Junie 1977 is Kerneels met Carien Hoffman getroud. Hy het op universiteit met haar suster Jalna uitgegaan, maar sy was lankal vergete toe hy Carien weer sien. Carien was lank grafiese kunstenaar en het ook juwele gemaak en is ’n baie goeie fotograaf. Hulle het twee kinders, Jana en Braam. Jana aard meer na Kerneels as na Carien en het dieselfde humorsin as haar pa. Sy sien humor in die vreemdste situasies. Jana is tans verslaggewer by Die Burger. Braam was as kind meer sagmoedig en, soos sy ma, kan hy dit nie verduur dat ’n probleem onopgelos bly nie.

Carien is in Maart 2016 aan mondkanker oorlede. Kerneels het aan Marelize Barnard van Die Burger gesê dat Carien ’n droomvrou was, baie belese met ’n baie lewendige belangstelling in die kunste.

Na universiteit begin Kerneels werk as joernalis by Beeld in Johannesburg en later by Die Burger. Hy word as kunsredakteur aangestel (1976 tot 1989), en sonder Victor Holloway as sy mentor uit. In ’n onderhoud met Suzette Truter beskryf Kerneels die koerantwerk, veral die soort by die kunsredaksie, as "ongelooflik stimulerend”. “Ek het die geluk aan my kant gehad, want ek hou van nuwe dinge en by Die Burger het die lewe presies dit gebied: elke dag iets nuuts."

Onderhoude waarvan Kerneels gehou het, al het dit nie altyd goeie kopie opgelewer nie, was dié met Dollar Brand (voordat hy Abdullah Ibrahim geword het), Wilma Stockenström, Ross Devenish, Goldie Hawn (in haar hotelsuite in die ou Landdros-hotel, waartydens haar bedgenoot skielik die kamer binnegeloop het – “Ek sal liewer nie sê wie nie”), Dennis Wilson van die Beach Boys, Milos Forman, David Brown, David Kramer, Pieter Fourie, Hennie Aucamp, Chris Rea (“Ons het heeltyd gesels oor ons babas”), Jan Scholtz en Con de Villiers.

Suzette Truter skryf verder: "Tydens sy jare as joernalis kon jy Kerneels se onvergelykbare skryfstyl altyd uitken aan sy ewe onvergelykbare humorsin. Hy was ook vir baie mense sinoniem met musiek. Hy het immers ’n hele generasie se musieksmaak beïnvloed met sy jare lange musiekrubrieke op die kunsblad (“Byklanke”) en in Huisgenoot."

En sy eintlike passie in die lewe ís musiek: “By Koos (Prinsloo) het ek leer luister na Arvo Pärt en Chett Baker, die trompetblaser wat ook gesing het. Koos het van sy plate gehad waar hy sing in so ’n desolate stem. Dit was fantastiese musiek. Vir my was dit altyd ’n plesier om by Koos te gaan kuier, want hy het hierdie fantastiese musiek gehad," vertel Kerneels aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Februarie 2009).

Sy resensies oor daardie tyd se popmusiek het hy aanvanklik met oorgawe geskryf, en later alleen uit genade; in 1993 het hy egter opgehou, omdat hy besef het hy is te oud. “Jy kom agter jy kan nie meer soos ’n tiener dink nie en jy verstaan nou wat jou plek in die kosmos is. Die boekewêreld het ál meer aandag geverg; ek het nie meer tyd (gehad) om te analiseer hoekom Acid House meriete (gehad) het nie.”

Daar was baie hoogtepunte in die jare waartydens hy “Byklanke” behartig het, vertel Kerneels aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). “Daar's verskillende soorte hoogtepunte. Soos die brief van ‘Heavy Metal Freaks’ in Kroonstad wat my met die dood gedreig het as ek nie my mening oor Def Leppard en Judas Priest verander nie. Dan was daar Bles Bridges wat verseg het om te glo dat ek ’n suster het en dat sy dol is op sy musiek. Of die dag toe Cora Marie in Die Burger se kunskantoor ingestap het en daarop aangedring het om my ’n soen toe te dien. Of my heel eerste jazz-resensie vir Die Burger, in September 1976, van ’n Dollar Brand-konsert, en hoe sy warme reaksie daarop baie dinge vir my verander het.”

Voorvalle wat hy wil vergeet, is albei kere dat hy deur Ipi Tombi moes sit en die kulturele boikot en die manier waarop dit alle plaaslike musici benadeel het. “Dan het ek ook Cher se Sun City-konsert misgeloop. Maar die grote was dat ek nié by was toe Freddie Mercury voor ’n klomp joernaliste ’n carry pack-bier op Jan Smuts-lughawe sit en uitdrink en toe oor die tafel siek geword het daarvan nie.” Hoewel die kulturele boikot sy blootstelling aan internasionale popsterre beperk het, is local darem ook lekker. “Daar's baie myle tussen Jurie Ferreira en Johannes Kerkorrel. Die ontwikkeling was alles ten beste, veral die sogenaamde ‘alternatiewes’.”

Hy vertel aan Corné Coetzee dat dit nou vir hom baie lekker is om te skryf oor die musiek van pre-1990's op sy blog "Naklanke" op LitNet: “Dis wonderlik wat ’n mens kan regkry met behulp van YouTube se videogrepe – ek skryf oor musiek waarvan ek hou en illustreer dit met videogrepe. Ek luister nie meer aaneen soos twintig jaar gelede nie, maar daar is selde stilte in ons huis.”

Hy is in 1989 na die uitgewery Human & Rousseau en toe hy daar instap, het hy besef hy weet niks nie. “Dit hou jou op die aarde en leer jou met ander oë kyk na dinge waaroor jy voorheen skepties was.” By Human & Rousseau was Koos Human, een van die stigters van die uitgewersmaatskappy, Kerneels se mentor en by Koos het hy baie ander truuks geleer as net oor die uitgewery. In 1994 volg Kerneels vir Koos amptelik op as hoofbestuurder van Human & Rousseau.

“Koos het vir my heel in die begin twee goed gedoen: Hy het vir my twee boeke gegee om te lees en daarna die kontrak gegee wat met skrywers aangegaan word. En so ’n kwessie van ’n week daarna het ek en hy eendag gaan sit en eet en hy het vir my verduidelik (...) wat (die kontrak) alles beteken. As jy die skrywerskontrak van ’n kant af vat en jy lees hom behoorlik, dan weet jy eintlik álles wat aangaan in ’n uitgewery en wat daar behóórt aan te gaan,” vertel Kerneels aan Murray la Vita. (Die Burger, 13 Februarie 2009)

“Jy weet, dis ’n vreemde ding, maar die verhouding tussen die skrywer en die uitgewer; uitgewer en skrywer; hoe beskerm die kontrak die twee teen mekaar; met ander woorde: watse voorregte het die een en watse verpligtinge het die ander een. Dis dáái ding. En dan weet jy presies wat die werk behels. En toe ek dit nou eers agter die blad het, toe weet ek ek gaan nooit weer terug koerante toe nie.”

Oor die kuns van uitgewer wees vertel Kerneels aan Murray la Vita dat ’n groot deel daarvan is om ’n “móérse respek” te ontwikkel vir ’n die persoon se skryfwerk en vir sy privaatheid, “maar ook naby genoeg te wees om binne daai privaatheid te operate deur die persoon te hélp of te beskérm of aan te moedig om net weer aan die gang te kom.

”Jy weet Koos (Human) self het vir Etienne Leroux gewéldig baie beteken. Selfs so ver gegaan in die ou dae as Leroux ’n manuskrip gelewer het, het hy afgekom Kaap toe en dan het hulle ’n week lank al twee ’n kamer gevat in die Metropole Hotel daar in Langstraat. En dan het hulle in die hotel gesit en í­n daai week het hulle daai manuskrip van ’n kant af deurgewerk en hom reggekry.

“Baie skrywers kan jy nie só hanteer nie, maar jy moet tog weet om iets soortgelyks vir hulle te kan doen. André Brink, byvoorbeeld, gee vir jou ’n manuskrip wat, danksy die manier wat hy skryf – Afrikaans-Engels tegelyk – al so goed gestruktureerd en deurgedink is dat jy nooit rêrig eintlik vir hom hoef te sê: ‘Man, jou slot werk nie; skryf dit oor’, nie.

