Foto-onderhoud met Kerneels Breytenbach

  • 3

Titel: Ester
Outeur: Kerneels Breytenbach
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798167956

Koop Ester by kalahari.com


Foto van boekomslag: Izak de Vries

Lien Botha het met haar kamera vir Kerneels Breytenbach, skrywer van Ester, ondervra. Haar fotoverhaal van die gesprek verskyn onder sy antwoorde.

1. Die eerste reaksies op jou boek is baie goed; Joan Hambidge, Dewald Koen en Deborah Steinmair onder andere. Tot watter mate absorbeer jy die opinie van resensente?

Ek loop op die wolke oor die resensies wat ek gekry het. Toe ek nog uitgewer was, het ek skrywers altyd aangeraai om hulle nie té veel op te wen daaroor nie; nou besef ek hoe enkele woorde mens van koers kan stuur. Uiteindelik sê gesonde verstand vir jou dat jy nie met die resensent hoef saam te stem nie. Gelukkig het ek hierdie keer niks om my oor te verknies nie.

2. Terwyl ons ons nou in die seisoen van die groot Afrikaanse literêre pryse  bevind, hoe voel jy oor dié soort ding? Is dit goed of sleg vir ’n skrywer, die banksaldo ten spyt? Die uitslag bly tog per slot van rekeninig maar ’n subjektiewe storie te wees, nie?

Dit is altyd vir die skrywer wat dit ontvang ’n goeie ding. Daar is geen Hoggenheimers in die skrywersgeledere ter plaatse nie. Ek het wel baie simpatie met die skrywers wat die kortlyste haal en nie wen nie. Was al self in daardie posisie. Binne enkele sekondes spat die heerlikste dagdrome oor wat jy met die prysgeld sal maak, aan skerwe. Vir die wenners is die geneuk natuurlik dat as jy een keer gewen het, dit nie vir jou makliker word om volgende keer ook te wen nie. In populêre musiek praat hulle van die “moeilike tweede album”-sindroom. Skrywers weet maar te goed wat dít is – jy ding met elke nuwe boek op ’n manier met jou vorige welslae mee.

3. Wou jy altyd skryf? Wie of wat was jou grootste aansporing hiertoe? Wat sou jou ander keuse vir ’n nering wees?

My oupa, PWS Schumann, was ’n dramaturg en het my van vroeg af die wonderwêreld van boeke laat ontdek. My eerste skryfwerk was ’n Bybelse drama, Die sterre sal buig, wat in 1969 deur ons matriekklas opgevoer is – Hoërskool Alberton.Gelukkig moes ’n klomp klasmaats my bystaan met die redigering, anders sou dit nooit op die planke gekom het nie. Wat wel lekker was, was dat my oupa die eerste opvoering kon bywoon.

Ek was wat beroep betref, ook baie gelukkig. Eers joernalis (spesialiteitsgebied die kunste, dus dinge soos toneel, musiek, literêre sake) en daarna uitgewer. Maar om heeltemal eerlik te wees, dit is albei beroepe wat my in kontak gebring het met kreatiewe mense. Dat my eie skrywersvonk daardeur ontsteek het, is amper noodwendig. Die bonus is die ongelooflike mense wat ek kon leer ken, en met wie ek kon saamwerk. Joernaliste is baie spesiale mense, en uitgewers nog meer. ’n Ander nering? Enigiets wat my op dieselfde manier kan laat agterkom hoe mense se ratwerk draai.

