Teenstrydige gesigte van 'n nukkerige voetsoldaat - IL de Villiers se Strooidak en toring

  • 0

Titel: Strooidak & toring: van mense en my tyd
Skrywer: Izak de Villiers

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200148
Publikasiedatum: Julie 2009
Aantal bladsye: 304

I

IL de Villiers (30 Julie 1936) is ’n Paarliet. Hy het gematrikuleer aan Paarl Gimnasium en het al sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch (BA, BA Hons, MA en Lisensiaat in Teologie) cum laude verwerf.

Hy was die herder van drie gemeentes – Albertinia, Bonnievale en Constantia – voordat hy in 1983 aangestel is as redakteur van die vrouetydskrif Sarie. Van 1991 tot 1997 was hy redakteur van Rapport. By Sarie het hy die redaksie saamgesnoer met sy merkwaardige leierskap en in 1990 het dié tydskrif rekordsyfers behaal. Rapport het hy gelei in ’n groot groei-ommeswaai en in 1994 dié koerant se sirkulasiesyfers weer die 400 000-perk laat verbysteek.

As joernalis het hy ook naam gemaak as gereelde bydraer tot Sarie se agterblad-rubriek (sedert 1976) en in die jare sewentig het hy onder die skuilnaam Anton de Waal ’n baie gewilde en polemiese rugbyrubriek vir BY geskryf.

Deur die bemiddeling van die Nasionale Pers (in die persoon van adv Lang David de Villiers) was hy in 1978 ’n USSALEP-student in die VSA, met die Chicago Sun Times as basis.

Hy was betrokke by die Raad van Beheer op Publikasies, lid van die Afrikaner-Broederbond, lid van die Raad van Kruik, lid van die direksie van Nasionale Media, lid van die Mediaraad, trustee van die Dagbreek-trust, lid van die Uitvoerende Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en stigterstrustee van die Chris Burger-fonds vir beseerde rugbyspelers.

Hy het in 1978 die gesangberymings vir die nuwe Psalm- en Gesangeboek gefinaliseer.

As digter het hy in 1972 gedebuteer met Leitourgos en dit opgevolg met Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978), Jerusalem tot Johannesburg (2005) en Vervreemdeling (2008). Hy is ook outeur van 35 ander publikasies van godsdienstige of niefiksie-aard, en bydraer tot Sarie se superseksboek.

Hy is met die Credoprys vir Christelike Literatuur bekroon vir Leviet en vreemdeling (1980), met die Andrew Murray-prys vir Depressie, die siekte van ons tyd (1986) en met die M-Netprys vir Jerusalem tot Johannesburg.

II

Dit sal nie vir my moontlik wees om Strooidak en toring te bespreek sonder om belange te verklaar nie.

Ek ken Izak de Villiers sedert 1976, toe Fritz Joubert, indertyd redakteur van BY, ons aan mekaar voorgestel het. Hy het gevra dat ek hom Izak noem. Ek het destyds geen erg aan predikante gehad nie. Ek het nogtans van hom gehou, veral toe hy drie pare van my vriende kort na mekaar in die heilige huwelik verbind het: Thys en Julia Uys, Theoniel en Erné Potgieter, en Leo en Renee Conradie. Ek het gehou van sy informaliteit, sy onopgesmuktheid van die kansel af.

As jong joernalis was ek nie onbewus van sy invloedryke vriende nie: Piet Cillié, Hannes van der Merwe, Merwe Scholtz. Dit het my nie beïndruk nie - ek was om ‘n verskeidenheid redes meer geneig om Schalk Pienaar as my Gamaliël te aanvaar. Maar daar was ook Daantjie Saayman in sy vriendekring, wat vir my daarop gedui het dat hy tog eintlik orraait moet wees.

