Van bromied tot kuber-ink: Die produksie- en leesproses by uitgewers

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Die tikmasjien het in 1981 die einde van sy nut vir Suid-Afrikaanse joernaliste gehad toe plaaslike mediamaatskappye gerekenariseer het met die Atex-apparaat en –program. In die loop van die jare tagtig het lessenaar-rekenaars in al hoe groter gebruik geraak, met IBM-toestelle wat die gewildste was en XYWrite, ’n program wat nou geskakel het met Atex s’n, as die top-program vir die skryf van berigte ens. Toe FW de Klerk in 1990 die ANC ontban het, het Microsoft al die eerste weergawes van sy Windows-stelsel op globale skaal in werking gehad. By Suid-Afrikaanse uitgewers was daar egter nog in die meeste gevalle toe nog tikmasjiene op die lessenaars, en redakteurs kon nog nie met die joernaliste saamgesels oor die sprong van XYWrite na WordPerfect of MS Word nie. Trouens, die meeste Suid-Afrikaanse uitgewershuise het eers kort voor 1994 oorgeskakel van tikmasjiene na rekenaars, en XYWrite was nog die program waarin die meeste redakteurs moes werk. Maar hulle het darem al met bladproewe gewerk, en by die drukkers was daar al hoe minder meer bromiede en plaktafels te sien.

Eintlik was 1994 self nie vir uitgewers op tegniese gebied van baie groot belang nie. Daar was wel reeds ’n PC op elke lessenaar, en die maatskappy Solms van Niekerk het sy laaste groot sake met al die uitgewers in Kaapstad gedoen deur hul tikmasjiene te koop. Ek vermoed hulle het goeie pryse daarvoor by skrootwerwe gekry. Wat ek ook nog van daardie jaar onthou, was dat ek nog vryskut-musiekrubrieke vir Huisgenoot en YOU geskryf het, en dit elke week op ’n floppy disc aan hulle besorg het. Geskryf met XYWrite.

Maar die groot jaar was 1995 – die jaar waarin Microsoft sy Windows 95 bekendgestel het. Teen daardie tyd was WordPerfect reeds amper vergete, en Microsoft se Office (met Word, Excel, Outlook en PowerPoint) het universeel die toon aangegee. Ek onthou dat die maatskappye binne die Nasionale Boekhandel eers in 1996 kon begroot vir ’n groot oorskakeling na ’n netwerk-omgewing, en dat ons in die loop van daardie jaar ook die sprong van slakpos na e-pos gemaak het. (E-pos het toenemend die groot vreter van tyd geword, die slawedrywer wat veroorsaak dat niemand van sy lessenaar kan padgee voordat alles beantwoord is nie.)

Aan produksiekant het uitgewers sedert 1996 toenemend gebruik begin maak van ontwerpers wat die waagmoed had om van spoeg-en-plak te spring na rekenaars (gewoonlik Apple Mac) en Quark Express. By plaaslike uitgewers het die tipograwe se kantoor ook spoedig plek moes vind vir goeie lugreëling en blinknuwe Macs. Teen 1998 was daar feitlik geen tipograwe meer wat op die ou, rekenaarlose manier boeke ontwerp het nie. Mens sou ook nie meer daaraan dink om tipograwe aan te stel wat nie reeds rekenaaropleiding ondergaan het nie. Ook by die drukkers het film plek gemaak vir PDF’s, wat ’n bedryfstandaard geword het vir CTP- (computer-to-plate-) drukwerk.

Dit het nie lank geduur vir uitgewers om te besef dat ’n tipografiese afdeling ook groot beperkings het en dat dit ’n bottelnek in die produksieproses skep as die uitgewery slegs sy eie tipograwe gebruik nie. In Brittanje het die meerderheid uitgewersondernemings hul stelsels gebou rondom vier bedryfseenhede: finansies, bemarking, produksie en uitgewersredaksie. Natuurlik was daar uitsonderings op die reël, veral waar die uitgewer ’n baie sterk ontwerps- en visuele identiteit het, soos die geval met Dorling Kindersley was.

