- Lees ook: The People Behind the Books: Isobel Dixon, Poet and Literary Agent in the UK
- Lees verder: Mense agter boeke: Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis
Jaco Botha in gesprek met Kerneels Breytenbach: oudjoernalis en -uitgewer, tans skrywer en voorsitter van PEN Afrikaans
Verskaf asseblief 'n kort biografie van jouself.
Gebore in Emmerentia, Johannesburg. Matrikuleer aan die Albertonse Hoërskool 1969. Verwerf MA in Afrikaans-Nederlands (cum laude) met verhandeling oor “Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde”; is die laaste nagraadse student wat by DJ Opperman promoveer voor die digter se groot siekte. Sluit in 1976 by kunsredaksie van Beeld aan; word in September na Die Burger se kunsblad verplaas. In 1983 aangestel as opvolger van Vic Holloway as redakteur van die kunsblad. Doen ook diens as boekeredakteur. Word in Julie 1989 aangestel in redaksie van Human & Rousseau; volg Koos Human in 1995 op as hoof van dié uitgewery. Met samevoeging van Tafelberg en H & R in 2001 word ek publikasiehoof van NB-Uitgewers, tot my aftrede einde April 2009. Daarna aktief as keurder en skrywer; laat sien Piekniek by Hangklip en Ester die lig en, saam met Deon Opperman, Hartland, Donkerland en Kruispad.
Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?
My oupa aan moederskant was ‘n inspekteur van onderwys wat na sy aftrede vir Nasionale Boekhandel boeke bemark het. Hy het by ons in die huis gewoon, en in sy kamer was ‘n groot boekrak. Daardie boekrak is die beginpunt van my liefde vir boeke. My kinderjare was baie gelukkig. Daar was groot vrugteboorde om ons huis in my laerskooljare. Die paradys was my speelplek. Die eerste boeke wat ek gelees het, was die Biggles-boeke in Engels, en in Afrikaans die Swart Luiperd-, Trompie-, Uile- en Jasper-reekse. Later kom die Keurboslaan-boeke, Ian Fleming, Neville Shute, Alistair McLean, Lesley Charteris, PG Wodehouse, Dorothy L Sayers, Ngiao Marsh, en Agatha Christie.
Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?
Ek het aanvanklik argitektuur gaan swot, in Durban, maar dit na ‘n paar maande gelos en die res van die jaar by Volkskas in Alberton gewerk. Dit was vir my ‘n musiekjaar, nie ‘n leesjaar nie. Pentangle, Incredible String Band, Tir Na Nog, Dr Strangely Strange, Tom Paxton, Pete Seeger, sulke dinge. Toe gaan ek Stellenbosch toe, loop BA met Afrikaans-Nederlands en staatsfilosofie as hoofvakke, volg daarna die Afrikaanse koers en kry MA cum laude met DJ Opperman as promotor. Die ou Opperman. Ek was in my studentejare gelukkig om by Opperman, WEG Louw, JJ Degenaar en André du Toit klas te loop. Degenaar het mens in allerlei rigtings laat lees: politiek, etiek, estetiek. Teen my derde jaar had ek al vir Marx agter die blad – skelm in bib gaan lees, want dit was verbied destyds. Aan die literêre kant was daar die “tekens van die tyd”: John Fowles, Ayn Rand, John Barth, Robertson Davies, Camus, Sartre, De Beauvoir, Susan Sontag se vroeë essays, Robert Coover, Richard Brautigan, en ander. Dis eers toe ek by Die Burger gaan werk het in 1976, met die ou Exclusive Books in Kerkstraat, met Henrietta Dax agter die toonbank, dat ek kwaai begin lees het. Kesey, Bellow, Patrick White, Heller, Bukowski. Gerrit Olivier het my van Thomas Pynchon se V vertel, en dit is waar my liefde vir die grootste skrywer van ons tyd begin het. Ek het selfs met doktorale navorsing begin net om Pynchon se Gravity’s rainbow agter die sensors se kettings uit te kry en te lees.
Vertel ons van jou loopbaan: Waar het dit begin? Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan?
Ek het in my studentejare in vakansietye uiteenlopende dinge gedoen: vertaalwerk by die Kamer van Mynwese, joernalistiek by die pasgestigte Beeld. Ná ek met my MA klaar was, het ek permanent by Beeld se kunsredaksie ingeval, met die formidabele George Boshoff as redakteur, en Johan Bruwer, Thys Odendaal, Annelize van Rooyen en Cas van Rensburg as kollegas. Maar ‘n vrou het my hart gebreek en ek het ‘n oorplasing gevra na Die Burger se kunsblad, waar ek in September van daardie jaar onder Vic Holloway gaan werk het. Hy was my groot mentor: het my leer jazz luister, en my oë en ore geopen vir ander kunsvorme en dissiplines. Hy het my ook geleer wat die waarde van goeie skinderinformante is. Vir my was die hoogtepunt in daardie eerste deel van my loopbaan die dag toe ek in Holloway se plek aangestel is ná sy afsterwe. Ek had baie groot ontsag vir hom, en om sy opvolger te wees het geweldig baie vir my selfvertroue gedoen.
Ek is in 1989 weg na H & R, waar ek Koos Human in 1995 opgevolg het. Hy was my tweede mentor, en een van die mense vir wie ek die grootste respek en liefde het onder almal met wie ek saamgewerk het. Hy het my die boekewêreld ingelei, die binnewerking van die masjinerie geleer. Die eerste dag wat ek daar begin werk het, het hy vir my die outeurskontrak en ‘n boek oor kontrakte in die hand gestop. Die boek was What is an editor? Sax Commins at (literary) war, wat die Bybel is vir uitgewers.
