In memoriam: Kerneels Breytenbach skryf oor James Small

  • 14

Iewers het iets verkeerd geloop. James Small sterf aan hartversaking. Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur spreek sy skok uit. “James Small,” sê meneer Nathi Mthethwa vanuit Liverpool waar hy die Spar Netbal Proteas onderskraag, ondersteun, en deur sy blote teenwoordigheid aanmoedig, “was nie net ’n legendariese figuur nie, maar een van daardie spelers wie se naam geskryf sal word in die geskiedenis van ons sport.” Hy verpoos ’n paar oomblikke sodat die betekenis van sy woorde kan insink. “Hy was een van hulle wat instrumenteel was, saam met die klas van 95, om sosiale samesyn en nasiebou aan te wakker.”

Liverpool is relatief warm hierdie tyd van die jaar. Ons is bewus van die minister se groot opoffering. Netbal het, alles in ag genome, in dieselfde primordiale pot van kulturele kolonialisme as rugby geprut.

“Ons sal nooit vergeet,” sê ons spesiale netbal-nasiebouer in die vreemde, “watter rol die 1995-Springbokspan gespeel het om rassegrense af te breek en ons een nasie met een doel te maak nie. Die klas van 95, James Small ingeslote, het naas ons voormalige staatshoof ‘tata’ Nelson Mandela gestaan en gedemonstreer hoe belangrik sport is om rassisme en diskriminasie uit te wis.”

Vir ’n oomblik verblind die helder noordelike son hom, en besluit hy om die laaste paragraaf van sy persverklaring nie te lees nie. Dis jammer, want sy toespraakskrywer het homself daarin oortref:

“Die volkome mens is afgetakel in al die skerwe van sy vroeëre samesmelting — pure skoonheid, pure verstand, pure krag, pure gees en pure liggaam. Weg vir altyd is die gevoel wat alles omvat. Ons weet te veel. Die kritiese enkeling bewys gou die valsheid van die troebele geheel.”

James Small is dood. Lank lewe sy nagedagtenis, en die betekenis van sy lewe.

Net voor die minister sy papiere in sy baadjie se binnesak terugdruk, is daar ’n kringfluit in die klankstelsel, ’n woord hoorbaar in die gesuis.

“Wie het dit gesê?” vra die minister, “Daardie woord? Ubi?”

Sondag kom Rapport met die antwoord op die minister se vraag. Die sabbatsjoernaliste het dieselfde vraag  as die kringfluit in Liverpool gevra: Waar?

Waar was James Small toe hy sy hartaanval gekry het? Dis algemene kennis dat sy lewelose liggaam na die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview gebring is. Maar waarvandaan? Volgens die berig het Small sy oorval gehad in The Harem, ’n “volwasse speelplek” wat stylvolle vermaak verskaf aan uitsoekerige kliënte.

’n Knolskrywer soos die uwe sal dus net kan raai oor wat die antwoorde sou wees as mens die ander noodsaaklike vraag vra” “Quis?” Saam met wie was hy daar?

En tot tyd en wyl daar ’n behoorlike analise  van sy bloed beskikbaar is, moet ons geduldig wag op die laaste vraag, “Cur?” Waarom is hy dood? Iets wat die are vernou het, en enorme druk op die hart geplaas het? Of was dit net ’n slegte oomblik van ooreising, aangebring deur die gunste en geesdrif wat mens kan bekom as jy in een aand drie keer R1000 trek? Die knolskrywer kan kwalik dink dat Small die weduwee Clicquot meer as twee maal sou nadergeroep het, maar ek was al oor belangriker dinge verkeerd.

“Daar sal hope antwoorde wees.” Vir eens is mens geneig om met Jock Silberstein saam te stem, “maar die malum sal soos ’n wolk oor alles sweef en niemand sal presies sy vinger op ’n enkele waarheid kan lê nie.”

James Small was ’n rolmodel. As sy lewe minder avontuurlik was, sou hy straks net nog ’n uitgetrede rugbyspeler gewees het.

Een aand, ná verkwiklike spys en drank, vra ek vir Gielie Hoffmaan, ’n sportsielkundige, uit oor wie die dose in die 1995-rugbyspan was. Hy was verbaas oor die vraag. Mense speel nie op daardie vlak rugby as die ander veertien spelers in die span nie met hulle kan klaarkom nie. En dit is presies wat ek wou hoor. Daardie Springbokspan baai in glorie en verering, maar die grootste held onder hulle was en bly vir my James Small.

Deur die jare is baie gewag gemaak oor Small die bad boy van rugby. Die man wat party gehou het sonder brieke. Die man wat kon uitdeel en ontvang. Daar was stories in die pers oor die kere wat hy aan Christina Storm geslaan het. Daar was prewelinge onder Kaapstad se naguile oor gedoentes in kroeë laat in die aand. Ek het gehoor van dwelms en geesdrif vir nuwe dinge.

