Tot voor die koms van Nielssen-BookScan so drie en ’n bietjie jaar gelede was statistiek oor die Suid-Afrikaanse boekbedryf baie kosbaar. Enige inligting wat beskikbaar was oor verkope en omsette is gebruik om ’n geheelbeeld te vorm.
Maar selfs dié was nooit volkome betroubaar nie. Uitgewers kon hul skattings oor hul markaandeel aanbied slegs met die voorbehoud dat dit ’n geskatte syfer is.
Deesdae, danksy Nielssen-BookScan, is ’n juister blik op wat in die boekemark aan die gang is, nader aan verwesenlik. Nie alle boekwinkels stel hul data beskikbaar nie, dus is die syfers steeds onderworpe aan korreksie, maar omdat die niedeelnemers so ver in die minderheid is, kan mens darem die beskikbare analises met meer vertroue gebruik.
Een van die analises wat gemaak is, is dat sowat 36 persent van alle boekverkope in winkels in die afgelope boekjaar gekoppel kan word aan boeke wat deur die plaaslike uitgewers vir die plaaslike (nie-opvoedkundige) mark gepubliseer is.
Dit is ’n betekenisvolle persentasie, veral as mens in ag neem dat so betreklik onlangs as 2001 daar nog algemeen aanvaar is dat van alle verkope van algemene (dus nie-opvoedkundig) publikasies in Suid-Afrika slegs een uit elke vier verkoopte boeke van Suid-Afrikaanse oorsprong was.
As oorsese, ingevoerde publikasies in 2001 altesame 75 persent van alle verkope uitgemaak het, en net 25 persent eie produkte was, dan het ons mos sedert 2001 aansienlike vordering gemaak, nie waar nie?
Beslis. Nogtans staan mens verbysterd om by plaaslike uitgewers te hoor dat dit tans ’n baie groot risiko is om plaaslike Engelse fiksie te publiseer, suiwer vir die algemene mark, geen koppeling met skoolvoorskrywing nie. Die een veld waar ingevoerde publikasies oorheers, naamlik verstrooiingslektuur, word met huiwering aangespreek deur plaaslike Engelse uitgewers. Dit laat mens jou oë na die hemel wend – ons beleef wat Engelse fiksie betref tans ’n ongelooflik opwindende bloeitydperk.
En Afrikaanse uitgewers vind dit nie juis makliker nie. Daar moet meegeding word met ’n internasionale taal en kultuur.
As mens dan wil begin praat oor die steun wat Suid-Afrikaanse boekwinkels aan plaaslike boeke gee, en jy weet wat globaal by die plaaslike kasregisters gebeur het, dan moet jy, om mee te begin, kennis neem van die feit dat geweldig baie tyd en energie sedert 2001 spandeer is om te sorg dat plaaslike boekwinkels meer Afrikaanse asook Engelstalige plaaslike publikasies aankoop.
In die verwikkelde wêreld van die boekhandel gaan dit nie net om die staanmaak van boeke op boekwinkels se rakke nie. Dit gaan oor ingewikkelde, duur bemarkingsveldtogte waardeur boekhandelaars oortuig word om boeke aan te koop. Dit gaan oor die ondersteuning van daardie aksies deur gekonsentreerde reklameveldtogte om die publiek te oortuig om weer ’n slag by die boekwinkels uit te kom en te gaan soek na daardie boek wat so interessant geklink het toe iemand oor die radio daarvan gepraat het of in die koerant daaroor geskryf het.
En sodra die publiek die voorraad in die winkels uitgeput het, moet uitgewers die nodige stelsels hê om te sorg dat dit onmiddellik aangevul kan word.
En hulle dóén dit ook. Die boekebedryf het sig in die afgelope dekade dermate reggeruk dat groot dele daarvan onherkenbaar sou wees vir iemand wat twintig jaar gelede laas aktief was daarin.
As ’n mens dan wil beweer dat plaaslike boekwinkels nie genoeg blootstelling gee aan plaaslike boeke nie, dan moet jy duidelikheid hê oor ’n paar sake. Die belangrikste is dat jy alleen veralgemenings kan maak as jy taamlik seker is dat die bemarking van boeke aan winkels deur álle uitgewers ten minste op ’n behoorlike peil is. Gekoppel daaraan verwag mens dat die uitgewer fris reklame maak vir sy publikasies. Die publiek moet ’n rede hê om na ’n boek te gaan soek.