4. Wanneer het Ester haar verskyning gemaak, en hoe het dit gebeur?

Soos ek dit onthou, het ek in 2001 die eerste keer by ’n juris gehoor van die Duitse spioen en hoe die Smuts-regering haar wou gebruik om dr Malan se loopbaan te stuit. Dit was vir my amper ondenkbaar dat politici dit oorweeg het om Malan van hoogverraad aan te kla. Ongelukkig het ek eers jare later die storie uitgesnuffel kon kry toe iemand my vertel het van die biografie wat Jeremy Lawrence geskryf het oor sy pa, Harry Lawrence, wat in 1946 minister van justisie was. Die Smuts-regering is ingelig oor geheime verslae wat gevind is in Von Ribbentrop se gekonfiskeerde dokumente, en Harry Lawrence, ’n man wat skynbaar nagedink het eers nadat hy gehandel het, het die kans benut om die wêreld vir Malan warm te maak. En toe ek eers Lawrence se biografie gelees het, het die storie vir my al hoe aantrekliker geword. Soos die toeval dit wou hê, het ek kort nadat ek dit gelees het, kort na mekaar die rolprent Salon Kitty gesien en ’n klomp romans deur Alan Furst gelees. My verbeelding laat nie sulke prikkels verbygaan nie. Ek het Lindie Koorts se proefskrif oor Malan gelees, wat vir my bevestig het hoe ’n soort mens hy was – maar toe moes ek hom probeer sien deur die oë van ’n vrou wie se ideale deur Malan se beginselvastheid verydel is. Dit gee toe ’n hele verhaal af.

5. Het jy Marlene Dietrich vroeg geïdentifiseer as die femme fatale in die roman? En het jy haar agter jou ooglede bewaar terwyl jy geskryf het? Wat betref die doppelgänger op die voorblad, Carole Lombard - was jy bewus van die feit dat haar laaste filmrol in To be or not to be ’n satire oor Nazisme was?

Hierdie foto van Dietrich was die ene wat ek aanvanklik op my rekenaar as “desktop”-agtergrond gebruik het sodat ek haar voortdurend gesien het:

Ek het nog altyd ’n bewondering vir Marlene Dietrich gehad, en het baie foto’s van haar byderhand gehad om die fisieke sy van Ester te help bou. Hier is enkeles:

Foto's van Marlene Dietrich deur Kerneels Breytenbach voorsien

Maar die ontwerper van die omslag, Cherié Collins, het duidelik besef dat Dietrich té bekend is, en het toe ’n foto van Lombard vir die omslag gekies. Ek is vreeslik bly dat sy dit gedoen het. Lombard is sagter op die oog, en verruklik in haar skoonheid. Dis ’n merkwaardige toeval, dié feit van haar laaste rolprent. Ek is seker Cherié sal sê niks gebeur per toeval nie!

6. Veel word gemaak van jou vernuf met die vleeslike avonture op die trein. Is dit iets wat ... natuurlik kom?

Jare van toegewyde studies in die skool van die lewe. En ek vermoed baie mense sal my siening deel, dat ongeag hoe gelukkig jy met die sake van die hart en vlees is, jy steeds saam met Leonard Cohen sing dat iemand tog jou tong van die verlange moet kom verlos.

7. Die ritme van die trein, die trein amper as ’n karakter, vind ek baie knap; die leser voel toenemend aangetrokke tot die trein – die klank, die tempo, die houer, die ruggraat. Wanneer dit eindelik in Kaapstad aankom, is die leser half hartseer om daarvan afskeid te neem. Van waar jou treinvernuf? Het jy van daardie modeltreinstelletjies gehad as kind?

Ek was te woelig vir speelgoedtreine. My maat Gerald Bosworth het jare lank ’n reusagtige Scalextric-stel opgebou. Ons het tot in standerd 7 nog daarmee gespeel. Die enigste treinritte wat ek gehad het, was as peuter. My tant Liesbeth het Saterdae my ma ’n kans gegee om tot verhaal te kom deur my met die trein van Alberton na Germiston te neem en terug. Maar my belangstelling in treine het gekom uit vriende se wedervarings op die Orient Express en die Trans-Siberië-trein. En Paul Theroux se verskillende boeke oor treinreise, veral The Old Patagonian Express. Een van my vriende, Herman Binge, het in sy jeug dikwels met die Windhoek-Kaapstad-trein gery, en kon my geweldig baie vertel van die soort klanke, geure en bewegings op daardie spesifieke trein. Herman se herinneringe was omtrent vir my ’n openbaring, want hy verlang self so terug daarna. Erla Diedericks, ’n Facebook-vriendin, kon my vertel van die binnekant van die kompartemente, hoe die beddens opgemaak is, waar die nagliggie gesit het, ens. Die aktiwiteite van die drywer en stokers is in besonderhede vir my beskryf deur Jaap Diedericks, Erla se pa, wat ook die model geword het van die karakter Jurie Kimberley. Les bes was daar Werna Maritz se pragtige drie boeke in die Ysterwiele-reeks. Met al hierdie inligting moes ek net die oë sluit en die verbeelding op loop laat gaan. Ek wou self daardie rit aanpak, maar die trein van Windhoek af stop deesdae op Karasburg en draai dan om. Maar jy het reg, ek het die trein gesien as ’n soort kokon, ’n lewende teenwoordigheid waar mense minnaars kon word.