Maar dit het nie my siening van James Small verander nie. Vir my is James Terence Small ’n heroïese figuur, en anders as so baie moderne sportlui, nie een met voete van klei nie. Hy het dit vir my geword toe hy in 1992 deur die beweerde neutrale Engelse skeidsregter Ed Morrison van die veld gestuur is in ’n toets teen Australië. Enigiemand wat daardie dag na die wedstryd gekyk het, kon sien dat Morrison se ego die wedstryd se gang bepaal het. Small, tipies, het teruggepraat en die prys betaal. Die kritiese enkeling bewys gou die valsheid van die troebele geheel.

Small sal nooit daarvan beskuldig kan word dat hy ’n stereotipe rugbyspeler was nie. O nee. Hy was totaal surround-sound, en wat hy ookal gedoen het na sy uittrede, ek gun hom dit.

Hy het my as rugbykyker baie plesier verskaf, maar die oomblik wat ek die langste onthou, was hoe hy op die veld gaan sit het tydens die ekstra tyd van die 1995-eindwedstryd om die Wêreldbeker, sy gesig vertrek in pyn weens krampe in sy kuite en bobene, trane wat oor sy wange stroom.

Maar hy het opgestaan en verder geveg, tot die soete einde.

So what as hy ’n ongeslypte diamant was. Diamant was hy, en vir my hardloop hy altyd, soos Julius Jool, met uitgestrekte arms na die lig.

In Kaapstad het hy hom begewe in die wêreld van restaurante en koffiekroeë. Ek het self daar in die Tuinsentrum ’n slag of wat gaan koffie drink in die hoop dat hy die dag op die perseel sou wees. Hy was nie. Maar my goeie vriendin Annelize van Rooyen stuur vir my haar herinnering van daardie jare aan. Dit is die moeite werd om aan te haal:

“Een aand in 'n restaurant in Kaapstad waarin James Small 'n aandeel gehad het, het hy ingekom en oënskynlik effe verlore rondgekyk. Hy het sy regterhand onder sy T-shirt ingesteek en opgewerk na sy linkerskouer waar iets gejeuk het. Ons het die hand met aandag gevolg, want in die proses is sy torso spier vir aanloklike spier ontbloot. Ons het in slaafse bewondering, verlángend na hom gestaar — mans én vroue. Hy het 'skaam-skaam' omgedraai en uitgestap. Daar was 'n gemeenskaplike sug van genot en almal het na hul wynglase gereik.”

Ek beny haar daardie oomblik, die kennis van pure skoonheid, pure verstand, pure krag, pure gees en pure liggaam. (Ja, ek het gejok, daai woorde was nie in Nathi Mthethwa se persverklaring nie. Dit kom uit Sewe dae by die Silberstein, in wie se amper mitiese domein James Small een van die gode van suiwerheid is.)

James Small het in die jare negentig rugby op die hoogste vlak gespeel. Rugby het toe betreklik onlangs van die amateur- na die professionele kode oorgeslaan . Hy het skouspelagtig ryk geword, maar nooit sy nederigheid in die openbaar verloor nie. In die afgelope week is dikwels verwys na sy vriendelikheid en die mooi manier waarop hy kinders en rugby-bewonderaars hanteer het.

Tussen hom, Japie Mulder en Joost van der Westhuizen is die ideaal van sportmanskap vervolmaak: Die beste opponente waarteen enigiemand kan speel, en die manne wat vooraan was wanneer hulle hul lywe op die spel moes plaas. Dink aan Jonah Lomu se wedervaringe in daardie beroemde eindstryd op Ellispark. James Small het sy nommer gehad. Lomu was só bang vir Small dat hy vergeet het om vir Joost dop te hou. Ek sê maar net.                                                                   

Daar word gesê dat sport die laaste toevlug van patriotisme is. Ek is nie seker of dit nog heeltemal waar is nie. Maar dit was waar in die jare negentig, toe James Small die reuse namens ons almal getem het. Altesame 47 toetse vir ons land, en hy het 20 drieë in daardie toetse gedruk. Daar is nooit enige verbode middels in sy bloed gevind tydens sy speelloopbaan nie. Sy skouers het gelyk asof hy in The Golden Girls hoort, maar dit was nie shoulder pads daai nie! Totdat Eben Etzebeth op die toneel verskyn het, was daar niemand met só ’n gespierde nek in Springbok-rugby nie. En ofskoon daar min te kies is tussen die gespierde torso’s van Joost van der Westhuizen en Small op daardie beroemde oefenfoto (kopiereg op die foto is onduidelik en daarom word dit nie hier geplaas nie), weet mens dat Small s’n die langste gehou het.