Teen 2001 was die omwenteling voltrek, en was die produksieafdeling die hart van die uitgewershuis. In Suid-Afrika, soos in die VSA en Brittanje, is toenemend meer tyd en geld belê in stelsels wat die seepgladde integrering van redaksie en bemarking by produksie sou bewerkstellig.

Die voor- en nadele van hierdie omwenteling was legio. Die tyd wat dit geneem het om van manuskrip tot gedrukte en gebinde boek te vorder, het stadig maar seker begin korter raak namate uitgewers meer bedrewe geraak het met die bestuur van die tydlose ou proses, ingewurm in die keurslyf van die moderne tegnologie. Quark het mettertyd té log geraak en moes plek maak vir InDesign, en ontwerpers het maniere gevind om ou tipografiese konsepte soos hoerjongens, die geut (“gutter”), mikrospasiëring, fonte, absolute en relatiewe meting, plasing en gebruik van tipografiese wit, lood, koppelletters (“ligatures”), ritme en proporsie, en so meer toe te pas sodat vandag se boeke aan internasionale tipografiese standaarde voldoen. ’n Deel van die diens wat ’n uitgewer aan sy skrywers verleen, is dié van professionele ontwerp. ’n Mens kan selfpublikasies gewoonlik uitken aan die lae tipografiese standaarde wat daarin gehandhaaf word.


AA Balkema

Die omwenteling wat tussen 1994 en 2004 in die uitgewerswese voltrek is, is vergelykbaar met die omwenteling wat die uitgewer AA Balkema en die Duitse tipograwe G Last en Jurgen Fomm in die jare sestig en sewentig in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf bewerkstellig het. Dit was vir my ook interessant om te sien hoe Pieter Struik met sy Fernwood-onderneming gesorg het dat ontwerp en voorkoms in die omwentelingsjare bo alle kritiek verhewe bly.

Soos dit gewoonlik met sulke omvangryke veranderings gaan (en veral een waar die kernkomponente van die publikasieproses in wese onveranderd gebly het terwyl die medium verander het), het die verandering veroorsaak dat baie take nuwe base gevind het. Volgens die klassieke Europese uitgewersmodel het baie plaaslike uitgewers tot in die vroeë jare negentig nog naas ’n paar lettersetters ’n subredaksie gehad waar taalspesialiste alle manuskripte onder oë sou kry en die foute sou versorg. In 1999 het die laaste doelgerigte Afrikaanse taalversorger by ’n Afrikaanse uitgewery, Estelle Crowson, afgetree. In 1989, toe ek by Human & Rousseau aangesluit het, was daar vier taalversorgers.

Die taalversorging was nou in die hande van die uitgewersredaksie. Nes die geval met ontwerpers was, het daar spoedig ’n hele netwerk van taalversorgers ontstaan wat die uitgewers kon bystaan. Die rol van die uitgewer self, wat tot in die laat negentigs nog dikwels ten nouste betrokke was by redigering en versorging van die manuskrip, het begin ontwikkel in dié van ’n bestuurder van ontwerpers, taalversorgers en keurders en die vind van nuwe skrywers – terwyl hulle ook reeds-gepubliseerde skrywers moes aanmoedig om aan die skryf te kom en te bly. Aspekte van die produksieproses wat voorheen deel van die produksiekoördineerder se take was, het ook onder die pligte van die uitgewers begin tel (die bestuur van tipograwe en ontwerpers), terwyl die produksieafdeling weer ’n omvangryke stelsel moes vestig waarby kosteberamings, finansiële kontroles en produksievloei gereguleer is.

Met die vestiging van die uitgewers se bemarkingsarms (’n proses wat met wisselende welslae sedert die laat jare tagtig aangepak is, maar wat eers laat in die negentigs werklik by die groot Suid-Afrikaanse uitgewershuise behoorlik gevestig is) het die skakeling van produksie en redaksie met bemarking waarskynlik die belangrikste stelselontwikkeling binne die uitgewershuise teweeggebring. Die Suid-Afrikaanse model, waartoe uitgewers soos Struik, NB en Jonathan Ball elk op hul eie ontwikkel het, stem tot ’n groot mate ooreen met die stelsels wat ’n mens by groot Britse ondernemings aantref.