Treinfoto's deur Kerneels Breytenbach voorsien

8. Daar is ’n interessante wending in die vertelperspektief. Het jy van meet af aan hierop besluit?

Die eerste weergawe van die manuskrip het ietwat anders by die einde uitgekom. Ek had die voordeel van sanerende keurverslae, wat my oortuig het dat ek kwaai moet snoei. Maar in essensie het dit nie verander aan een ding nie, en dit is dat ek in die sluiting ’n perspektiefsprong wou maak wat elke leser sal laat terugsit en goed nadink oor dit wat in die aanloop tot die sitting van die Gekose Komitee gebeur het. Omdat ek self aan die siekte ly van vinnig op die laaste blad loer om te sien wat uiteindelik gebeur elke keer wanneer die spanning ondraaglik raak, het ek Ester só geskryf dat niemand dit sal kan doen nie. Jy sal ’n geringe antwoord hê, maar die betekenis daarvan kan jy kry alleen deur die laaste twee hoofstukke te lees.

9. Dit voel of jy ’n leeftyd se belangstellings noukeurig hier ineengeweef het: politiek, musiek, spys en drank, geskiedenis. Dit is kennis teenoor persoonlike ervaring wat fyn gespin is in die heimat se kokon. Wat is vandag in jou gemoed?

Jy moet onthou ek is ’n oudjoernalis en -uitgewer. Geweldig baie belangstellings, en die ewige berou dat ek nooit volledig meester van enige daarvan kon word nie. Op die oomblik is ek besig met navorsing vir ’n volgende roman, die versamel van brokkies en stukkies en baie gesels. Met Ester se skryf het ek baie na opnames van die ou Comedien Harmonists geluister, maar hierdie keer gaan ek die musiek ’n bietjie vermy. Sien werklik nie kans om gospel-musiek te luister dag en nag nie.

10. Maak dit werklik saak of Taffie Kikillus op die trein was al dan nie? (Met apologie aan die briefskrywer Paul Fouché, Die Burger 22/11/2014.)

Nee, nie regtig nie. Thyra Denk, haar polisiebegeleide en ’n Kaapse advokaat wat gesprekke met haar gehad het, wás op daardie trein. Dis al wat ons vir seker weet. Die ander is almal daar danksy my verbeelding. Ek het met Ollie Viljoen gekontroleer of dit moontlik was dat hulle daar sou wees. Hy het my al die name gegee en watter instrumente hulle bespeel. Ek het Taffie Kikilus bygesit omdat ek wou – daar was ’n buitekans dat hy daar kon gewees het, en ek het gedink die moderne leser sal waarskynlik van hom weet. Paul Fouché het natuurlik reg, maar dit maak nie werklik saak nie. In die wêreld van fiksie en fabulasie is alles moontlik. Ek sou Paul Fouché ook op die trein kon geplaas het.

11. Jou teks is gelaai met ritueel: trein/stokers, liefde, gastronomie. Tot watter mate speel ritueel ’n rol in jou eie lewe, jou bestaan as skrywer?

Dis onmoontlik om daaraan te ontsnap! Ek skryf die maklikste baie vroeg in die oggend, wat dan meebring dat mens opstaan, koffie maak, sekere dinge doen voordat jy gaan sit. En ’n paar ure later eers weer opstaan en ander dinge doen. Dan neem ander rituele oor. Om my hond, Jasper, oefening te laat kry. Om ontbyt vir my vrou te maak. Koerant te lees voor 10. Ander skryfwerk in die oggend af te handel sodat ek smiddae kan lees of onder groot protes dinge in en om die huis doen. Om te sorg dat daar musiek in die huis is wanneer ek nie skryf nie. Met die skryf self is daar geen ritueel nie. Sommige dae gaan dit maklik, ander dae nie. Voor ek in die aand aan die slaap raak, probeer ek om die toneel wat ek die volgende oggend eerste gaan moet takel, in my verbeelding te sien. In detail. Wat die teenwoordige karakters sê en voel. Wanneer ek dan hier skuins voor vier wakker word, vind ek dat ek die ding omtrent kan sien en voel. Dis maar net ’n truuk wat vir my werk. Mens het so ongelooflik baie dinge wat jy op TV en in rolprente sien, en jou eie ervaring, dat jou droomtyd soms wonderlike dinge oplewer.