“Jy kan by André hoogstens vir hom sê, soos ek gemaak het met Duiwelskloof ... vir hom sê: ’Man, jy’t hier ’n misdaadjoernalis wat nooit bliksem sê nie.’

“By Karel Schoeman, weer, soek jy eintlik net vir tikfoute in die manuskrip. Jy peuter nie daaraan nie. Breyten ... dit is ook ’n digter wat so goed nagedink het oor sy goed, dis eintlik ’n belediging om vir hom te sê: man, luister die gedig werk nie vir jou nie, want jy weet die fout lê eintlik by jou, nie by hom nie.”

Kerneels praat met Murray la Vita oor wyle Koos Prinsloo en onthou die aand toe hy die manuskrip van Slagplaas by Prinsloo se woonstel in Hillbrow gaan haal het en hoe hy terug is na sy blyplek, waar hy tot laat die nag aan dié “geweldige sterk, brutale, emosionele bundel” gelees het.

In April 2001 het Tafelberg en Human & Rousseau saamgesmelt onder die NB-Uitgewers-vaandel, met Hannes van Zyl as hoofbestuurder en Kerneels as publikasiehoof.

In 2009 het Kerneels afgetree en het hulle ná jare as Kapenaars in Kloofnekweg na ’n huis tussen die see en die vleie van Bettysbaai verhuis.

Maar Kerneels is nie net uitgewer nie. In 1992 word sy bundel kortverhale, Morsdood van die honger, gepubliseer en in dieselfde jaar met die CNA-Debuutprys bekroon. Hennie Aucamp het hom soos volg oor Kerneels se verhale uitgelaat: “Sy speelsheid is ’n gevaarlike frenetiese gewals op die rand van die afgrond.”

Kerneels skryf baie van die sukses van hierdie bundel toe aan sy beoefening van die joernalistiek: “Dit maak jou vingers los en jou selfvertroue sterker,” verduidelik hy aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). Hy het hierdie bundel beskryf as kortverhale wat probeer aantoon dat die ergste apartheid (seksueel, godsdienstig, sosiaal, polities) dié is wat jy in jou gedagtes bedryf.

HJ Pieterse skryf dat Kerneels met Morsdood van die honger as satirikus baie ontwikkel het en dat hy, soos enige ander satirikus, alle heilige koeie aansny. “Om die waarheid te sê: ná dié boek sal die naaste heilige koei in die omstreke van die Ganges gesoek moet word. (...)

“Alles en almal loop deur onder Breytenbach se pen: wittes, swartes, gays, feministe, kultuursnobs en pretensieuses (‘Die teater van bloed’), godsdiensdwepers, Afrikaanse liedjies, en, veral natuurlik, politici. Kortom, die hele Suid-Afrikaanse samelewing kom onder skoot.” Pieterse meen dat die gehalte van die verhale wissel, maar dat daar selfs in van die mindere verhale heelwat passasies is om die leser se lagspiere te prikkel. Die verhale word verbind deur onder meer figure soos Chelodie Davel/De Villiers, Broer Shawn, OD Hardon en Realdus Columbus wat herhaaldelik in verskillende verhale optree."

Abraham de Vries (Die Burger, 8 September 1992) voel dat daar laas in Afrikaans by Etienne Leroux so ’n “redelik ondeugdelike, komieklike stoet” bymekaar was. “Die satirikus, sê Walters iewers (en hy behoort te weet), is heimlik ’n idealis, in diens van die genesing van menslike booshede. Wat Aucamp waarskynlik in die oog had, is dat daar onderliggend aan hierdie skeefbekykte karakters, aan selfs die hilariteit, die breër konteks van ‘inherente dekadensie’ is; patrone van ’n afloop, ’n eindtyd, verwant aan die laat-romantiek van die einde van die vorige eeu: die ‘cherishing of the unnatural’. Dat juis Aucamp dit raaksien, verbaas nie, want dáárin is sy eie verhale (hoe verskillend ook sy aanslag en stem) verwant aan dié van Breytenbach. (...)

“Dis in die skep van fantastiese situasies wat Breytenbach homself oortref. Insinkings in die vertel is die onvoorbereide, dus moeilik interpreteerbare slot van die titelverhaal, grootliks ’n oorvertelling van Dahl se ‘Taste’. (...) Maar as dit kom by die werklik goeie verhale, (...) sê hierdie resensent: Sny ’n stadige lyn; dis kos vir diegene wat die lag nog nie afgesterf het nie, wat hulle in ongeregtigheid nie verheug nie, en wat by die herken van die ondeugdelikhede nie vir genadeloosheid skrik nie. Daar’s nie baie sulkes in Afrikaans nie.”

Cecile Cilliers skryf dat die veertien verhale van uiteenlopende aard en ongewone inhoud in Morsdood op interessante wyse tot eenheid saamgesnoer word. “Sekere karakters kom naamlik by naam in etlike verhale voor, maar in wisselende situasies en omstandighede. (...) By dié bindende effek, prikkel en verras hierdie werkwyse, én boei dit.

“En binne die satiriese raamwerk kom daar ’n belangrike allemansidentifikasie tot stand, sodat én situasies én karakters die ganse samelewing geld. ‘Mnr X hou braaivleis’ is ’n goeie voorbeeld: die alomteenwoordige dood en die samelewing se groeiende disrespek word skitterend verbeeld in die steeds meer bisar verloop van die verloop, en die oop einde.

“Breytenbach het ’n verbasende vermoë om die leser, meteen, in die eerste paragraaf, in die verhaal te laat beland, en om maksimale inligting met ’n minimum van woorde te verskaf. ’n Vermoë wat hy ongelukkig nie deurgaans benut nie. Van die verhale is gans te lank sodat, die prikkelende ongewoonheid ten spyt, belangstelling verflou.

“Kerneels Breytenbach kyk met ’n skuins blik na die mensdom, en hy skryf en béskryf om te skok. En die resultaat skok wel, én amuseer, want hy ken die kuns van koddige segging en vergesogte situasies. Maar ’n werklik geslaagde satirikus, in my woordeboek, moet ook deernis toon, empatie, bý die skerpte. En dit ontbreek in hierdie bundel geheel en al. Die verhale is bitter goed, bitter snaaks, en bitter. Net dit. Bitter.”

In Zuid-Afrika van Maart 1993 skryf Hans Ester dat Kerneels Breytenbach ’n begaafde en selfs virtuose skrywer is en dat die bundel sy talent bewys. Hy voel egter dat Breytenbach se volgende boek minder grotesk en selfs positief moet wees.

En hoewel Gretel Wybenga (Beeld, 16 November 1992) voorbehoude gehad het, voel sy daar is te veel wat goed en lekker in die bundel is om dit nie ter hand te neem nie. “Enige gesonde samelewing móét ’n hofnar hê wat met lag en spot konings van trone mag afhaal. Welkom aan ons eie hofnar, Kerneelsie!”

Glimlag, Kerneels se eerste roman, word in 1993 uitgegee. Hierdie roman is een van die min romans in Afrikaans waarin populêre, oftewel popmusiek as deel van die struktuur van die roman gebruik word.

Kerneels vertel aan Willem de Vries op LitNet meer oor die ontstaan van Glimlag: "Dit is struktureel gevorm deur ’n ou speurroman van EC Bentley getiteld Trent’s Last Case, maar die titel is ’n direkte verwysing na die Beach Boys se Smile, wat nooit uitgereik is nie, maar waarvan ek ’n roofopname het.

“Baie van die hoofstuk-opskrifte is Smile-liedjies. Smile had ongelukkig minder snitte as wat Glimlag hoofstukke het, dus het ek by die Beach Boys se voorafgaande LP, Pet Sounds, gaan leen. Met die lirieke het dit effe anders gegaan: ek het enigiets geneem wat daardie sardoniese afstand kon help vestig – banale gedagtes, nooit aangehaal uit werklike Afrikaanse liedjies nie, maar in strekking en sfeer vanuit die Afrikaanse musiek-dampkring. In ’n vroeë draft het ek FAK-liedjies gebruik, maar dit was té styf en formeel. Ek wou iets gehad het wat oënskynlik diep dinge sê, maar in wese flou en geweldig oppervlakkig is.”