Ek was ook deeglik bewus van Izak de Villiers se bemarkingsvernuf, waarvoor Nasionale Pers vir hom verskeie goeie platforms gebied het voordat hy in 1983 Sarie se redakteurskap op hom geneem het. Isa Oldershaw, daardie formidabele bestuurder van Nasionale Boekhandel se winkel in die Groote Kerk-gebou, het eens gesê dat dit maklik is om te verstaan hoekom Izak die Bonnievale-gemeente verruil het vir die Constantia-gemeente: “Nuwe gemeente, nuwe lesers.” Izak het altyd nader aan die groot vuur van Nasionale Pers beweeg, altyd sy gemeente se getalle vermeerder. Nasionale Pers het hom die hoogtepunte van sy loopbaan gegee; Naspers het uiteindelik stilweg van hom afskeid geneem.

As uitgewer was ek in ’n bestuurshoedanigheid net by vier van sy publikasies betrokke: Sarie se superseksboek (waarvan hy een van die medewerkers was), Jerusalem tot Johannesburg en Vervreemdeling, en die heruitgawe van Depressie, die siekte van ons tyd. Ek het geen onaangename herinneringe daarvan nie, ondanks die paar aanvalle van akute nurksheid wat hy onderweg had.

Met die verloop van tyd het ek geleer dat mens óf van Izak hou, óf ’n groot hekel in hom het. Dit kan nie anders nie: die mens en loopbaan wat ek in I hierbo beskryf het, is noodwendig dié van iemand met ’n baie groot ego, ’n onblusbare drang om geken en herken te word, iemand wat alles doen soos hy dit wil doen en basta. Met die lees van Strooidak en toring word ’n mens dan ook telkens daaraan herinner dat dit, in die woorde van een van John le Carré se karakters, “kom na Jesus”-tyd is.

III

Strooidak en toring is IL de Villiers se vertelling “van mense en my tyd”. Hy het vir LitNet daarmee begin in antwoord op ’n versoek van Etienne van Heerden. Dit het gegroei tot die naaste aan ’n outobiografie wat hy sekerlik sal kan kom.

Dit is ’n boek wat van die foto op die omslag af reaksie uitlok - een van die onvleiendste foto’s van Izak wat ek nog ooit gesien het. "Lelik" is miskien ’n beter woord. Kennende Izak is dit die foto wat hy daar wou gehad het.

Die inhoud self is daardie interessante hibried van biografiese verslagdoening: die lewens van beroemde figure soos ervaar deur die verteller. Uiteindelik het ’n mens ’n taamlik goeie geheelbeeld van die verteller, versier met anekdotes oor ander. Die wins is die verteller syne.

In Strooidak en toring wemel dit van Piet Cillié, Lang David de Villiers, Audrey Blignault, Jan Pickard, Jimmy Kruger, Jimmy Carter, Pik Botha, Laurens van der Post, HF Verwoerd, Margaret Gardiner, FW de Klerk, Daantjie Saayman, Louis Luyt … Izak is die begeleier en tolk.

Algaande duik die grinterige gedagtes op: Hou ek nog soveel van Izak? Kan dit waar wees dat hy heimlik die PP en DA ondersteun het? En: Wat het sy vrou en kinders gedink?

Hierop kry jy nie antwoorde nie. Nie in woorde nie, ook nie in dade nie. Kan die man wat van Rapport so ’n hiperkonserwatiewe politieke koerant gemaak het, werklik in sy diepste gedagtes die DA ondersteun het? Izak moet my maar verskoon, maar sy Rapport beduie van anders.

By die lees van Strooidak en toring staan daar dadelik twee sleutelpassasies uit. Die een is prof Kolie Kotzé se woorde aan Izak: "Izak, jy gaan nooit gewild wees nie … Jy is soos baie Viljees, effe hovaardig en aanvallend en nie ‘n engel nie. Jy sal nie veel daaraan kan doen nie. Dis vasgelê. God verander nie ‘n mens se persoonlikheid nie. Hy werk daarmee. Jy is geen spanwerker nie. Mense sal van jou hou of jou haat. Jy gaan ook nie baie beroepe ontvang nie. Jy sal dikwels eenkant wees. Maar waar daar probleme in ‘n gemeente is, of waar ook al, sal jy geroep word om die krisis te ontlont. Dis jou roeping.”