12. Brei bietjie uit op die aspek van naamgewing in Ester. Hoe gaan jy hier te werk en tot watter mate speel simboliek ’n rol? Doop jy maklik jou karakters en maak dan vrede met hulle of verander dit ’n paar keer?

Naamgewing is altyd ’n bliksem. Soms verander ek verskeie male aan ’n karakter se naam, totdat ek voel daai naam is gemaklik in daai vel. Ester figureer in hierdie roman omdat ek aanvanklik daaraan gedink het as ’n purimroman, ’n moderne ekwivalent van die Bybelse Ester. Maar dit het vergete geraak, en daar is net enkele verwysings daarna wat oorbly – maar die naam Ester was toe vasgelê. Jurie Kimberley was eers Japie Kimberley, maar dan sou mense gedink het dis ’n feitelike weergawe van ’n insident in die lewe van Jaap “Kimberley” Diedericks. Dieter Bergman is maar ’n poging om ’n van wat eens volop in die Oos-Transvaal was te gebruik. Doerkstra kry sy van by ’n skildery in my sitkamer, gemaak deur ene Doerk. Ek het die “-stra” bygevoeg omdat Willa Doerkstra op ’n Friesiese manier ’n aartsghwapp is. Die gelol met naamgewing is altyd dat mens bekommerd is mense dink jy verwys na hulle as jy hul naam of van gebruik. Ek was aanvanklik baie ongemaklik om vir Kimberley die naam Jurie te gee, want ek het ’n goeie vriend met dié naam. Maar namate Jurie Kimberley gegroei en ’n wonderlike mens in die verhaal word, het ek begin dink dat dit nie anders kon met ’n naam soos Jurie nie – iemand só menslik en dierbaar. Ek probeer om nie name te gee wat maklik simbolies word nie. Jaap Schvantz het my al duur te staan gekom.

13. Watter (Suid-Afrikaanse) of ander boeke het in 2014 ’n blywende indruk op jou gemaak en waarom?

Onder vanjaar se Afrikaanse publikasies is daar drie enorm goeie boeke: Kamphoer van Francois Smith, Buys van Willem Anker en Die respektabele meneer Hartslief van Chris Karsten. Engelse boeke wat my bybly, is Philip Kerr se Prayer en Anthony Doerr se All the light we cannot see. Ek het met die Nobelpryswenner Patrick Modiano se Missing Person slaags geraak, maar ek sukkel met hom.

14. Jy lewer gereeld politieke kommentaar op Facebook deur middel van gesprek met Nommer Een. Gesien in daardie lig, wat was Suid-Afrika se kardinale politieke moment van 2014?

Die EEF se deurbraak in die verkiesing, en die gevolge daarvan in die parlement. En terwyl die Nkandla-skandaal steeds nagevolge het, is die hartseerste ding van Suid-Afrika vir my tans dat soveel mense in die land nie ’n titseltjie respek het vir Jacob Zuma nie, en die ANC in ’n misplaaste beroep op ons inherente goedheid daarop aandring dat ons die man moet respekteer omdat hy ons verkose leier is. Hulle ken nie die ou Afrikaanse spreekwoorde “Bo blink maar onder stink” en “Woorde wek maar dade trek” nie.

