Toespraak deur Kerneels Breytenbach by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag

  • 0

Ladies and Gentlemen, to use a term
Of cruder times when such distinctions counted,
Our age is one of wonders.

Aldus het Anthony Delius sy bundel The Last Division geopen. Daardie bundel het op 1 Julie 1959 verskyn en die baan geopen vir ’n uitgewersmaatskappy wat op 1 Februarie 1959 sy deure oopgemaak het in die Volkskasgebou, Adderleystraat, Kaapstad.

Dis ’n groot voorreg om vanaand hier die twee stigters van daardie uitgewery, Koos Human en Leon Rousseau, as eregaste te kan verwelkom.

Op 1 Februarie 1959 was albei 27 jaar oud. Soos Anthony Delius gesê het: "Our age is one of wonders." Van daardie dag af het Koos en Leon die aangesig van die Afrikaanse uitgewerswese verander, en ’n nuwe rigting aan Afrikaanse boeke van alle soorte gegee.

’n Spesiale hartlike verwelkoming ook aan al ons outeurs wat vanaand hier teenwoordig kon wees. Sonder julle sou Human & Rousseau net ’n ideaal gebly het. Danksy julle is die droom verwesenlik. Danksy julle droom ons steeds groot vir die toekoms.

Die vennootskap van uitgewer en outeur is ’n kosbare een. Ons vertroetel dit. En as ek praat van “ons”, dan noem ek graag die name van diegene wat eens deel van die “ons” was, maar nie meer met ons op die aardse perseel is nie – mense soos EP du Plessis, Ampie van Straaten, mevrou Basson, Isadore van der Poel, Douglas Abrahams.

Dan ook diegene wat nog tussen ons beweeg, maar nie meer in die werkplek nie: Hans Büttner, Anelma Ruschioni, Elsa Naudé, Estelle Crowsen, Nydia de Jager, Eddie Hanekom, Ralie van der Walt, Alet Oberholzer, Wilhelmina Abrahams, Amina Thomas – en talryke ander, dienend en rustend. Ek gaan nie al die name kan noem nie, maar ons sal hopelik in die loop van vanaand nog ’n glasie saam kan geniet.

Human & Rousseau se eerste Afrikaanse boek was Die Legende van die Heilige Julianus, die Herbergsame (Flaubert), vertaal deur WEG Louw. Kort daarna het gevolg ’n heruitgawe van Dwaalstories (Eugène N Marais) en Elisabeth Eybers se vertaling van Die Os en die Esel van die Krip (Jules Supervielle).

In 1960 het Human & Rousseau verhuis na Alexandralaan 24, Oranjezicht; die kantore was deel van Leon Rousseau se woning. Die kelder is as pakhuis gebruik.  Drie titels word met daardie tydperk geassosieer: Die Opkoms van ons Derde Stand deur DP Botha, Meulenhof se mense deur Linda Joubert (Henriëtte Grove), en NP Van Wyk Louw se Vernuwing in die Prosa.

Die jaar 1962 was vir Human & Rousseau gedenkwaardig. In die eerste plek het die firma verhuis na Keeromstraat 71, ’n atmosfeerryke ou gebou aan die bopunt van die straat, grensend aan die Argieftuin. Dit was literêr gesproke ’n annus mirabilis. Binne die bestek van twee maande verskyn Tristia (Van Wyk Louw), Balans (Elisabeth Eybers), Sewe Dae by die Silbersteins (Etienne Leroux) en Lobola vir die Lewe (André P Brink).

In 1962 het DJ Opperman ’n direkteur geword. Twee jaar later het Human & Rousseau-Academica boeke van akademiese aard begin publiseer onder die leiding van Piet Muller.

Dit was veral die publikasielys van 1962 wat die firma se aansien onder jong skrywers laat styg het. Naas Brink en Leroux het Koos en Leon die werke begin publiseer van Abraham H de Vries, Jan Rabie en Bartho Smit (almal belangrike Sestigers), en in 1967 het gekom die gedenkwaardige Die huis van die dowe van Breyten Breytenbach, toe nog in noodgedwonge ballingskap in Parys. Dit is ’n groot voorreg om Breyten vanaand hier teenwoordig te hê.

Met die oorname van die literêre fonds van AA Balkema in 1962 het Uys Krige, Ina Rousseau en Ernst van Heerden in die Human & Rousseau-fonds tereggekom.
Herman Charles Bosman se werk het deur die toedoen van Lionel Abrahams toe reeds ’n tuiste by Human & Rousseau gevind.

In die volgende klompie jare het die maatskappy sy reikwydte verbreed. Onder die publikasies tel boeke soos Die Afrikaanse Operagids (Louis Steyn), Jan Rabie se Bolandia-reeks, die eerste groot koproduksie-kinderboek, My Eerste Rympiesboek van Richard Scarry, populêre romans deur Tryna du Toit en andere, die eerste heruitgawes van Helena Lochner, die groot boek oor SA Kuns in die Twintigste Eeu (in samewerking met Rembrandt), waarskynlik een van die eerste buitelandse uitgawes van die latere Nobelpryswenner Italo Calvino (Die Koning van die Poue), Gees van die Wingerd / Spirit of the Vine, ’n internasionale pryswenner uitgegee vir die KWV se 50ste bestaansjaar, en Die Mooiste Afrikaanse Sprokies (Pieter W Grobbelaar), die omvangrykste versameling Afrikaanse volksverhale tot op datum, met illustrasies van Katrine Harries.