Op ’n aand in die laat negentigs beland ’n vriend in ’n vliegtuig langs ’n pragtige vrou wat vertel dat sy met James Small uitgegaan het. Hy het my dadelik daarvan vertel, en ek het besluit dat ek weet hoekom Small nie meer in haar belangstel nie. Nie die grootste peanut in die pakkie nie.

Maar wat sy hom vertel het, en wat ek nie hier sal herhaal nie, was genoeg om James Small nog verder in my estimasie te laat styg. Daar is ’n spesiale plekkie vir mense wat ernstige sensualiste is, en baie tyd en beplanning daaraan afstaan. ’n Ridder op die slagveld van die erotiek.

James Small was ’n atleet, ’n sportman, ’n strateeg, ’n dromer, en ’n minnaar. Niks wat mense oor hom skryf, sal sy beeld in my oë aantas nie. Al is baie daarvan waar. Koerante moet die regte vrae vra, en die waarheid sal sigbaar word. Maar niks, absoluut niks, kan afbreuk doen aan 47 toetse, 20 drieë en die grimas van pyn op Ellispark se wintergras in 1995 terwyl hy veg teen sy eie liggaam en weier om die veld te verlaat nie.

Goed, as ek my lyf Elizabeth Kübler-Ross kan hou vir ’n oomblik, dink ek aan James Small in sy laaste oomblikke, en wens my held die woorde toe waarmee Etienne Leroux Sewe dae by die Silbersteins afsluit: “Veronderstel jy is alleen in ’n groot saal. Jy lig jou hande vir jou beminde. Jy is geklee in ’n uniform. Jy is bevrees, maar jy het die geloof. Jy dobbel met jou geloof. In jou uniform van die engele gaan jy na vore, jy lig jou hande, en met volkome vertroue wag jy op die beeld van waarheid in gelid van die liefde.”

  • 14

Kommentaar

  • Dankie vir pragtige huldeblyk. James sal altyd 'n fantastiese held vir my wees. Geen mens sal hom ooit afgekraak kry nie.

  • Johann de Lange

    Daardie stukkie poësie, waarvan daar baie by Leroux is, het my nooit verlaat sedert ek dit die eerste keer gelees het nie: die beeld van waarheid in gelid van die liefde. Onsterflike woorde, as daar ooit so iets was.

  • Kerneels, James kon nie vir beter gevra het nie. Kan jy vir ons jou telefoonnommer gee vir ingeval ons familie jou binnekort nodig kry. Bravo.

  • Ilza Roggeband

    Ek is nou skoon huilerig. Ek het James net een keer ontmoet - as 'n bloedjong joernalis by Huisgenoot - en onthou sy energie en denim dungerees. 'n Rugbyspeler in dungerees! Maar bowenal onthou ek sy goeie maniere. Dankie, Kerneels.

  • engemi ferreira

    Dankie Kerneels vir d wyse waarop jy (vir my) James Small verhewe het tot dié literêre niche van sy eie. Bravo! Ek glo sy siel kan hierna waarlik in vrede rus.

  • Anita de Kock

    Dankie Kerneels vir die woorde oor James Small. Hy was nog altyd vir my 'n "Hero" - met al sy wille dinge en al. Hy sal altyd een bly. Ek het in my besit 'n plakaat van hom aan die hardloop (kaalbors nogal) wat ek van 'n lamppaal in Pretoria gesteel het, asook sy handtekening op die voorblad van 'n tydskrif.

  • Marian Klerck

    Hoe absoluut pragtig skryf 'n letterkundige oor 'n rugbyheld. "Met uitgestrekte arms na die lig." Hartverwarmend.

  • Gustaf Claassens

    'n Kleurvolle persoon met meer as een kant. Iemand wat die lewe geleef het. Staaltjies, stories en verhale van diegene wat hom van naby geken het, sal net so uiteenlopend wees soos sy persoonlikheid self. Vir nou is dit net genoeg om te sê dat hy besonders was; as rugbyspeler en ook as mens. 'n Kleurvolle karakter wat onthou sal word as iemand wat net homself wou wees, James Small, enig in sy soort. Sy heengaan was voortydig in baie opsigte ...

  • Soos Margo Luyt sê, gee jou my adres. Ek soek ook so lofgesang op my begrafnisbrief. Ongelukkig was/is ek nie beroemd nie. Wat my die vieste in maak is die sensasie waarmee oa Joost en nou James tot "'n val gekom" het. Weet nie wat de hel die sensasieskrywers daarmee wil bereik nie. Nege uit die tien kere is die skrywer 'n onaangepaste persoon wat agv sy/haar eie onsuksesvolle bestaan orgasmiese genot daaruit put om ander af te kraak en te verguis.

  • Much ado about nothing... Tragies dat die sg helde so kan sink. Vraag: kan die ouens na al die kopwassery, die mannery, die getroetelry, die steroïde, uiteindelik daarsonder leef? Nope, Kerneels, slegs ferme persoonlikhede kan sukses en aanvaarding van afloop hanteer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top