’n Mens moet in gedagte hou dat omwentelings wat die rekenaar gebring het, geskied het in ’n tyd waarin daar vir baie Suid-Afrikaanse uitgewers groot ekonomiese druk was. Die rekenaar het dit moontlik gemaak om met minder personeel klaar te kom, terwyl die bemarkingsgerigtheid die oorblywende personeel diep onder die indruk gebring het van die wenslikheid dat die boeke wat aangepak word, bemarkbaar is. Deel van die uitgewer se werk was om hierdie dinge ook by die skrywerskorps tuis te bring. Soos Alwyn Birch, een van die reuse in die Britse uitgewersbedryf in die jare tagtig, dit eenmaal gestel het: “Die skrywer neem die heel eerste bemarkingsbesluit wanneer hy besluit waaroor hy gaan skryf. Die meeste skrywers is swak bemarkers.”

’n Ander uitvloeisel hiervan is dat skrywers nie toegelaat word om aan uitgewers voor te skryf hoe die boek se omslag moet lyk nie. In die VSA en Europa het uitgewers korte mette gemaak met skrywers se omslagbehoeftes; in Suid-Afrika gebeur dit nog dat skrywers eise stel en dat uitgewers daaraan toegee. Meestal met negatiewe gevolge vir die verkope van die boek.

Die jongste ontwikkelings op tegnologiese gebied het die e-boek opgelewer – en daarmee saam het die omslag as bemarkingswapen ’n terugslag gekry. In ’n land soos Suid-Afrika, waar bedrukte papier nog die botoon voer, sal die omslag egter steeds ’n wrywingspunt bly.

Hierdie digitale uitgawes het die uitgewersbedryf rondom 2007 (in Suid-Afrika) getref. In die vroegste vorm is die drukgereed PDF’s as ’n digitale uitgawe beskikbaar gestel vir verkoop en lees op PC’s. Die toenemende ontwikkeling van elektroniese toestelle het vereis dat die uitgewer ook sy publikasies vir gebruik op hierdie toestelle moes aanpas. Die ontwikkeling van sagteware soos ePub en Mobi het die geleentheid geskep vir uitgewers om nuwe uitgawes van ’n gedrukte boek te vervaardig. Nuwe afsetpunte (“e-tailers”) en bemarkingsmoontlike het ontstaan – en op sy beurt het dit uiteraard veroorsaak dat werksdruk en langer werksure die enigste manier was vir bestaande personeel om hierdie nuwe ontwikkeling te bestuur; die ander gevolg was ewe voorspelbaar, naamlik ’n toenemende produksietempo, met groter verantwoordelikhede en nuwe vereistes wat ten opsigte van gehaltebeheer gestel en toegepas moes word.

Naas die verandering wat daar die afgelope twintig jaar op tegnologiese gebied was, en die gevolge daarvan vir die uitgewerswese, was daar een stelsel wat onveranderd gebly het. ’n Rugsteunstelsel, sou die IT-mense dit seker noem. Ek dink hier aan die proses waardeur ’n uitgewer manuskripte lees en deur vryskutlesers laat keur. Dit is op die meeste uitgewersterreine (fiksie, niefiksie, kinder- en jeugboeke) standaardpraktyk om manuskripte te laat keur, enersyds omdat uitgewers só baie manuskripte ontvang dat dit onmoontlik is vir redakteurs om hierdie taak alles self te moet verrig, en andersyds omdat dit redakteurs help om moeilike publikasiebesluite makliker te maak. Die ingeboude voordeel hiervan vir die skrywer is dat die kenners se reaksies hom/haar in staat stel om nog verbeterings aan sy manuskrip aan te bring en foute daarin reg te stel.

Hierdie proses is vir enige skrywer van groot belang; dit is ook die proses wat help om professionele publikasies van selfpublikasies te onderskei. Om dit in praktiese terme te verduidelik: As Fifty of Grey uit die staanspoor deur ’n behoorlike uitgewer uitgegee was, sou dit korter gewees het, struktureel bondiger, en met taalgebruik wat minder afgryslik was. Teen die tyd dat Random dit in boekvorm gepubliseer het, was dit reeds as e-boek bekend en kon die inhoud nie geredigeer word nie. En ek praat nie hier van inhoud nie; dit gaan oor swak – nee, patetiese – taalgebruik.