Die volgende groot stap was om in 1969 te begin met die publikasie van die deelwerk Kennis. Die aanvanklike reusagtige sukses van Kennis het aanleiding gegee tot ander deelwerke: Die Bybel vir ons Kinders en Die Nuwe Cordon Bleu-kursus in Fyn Kookkuns. Op 1 Julie 1969 het die firma, deels vanweë die groot personeeluitbreiding veroorsaak deur die deelwerke, verhuis na die Stategebou in Roosstraat 3–9, waar die maatskappy tot begin 1999 was.

Kom ons maak nou ’n sprong oor tyd en kyk na die belangrikste publikasies sedert die verhuising na Roosstraat.

In 1974 verskyn The 1820 Settlers (redakteur Guy Butler) en Leon Rousseau se  Die Groot Verlange, die lewensverhaal van Eugène N Marais, in 1978 The Bushmen (redakteur PV Tobias), in 1979 Simon van der Stel’s Journey to Namaqualand in 1685, in 1983 Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (C Pama), in 1984 Emily Hobhouse se Boer War Letters (redakteur Rykie van Reenen), in 1986 Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika (redakteurs Trewhella Cameron en SB Spies) en DJ Opperman, ’n biografie (JC Kannemeyer), en in 1989 Olive Schreiner (Karel Schoeman).

Die verskillende uitgawes van Huisgenoot se Wenresepte is die suksesvolste reeks kookboeke wat nog in Afrikaans verskyn het, en slegs een ander titel in die Human & Rousseau-stal troon daarbo uit: mevrou SJA de Villiers se Kook en Geniet, wat in 1972 deur Human & Rousseau oorgeneem is en nog nooit sedertdien uit druk was nie.

Op die terrein van die kinderboek het Human & Rousseau ’n enorme bydrae gelewer, veral met sprokiesboeke. Human & Rousseau het ook die voorste Afrikaanse uitgewer geword van oorsese koproduksies van kinderboeke.  Terselfdertyd is die oorspronklike Afrikaanse kinderboek nie verwaarloos nie en het die werk van outeurs soos Pieter W Grobbelaar, Marié Heese, Marié Opperman, Rona Rupert, Leon Rouseau, Verna Vels en ander verskyn. Gewilde TV-reekse is in boekvorm uitgegee, soos Haas Das, terwyl die publikasie Liewe Heksie tot ’n suksesvolle TV-reeks gelei het.

Die akademiese boeke van H&R-Academica het ook ’n belangrike rol begin speel en ’n aantal standaardwerke is gepubliseer, soos 500 Jaar SA Geskiedenis (redakteur CFJ Muller, ook in Engels), Die Geskiedenis van Afrika (HJ van Aswegen), die tweedelige Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur (JC Kannemeyer), die reeks Blokboeke oor die Afrikaanse letterkunde, en die reeks Nederlandse teksuitgawes Literatuur van die Lae Lande.

Human & Rousseau gaan nog steeds voort om die werk van belangrike Afrikaanse skrywers uit te gee, en werke deur Breyten Breytenbach, André Brink, Ingrid Winterbach en Wilma Stockenström is in die onlangse verlede bekroon.

Op 1 April 1977 het Human & Rousseau lid geword van die Nasionale Boekhandel-groep.

In 1979 het Leon Rousseau die firma verlaat.

Op 1 Oktober 1989 is die fonds van H&R-Academica oorgeplaas na JL van Schaik (Edms) Bpk.

In 1992 is die grootste deel van die onafhanklike uitgewery Taurus se boeke deur Human & Rousseau oorgeneem.

Koos Human het einde 1994 die tuig neergelê. Hy is opgevolg deur Kerneels Breytenbach, wat gehou het by die publikasietradisies wat by Human & Rousseau gevestig was, maar in 1996 besluit het om die firma se skoolboek-aktiwiteite te konsolideer onder die druknaam Best Books. Best Books is deur Marietjie Coetzee by Human & Rousseau se Pretoriase kantoor bestuur, en danksy haar innovasie het Human & Rousseau in 1997/98 sy grootste omset en wins ooit behaal.
Ons is bly dat Marietjie vanaand met ons kan wees.

In hierdie welslae was ook die kiem van groot terugslag. In 1998/99 het die skoolboekmark ineengestort, en Human & Rousseau en sy sustersmaatskappy, Tafelberg-Uitgewers, het baie groot verliese gely. Human & Rousseau was in 1999 en 2000 noodgedwonge onder die dak van Jonathan Ball Publishers, ’n ander algemene uitgewery in die Nasboek-stal, maar in April 2001 het Human & Rousseau en Tafelberg-Uitgewers saamgesmelt onder die NB-Uitgewers-vaandel, met Hannes van Zyl as hoofbestuurder en Kerneels Breytenbach as publikasiehoof. Welkom ook aan Hannes!

Sowel Tafelberg as Human & Rousseau floreer tans as drukname in die NB-groep. Die ondernemende gees van Human & Rousseau se stigterslede word onder die leiding van Eloise Wessels voortgesit in publikasies wat getrou bly aan die aard van Human & Rousseau-boeke soos dit vir onderskeidende lesers sedert 1959 bekend geword het. Ek wil ook net graag hier byvoeg dat Eloise Wessels ook vanjaar haar 50ste verjaarsdag vier.

Dames en here, ons bring vanaand hulde aan Human & Rousseau, aan almal wat by die firma gewerk het, daarmee geassosieer is – en veral aan almal wat by Human & Rousseau gepubliseer het.

Ek vra julle om saam met my die heildronk te drink: Human & Rousseau!

Ek roep nou graag Vir Leon Rousseau na vore.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top