Jy het met van die grootste skrywers in ons bedryf gewerk. Deel asseblief van jou gunsteling-ervarings met ons. Wat is die uitdagings wat oorkom moet word om seker te maak suksesvolle skrywers bly suksesvol?
Dit sal moeilik wees. Terwyl ek nog deel was van die Koos Humanisme, het ons feitlik elke dag ‘n skrywer onthaal, en daardeur het ek baie stewige bande met skrywers opgebou. Hoe kan mens nou uitsonderings maak? Maar een van die lekkerste anekdotes is van die keer dat ek Gerrit Komrij en sy vriend Charles oorgenooi het vir ete, saam met Daniel Hugo-hulle. Carien het ‘n hoendergereg gemaak wat omtrent die crown of the creation was. En toe verbleek Komrij, en sê hy eet alles op aarde behalwe hoender. Blyk dat hy in die Tweede Wêreldoorlog ‘n traumatiese ondervinding had waarby hoenders en hoenderhokke betrokke was.
Dan was daar ook die dag wat ek en Gerrit Olivier blomme op my ma se graf in Alberton gaan plaas het, aangedryf deur baie gangbare Pinotage, en daarna die party voortgesit het by Ampie Coetzee in Kensington. Toe is ons lus vir musiek. Ampie en Ernst Lindenberg en John Miles het ook gekuier die middag, en hulle was besig om na The Clash se Sandinista te luister. Op ‘n draaitafel waarvan net die 45 opm-deel gewerk het. Wat ‘n middag!
Hoe suksesvolle skrywers suksesvol kan bly? Die uitgewer moet leer hoe om na hulle te luister, maar nie raad te gee wat voorskriftelik is nie.
Wat is die grootste uitdagings en geleenthede wat die Afrikaanse uitgewersbedryf vandag in die gesig staar?
Hoe om die skrywerskorps te “transformeer”. Daar is ‘n magdom skrywerstalent in die bruin gemeenskap wat nog nie kans gekry het om te ontwikkel nie.
Watse raad of wenke sou jy vir 'n debuutskrywer gee?
Moet nooit moed opgee wanneer jou eerste manuskrip nie die paal haal nie. En sodra jy gepubliseer is, vermy dit ten alle koste om jou eersteling te wil kloon.
Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?
Thomas Pynchon – Gravity’s Rainbow
William Gaddis – The Recognitions
Etienne Leroux – Tweede trilogie, asook Magersfontein, o Magersfontein
Karel Schoeman – Op ‘n eiland
Breyten Breytenbach – Ysterkoei moet sweet, Huis van die dowe, Kouevuur, Lotus, “Yk”
Lettie Viljoen – Landskap met vrou en slang
Robert Ward – Shedding Skin
Saul Bellow – Humboldt’s Gift
James Ellroy – Alles
Richard Hughes - In Hazard
Damon Runyon - Runyon on Broadway
Gerrit Komrij – Het Boze Oog
Don DeLillo - The Names
Nick Mason - Inside Out
Wilma Stockenström - Kremetartekspedisie
Wat was jou leeshoogtepunte van die afgelope jaar en watter boeke is tans nog op jou leeslys?
Ek het weens persoonlike omstandighede nie soveel gelees as wat ek sou wou nie. Die ontdekking van Daniel Silva se boeke was vir my iets besonders, so ook die lees van Philip Kerr se vroeë romans. Op die oomblik is ek besig om Anne Sexton se digkuns te herontdek.
Vertel ons bietjie meer van PEN Afrikaans en wat dit aan skrywers bring?
PEN Afrikaans is die Afrikaanse vertakking van PEN International. Ons sien om na die belange van skrywers, joernaliste en ander mense wat met Afrikaans as taal werk, met die klem op kreatiewe skryfwerk. Ons gee raad oor kontraktuele sake, is bedag op die maniere waarop sensuur altyd die brandsiek brak is wat skrywers se hakskene byt, doen voorspraak oor dinge wat Afrikaanse skrywers raak.
Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n effens meer persoonlike blik op jou lewe. Dalk ook iets oor jou liefde vir musiek.
Dis miskien die maklikste om te sê dat ek vas glo in die ou spreuk “An unexaminied life is not worth living.” Ek het baie belangstellings (musiek, letterkunde, rolprente, kookkuns), maar die dinge wat my die meeste besig hou, is ‘n hunkering om soveel nuwe musiek as moontlik te hoor. Een van die dinge wat my altyd baie gehelp het in die jare wat ek oor popmusiek geskryf het, was ‘n vermoë om musiek te hoor en te onthou. Dit bring mee dat ek deesdae selde musiek wat ek jare gelede gehoor het, weer deurluister as ek dit te hore kry. Noodwendig het dit meegebring dat ek deur die jare al hoe meer geïnteresseerd geraak het in jazz en klassieke musiek. Ek verluister my op die oomblik aan Schubert en Mahler. Ek was nooit ‘n groot sportman nie, al het ek op skool nogal orraait gevaar met krieket en in my laaste hoërskooljare met (van alle dinge) waterski. Maar op my ouderdom is stap met die hond al wat oorbly – en ‘n hunkering om nog een laaste keer deur ‘n boot uit die water gelig te word. Dit sal ‘n kragtige boot moet wees.
Watse boodskap het jy vir skrywers en lesers oor die algemeen?
Die boek sal oorleef. Maak jou manuskrip klaar en lê dit aan ‘n uitgewer voor.
Enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Dit is ‘n bitter moeilike tyd om ‘n ondersteuner van die Stormers en Springbokke te wees. Ek weet nie of daar lig aan die einde van die tonnel is nie, want dit lyk my SA Rugby moet eers die tonnel vind.