Sosiale netwerke soos Facebook het in die onlangse verlede aanleiding gegee tot ’n magdom “digters” wat hul werk gratis te lees aanbied. Dit is meestal werk wat smeek om aan ’n kritiese oog onderwerp te word voordat die digters die leemtes in hul digterlike mondering só openlik uitstal. Ek glo nie Facebook sal ’n wesentlike groeipunt in die Afrikaanse letterkunde meebring nie; wat dit wel doen, is om ’n aanduiding te gee van die behoefte wat daar by gebruikers van ’n taal bly bestaan om hulle kreatief in daardie taal uit te druk. Hierby sluit dan ook ’n groot aantal webwerwe en blogs aan. Dit is vir my op ’n manier verwant aan die manier waarop boeke en boekmense ’n integrerende deel geword het van die feeste: Aardklop, KKNK, Vry, Suidooster en so meer. Feeste is nie deel van uitgewers se kernaktiwiteite nie, maar dit bied tog ’n nuwigheid wat met groot vindingrykheid deur Afrikaanse uitgewers se bemarkingsarms benut is. Ek herinner my graag aan die lang toue mense wat ek deur die jare sien staan het om boeke te laat teken deur mense soos Breyten Breytenbach en André P Brink – asook die impak wat skrywers soos Dana Snyman, Deon Meyer en die broers Bakkes by die feeste het wanneer hulle daar optree.

Die behoefte om van naderby met skrywers kennis te maak, het al in die jare tagtig merkbaar geword toe die leeskringe al hoe meer talryk geword het. In die jare negentig het dit al hoe meer dikwels gebeur dat skrywers deur die leeskringe gevra is om te kom optree – en die meeste skrywers sal kan getuig dat dit een van die aangenaamste maniere is om bemarking vir jou en ander se boeke te doen.

Wat Facebook wel vir skrywers en uitgewers doen, is om te voorsien in die publiek se behoefte om met skrywers kontak te maak. Facebook het oor die afgelope ses jaar ’n integrerende deel geword van uitgewers se bemarkingsaksie – en dit is belangrik, want dit is nie alleen boeke wat bevorder word nie. Dit is die skrywers self was as “brands” bevorder word.

In die geheel gesien kan ’n mens nie anders as om diep onder die indruk te kom van die geweldige omvang van die veranderinge wat daar sedert 1994 in die uitgewersbedryf was nie. Die tegnologiese omwenteling is ’n baie groot pluspunt, al moet ek dadelik byvoeg dat dit alles voltrek is in ’n tyd waarin personeelgetalle weens ekonomiese druk gekrimp het en nie gegroei het nie, tye waarin uitgewerspersoneel al hoe langer ure moes werk en daar nie altyd van buite ewe veel begrip was vir die tekort aan ure in hul dae nie.

Met die tegnologiese omwenteling as basis is die integrering van die aktiwiteite van produksiepersoneel, uitgewers en bemarkers vir my die ander groot omwenteling, en dit is in toenemende mate die onderskeidende kenmerk van uitgewers wat oorleef.

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die produksiegehalte van Palindroom en Kladboek deur Joan Hambidge as gevallestudies binne die uitgewersbedryf
– Reinhardt Fourie
2009-03-20

Young Voices Conference 2004
Waarnatoe met die Afrikaanse fiksieboek?
– Rudi Venter
2004-11-25

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die laaste (Afrikaanse) boek?
– Nicol Stassen
2007-06-13
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
’n Ander bestekopname van die Afrikaanse poësie, 2004–2007
– Leti Kleyn
2008-08-05
Webseminare
Waarom herskik, waarheen vorentoe?
– Hannes van Zyl
2001-07-01
Essays
Grepe uit die uitgeegeskiedenis van Breyten Breytenbach
– Francis Galloway
2012-07-27
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie
– Franci Greyling
2012-09-28
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top