1.
Die benaming Zef is direk herleibaar na die Ford Zephyr Mark II, wat vanaf 1956 deur Ford in Suid-Afrika bemark is. Die motor was baie gewild onder ’n wydverspreide deel van die bevolking. Danksy die Zephyr-eienaars se manier van bestuur, hul liefde vir die versiering van hul motors en hul algemeen grinterige sosiale ommegang, is daar spoedig na hierdie deel van die bevolking verwys as Zephs, en omdat ons onderwysstelsel verkak is en niemand behoorlik leer vokkin spel in die D-, E-, F- en Spesiale klasse nie, het dit spoedig verander in Zef.
Só lyk ’n Ford Zephyr Mark II, sonder die voordeel van byvoorbeeld die versiering wat so ver as Springs en Parow daarop aangebring is. (En smaak die two-tone kleurskema en whitewall bande – sweet, nè? Dit was toe Zeph nog in sy kleurterskoene was.)

2.
Die feit dat die nuwe Zodiac (Mark I was absoluut junk) 6 silinders had en dat mens dit met twee verskillende dakhoogtes kon kry (’n vroeë voorbeeld van pimping), is nie wat die kar uniek gemaak het nie. Die feit is dat dit gekom het in dieselfde jaar as wat Elvis Presley sy deurbraak gemaak het, 1956. Dis asof dit so bestem was. Zefs was mal oor Elvis. Daai ander ou, die Engelse sissyboy Cliff Richard, hy’t bus gery my china. Bus!
3.
Die jaar 1959 was ’n waterskeiding vir Zef, en het baie dinge laat kristalliseer. Vir eers het Ford ’n nuwe model van die Anglia bekend gestel wat ’n agterruit gehad het wat net kon natreën as die kar op sy neus staan, wat baie warmer gelyk het met fat takkies (korrekte spelling, ou) as die Zephyr Mark II, en wat goedkoper was as die Zephyr. Dit het beteken dat jou armer-klas Zef (in die Kaap gewoonlik Skates genoem, kort vir Cheapskates) nou met ’n ander kar gejol het, en maklik verwar is met laerskoolonderwysers, wat ook dié motor kon bekostig. Só het die Anglia gelyk:

In daardie selfde jaar, 1959, het Studebaker sy stompgat Lark bekend gestel. Daar was niks, china, maar niks, wat met dié kar vergelyk kon word nie. In die regte hande kon ’n mens die Avanti Jet-Thrust V8-enjin só fyn tune dat hy ’n Zef in trane laat uitbars voor sy eie cherrie: 160mylpervokkinuur op die dail, twee hooters, De Luxe-stuurwiel, bucket seats, rusplek vir jou arms voor en agter, ’n sondak wat kon oopskuif sodat mens die fragrance kan check van die mynhope al die pad van Springs na Randfontein. Baie Zefs het die kar met lang oë genawtch, maar kon die las nie maak nie. Toe, nadat Verwoerd hulle ’n ding of twee in Londen getune het, Sharpeville gekom en gegaan het, kom Studebaker in 1962 met ’n nog warmer Lark en die SAP koop dit aan. Yup, met ’n plek in die voorste windscreen wat mens kon uitstamp met jou gun en dan skiet jy deur die gate. Dit was te vroeg vir rocket launchers en surface-to-surface missiles, and maybe is dit ook beter só. Want al die Zefs met knaters het dadelik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en dit was maklik, want ’n Zef het gewoonlik groot ore gehad wat by sy ducktail verbygesteek het, en noudat die ducktail afgeskeer is, kon die ore die SAP-keps keer dat dit nie oor die Zef-gevreetjies afsak nie. Daarom dat die polisie vandag nog by die Zefs as Ore bekend staan. Die Lark was ’n beaut:

4.
In 1962 het Ford die Lark-bedreiging op ’n manier afgeweer en die nasionale Zefdom gered. Twee Mark III-Zephyrs is bekend gestel. Die ous in Danville en Pretoria-Wes het by hul Anglias met challenge stripes gehou, maar die Zefs wat nog bewus was daarvan dat Elvis die koms van Zef aangedui het, en ’n rekord had wat verhinder het dat hulle by die Ore aansluit, het dadelik geld ingesit in die Zephyr 4 Mark III (vier silinders, effens prixieboy-erig) en die Zephyr 6 Mark III, wat gefokkof het my maat, al was dit ’n reguit 6 silinders. Só het die Zephyr 6 gelyk, met semi fat takkies voor en agter, en die rims is uit Amerika ingevoer destyds:

5.
Twee ander belangrike gebeurtenisse het in 1961 en 1962 vir Zefs gekom. In 1961 het Total begin met die uitdeel van sulke wit diertjies soos wat die culture vultures in die Kruger Park gaan uitcheck, maar net in klein skaal en almal wit, die kleur van die tyd, by sy petrolstasies. Dit het aanleiding gegee tot die Zef se grootste kulturele bydrae in daardie tyd tot ons Suid-Afrikaanse nasietrots. Die Zefs was nie manne vir effies nie, en het vroeg al kinders gehad, getroud ofte nie. Vir die kinders se education het die trotse Zef dan groen fur op die dashboard gesit, en in die sill agter die agterste sitplekke ook. Dáár kon die kindertjies dan hul wit Total-diertjies neersit en hul eie game park bou, ek sê! (In die laat sestigs is die diertjies vervang met hondjies wie se koppies geknik het soos mens ry. Die fur kon ook netjies rondom die speakers wat in die agterste sill ingebou is, snake. Die radio was altyd op LM of Springbok getune.)
Die ander belangrike gebeurtenis was die bekendstelling in 1962 van die Ford Cortina, wat gou deur hoërskool-onderwysers en ander wannabe Zefs gekoop is. Die Cortinas het die kak uit die Anglias uit gedice, en met fat takkies het die wannabes ook op Kyalami en Killarney gaan dice. Maar die Cortina het nooit werklik ’n Zef-staatmaker geword nie, want daar was nie plek vir game parks op die dashboard nie, en soos almal weet, die Cortina en Anglia het albei niks plek agter die agterste sitplekke gehad vir enigiets nie, veral nie fur nie. Anyway, só het die Cortina gelyk:

Wat belangrik is om te weet van die Cortina, is dat dit moers gewild was, internasionaal, en beter verkoop het as die Zephyr, maar dis nie die punt nie, is dit? Zephyrs was ’n state of mind, my china. Dit het gegaan oor krag, oor wat jy daarmee kon doen. Cortinas met lemoentjie-bottels op die aerial lyk dof, maar ’n Zephyr daarmee lyk soos ’n fashion statement as jy my moves verstaan.
6.
Wat ’n Zef alles met ’n Zephyr kon doen? Kalmeer china. Jy weet dat die Zephyr voor ’n lang sitplek had met twee rugstutte? Dat dit agter ook ’n lang sitplek had, met een rugstut? Nou, check hier. In die sixties het enige ware Zef sy cherrie gereeld na twee plekke geneem – die roadhouse en die drive-in. Die roadhouse was laataand se storie, nadat die Zef en sy cherrie klaar gegrip het. Die drive-in was maklik. Die bestes was die Top Star (op die mynhoop in Joheys), Speedy’s, die Brakpan, die Germiston en dan nog ’n paar op die buitewyke van die Rand. ’n Zef het nooit alleen drive-in toe gegaan nie. Sy tjom of sy boet gaan saam, en hulle het elkeen ’n cherrie. Die beste move was om voor interval die eerste graunch agter die rug te kry, dan ruil julle met interval cherries om. So, jy gee die een wat jy die sterkste soek eers vir jou boet en dan hit jy haar na interval big-time. En die cherries scheme hulle het kwaliteittyd deurgebring en meer mense leer ken, en die vensters was so toegewasem nobody knew what was gaaning aan.
7.
’n Zef en sy Zephyr is ’n match made in heaven. Daar was net een manier, maar verskeie variante van die manier, om die kar te bestuur. Die bestuurder sit baie naby aan die deur, sodat die cherrie ook half agter die stuur kan inskuif as sy wil of op haar maag kan lê en haar voete vir die publiek wys as sy snaaks wil wees. ’n Zef weet ook dat hy net met sy linkerhand die motor mag bestuur. Sy regterhand gebruik hy om die dak aan die buitekant mee vas te hou, of die divider tussen die deur se groot venster en kleinruit. Of hy hou sy skyf vas, sodat die kooltjie in die holte van sy hand brand en die suigkant na buite wys, en dan haak hy sy pinkie om die divider. Tussen skywe kan hy die regterarm laat hang, maar verkieslik moet hy dan die dak steady hou. As sy cherrie lus is om ’n bietjie gegrip te word, dan gebruik hy sy linkerhand, en bestuur met die regterhand. Maar gewoonlik het ’n cherrie geweet dat sy nie tussen ’n Zef en sy skyf moet kom nie. ’n Zef wat met albei hande bestuur is ’n vokkin fraud en moet gemoer word.
8.
Daarvan gepraat. Die Zefs het in die sestigs taamlike strain gevat van Norwood se Lebs. Die battles was legendaries en daar was baie suede-baadjies wat skroewedraaier-gate gehad het. Maar die Zefs het ’n magtige wapen gehad – vier fietskettings langs mekaar vasgemaak, met ’n handvatsel van masking tape. As die Zefs hulle uithaal het die party gestop en die atletiek begin. ’n Groot rede vir grief by parties was hosts wat nie geweet het mens speel net Elvis op parties, en later Beatles en Stones nie.
9.
By parties het die Zefs gewoonlik gegatecrash, maar eers ominously in die kar bly sit en die innerlike versterk voor hulle gaan kak soek het met die skoolkinders. In die vroeë sestigs was die dop meestal Lion Quarts, of brandewyn en Coke vir die manne, en Cane en Oros vir die cherries. Middel-sestigs het die Durban Poison bygekom, maar dit was ’n ramp vir die Zefs as daar ’n barney uitbreek. Dis soos om slow motion gelem te word. Darem het daar later balans gekom toe die zol vervang is deur bennies en Purple Hearts. Groter werkverrigting.
10.
Hoe oud was jou gemiddelde Zef uit die jare sestig? Hoe oud moet mens wees om sonder ’n lisensie jou broer se kar te leen en te bestuur? Baie Zefs kon nie langer wag om te begin geld verdien en hul eerste Zephyr te koop nie en het die skool na standerd agt verlaat. Baie cherries het die skool voor standerd tien verlaat omdat Zefs, soos reeds vermeld, nie in effies geglo het nie. Sommige Zefs het standerd tien gehad en goeie werk gekry by boilermakers en banke en garage’e. Maar eintlik het Zefs nie ouderdomsgrense geken nie, want Elvis Presley se bekoring is universeel en as jy eers die thrill gevoel het van ’n Zephyr se gat wat grip vat soos jy petrol gee, het jy jou hart verloor.
11.
Dink aan Suid-Afrika in die sestigs en jy dink aan ’n polisiestaat. Maar dis geen verskoning om van my te verwag om Zefs se kleredrag in terme van uniforms te beskryf nie. Vok nee. Jeans (soms ook hipsters en later teësinnig, in die sewentigs, bells) met ’n T-shirt en ’n leerbaadjie. In die winter ’n suede-baadjie. Boots, in die Chelsea-styl. Die cherries kon dieselfde dra, maar ’n rok was verkieslik vir die drive-in. En enigiemand in ’n safaripak wat ’n Zephyr bestuur, is duidelik ’n opgevokte soort chaufer, geen Zef nie.
12.
Taalvoorkeure. Ja, dit is so dat baie mense Zefs in terme van soutpiele en rockspiders en hul tale sal wil beskryf, maar komaan china, lyk dit vir jou asof hulle worry?
13.
Zefs het oral gewoon in die sestigs. Dis ’n logiese denkfout om te sê hulle was beperk tot die Vaaldriehoek, Danville en Goodwood. Trouens, sommige van jou top Zefs het uit gewone dorpe soos Witbank, Welkom en Patensie gekom. Natuurlik het hulle in huise gewoon waar daar baie plek in die jaart was om karre te tune. Party Zefs het ’n voorkeur gehad vir huise wat van sinkplaat gebou was, ander het weer van rooibruinbaksteenhuise gehou. Daar was nog nie karavaanparke waar mens langer as ’n vakansie kon woon nie. Zefs was mal oor Tretchiwatchemicallit se skildery van ’n groen vrou en van beeldhouwerk, soos byvoorbeeld die drie eende wat mekaar baie jags teen die muur uit jaag. Zefs was skepties oor die nuwe wall-to-wall carpet moves van die middel-sestigs. Niks kon so lekker blink soos lino nie. Soos die jare na die sewentigs toe begin beweeg het, het baie Zefs keramiek-beeldhouwerk langs hul voordeur laat inmessel van ’n Mexikaan wat langs ’n kaktusplant sit en slaap. Dit was ’n Zef se weergawe van Jin en Jang: ’n china wat zee’s catch, en die plant wat die tequila geproduseer het wat die china daai zee’s laat soek. So jy check, china, Zefs kon saamchat met die slim gabbas.
14.
Die grootste mission waarvan mens moet weet oor die Zefs van die sestigs, is dat daar toe nog nie Kentucky Fried Chickens of Wimpys of Steers of Spurs of Nando’s was nie. Maar daar was, soos gesê, jou standaard roadhouse waar die Zef sy hammie, of Dagwood of Blondie kon gaan koop. Gewone mense wat met hul Scalectrix-karretjie by ’n roadhouse aangemozie gekom het, was lief vir milkshakes. Maar jou Zef was versot op Double Pine Specials, waarvan mens die skuim afskep voordat jy jou botteltjie vodka daarin leegmaak. Die cherries het dit gesmaak, maar dit is nie hoekom mens dit gedrink het nie. Zef was voor Women’s Lib, sien. Mens het gedrink om te vergeet van jou cherrie se chewing gum wat jy ingesluk het terwyl julle by die drive-in gegraunch het. Van chewing gum gepraat: Wicks en Chappies was vir die piepiejollers. ’n Zef het Beechies of Chiclits gekou, OK? En jy het dit oopmond gekou, want jou lippe is nog stukkend nadat jy laas Saterdag deur een van die Lebs gebliksem is voordat jou china, Adam Nel, orde kon herstel met sy fietskettings.


Kommentaar
Dié knik-kophondjie in die agterruit is die beste herinnering van my kleintyd.
Ek kon nooit 'n Cortina V6 bekostig nie en moes maar met 'n warm Volla tevrede wees.
Trots armgat en ZEF.