In Glimlag is Trens Phillips die hoofkarakter en een van sy karaktereienskappe is dat hy te eniger tyd mense en situasies reduseer tot lirieke wat eie is aan die gewilde Afrikaanse musiek. Willem de Vries skryf verder: "Kerneels beaam dat hierdie sardoniese draakstekery ’n hoofbestanddeel van Glimlag is. Hy wou hê die leser moet van Trens en Quarta (die hoofkarakter se groot liefde) hou, maar wat die res betref, moes hy/sy baie bewus bly van almal se feilbaarheid. By sommige wou hy hê dat dit duidelik moet wees dat hulle verteenwoordigend is van tipes Afrikaners: ambisieuse, korrumpeerbare mense."

De Vries het dit aan Kerneels gestel dat die lirieke “so kenmerkend prosaïes is van vele ligte musiek in Afrikaans en dat Afrikaanse musikante hier aan die kaak gestel word sonder dat name genoem word”. Kerneels se antwoord was: "As iemand sou sê hier is nou ’n geval van ’n oudmusiekresensent wat die Afrikaanse musiekbedryf die middelvinger wys, maar dit met fiksie verbloem, is dit beslis waar. In die eerste draft was daar ’n lang stuk oor Cora Marie, die country-sangeres. Ongelukkig kry sy toe kanker en het die boek se redakteur gevoel dit sou swak smaak wees om die deel in te hou. Maar ek het in daardie stadium baie beslis genoeg gehad van Afrikaanse musiekkunstenaars. Ek was in die tweede laaste jaar van my termyn as Huisgenoot se popresensent, en in daardie stadium het die hele luisterlied-beweging in sy eiewaan versmoor, en was Afrikaanse musiek besig om geweldig onopwindend en selftevrede te word. My liefde vir popmusiek was altyd daarin gesetel dat ek altyd soek na iets nuuts en iets vernuwends. In die vroeë negentigs was dit ’n skaars ding in Afrikaanse musiek. Ek het dit ook ’n stap verder gevoer deur baie van die dinge in die roman in verband te bring met werklike Afrikaanse films. Aan die een kant die musiek en hierdie menslike smagting om te sing en te besing, al is dit hoe vrot, en aan die ander, die romanwêreld wat gelyk gestel word aan aardsetter-flieks en -karakters wat, om die minste te sê, wêreldvreemd is.”

De Vries het ook gesê: "Dié soort kensketsing en vervreemding deur liriek is sentraal tot die humor van die boek. Die glimlag is eerder grimas. Watter ander musiekidees is in die roman bygewerk?"

“Daar was in 1990 in die tydskrif Q ’n beskrywing van ’n klankateljee, Karl Wallinger se ateljee," sê Kerneels. "Dié het ek gebruik vir die ateljee in Glimlag. Die dinge wat tóé so wonderlik was, is nou alledaags. Vir die slot het ek aan twee dinge gedink: die middelste deel van die Smile-liedjie ‘Cool cool water’ en Gavin Bryars se komposisie Sinking of the Titanic, waarin hy die skip se orkes laat voortgaan met die speel van ‘Autumn’ onder die water. Mense wat bekend is met die verse van Rilke, sal dwarsdeur die roman verwysings na sy Duino-elegieë opmerk.” 

Na Gunther Pakendorf (Die Burger 23 November 1993) se mening is daar heelparty raakpunte tussen Glimlag en Morsdood van die honger. "Soos sy voorganger speel Glimlag in die onmiddellike hede in die Kaap af en toon eweneens ’n sterk satiriese neiging wat hier en daar bisarre en groteske vorme aanneem. In ’n ander opsig sluit dit aan by ’n duidelike waarneembare kenmerk van die jongste Afrikaanse prosa, en dit is dat die verdwyning van apartheid skynbaar groter beweegruimte en dus ’n ongekende oplewing van kreatiwiteit onder Afrikaanse skrywers veroorsaak het. (...)

“In wese is Glimlag ’n kombinasie van speurverhaal en triviale liefdesverhaal. Kort nadat Helen Mills as Sakevrou van die Jaar aangewys is, verdwyn sy op geheimsinnige wyse. Die koerant, Ons Stem, berig eers verkeerdelik dat sy vermoor is, maar pas nadat die berig reggestel is, word haar lyk in geheimsinnige omstandighede gevind.

“Dit is die begin van die ondersoek deur Trens Phillips, vryskut-joernalis en popmusikus, wat hom al dieper in die militêre en politieke knoeispul van die land laat inbeweeg. Terselfdertyd beland hy in die arms van die beeldskone Quarta Prins saam met wie hy die een en ander avontuur beleef.”

"Glimlag mors behoorlik met die ou Suid-Afrika en gooi sommer ’n paar ander temas by. Dit is dus ’n satiriese bredie met ’n verskeidenheid bestanddele wat aan die leser opgedis word. Die vernaamste een is die Afrikanerpolitiek, knoeiery, korrupsie en al, wat ten spyte van sy kitsch-vertoonsug, nie stuit voor kriminele aandadigheid nie.”

Die skrywer raak ook heel geniepsig oor die Afrikanerkultuur en daar word ook verwys na die Afrikaanse joernalistiek, gewilde kultuur soos popmusiek en Afrikaanse rolprente en die staatsdiens. Hy maak ook weer gebruik van karakters wat al in van sy kortverhale gefigureer het en ander karakters het bekende name soos Sonny Corleone, Sonja Groesbeek, Joey en Gert van Rooyen.

Maar vir Pakendorf is Glimlag oorhaastig geskryf en was die redigering nie deeglik genoeg nie. Hoewel hy tydens die leesproses baie keer lekke gelag het, moes hy net soveel keer terugblaai om die verband tussen verskillende episodes of karakters na te gaan.

In sy resensie in Rapport het JC Kannemeyer geskryf dat Breytenbach vrek goed skryf, maar dat wat hy skryf, vir hom, Kannemeyer, nie aanstaan nie. "Ek erken dat ek persoonlik reageer en dat dit ’n groot fout is. Vir sommige mense mag die soort satire en die soort seks van Glimlag snaaks wees, maar vir my was dit kru en aangeplak; diegene wat genoeë neem met al die vlugtige stukkies geestigheid en die politieke toespelings sal die boek egter geniet."

Tom Gouws meen dat hierdie debuutroman van Breytenbach in dieselfde trant is as sy resensies van films, restaurante, boeke en musiek – "stout en stuitig, maar intelligent en ingelig, met with-it slengfrases, klinkende stukkies taal uit die lospraatjies van elke dag. Die vertelhouding is sinies, boosaardig, grynsend. Die “glimlag” van die titel is ’n sardoniese beskrywing van die verteller se grynslag terwyl hy vertel. Gouws is egter van mening dat die fiktiewe verklarings van werklike landsprobleme van daardie tyd ’n vertelling van oordrewe selfgenoegsaamheid bly. Die beterweterigheid en gemeensaamheid van die alwetende verteller irriteer op die lang duur."

LS Venter (Beeld, 22 November 1993) sluit sy bespreking af met: “Daar is gesê dat ons tyd nie meer die tragiese toelaat nie. Al wat moontlik is, is die komiese: óók as die skrywer ernstig is. Glimlag val in die genre van hierdie komedie van die erns. As dit laat lag, goed. Maar dit wil eintlik laat dink. Kerneels Breytenbach laat na my mening albei gebeur.”

Oor die negatiewe dinge wat resensente oor Glimlag geskryf het, vertel Kerneels aan André le Roux (Die Burger, 23 November 1993) dat die eerste paar resensies wat jy lees, jou geweldig ontstel, maar dan moet jy maar jou eie raad aan ander skrywers volg: dat dit net ’n persoonlike mening is. “Ek dink nie Glimlag is ’n foutlose roman nie, maar ek dink ook die resensente het nie werklik gesien wat hulle behoort te gesien het nie.”

