Titel: Ester
Outeur: Kerneels Breytenbach
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798167956
In die ’70’s het Kerneels Breytenbach ’n soort van rubriek oor pop- en rockmusiek geskryf wat in Beeld en Die Burger verskyn het. In die rubriek het ’n fiktiewe rockorkes gefigureer met die fantastiese naam Jan van Riebeeck and the 1820 Setlaars. Of so iets. Daar het ’n bloedjong Breytenbach reeds gewys hy weet hoe om met woorde te werk. En hoe om feite en fiksie deurmekaar te klits in ’n leesdis wat jou tone laat krul van lekkerkry.
Sedert Jan van Riebeeck het die woordsmid Breytenbach sy vaardighede as kunsjoernalis, skrywer en uitgewer verder geslyp. Ester se storie in Breytenbach se hande is ’n stuk leesvreugde van begin tot end. Ek weet nie of die woord “moffel” ’n nuutskepping is of ’n ouderwetse Afrikaanse woord in onbruik nie. Maar as Breytenbach skryf iemand “moffel” die dokumente in ’n aktetas in, dan weet jy iets ánders is met daardie dokumente gedoen – hulle is nie net in die tas ingesit of geplaas nie.
In haar biografie oor DF Malan beskryf die historikus Lindie Koorts die kruks van storie waaromheen Breytenbach se Ester gebou is as ’n “sappige brokkie”. Van dié brokkie het Breytenbach ’n allemintige boek gemaak.
Die gegewe is min of meer die volgende: in 1946, ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, het die Verenigde Party-regering inligting bekom dat Malan gedurende die oorlog kontak gehad het met ene Tyra Denk, die vrou van ’n erkende Duitse spioen, Hans Denk. Malan was die leier van die amptelike opposisie in die destydse volksraad. Jy kan verstaan hoe gretig sy opponente sou wees om getuienis te vind dat hy inderdaad pro-Nazi was, soos die skinderstorie destyds gelui het.
Harry Lawrence, toe die minister van buitelandse sake, het ’n gekose komitee van die volksraad op die been gebring om die moontlikheid te ondersoek dat Malan hoogverraad gepleeg het deur kontak met Tyra Denk te hê. Sy het skynbaar gedurende en onmiddellik ná die oorlog op ’n afgeleë plaas naby Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika gewoon.
’n Klein, met die hand uitgesoekte, span polisiebeamptes is toe uit die “Unie” gestuur om mev Denk te gaan haal en per trein na Kaapstad te bring sodat sy voor die komitee van die volksraad kon verskyn. Daar sou sy ondervra word oor haar kontak met Malan. Met die implikasie natuurlik dat haar getuienis die potensiaal gehad het om Malan in die beskuldigdebank te kry op ’n klag van hoogverraad. Hoe anders kon die geskiedenis verloop het as Malan teen die 1948-verkiesing in die tronk was, of erger nog, tereggestel was!
Die boek speel grootliks speel af in die paar dae (en nagte!) op daardie SAS & H-trein tussen Windhoek en Kaapstad. En watter drama is dit nie, bevolk deur van die wonderbaarlikste karakters denkbaar. Ons verneem ook wie Tyra Denk werklik was. Jip, belustigheid is daar wel. Sommer heelwat. Maar dis die ander “ding” wat op daardie trein gebeur het wat lank na klaarlees nog in jou kop draal.

Voor ek Ester te lese gekry het, het ’n leser in een van die Afrikaanse dagblaaie gekla oor die feitelike akkuraatheid van die boek. Of die gebrek daaraan. ’n Legendariese Afrikaanse musiekfiguur van weleer wat ’n verskyning in die boek maak, kon onmoontlik op daardie trein gewees het, het die briefskrywer aangevoer. En ’n gerekende joernalis soos Breytenbach behoort nie so ’n fout te gemaak het nie.
O gonnatjiepiet, het ek gedink. Het Kerneels ’n sleg ding oorgekom hier? Maar toe nou nie. Die beswaarde briefskrywer het duidelik die boek nie gesnap nie. Jammer vir hom, want dis presies in dié vernuftige vermenging van feite en fiksie dat die genot van Ester lê.
In dieselfde tyd wat Breytenbach destyds oor pop en rock vir Beeld en Die Burger geskryf het, was wyle Freek Swart Beeld se politieke beriggewer. Later jare het ons saam ’n paar politieke berigte geskryf. So na die eerste drie paragrawe het Freek altyd teruggesit en gesê: “Raait, nou het ons die structure. Nou moet ons hom net ’n bietjie pad.”
Ester het baie padding – dalk ’n bietjie te veel vir my wat stoei met joernaliste wat nie saaklik en tot die punt skryf nie. Maar nou ja. Ester is geen historiese roman nie en dis ook nie suiwer fiksie nie. Dis net ’n dem lekker storie wat jou meesleur soos dit heen en weer slinger tussen die twee.

Tim du Plessis is hoof van aktualiteit by kykNET.
Lees ook 'n resensie omtrent DF Malan and the Rise of Afrikaner Nationalism.


Kommentaar
Ester verdien elke gloeiende resensie en 'n bekroning! Kerneels het in die historiese agtergrond waarteen hy Ester laat afspeel, volgens inligting wat hy by Ollie Viljoen bekom het,Taffie Kikillus 'n orkeslid van Hendrik Susan se orkes gemaak jare voordat Kikillus by die orkes aangesluit het. Dis 'n menslike navorsingsfout oor 'n deel van die musiekgeskiedenis wat selfs Ollie Viljoen nie goed kon onthou nie en helaas ook nie verder nagevors het nie. Volgens haar redakteur het Dalene Matthee getrou gewaarsku teen kortpaaie, want daar is altyd iemand wat meer van die onderwerp weet as jy. Kikillus se histories verkeerde plasing het niks te doen met die spel tussen feit en fiksie nie. Die skrywer het die trein, kleredrag en dr Malan se karakter bv deeglik nagevors en Chris Blignaut en Hendrik Susan gekies om die historiese agtergrond te verryk. Hulle optrede op die trein is deel van die spel tussen feit en fiksie solank dit binne die bekende aard van die karakters is. Die kanse dat oom Hendrik met sy rooi Fargo bus sou gery en op al die dorpies langs die pad opgetree het, is groter, maar die bus was iewers in 'n ongeluk beskadig en die kanse vir 'n treinrit goed. Het Kerneels maar liewer vir Jan van Riebeeck en die 1820 setlaars op die trein geplaas, was al die akademiese rondklappery om die boodskapper dood te slaan onnodig. Eintlik wys dié enkele versuim hoe goed die boek werklik is. Soos Langenhoven gesê het: "Wie wys nou na een gaatjie in 'n sif en spot daarmee!"
Ek wil graag uitvind of iemand my kan sê waar die uitdrukking "by Moorreesburg se omdraai" vandaan kom en presies wat dit beteken. Baie dankie!