Die ander handel oor die sigeunerin wat in 1972 by die Goodwoodse Skou Izak se fortuin vir hom vertel het. Hy was sinies en het sy gebruiklike hovaardige geluide gemaak, maar omdat sy plek-plek verwys het na dinge wat werklik gebeur het, het hy algaande begin luister na wat sy sê. Die vrou het sy lewensverhaal vir hom uitgekaart, met merkwaardige juistheid, en uiteindelik afgesluit met ’n opmerking dat hy wat Izak is, meer spiritueel is as godsdienstig. Ook sy sê dat hy baie vyande gaan maak.

As Izak dan sulke gedugte vriende had, vanwaar die vyande?

Natuurlikergewys het hy deur die jare vyande gemaak vanweë sy uitgesprokenheid, sy nuk om nie toe te gee in argumente nie, sy botheid, sy dikwels ongeskikte manier van met mense praat, en sy gewilligheid om aan te val voordat die ander kant kans kry om tot hul sinne te kom. Uiteraard ook weens sy hovaardigheid, en, moet ek noem, die groot dunk van homself. “A requited love-affair,” soos Loudon Wainwright in een van sy liedjies sing.

Ek kan my egter kwalik indink dat hy tydens sy termyn by Sarie baie vyande gehad het.

Izak bevestig dat hy by Rapport die wind sterk van voor begin kry het. Hy had ’n baie spesifieke siening van waarheen hy die koerant wou neem, ongeag die algemene gevoel by Naspers. Hy het ook vir ander Naspers-konvensies geen sensitiwiteit gehad nie. Soos hy dit stel, het die Here Meesters van Naspers nie vir lief daarmee geneem nie. (Hy noem nie die Here Meesters by die name nie – wat jammer is, want dit maak dat elke verwysing na hulle omtrent die krag dra van ’n lafhartige bakleier wat sake wil beredder met betrekhoue.)

Piet Cillié, sy mentor, was ook sy “godfather”: dis deur Cillié se bemoeienis dat Izak die redakteur van Rapport geword het. En nes Cillié uit voeling geraak het met die politiek van die tyd en met die strominge binne Naspers, so ook Izak met die politieke denke van die “Here Meesters van Naspers”. As Cillié nie ingegryp het en Izak gedwing het om na Rapport te gaan nie, sou Izak die joernalistiek verlaat het met Sarie as sy joernalistieke hoogtepunt. En welke hoogtepunt sou dit nie gewees het nie!

Wat Izak betref, is hy nog hy, altyddeur. Dis Naspers wat verander het. En ongelukkig vir Izak, die tye.

Dit is bitter jammer dat iemand wat deur die jare soveel gedoen het om Naspers se publikasies te verryk, nou verstote en misken voel. Dit is ’n baie groot gemeente wat daarmee heen is.

IV

’n Raps meer as ’n jaar gelede het Breyten Breytenbach gereageer op ’n brief van Izak op LitNet ter verdediging van Naspers, en afgesluit met die volgende woorde: “Ons moet almal vrede maak met ons verlede: is dit dan so swaar om u gekondisioneerde varkerigheid as voetsoldaat van die vorige bedeling te erken en te laat gaan?”

Dis harde woorde. “Gekondisioneerde varkerigheid” verwys moontlik na Izak in sy slegter oomblikke – Izak bely self sy nukkerigheid en bruuske optrede teenoor vriend en vyand. Maar as geheel weerspieël “gekondisioneerde varkerigheid as voetsoldaat van die vorige bedeling” ’n persepsie wat daar by baie mense ontstaan het oor Izak – in die jare voor Rapport op klein skaal, maar tydens en ná Rapport wel sekerlik. (Sy hantering van Rapport het veroorsaak dat ek, nes baie ander, lank opgehou het om dié koerant te lees.)