Kerneels het in 1997 aan Suzette Truter vertel dat wat sy skryfwerk betref, hy ná Glimlag heeltemal tot stilstand gekom het. "Daar kom manuskripte by jou as uitgewer verby wat jou laat nietig voel, wat jou laat dink jy moenie jou naam krater maak deur te skryf nie; laat dié maar aan die regte skrywers oor. Maar aan die ander kant is dit baie inspirerend. Dis ’n plesier om in die kantoor in te stap en ’n pakkie daar aan te tref, soos ’n nuwe roman van André Brink of Karel Schoeman. Of iets opwindends deur iemand van wie jy nog nooit gehoor het nie, maar jou van die eerste sin af vasgryp. En dat ek een van die eerste mense in die wêreld is wat dit gaan lees.”

Oor die gewilde Harry Potter-reeks wat Human & Rousseau in Afrikaans laat vertaal het, was Kerneels in ’n polemiek met Maretha Maartens betrokke. Maretha het in die rubriek “Soos ek dit sien" in Volksblad onder meer geskryf dat hoewel Potter “in die goeie leef, hy boosheid bemin en dat ouers twee keer moet dink voordat hulle dié boeke vir hul kinders vir Kersfees koop”. Sy het in Rapport gesê haar rubriek is onvolledig en nie in die regte konteks aangehaal nie. Sy het ook verwys na wat JK Rowling in ’n onderhoud met Time te sê gehad het, iets waarna Breytenbach (in Rapport) nie verwys nie. Breytenbach het gesê sy kry haar inligting in die satiriese internet-koerant The Onion, wat feite fabriseer.

“Ek het ’n baie groot bewondering vir die fantasiewêreld wat JK Rowling geskep het. Maar wat ek aangehaal het, staan in swart op wit,” het Maartens gesê. Hoewel dit eintlik “nie vir publikasie is nie”, sê sy Breytenbach moet maar met “sulke groot kanonvoer skiet as hy wil” in sy opmerking dat hy haar integriteit bevraagteken. Wat het geword van die feit dat elkeen op ’n meniung geregtig is, het sy gevra. “Weer eens, ek kan nie my bewondering vir JK Rowling se werk genoeg uitspreek nie. Maar dit gaan oor wat sy gesê het.”

Kerneels het gemeen dat Maartens moet erken dat sy mislei is deur The Onion en dat sy net die gedeelte van Rowling se onderhoud met die Amerikaanse nuustydskrif Time gebruik wat haar argument pas. “Lees ’n mens die hele paragraaf in die onderhoud en jy sien wat Maartens weggelaat het, besef jy dat Maartens besig is met ’n baie slim, maar nogtans gemene spel,” het Kerneels gesê. Hy het gevoel dat sy die eerbare ding moet doen en die publiek wat haar ondersteun het, moet inlig dat nóg Rowling nóg die Harry Potter-boeke enigiets met satanisme te make het.

In antwoord hierop het Maartens in ’n brief aan Volksblad geskryf dat sy nóg slim, nóg berekend was, maar dat sy, soos die meeste ander denkende mense, net na antwoorde soek. Sy haal dan voorts passasies uit die Harry Potter-boeke aan om haar sieninge te staaf.

Kerneels was darem nie heeltemal stil wat kreatiewe skryfwerk betref ná die publikasie van Glimlag nie. Hy het ’n paar stories geskryf wat in versamelbundels opgeneem is en nêrens anders beskikbaar is nie. In 1998 is “Oorlog ter plaatse”, ’n anti-oorlog-, antimilitêre stuk opgeneem in Boereoorlogstories wat deur Jeanette Ferreira saamgestel is en deur Van Schaik uitgegee is. ’n Liefdesverhaal, “Die einde van die pad”, is opgeneem in Liefde loop ver, wat ook deur Jeanette Ferreira saamgestel is en in 1999 deur Human & Rousseau uitgegee is. Piet Roodt het ook ’n stuk opgeneem in Granaat en Kerneels het vir Queillerie bydraes gelewer vir die bloemlesings van skrywers se reaksie op die verkiesing van 1994 en die bestekopname daaroor ’n jaar later: 27 April 1994: ’n Skrywersdagboek en 27 April een jaar later.

In 1987, by die viering van die Baxter-teater se eerste tien jaar, het Brian Barrow en Yvonne Williams-Short ’n bloemlesing getiteld Theatre Alive! saamgestel. Kerneels se bydrae was “What the critic should know about the theatre”.

In 2001 het Kerneels se humorsin aanleiding gegee tot die publikasie van Die skoon grapboek. Oor die grappe in die boeke sê hy dat min van die grappe oorspronklik genoem kan word. “Of dit nou op die internet of papier is, daar is min grappe wat nie baard het nie. Grappe wat oor Stalin vertel is, word deesdae oor George W Bush en Tony Blair vertel. Koos van der Merwe en Mike Schutte het ’n Ierse neef genaamd Paddy. Ek het die meeste van hulle verplaas na ’n landelike omgewing in Mpumalanga. Hopelik sal baie daarvan vir ons lesers onbekend wees.” (Uit ’n inligtingstuk van die uitgewers.)

Hy is trots op die feit dat al die grappe, ofskoon baie van hulle in kroeë afspeel, aan jou ouderling of dominee vertel sal kan word tydens die volgende huisbesoek.

In Die skoon grapboek het Kerneels as ’n soort teenhanger vir Leon Schuster se versameling doelbewus net “skoon” grappe oorvertel, vertel hy aan Corné Coetzee (Beeld, 18 Februarie 2010). “Dit spaar ’n mens ook al die verdriet van kinders wat hul skaam vir hul skurwe pa. Maar algaande het ek besef dat ek ’n effens meer gewaagde versameling ook sou kon saamstel. Een wat bronstig is sonder om smerig te wees. Ek is versot op James Thurber se humor, en die titel kom direk van een van sy skeppings af.”

In 2009 verskyn toe Die ding tussen man en vrou, nog ’n grapboek. "Ek vermoed dat dit is omdat ek, soos enige ander mens, lief is vir die ontlading wat humor bring en met verloop van tyd agtergekom het dat Afrikaners taamlik skatologies in hul humorsin is, maar dat daar gelukkig meer aan ons humor is as die gatkant van die wêreld. Daar is ook ’n magdom seks-, skoon, rassistiese, seksistiese en siek grappe." (Die Burger, 16 Oktober 2010)

Kerneels staan ook bekend as ’n smulpaap en in sy hoedanigheid as restaurant-resensent – alias die pittige Braam Kleinhans – het hy almal se lagspiere geprikkel. En hy het oor die jare ’n groot kosliefhebber gebly en in Insig ander kosliefhebbers aan ’n groot verskeidenheid restaurante bekendgestel.

In 2005 gee hierdie liefde op aandrang van Leserskring aanleiding tot die samestelling van Die lekkerste lekker, ’n resepteboek wat Madeleine van Biljon (Volksblad, 11 Januarie 2006) as volg beskryf: “Daar is inderdaad baie gesellige resepte, sommige geyk, sommige kraakvars en heel oorspronklik. Elkeen wat onder ’n bekende se naam verskyn, dra die amper proebare stempel van die persoonlikheid – van wyle Rufus Kenney se werklik topklas-tamatiebredie tot die romantiese kookster (soos in hemelliggaam) Marlene van Niekerk se lofsang oor beet. Die foto’s is ’n fees, die uitleg netjies, ’n plesier vir die oog. Dit is ’n mooi boek, maar ’n bietjie swaar op die hand – nie maklik hanteerbaar in ’n kombuis nie. Eerder leesbaar as bruikbaar, en lekker om te lees daarby. Alles pluspunte.” Sy het dit egter teen die swak nasienwerk – Kerneels moes haar oor ’n bord kos en ’n fles wyn om verskoning vra vir die verkeerde spelling van haar naam in die boek.