Daarna kom jy by die punt waar jy baie skerp kyk na hoe sake in boekwinkels gedoen word. Die eerste ding wat ’n boekwinkelbestuurder jou sal vertel, is dat sy/haar winkel noukeurig georden is. Vir elke soort boek is daar ’n plek in ’n rak of groep rakke waar soort by soort geplaas word.
Gaan kyk maar, van Exclusive Books tot by die CNA tot by Wordsworth en so vele meer. Dit is daardie ordening en duidelike etikettering van boeke wat besoeke aan hierdie winkels so ’n groot plesier maak. Die nuuskierige persoon word gelei van rak tot rak, van een kant van die winkel na die ander kant. Jy weet wat is nuut, jy weet waar die effens ouer publikasies is. Hier is kookboeke, dáár is lewenstyl, tuinbou, fiksie, wetenskapsfiksie, kinderboeke, kleuterboeke …
As alles dan so spoggerig is, hoekom nie verwag dat ons die 36 persent opskuif na 40 persent en hoër nie? Om die waarheid te sê, kon ons nie reeds by 40 persent gewees het nie?
Daar is nog ’n paar kinkels:
1. By die boekhandelaars
Onkunde by baie winkelassistente in boekwinkels oor die diepte en omvang van die Suid-Afrikaanse publikasiespektrum is waarskynlik die grootste probleem. Geen rekenaar-databasis kan jou help as jy nie weet hoe om ’n skrywer se van te spel nie. Dink net hoe moet iemand voel wat in Xhosa of Zoeloe na ’n boek gaan soek. En vir Afrikaanse lesers is daar die frustrasie van Afrikaanse boeke onder “Africana”, of boeke wat op die vreemdste rakke staan, soos byvoorbeeld Die sterre in haar oë onder Astrologie. En ek hoop dat boekhandelaars ’n slag Suid-Afrikaanse boeke so prominent sal ondersteun as wat hulle die Latest Arrivals van oorsee in hul winkels ondersteun. Vergeet asseblief van daardie plaaslike “ghetto” agter in die boekwinkel.
2. By uitgewers
Ons plaaslike groei gaan ’n droom bly terwyl daar nog uitgewers is wat dink dit deug om net boeke te produseer en geen belegging in bemarking en reklame te maak nie. Die groot name in die bedryf het lankal hiervan werk gemaak, en hulle pluk die vrugte daarvan.
Te min plaaslike uitgewers wend die internet behoorlik aan om vir hulle reklame vir boeke te help maak. Doen maar ’n steekproef van die webwerwe van Suid-Afrikaanse uitgewers. Is dit moontlik om in hul vondslyste te gaan delf, om meer oor skrywers te wete te kom, om by resensies oor hul publikasies uit te kom? En kyk of dit moontlik is om boeke by hulle te bestel of te koop. Dit is maar ’n treurige toestand wat mens vind.
3. By die media
Die plaaslike media gee nie genoeg aandag aan plaaslike publikasies nie. Daar is wel resensies van boeke (kan daar ooit genoeg daarvan wees?), maar as mens eerlik moet wees, is té veel daarvan besprekings van oorsese boeke.
Daarbenewens sien koerante en tydskrifte te min raak dat plaaslike skrywers interessant is en stories het om te vertel buiten dié wat hulle skryf. En hulle ís nuus.
Is dit realisties om te hoop dat plaaslike publikasies vanjaar 40 persent van alle verkope gaan uitmaak? As mens dink dis onmoontlik, omdat daar soveel ander dinge is waarmee boeke moet meeding, onthou dan tog dat die sprong van 25 persent na 36 persent gekom het in ’n tyd toe al daardie dinge (TV, rekenaars, sport) ook die aandag van die publiek gesoek en gekry het.
Miskien bly die 40 persent-teiken ons nog ’n paar jaar lank ontwyk. Tog skep ek groot moed as ek daaraan dink dat verlede jaar se goeie boekverkope gekom het in presies dieselfde tyd as wat die internasionale mark vir musiek-CD’s in duie gestort het, en dit duidelik geword het dat die groter verspreiding van musiek direk aan internet-entrepreneurs soos iTunes en eMusic toegeskryf kan word. Moontlik wag so iets ook op boeke op papier – die onverwagse sprong van leesmateriaal van papier na elektroniese apparate soos die Kindle en iPad.
Jan Brand het gesê alles sal regkom as elkeen net sy deel doen. Ek meen ’n wonderlike toekoms wag op die Suid-Afrikaanse boek, en dit kan nog wonderliker wees as almal – outeurs, uitgewers, die media – hul deel doen.