Uit eersgenoemde era kom een oorstaansaak ter sprake: Izak se aandeel aan die verbod op André Brink se Looking on Darkness. Dit is bekend dat Izak Brink beloof het om as lid van die betrokke publikasiekomitee teen ’n verbod op die boek ’n stem uit te bring; met die bekendmaking van die verbod is egter berig dat die komitee se besluit eenparig was. In Strooidak en toring gee Izak ’n onbevredigende verduideliking: onbevredigend omdat hy nie wil noem dat Merwe Scholtz die aanstigter tot die verbod was en hom gedwing het om sy belofte aan Brink te verbreek nie. Die insident hinder Izak duidelik steeds, maar hy noem nie dat Scholtz hom so te sê uit die huis gejaag het toe hy die boek probeer verdedig het nie.

Is dit geregverdig om Izak as "voetsoldaat van die vorige bedeling" te bestempel? Ons leef in ’n tyd waarin dit moeilik is om mense op te spoor wat sal erken dat hulle uit volle oortuiging Nat gestem het destyds, maar alles wat Izak in Strooidak en toring vertel, bevestig dat hy wel so ’n voetsoldaat was. Al sê hy nou sy hart was nie daarin nie, al val hy terug op sy Sap-bloed. Miskien is hierdie boek dan ’n onbedoelde antwoord op Breyten se vraag van verlede jaar.

V

Die plesier van hierdie boek lê vir my in die ontdekking van Izak de Villiers se spirituele sy. Sy godsdiens ken mens goed, maar die spirituele sy slaan in vertelling op vertelling deur. As ek praat van "spiritueel", dink ek aan die belewenis van die sielelewe, buite die dogma van die godsdiens.

Die gesprek met Dalene Matthee wat Izak in herinnering roep, is die pragtigste voorbeeld daarvan. Mens kry die gevoel dat Izak moeite maak met hierdie verslag omdat hy snap hoe merkwaardig die dinge is wat Matthee sê. Dit is jammer dat hy nog nie gereed was om haar indringend te vra oor die geledinge van haar geloof nie.

Ewe aangrypend is sy vertelling oor sy vriendskap met Sheila Cussons. Sy benader hom uit ’n meer Bybelse hoek, en sodra hy die sleutel het tot die gesprek, ontwikkel iets besonders. ’n Kosbare hoofstuk.

Een van die dinge wat keer op keer deurskemer, is hoe groot die deernis is wat Izak vir mense in nood kon hê. Moontlik daarom dat sy depressie-episodes so fel was – ander se deernis kon hom nie uit dié dieptes trek nie. Hy moes self veg.

Izak verduidelik op talle plekke in die boek dat hy meer vreugde vind in gesels met eenvoudige mense as met die beroemdes. In die hoofstuk “’n Vreemde aanraking” vertel hy vier sterwensverhale. Dit is verhale wat mens met emosie vul en die keel laat toetrek. Hieruit blyk ook daardie spiritualiteit: God is ter sprake, maar eintlik gaan dit om die sielelewe van die betrokkenes. En Izak, weet ek uit die begrafnisredes wat ek hom al hoor lewer het, ken omtrent in Afrikaans nie ’n gelyke wanneer dit kom by die loslaat van diepe emosies in eenvoudige beskrywings nie. Gelukkig is daar heelwat hiervan in Strooidak en toring.

VI

By publikasies van hierdie aard resenseer mens die publikasie én die outeur se lewe. Dit kan nie anders nie met ’n boek waarvan die uitgangspunt is: Só is ek, take it or leave it.

Van die boek kan mens ten slotte sê dat dit interessant en onderhoudend is, dikwels werklik ontroerend. Ek is bevrees dat prof Kolie Kotzé se woorde oor die outeur steeds van toepassing is, en dat mens se gevoel oor hom ná die lees baie sal afhang van die mate waarin jy, soos ek, ongemaklik voel wanneer mense hul eie tamboer slaan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top