15. Jy en Queenie versamel onder andere ook kuns. Hoe voel jy oor Adolf Jentsch se werk?

Toe ek by Human & Rousseau begin werk het, was daar op Koos Human se rak ’n eksemplaar van Olga Levinson se boek oor Adolph Jentsch. Ek het onthou hoe die afbeeldings daarin my laat voel het – en jy moet onthou, dit was kleurdrukwerk uit die vroeë sewentigs, glad nie so juis soos vandag se drukwerk nie. Maar dit is die dinge wat by my opgekom het toe ek moes begin dink hoe die landskap buite die trein gelyk het, die dinge wat mense uit die veilige toevlug van die trein se eetwa sou sien. Google Earth maak deesdae baie dinge moontlik, maar dit gee jou nie die gesamentlike indrukke van eensaamheid, verlatenheid, ondraaglike hitte, die klein toevlug van skadukolle onder bome, die gras tussen doringbome, die spikkellandskap van rotse aan die voete van koppies en berge gestrooi nie. En dit is wat Adolph Jentsch my kon gee. Ek het daardie boek gesoek, en gelukkig het einste Herman Binge ’n eksemplaar gehad.

16. In September 2008 het jy die roerende gedig “Missing Dates” van William Empson op Facebook gelaai en geskryf: “Dis die moeite werd om daarna te kyk in hierdie dae wat mens bietjie worry oor die land.” Worry jy nou anders as in 2008?

Dit is darem ’n ongelooflike gedig daardie:

Slowly the poison the whole blood stream fills.
It is not the effort nor the failure tires.
The waste remains, the waste remains and kills.

It is not your system or clear sight that mills
Down small to the consequence a life requires;
Slowly the poison the whole blood stream fills.

They bled an old dog dry yet the exchange rills
Of young dog blood gave but a month's desires.
The waste remains, the waste remains and kills.

It is the Chinese tombs and the slag hills
Usurp the soil, and not the soil retires.
Slowly the poison the whole blood stream fills.

Not to have fire is to be a skin that shrills.
The complete fire is death. From partial fires
The waste remains, the waste remains and kills.

It is the poems you have lost, the ills
From missing dates, at which the heart expires.
Slowly the poison the whole blood stream fills.
The waste remains, the waste remains and kills.

Die eienaardige ding met “Missing Dates” is dat dit op ’n manier die mantra word van Willa Doerkstra in Ester. Daardie gif van die liefde wat hy maar net nie kan laat uitbloei nie. Maar om terug te kom na jou vraag: ons land is nie gesond nie, en gesonde verstand is skynbaar nie in oorvloed wanneer groot besluite geneem moet word nie. Maar ons het ’n opposisie wat al hoe meer nuttige dinge doen, en daar is ’n groot gety wat besig is om te vorm teen die hebsug en korrupsie aan owerheidskant. Hoe lank kan ’n land voortploeter met ’n leier wat nie sy gesig durf wys by groot openbare geleenthede as sy kornuite nie busse vol betaalde toejuigers, sy claque, aanry nie? ’n Leier wat te bang is om parlementêre sittings by te woon? Ek is net jammer dat ons nie weet wat tans in die binnekamers van die politiek afspeel nie. Al wat mens vir seker weet, is dat niemand beweeg sonder dat hul rûe veilig teen ’n muur is nie. Die lang messe is sekerlik uit.

17. Hoe verlaat jy ’n boek, en voel jy weemoedig wanneer jy afsluit?

Dit is nogal moeilik om afskeid te neem, die manuskrip aan die redakteur te gee en te sê nou is daar niks meer wat ek wil of kan verander nie. En op daardie presiese oomblik breek daar ’n walletjie in jou gemoed, en stroom vertwyfeling en onsekerheid in jou gemoed in. Dit stabiliseer uiteindelik eers wanneer die resensies begin verskyn. Noudat daar bekendstellings vir die boek is, en ek oor haar moet praat, is dit baie soos die lang afskeid wat mens neem van iemand vir wie jy lief is, maar die verhouding is afgeloop, en nou werk julle nog saam, sien mekaar elke dag, maar jy kan nie meer aan haar raak nie.

18. Wat lees jy op die oomblik?

Michael Connelly se The Burning Room. Daarna gaan ek Patrick Modiano weer takel.

19. Wat prut op die stoof op hierdie bewolkte Sondag in Bettysbaai?

Skaapskenkel. Volgens ’n resep wat ons afgekyk het van iets op die Gotterdämmerung van die kookkuns, Diners Drive-Inns & Dives.

Alle foto's hieronder is deur Lien Botha geneem en voorsien:

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Amanda le Roux

    Oeee! Dit was nou lekker om te lees en die foto's nog lekkerder...

    Sien nou uit na Saterdag se boekpraatjie in Protea.

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top