Madeleine Roux (skuilnaam van Madeleine van Biljon junior), ook ’n kok en koskenner, skryf in Rapport van 19 Februarie 2006 dat nostalgie volgens ’n Frans gesegde niks meer is as verlange na die kos waarmee jy grootgeword het nie. “En Kerneels Breytenbach, uitgewer en ook befaamde Kaapse gourmand, het uiteindelik geswig en ’n kookboek saamgestel wat drup van die nostalgie. Met resepte uit ons jeugjare, asook die gunstelinge van ons oumas, pa’s, jagvriende, ou tantes en ja, selfs ons kinderbediendes, weerspieël dié eklektiese versameling die tradisionele kossmake van geslagte Afrikaners. Dan het die skrywer ook heerlike onafrikaanse ekstras ingegooi, soos chowder (die onweerstaanbare Amerikaanse vis-en-aartappelsop gegeur met spekvleis), Franse uiesop, Griekse skaapboud, Thaise gemarineerde vis en Camembertkoek.

“Die aanslag is net reg: Jamie Oliver kook Huisgenoot se Wenresepte. Die samesteller se gevatte, skalks-vrome opmerkings, sy eie kort essays en lieflike bydraes van skrywers is in die kol. Veral mooi is die resepte binne-in die essays. Niks irriteer ’n kosleser meer as ’n gesoek na resepte by ’n verwysing in die meegaande storie nie.

“Vir my is kos onlosmaaklik aan humor verbind. Die beste resepteboeke is dus samestellings van sensuele inligting en vreeslike snaakse opmerkings – dink maar aan Elizabeth David met haar droë kritiek op gemorskos en passieryke kostoere deur Europa, of aan Julia Child se wonderlike verhale oor haar TV-rampe, maar ook die manier hoe sy haar hande so mooi op kos kon lê, soos alle goeie kokke. Breytenbach is ’n humoristiese skrywer en sy aweregse sin vir humor is nommerpas. ‘Ek het die grootste respek vir vegetariërs. Dit wil egter nie sê dat ek dieselfde fout as hulle moet maak nie.’ Kosbaar ook is sy vertellings oor ou eetplekke soos die Kaapse Tafel-restaurant in Koningin Victoriastraat in Kaapstad. Ewe goed is bydraes van onder meer Antjie Krog, die jagter Johan Botha, die rubriekskrywer Mariëtte Crafford en die rolprentmaker Herman Binge. Die akademikus Elize Botha se storie oor haar pa en die nagmaalwyn is van Herman Charles Bosman-gehalte.

“Kortliks, ’n indrukwekkende, mooi boek met werklik lekker resepte. Daar is mooier foto’s binne-in die boek as dié op die voorblad, maar dis kibbel. Die foto van droë harders en ’n knipmes op bl 179 is lieflik, maar hulle sê mos vis op die voorblad van enige resepteboek behalwe ’n vis-een, sal nie die boek laat verkoop nie.”

Sy het egter dieselfde voorbehoude oor woorde wat verkeerd gespel is en ander foute in die boek en haar vraag is waarom Breytenbach soveel moeite gedoen het om vir sy lesers plesier te verskaf en dan taal- en resepteversorging laat links lê het.

In Oktober 2010 verskyn 7de Laan kook, wat saamgestel is deur Daleen van der Merwe, Human & Rousseau se kookboekredakteur, met teks deur Kerneels. Hy hét slaafs die sepie 7de Laan op SABC2 gekyk, en doen dit al die jare, en daarvoor blameer hy vir André P Brink. Brink se bewondering vir een van die karakters in die reeks het Kerneels nuuskierig genoeg gemaak om te begin kyk. In hierdie boek deel sewe van die karakters in die sepie hul beste resepte. “Die lekkerte hiervan was om ’n storie rondom elke karakter te skep, binne karakter te bly, en in sy of haar ‘stem’ te praat.

“Matrone het byvoorbeeld ’n vorige lewe wat so saam met haar resepte uitkom: die mans wat sy in die oog gehad het, die jare by Bothaville se landbouskou. Hel, daai vrou het ’n stem waarmee jy boerpampoen kan skil, maar haar Generaal De la Rey-koek met droë vye en pekanneute maak jou knieë slap!" vertel hy aan Elmari Rautenbach.

En al het Daleen van der Merwe die meeste van die 75 resepte bymekaargenaak, het Kerneels nie teruggestaan as dit gekom het by die soek-en-proe-sessies nie.

Hy vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 23 Oktober 2010) dat daar egter ’n storie ágter die storie is: “In 1995 het ek by die Frankfurt-Boekebeurs een aand langs ene Barbara Beck gesit. Sy was ’n uitgewer by die Metropolitan Museum of Art en vertel my toe hoedat sy in die bedryf beland het.

“Rex Stout, ’n Amerikaanse skrywer, het van die dertigs tot die sewentigs ’n misdaadreeks, die sogenaamde Nero Wolfe-boeke, die lig laat sien. Wolfe was ’n speurder met ’n lyf so groot soos sy ego en ’n voorliefde vir geel sypajamas, orgideë en die gastronomie. Al probleem was Stout kon nie kook nie. Dit was Barbara se taak as jong uitgewerassistent om elke boek se resepte en kookrituele uit te dink en agterna die manuskripte na te gaan om seker te maak Wolfe kap darem ’n ui op die regte manier. En dis hoe sy die idee gekry het vir The Nero Wolfe Cookbook – tot vandag toe een van die top-kookboeke op amazon.com!”

Na sy sogenaamde aftrede is Kerneels nog steeds besig met boeke: resensies, lees van manuskripte en ander soortgelyke dinge. “Aftree is miskien iets wat ek eendag sal doen. Op die oomblik wentel my lewe om boeke, musiek en pogings tot my eie skryfwerk. En natuurlik, my hond, Jasper. Ek en my vrou, Carien, kan dit net nie oor ons harte kry om hom te vertel hy is nie ’n mens nie,” vertel hy aan Corné Coetzee.

Breyten Breytenbach beskryf Kerneels so: “Die kern van Koning Neels (of Klimneels, of Knorneels) is gulhartigheid en ’n fyn-fyn onbevange gees propvol intelligensie en nuuskierigheid. (In die ope-gemoed en vermoë tot verwondering sin ...)” Breyten sê verder: “[V]ra hom, in alle erns, of ons nou die blerrie groot skrywer wat hy is, vreesloos na vore gaan sien tree.”

Hierdie vraag is beantwoord toe Kerneels in 2009 gepols is oor waarom hy tóé, op 56, uittree: “’n Mens werk mos maar altyd met daardie idee dat jy nou as jy 60 of 65 is, sal gaan. Ek het in 1993 laas gepubliseer – Glimlag (...), wat ek gedink het ernstige werk is.

“Sedertdien was daar daai kookboek (Die lekkerste lekker) en ’n grapboek (Die skoon grapboek). Maar op een of ander manier het ek verskeie kere begin met goed skryf en elke slag dan ontspoor dit ... of tyd haal my in, of ek het nie tyd om daaraan te werk nie, of ek raak sinies halfpad want ek besef ek hou nie daarvan nie – daai soort van normale goed.

“Maar die eintlike ding is jy sit by ’n uitgewery en jy sien ander mense se goed en jou kreatiewe tyd gaan in personeelsake in en in die bestuur van ’n maatskappy. En uiteindelik skryf jy basies níks. En daar is nou twee of drie goed. Een is ’n roman wat ek al mee begin het in 1999, 2000 – daar rond, en wat ’n baie ernstige terugslag gekry het toe hulle my laptop (in November 2003) gesteel het met ’n klomp hoofstukke daarmee saam. Toe moes ek hom van voor af skryf want ek het nie ’n backup gehad nie, maar sedertdien hou ek religiously backups.

“Maar dit het ek toe herskryf, ek het toe gaan sit en ’n taamlike poging aangewend. En met dáái roman het ek verder as halfpad gekom, maar hy sit nou daar en wag vir my. Dis die eerste ding wat ek nou gaan doen. ’n Mens raak so verlief op die stories partykeer en die karakters ... in hierdie geval is dit ’n bruin vrou wat groot opgang maak in die sakewêreld en hoe sy trou met ’n jong wit ou en dan die familie wat vir haar vra hoe kan sy benede haar met ’n witmens trou – die omgekeerde situasie van wat voorheen sou gebeur het.”

