Musiek en intellek

  • 0

Spruitdrift – ja, ek ken hom, ken hom goed. Moenie mossels daarin opkook nie – dit vreet die skulpe weg en verniel dan die vlees. Spruitdrift – die wyn wat die waarheid terugplaas in die opmerking “Alkohol het hare om.”

Geen wonder Koos Kombuis het in diep Vredendal hom oorgegee aan die ironiese distansie nie. Probeer jou dit indink: Koos Kombuis donner vir Willem Botha. Maar word dan gered. Deur ’n polisieman wat eens op ’n donker en maanlose aand ’n bottel Tassies vir Koos oopgemaak het en toe heiligskennis gepleeg het deur dit op  die sypaadjie uit te gegooi het. Koos val hom om die hals, byna in trane. Dit is oomblikke wat resoneer, meneer. Dit herinner aan Friedrich Nietzsche wat mal geword het en ’n perd huilend om die hals geval het. Jy weet.

Die probleem is net dat Koos in sy Rillerfees-rubriek bedrieglik eenvoudig skryf oor ’n onderwerp wat al baie jare deel is van Afrikaanse musiek. Bedrieglik eenvoudig, want hy skryf eintlik baie verwikkeld. Die kuns is mos net om dit vir sommige van sy lesers makliker te maak.

Een waarvan dan heengaan en onder die skuilnaam Adam – hei man, erg oorspronklik! – in die bres tree vir die swaargetroffe maar helaas glad nie gemoerde nie, Willem Botha. En in die proses die punt luidkeels nie snap nie.

Dis ’n ou argument, soos gesê. Dit begin – min of meer – by die luisterliedjie-beweging – die dae, so middel tot laat sewentigs, toe Anton Goosen en Koos du Plessis en ’n falanks ander sangers begin het met ’n soort musiek wat gewild genoeg was om die aandag te trek, maar nie genoeg om deel van die massakultuur te word nie. Dit was só ’n wonderbaarlikheid dat hulle selfs ’n simposium op Stellenbosch gehou het daaroor. DJ Opperman het die verrigtinge geseën met sy teenwoordigheid. Vanuit intellektuele kringe was die simposium ’n blyk van waardering vir die verdieping en verset wat Goosen et al gebring het teen ’n kunsvorm wat voorheen bedien is deur mense van die statuur van Caricke Keuzenkamp, Min Shaw en Gé Korsten, om enkeles te noem.

Wat merkwaardig was daaraan, was nie dat dit gebeur het nie, maar wel dat dit so lank geneem het voordat dit gebeur het. Populêre musiek het internasionaal ’n tradisie van rebelsheid en verset. Kyk maar wat die aktiwiteite van Charlie Parker, Elvis Presley, die Beatles, die Sex Pistols en Nirvana tot gevolg gehad het.

Dit klink miskien lelik om dit te sê, maar dit het nie in die Afrikaner se broek gesit om in die jare sestig ’n Bob Dylan-eweknie op te lewer nie.

Goosen-hulle het hul rebellie gebring in die dae toe die eerste wit Suid-Afrikaanse polisiemanne en soldate buite ons land se grense gesterf het. Die dae van sensuur onder die kragdadige minister Connie Mulder en mej Van der Westhuizen, die laaste jare van John Vorster en die vroeë magsorgie van PW Botha.

Teen die tyd van die Voëlvry-toer in die jare tagtig was die rebellie al dermate genuanseerd dat dit onbeskaamd anti-apartheid was. Mens kan eintlik nie die musiek van Johnny K, Nataniël, Koos Kombuis, Bernoldus Niemand en Amanda Strydom behoorlik takseer as jy nie die konteks van die geestelike borstrok van die Noodtoestand ook in ag neem nie. En onthou dan ook, terwyl jy besig is, die musiek van Cora Marie, Lance James, Anneli van Rooyen en Bles Bridges.

Dit is pennies wat jy daar hoor val.

Fast forward nou. 

Waar staan Afrikaanse musiek vandag? Eienaardig genoeg in feitlik dieselfde posisie waarin Amerikaanse en Britse musiek hulle bevind. Die moderne tegnologie het ’n geslag kunstenaars geskep wat kwalik ’n musiekinstrument kan bespeel – omdat dit nie meer nodig is nie. Neem net die mikrofoon en doen jou ding. En onthou om die gesigsuitdrukking te laat pas by die woorde. (Dié wat wel kan speel, nou ja, vir hulle is ek ewig dankbaar.)

Nou moet ek beken dat ek eintlik geen obsessionele beswaar teen backing tracks het nie. Miskien is dit omdat ek van Madonna en Steve Hofmeyr se musiek ook hou. Hofmeyr is, alles in ag genome, een van die mees miskende intellektuele in die plaaslike vermaakbedryf.

En die jaarlikse oes aan Idol-kroonwild is ook bitter orraait. Vir elke Willem Botha (ook bekend as Willem die Swyger) is daar ’n Kurt Darren, ’n Nicholis Louw, en twee Campbells. Sulke kunstenaars kom nog met harde werk by hul miljoene uit. Al wat hulle gemeen het met Willem die Swyger, is dat hul liedjies geen, nada, niks, sweet Fanny Adams eise aan jou intellektuele kapasiteit stel nie. Dit gaan jou nie laat wonder oor die geslag apolitiese Afrikaners wat nou grootword nie. Dit gaan jou nie laat mediteer oor die diaspora van die Afrikaner nie. Dit gaan nie jou woede oor die vergrype van die moderne bestel verwoord nie.

Daarvoor sal jy moet gaan na Jan Blohm, Chris Chameleon – en ja, Koos Kombuis, Anton Goosen …

En dit is die punt van die storie.

Gaan Willem die Swyger ’n liedjie skryf oor bruin mense wat onwelkom is in plattelandse gastehuise?

Miskien het hy ’n hap Spruitdrift nodig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top