André Brink sê naas rugby is musiek die ding wat ook húlle oor die jare “baie heg verbind het”. “[A]s ’n paar manne eers saamgehuil het oor ’n Habana-drie op die rugbyveld, of ’n Monty-skop in die doodsnikke, of oor Anna Netrebko in Traviata, dan staan daardie vriendskap soos ’n paal bo water.”

Oor Kerneels die uitgewer sê hy: “Hy was soos oorle’ Watermeyer se mure teen die suidewind.”

In ’n onderhoud met Elmari Rautenbach gesels hulle oor ouer word en lesse leer en Kerneels vertel vir haar van sy dogter, Jana, wat as ’n junior verslaggewer by Die Burger die moeilike opdrag gekry het om die Eersterivier-taxi-ongeluk op die treinspoor te dek. “Die een waarin tien kinders dood is.

“Ek tel die oggend die koerant op en ek lees: ‘Ek is lief vir jou. Wees tog gaaf met die taxi-bestuurder.’ Dít was gisteroggend me Rochelle Smith van Eersterivier se laaste woorde aan haar seun, Reece.’ En ek dink: my dogter het dit heeltemal op haar eie geskryf. Weet jy hoe trots voel ’n mens?”

In 1995 het Kerneels aan Rapport-Tydskrif gesê dat hy graag sy goue jare op Carolina in Oos-Transvaal wil woon. “Daar moet ’n Aga-koolstoof in die kombuis wees en baie koffie en boerebeskuit. Met ander woorde, dit moet rustig wees en ek moet tyd hê vir baie herinneringe – selfs oor goed wat ek nie gedoen het nie.

“Ongelukkig moet elkeen maar self vir sy eie oudag voorsiening maak. Hoewel pensionarisse en senior burgers afslag kry op uitgawes soos fliek en haarsny, kry hulle nie korting op die werklike uitgawes van die lewe nie. G’n wonder so baie van hulle moet hulle bekommer nie.”

En as hy ’n tweede kans kry om terug te kom aarde toe: “Ek sal graag Mozart wil wees. Hy is die enigste mens wat weet hoe die Requiem werklik moes geëindig het. En met die moderne mediese wonderwerke sou ek graag ’n kat in my skoonsuster se huis wou gewees het – dan sou ek ewigdurende vreugde kon hê en heerlik baas kon speel.”

Sarie wou weet hoe hy hom in die winter warm hou: “Daar’s ’n paar stelreëls. Nommer een: bou voortdurend aan jou koolhidraat-vlakke – wat goed is vir atlete, is goed vir TV-kykers. Jy’t daardie ekstra energie veral nodig vir nuusberigte.

“Nommer twee: betaal jou mediese rekenings eers ná maande. Nommer drie: gebruik die rooiwyn-en-blondine-opsie slegs wanneer jou vrou en kinders tydens die skoolvakansie Wildtuin toe is saam met jou skoonouers. Nommer vier: onthou, ’n knetterende kaggelvuur is die duiwel se oorkussing.”

Soos in sy jeug is Kerneels steeds ’n ywerige leser. “Ek verslind alles van Reginald Hill, Lee Child en James Ellroy wat ek in die hande kan kry. Dis my verstrooiingsplesier. Onder die ernstiger skrywers is dit ’n vreugde om met nuwe name soos Jonathan Franzen, Ian McEwan en Roberto Bolano kennis te maak. Die skrywers wat my beïnvloed het, is Henry Adams, Thomas Pynchon, Don DeLillo, Milan Kundera, Richard Ford en William Gaddis. Ek betrap myself ook elke paar jaar dat ek Pynchon se Gravity’s Rainbow en DeLillo se The Names herlees. Wat Afrikaanse boeke betref, probeer ek byhou.” (Aan LitNet)

Kerneels erken op LitNet aan Lien Botha dat ’n mens nie van die rituele van die daaglikse bestaan kan ontsnap nie – dit is altyd daar. Hy begin ongeveer vieruur in die oggend skryf en staan dan na ’n paar uur op. En dit is wanneer die rituele begin – soos om met Jasper, sy hond, te gaan stap, ontbyt te maak, koerant te lees en takies in en om die huis te verrig. Maar "met die skryf self is daar geen ritueel nie. Sommige dae gaan dit maklik, ander dae nie. Voor ek in die aand aan die slaap raak, probeer ek om die toneel wat ek die volgende oggend eerste gaan moet takel, in my verbeelding te sien. In detail. Wat die teenwoordige karakters sê en voel. Wanneer ek dan hier skuins voor vier wakker word, vind ek dat ek die ding omtrent kan sien en voel. Dis maar net ’n truuk wat vir my werk. Mens het so ongelooflik baie dinge wat jy op TV en rolprente sien, en jou eie ervaring, dat jou droomtyd soms wonderlike dinge oplewer."

En toe word Kerneels se tweede roman (’n lywige een) getiteld Piekniek by Hangklip in 2011 uitgegee en is dit een van die finaliste vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk saam met Sonja Loots se Sirkusboere, Net ’n lewe van Fransi Phillips, Onversadig deur TT Cloete en Wals met Mathilda van Dan Sleigh.

Louise Viljoen beskryf die storie van Piekniek by Hangklip op LitNet so: "Die twee hoofkarakters in Piekniek by Hangklip is Sonja Griessel, ’n jong Gautengse prokureur, en Joshua Gumbo, oorspronklik van Zambië en lid van die Lucky Thirteen-misdaadsindikaat in Johannesburg. Hulle lewensverhale raak verweef wanneer Joshua op ’n dag die motor probeer steel waarin Sonja en haar ouers by hulle huis aankom. In ’n toneel wat herinner aan Quentin Tarantino op sy absurde en gewelddadige beste skiet hy per abuis Sonja se ouers dood wanneer sy uit die motor struikel en onbedoeld ’n soen op sy mond plant, ’n daad waarmee sy hom onwetend van sy mojo beroof. Na die tragiese gebeure pak Sonja alles in Gauteng op om ’n nuwe lewe in die Overstrand-gebied te begin. Joshua volg haar spoor na die Kaap. Hy het haar net rakelings in die donker gesien, maar hy onthou haar reuk en hy begin soek na haar om sy mojo terug te kry. Op haar beurt soek Sonja na ’n eerlike eiendomsagent en ’n behoorlike argitek sodat sy haar met styl in Bettysbaai kan vestig.

"Uit hierdie eenvoudige gegewe ontspring daar ’n reeks avonture waarby daar allerlei interessante karakters, onvoorsiene gebeure, vernuftige wendings, smaaklike maaltye en heelwat goeie seks betrokke is. Alhoewel sommige van die episodes net lossies met die sentrale intrige skakel, is daar op storievlak heelwat om die leser besig te hou. Die verteller se beskrywings is raak en spitsvondig (die een karakter se ken het byvoorbeeld 'iets Brits in die teruggehoue plasing onderaan die skedel'). Daarby het hy ’n goeie oog vir besonderhede en ’n fyn oor vir dialoog.

"Die roman eindig met ’n uitspattige partytjie by die Hangklip Hotel waar Sonja die voltooiing van die planne vir haar huis wil vier en tegelykertyd ook wil wraak neem op die drie mans wat ’n weddenskap oor haar verleibaarheid aangegaan het. Soos dikwels in romans en films, is dié partytjie die karnavaleske hoogtepunt waarheen al die gebeure in die roman opbou. Al wat ek van die partytjie mag verklap, is dat dit sommige van die roman se plotlyne bymekaar bring en afbind sodat die leser ten minste ’n gevoel van (voorlopige) sluiting ervaar. Soos ander Afrikaanse skrywers voor hom betuig Kerneels Breytenbach met die beskrywing van hierdie partytjie sy skatpligtigheid teenoor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins wat as ’t ware die oermodel geword het vir alle partytjies in die Afrikaanse letterkunde. Leroux se roman word ook in herinnering geroep deur die talle filosofiese gesprekke tussen die karakters."

Vir Louise Viljoen is een van die kenmerke van die roman die feit dat dit wys dat belangrike kwessies nie alleenlik met erns aangepak hoef te word nie. "Klugtigheid en spot is eweneens wapens in die stryd om die behoud van goeie waardes, esteties bevredigende argitektuur, opbouende literatuurkritiek, onpretensieuse eetgewoontes en volhoubare maatskaplike verandering. Wat ’n seepgladde plesier was dit nie om hierdie roman van Kerneels Breytenbach te lees nie!"

Thys Human skryf as volg oor Piekniek by Hangklip: "Ofskoon Breytenbach sy verteller duidelik by Fielding afgekyk het, is daar geen sprake van skatpligtigheid nie. Aan die een kant skep die verteller ’n ironiese afstand tussen die leser en die karakters, wat eersgenoemde bewus hou van sy/haar kritiese reaksie op die gebeure. Aan die ander kant neem die verteller die leser soms só sterk in sy vertroue en is hy só eerlik oor sy werkswyse en bedoelings dat die leser ook die geleentheid kry om die karakters se standpunte in te sien en empatie met hulle te ontwikkel.”

“Vir lesers wat bereid is om ’n geloofsprong te waag, wag daar ’n leeservaring sonder gelyke: stilisties behendig, soms skandalig satiries, plek-plek sedeloos en sinnelik, maar áltyd slim en skreeusnaaks!”

Michiel Heyns se resensie in Beeld van 10 Oktober 2011 eindig so: "Piekniek by Hangklip is ’n oordadige, baldadige, balhorige aanslag op preutsheid en pretensie. Ontspan en geniet dit."

In 2014 is Ester gepubliseer en het dit weggestap met die kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie vir 2014. Dit was ook op die kortlys vir die ATKV-Woordveertjies, die WA Hofmeyr-prys en die UJ-prys vir 2015.

Ester se agtergrond is merendeels gesetel op ’n treinrit tussen Windhoek in die voormalige Suidwes-Afrika en Kaapstad. Ao Dieter Bergman word vanaf die dorpie Piet Retief opgekommandeer om op ’n landsbelangrike sending te gaan. Hierdie sending kan die geskiedenis van Suid-Afrika verander. Bergman moet ook vir Thyra Denk, ’n Duitse spioen, op haar plaas buite Windhoek gaan haal en saam met haar met die trein na Kaapstad reis waar sy voor die Gekose Parlementêre Komitee moet verskyn.

Maar die eintlike doel van die ondersoek, wat in opdrag van die Smuts-regering daargestel is, is om uit te vind of DF Malan, LV vir die opposisie, enige kontak met die Nazi-regime gehad het met mevrou Denk as skakelpersoon.

In sy commendatio vir die kykNET-Rapport-prys vir die rolprentkategorie skryf Herman Binge van Lion's Head Productions: "Wat meer wil ’n fliekmaker hê as die stomende verhaal van ontluikende liefde tussen ’n maagdelik-rigiede polisieman van Piet Retief en ’n verleidelike Duitse spioen van Namibië? Saam op ’n lotsbepalende treinreis na Kaapstad. Op ’n lokomotief van die ou SAS&H. In 1946, ’n jaar van groot politieke intrige in Suid-Afrika.

"Kerneels Breytenbach se Ester is ’n teks wat netjies binne ʼn bewese kommersiële fliekgenre val. Dink maar aan Marlene Dietrich in Shanghai Express van 1932, Rex Harrison in Night Train to Munich uit 1940, Tony Curtis, Jack Lemmon en Marilyn Monroe in die onvergeetlike Some ­Like It Hot uit 1958 ... Breytenbach se treinrit bied die rolprentmaker lieflike visuele metafore. Stoom en vuur, swaar wiele wat knars op spore. Afwagting op die spore wat vir ­kykers voorlê en die spore wat die karakters agterlaat in die verbysnellende werklikheid.

"Daar is oorgenoeg ruimte vir die nodige afwisseling tussen die dialooggedrewe interieurtonele en die buitetonele van stasies waar ons (en die storie) kan bene rek. Die moontlikheid van wye skote op ’n trein wat deur pragtige natuurtonele gly, vanaf die wydsheid van Namibië deur die dorre Karoo na die groene Boland verlos die kyker ook vir ’n oomblik van die kloustrofobie van klein kompartemente en benoude gangetjies. Breytenbach se fyn beskrywings van onvergeetlike karakters en sy slim, gevatte dialoog kan feitlik onveranderd in ’n draaiboek opgeneem word." (Rapport, 23 November 2015)

Dewald Koen skryf in Die Burger (22 November 2014) dat die roman gedeeltelik op die werklikheid gegrond is. "Breytenbach het sy feite deeglik nagevors en gevolglik word die fynste besonderhede as deel van die storielyn weergegee. Hierdie roman is egter nie ’n vervelige geskiedenisles nie.

"Die treinrit word op gedetailleerde wyse verwoord en Breytenbach skenk besonderse aandag aan die beskrywing van die landskap, hoewel dit nie met landskapbeskrywings van Karel Schoeman kan wedywer nie. Die leser word meegesleur op ’n spanningsvolle rit deur die natuurprag van Suider-Afrika. Op amper nostalgiese wyse herroep Breytenbach die vergange dae van die stoomtrein en die sjarme wat met dié treinreise gepaardgegaan het.

"Breytenbach se kennis van kos en musiek kom duidelik in die narratief na vore. Die vyfgang-maaltye tydens die treinrit word op amper poëtiese wyse beskryf en prikkel die leser se sintuie behoorlik. Breytenbach slaag daarin om die spanningselement tot aan die einde van die roman te behou. Die tempo van die roman begin relatief stadig, maar tel geleidelik spoed op soos die trein nader aan sy bestemming beweeg. Met talle onbeantwoorde vrae word die leser gedwing om stip te lees om sodoende te verseker dat enige terloopse handeling nie misgelees word nie.

“Die groot vraag wat die leser van bladsy een af teister, is die vraag rondom Ester se identiteit. Wie is Ester en waarom tree dié klaarblyklike skim­figuur nie na vore nie? (Die leser sal egter self die roman moet lees om die antwoord op dié vraag te verkry.) (...)

Ester is ’n spanningsroman wat ongetwyfeld die meeste lesers sal boei. Hoewel die roman spanningslektuur is en nie as hoë letterkunde geklassifiseer kan word nie, gaan dié roman myns insiens deur lesers verslind word. Die roman lei die leser ook tot verdere nadenke oor die politieke gebeure van 1946, aangesien dit die nuuskierigheid oor die ware geskiedkundige gebeure prikkel. (...)

Ester is die tipe roman wat meer as een maal gelees moet word. Met hierdie roman het Breytenbach die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsroman vervolmaak."

Kerneels het al in 2001 die eerste keer met Ester te make gekry toe ’n juris hom vertel het van hierdie Duitse spioen en die regering van Jan Smuts se poging om haar te gebruik om DF Malan se politieke loopbaan kort te knip. Hy vertel verder aan Lien Botha op LitNet: "Dit was vir my amper ondenkbaar dat politici dit oorweeg het om Malan van hoogverraad aan te kla. Ongelukkig het ek eers jare later die storie uitgesnuffel kon kry toe iemand my vertel het van die biografie wat Jeremy Lawrence geskryf het oor sy pa, Harry Lawrence, wat in 1946 minister van justisie was.

"Die Smuts-regering is ingelig oor geheime verslae wat gevind is in Von Ribbentrop se gekonfiskeerde dokumente, en Harry Lawrence, ’n man wat skynbaar nagedink het eers nadat hy gehandel het, het die kans benut om die wêreld vir Malan warm te maak. En toe ek eers Lawrence se biografie gelees het, het die storie vir my al hoe aantrekliker geword. Soos die toeval dit wou hê, het ek kort nadat ek dit gelees het, kort na mekaar die rolprent Salon Kitty gesien en ’n klomp romans deur Alan Furst gelees. My verbeelding laat nie sulke prikkels verbygaan nie. Ek het Lindie Koorts se proefskrif oor Malan gelees, wat vir my bevestig het hoe ’n soort mens hy was – maar toe moes ek hom probeer sien deur die oë van ’n vrou wie se ideale deur Malan se beginselvastheid verydel is. Dit gee toe ’n hele verhaal af."

Lien Botha wou weet of Kerneels se "vernuf met die vleeslike avonture op die trein" natuurlik kom. Vir hom was dit "jare van toegewyde studies in die skool van die lewe. En ek vermoed baie mense sal my siening deel, dat ongeag hoe gelukkig jy met die sake van die hart en vlees is, jy steeds saam met Leonard Cohen sing dat iemand tog jou tong van die verlange moet kom verlos."

Kerneels vertel ook verder aan Botha oor die rol van die trein. Hy self het nooit as kind ’n modeltreinstelletjie gehad nie, want hy was te "woelig", maar ’n maat, Gerald Bosworth, het wel ’n Scalextric-stel gehad waarmee hulle tot in standerd 7 nog gespeel het. En die enigste keer wat hy trein gery het, was toe hy nog ’n peuter was toe sy tante Liesbeth hom met die trein van Germiston na Alberton en terug geneem het.

"Maar my belangstelling in treine het gekom uit vriende se wedervarings op die Orient Express en die Trans-Siberië-trein. En Paul Theroux se verskillende boeke oor treinreise, veral The Old Patagonian Express. Een van my vriende, Herman Binge, het in sy jeug dikwels met die Windhoek-Kaapstad-trein gery, en kon my geweldig baie vertel van die soort klanke, geure en bewegings op daardie spesifieke trein. Herman se herinneringe was omtrent vir my ’n openbaring, want hy verlang self so terug daarna.

"Erla Diedericks, ’n Facebook-vriendin, kon my vertel van die binnekant van die kompartemente, hoe die beddens opgemaak is, waar die nagliggie gesit het, ensovoorts. Die aktiwiteite van die drywer en stokers is in besonderhede vir my beskryf deur Jaap Diedericks, Erla se pa, wat ook die model geword het van die karakter Jurie Kimberley. Les bes was daar Werna Maritz se pragtige drie boeke in die Ysterwiele-reeks. Met al hierdie inligting moes ek net die oë sluit en die verbeelding op loop laat gaan. Ek wou self daardie rit aanpak, maar die trein van Windhoek af stop deesdae op Karasburg en draai dan om. Maar jy het reg, ek het die trein gesien as ’n soort kokon, ’n lewende teenwoordigheid waar mense minnaars kon word."

Lien Botha wou ook weet hoe Kerneels tot siens sê aan ’n boek wanneer hy klaar is. Vir hom is dit swaar om afskeid te neem en die manuskrip aan die redakteur te oorhandig en te weet daar is niks meer wat hy daaraan kan of wil verander nie. "En op daardie presiese oomblik breek daar ’n walletjie in jou gemoed, en stroom vertwyfeling en onsekerheid in jou gemoed in. Dit stabiliseer uiteindelik eers wanneer die resensies begin verskyn. Noudat daar bekendstellings vir die boek is, en ek oor haar moet praat, is dit baie soos die lang afskeid wat mens neem van iemand vir wie jy lief is, maar die verhouding is afgeloop, en nou werk julle nog saam, sien mekaar elke dag, maar jy kan nie meer aan haar raak nie."

Joan Hambidge skryf op “Woorde wat weeg” oor Ester dat die "enorme, goed verwerkte navorsing indrukwekkend" is en dat dit "veerlig geskryf is, met ’n subteks vol verwysings en toespelings".

In 2016 skenk Kerneels sy dokumente rondom die skryf van Ester aan die Universiteit Stellenbosch se JS Gericke-biblioteek.

Tussen Kerneels se eie nuwe skryfwerk deur vind hy ook tyd om Deon Opperman se drieluik televisiereekse, Hartland, Donkerland en Kruispad, in romanvorm te verwerk. Opperman was nie intens by die verwerking betrokke nie. Met een van die boeke het hy die finale manuskrip gelees en ’n paar insette gelewer, maar nie met die ander nie.

Ná die sukses van die drie reekse op televisie het die uitgewer Riana Barnard gemeen dat die werke ook vir die leserspubliek toeganklik moet wees. Barnard het aan Francois Verster (op LitNet) vertel dat uitgewers in diens van die leser staan en uitgewers wil mense laat lees. Suksesvolle films laat gewoonlik mense die boeke koop, selfs mense wat nie baie lees nie, en omdat hierdie drie boeke van Opperman so ’n aangrypende tema het, was sy van mening dat die boeke net so goed sal vaar soos die reekse op televisie. En nadat Kerneels se verwerking van Hartland so positief ontvang is, was die besluit maklik om ook verwerkings van die ander twee te doen.

Kerneels vertel aan AJ Opperman (Beeld, 13 Oktober 2014) dat die verwerking van hierdie drie romans ’n "goeie uitdaging was om ’n sekere skryfkuns te verfyn. ’n Moeilike aspek was onder meer die karakters se fisieke voorkoms. Mense het hulle reeds op televisie gesien. Ek kon hulle nie mooier maak nie. Maar party van hulle is so mooi, jy kán hulle nie mooier maak nie. Ek was ook gebonde aan die dialoog."

Kerneels vertel aan Francois Verster dat hy met Opperman se oorspronklike teks plus die DVD's van die televisiereekse gewerk het en dit toe "oorgeskryf [het] in prosavorm". "Ek kon nie dinge beskryf wat nie in die uitsendings was nie, insluitende dialoog, maar ek kon wel dialoog weglaat of, in enkele gevalle, verander. Die keuses wat werkbaar sou wees vir die roman, al dan nie, was ’n tydrowende proses."

Oor die moontlike raakpunte tussen Karel Schoeman, FA Venter en Deon Opperman vertel Kerneels aan Verster: "Ek glo nie Donkerland is ’n reaksie op daardie skrywers nie; en ’n ondersoek na ’n ‘gesprek’ sou eerder moet konsentreer op die manier waarop die skrywer die plaaslike geskiedenis sien, en hoe hy die Afrikaner se reaksie daarop teken. Wat my aangespreek het in Donkerland, is hoe Deon die verhouding tussen swart en wit in elke tydvak uitlig, die intellektuele (of eintlik anti-intellektuele, soos Dirk aan sy bas voel) kaartehuis wat die Afrikaner vir homself opgerig het, en die flenters wat daarvan oorbly agterna. Die Afrikaner se verhouding met Engelse is belangrik, en die maniere waarop medemenslikheid na weerskante vertoon word. ’n Mens sou baie kleiner tematiese lyne kan uitlig, en uiteindelik dink ek Deon se analise is een van die mees volwasse, nugtere sienings wat ek nog raakgeloop het. Jy sou ook die politieke neerslag van elke tydvak as voeder van die spesifieke episode kon analiseer. Hoeveel lyne kan jy dan terugtrek na Venter en Schoeman? Ek vermoed nie veel nie, want Deon se aanpak het ’n groter deel van die geskiedenis wat dit onder die loep neem.”

Publikasies

Publikasie

Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde

Publikasiedatum

1976

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: CT Breytenbach

Literêre vorm

M-verhandeling

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Morsdood van die honger

Publikasiedatum

1992

ISBN

098129859 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

CNA-debuutprys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Glimlag

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131977 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ding tussen man en vrou: grappe byeengebring en oorvertel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150729 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Grapboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

7de Laan kook. Teks deur Kerneels Breytenbach en saamgestel deur Daleen van der Merwe

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151634 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Piekniek by Hangklip

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156035 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartland (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624056911 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donkerland (verwerking van televisiereeks van Deon Opperman saam met Deon Opperman)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624065241 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Ingrid Glorie 2015

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispad (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624071426 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ester

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167956 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Kerneels Breytenbach as samesteller

Kerneels Breytenbach as vertaler

  •  Impey, Rose
    • Gril jouself simpel. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028143 (sb)]
    •  Die groen enkelgryper. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028704 (sb)]
    •  Lappe-Lena. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028712 (sb)]
    •  Ou Platkop. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028135 (sb)]

Artikels oor Kerneels Breytenbach op die internet

’n Keur van artikels deur Kerneels Breytenbach op die internet

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top