Literêre vertaling – 'n paar praktiese wenke

  • 0

Vir die raps meer as twintig jaar wat ek betrokke was by die publikasie van vertalings het verskeie gebruike rondom die identifiseer van geskikte werke vir vertaling, die verkoop van vertaalregte en die regte van die vertaler deur ’n proses van verfyning gegaan. Omdat ek as uitgewer meermale te make gehad het met vertalers wat hulle (sonder enige oorweging van regte en aangedryf deur geesdrif vir die werk wat hulle wou vertaal) vasgeloop het in ’n doodloopstraat waar daar geen erkenning was vir hul vlyt of vergoeding vir hul werksure nie, wil ek graag enkele praktiese oorwegings rondom vertalings aanstip.

1. Moet niks doen voordat jy ’n skriftelike opdrag het nie. 

As jy skielik ’n brandende begeerte het om ’n literêre werk te vertaal, of as jy deur ’n uitgewer genader word om ’n werk te vertaal, sorg dat jy eers ’n skriftelike opdrag van die uitgewer verkry om dit te doen. Doen eers die voetwerk, die bekeringswerk by die uitgewer. Onthou, ’n uitgewer moet eers die regte bekom om ’n vertaling te kan publiseer (vertaling in Afrikaans) of die regte verkoop aan iemand wat ’n vertaling nodig het (vertaling vanuit Afrikaans). In die geskrewe opdrag moet daar ’n aanduiding van die vergoedingsbasis wees, of moet daar voorsiening voor gemaak word dat ’n kontrak met jou gesluit sal word om die vertaalwerk te doen. Moet onder geen omstandighede swig voor jou geesdrif en ’n werk vertaal sonder sodanige opdrag en kontrak nie. Jy het geen kopiereg in die bron nie, en jou kopiereg in die vertaling daarvan beteken niks as iemand dit nie wil gebruik nie. Jy kan dit boonop nie publiseer nie. ’n Outeur wat nie van jou voltooide vertaling hou nie, kan die lewe vir jou ondraaglik maak as jy met jou vertaling handel wil dryf.

2. Moet niks doen voordat jy met die kopiereghouer ’n kontrak gesluit het nie. 

Sodra ’n uitgewer ’n vertaler versoek het om met ’n vertaling te begin, en ’n vertaalkontrak aanbied, moet die vertaler let op die termyn waarbinne die vertaling moet geskied, en watter basis van vergoeding daar is. Dit is ’n baie belangrike punt – as dit jou nie geval nie, moet jy daaroor onderhandel voordat jy teken, of nie teken nie (en dus nie die vertaling doen nie). Die kontrak sal ook ’n klousule bevat waarin dit gestel word dat die vertaler reeds ’n kontrak met die outeur/kopiereghouer gesluit het. In die verlede het vertalers dikwels hul vertaalwerk teen ’n uurtarief, of op ’n tarief per aantal woorde, gedoen. Met die koms van spesialis-vertalers, en dikwels met vertalers wat uit eie reg die bemarkbaarheid van die vertaling verhoog (JM Coetzee wat Wilma Stockenström se Kremetartekspedisie vertaal, byvoorbeeld), het vertalers al hoe meer, in tred met die oorsese gebruike, ’n eenmalige betaling plus ’n persentasie van die tantième verdien vir hul werk. So ’n vergoedingswyse kan alleen toegepas word indien die outeur aan die uitgewer kan bevestig dat daar ’n kontrak tussen die vertaler en die outeur gesluit is wat hierdie prosedure stipuleer.

3. Waarop moet ’n vertaler let in die kontrak wat hy met die outeur sluit?

Kyk na die volgende aspekte:

  • Is die termyn waarbinne jy die vertaling moet lewer, redelik en haalbaar?
  • Is die vergoeding wat jy ontvang, genoeg?
  • As jy betaling kry slegs volgens ure gewerk of aantal woorde vertaal, is dit die moeite werd?
  • Onthou, jy kan versoek dat jy ‘n deel van die bedrag by inlewering van die vertaling kry, en die res by publikasie.
  • As jy ‘n eenmalige bedrag plus tantième ontvang, is daar ‘n redelike kans dat die verkope vir jou meer gaan lewer as sou jy slegs ‘n eenmalige vergoeding gekry het?
  • Maak die kontrak daarvoor voorsiening dat die vertaling in verskillende formate gepubliseer mag word, en word daar vir elke formaat ‘n spesifieke vergoedingsmodel gespesifiseer? (Vgl die verskil tussen hardeband- en sagteband-uitgawes.)
  • Maak die outeur daarvoor voorsiening dat jou vertaling gebruik mag word as bron vir rolprent- of TV-draaiboeke, en deel jy in die inkomste daaruit?
  • As jou vertaling gebruik word vir radiovoorlesings, oudioboeke of e-boeke, moet jy ook seker maak dat die outeur jou in die inkomste laat deel op dieselfde basis as wat jy by die publikasie van die vertaling gekry het, dit wil sê ‘n persentasie van die tantieme.
  • Onderneem die outeur om toe te sien dat in alle publikasies van die vertaling jou reg om as vertaler aangedui te word, nagekom word?
  • Onderneem die outeur om weer met jou te onderhandel sou die vertaling uit druk raak en dit jare later weer deur ‘n ander uitgewer gepubliseer word? Dring hierop aan. Dit kan wees dat jy sedertdien self beroemd geword het en op beter vergoeding kan aandring. Indien jou naam as vertaler gebruik word om die heruitreiking meer gravitas te gee, het jy des te meer rede om beter vergoed te word.
  • Vergewis jou daarvan dat die kontrak voorsiening maak vir die outeur se samewerking om vertaalprobleme uit te stryk, en dat daar aangedui word waar die finale goedkeuring van die vertaling lê. Indien die opdraggewer die uitgewer is wat die betrokke titel se vertaalregte administreer, sal die uitgewer die laaste sê hê – gewoonlik in konsultasie met die outeur. Indien dit ‘n agent is wat die opdrag gegee het (en dit dus die agent is wat die outeur se neweregte hanteer), lê die finale seggenskap by die agent (wat gewoonlik in belang van die outeur optree).
  • Ten slotte moet die kontrak ook baie duidelik uitspel dat jy kopiereg in die vertaling het, maar dat jy uit die aard van die opdrag aan die outeur en uitgewer die reg gee om na hul eie goeddunke met die opdragvertaling te handel, en het jy geen reg op inspraak nie, behalwe in gevalle van latere heruitgawes (sien hier bo).

4. Die rol van die uitgewer by die stig van ’n kontrak tussen vertaler en outeur

Geen rol nie – maar onthou dat die uitgewer die neweregte van die outeur administreer en normaalweg die outeur bystaan met die afhandeling van eenmalige betalings aan vertalers, gewoon omdat die outeur selde die fondse beskikbaar het. (Normaalweg betaal die uitgewer die vertaler, en verhaal dan die koste van die tantième wat die outeur uit die verkope van die vertaling verdien.) Daarom sal die uitgewer jou die opdrag vir vertaling gee, maar vereis dat jy en die outeur ’n kontrak sluit waarin die dinge hier bo genoem aangespreek word. Uitgewers hou ook nie baie daarvan om betrek te word by dispute tussen outeurs en vertalers nie, en die vertaalkontrak wat hulle jou aanbied, sal dit ook weerspieël. Indien dit nie die uitgewer is wat die neweregte administreer nie, maar ’n agent, sal die agent moontlik ’n rol speel by die opstel van ’n ooreenkoms tussen vertaler en outeur, maar die uitgewer van die boek sal steeds spesifieke regte hê. In só ’n geval moet jy jou daarop voorberei dat die agent eers jou vertaling gaan wil goedkeur, en daarna ook die uitgewer.

5. Wat gebeur met jou regte indien die gepubliseerde vertaling uit druk raak?

Hierdie moontlikheid sal aangespreek word in sowel die kontrak wat die outeur met jou sluit as in die een wat jou opdraggewer met jou sluit. Die twee sal mekaar nie weerspreek nie. Die opdraggewer se kontrak sal binne die raamwerk van die Wet op Kopiereg opgestel wees, en sal stipuleer dat jy die publikasiereg aan die uitgewer gee, teen ’n spesifieke vergoeding, en dat welke regte jy in die vertaling het, tot uiting kan kom alleen binne ’n konteks waar die houer van die kopiereg in die bronwerk, asook die administreerder van sy neweregte, daarmee vir lief neem. (Dit kom daarop neer dat jy nie die vertaling op jou eie aan ’n verdere party vir publikasie kan aanbied indien die aanvanklike gepubliseerde vertaling uit druk geraak het nie.)

6. Is daar gevalle waar die vertaler nie kopiereg in die vertaling gevestig kry nie?

Dit gebeur nie baie nie, maar in gevalle waar die vertaling dié is van ’n internasionale blitsverkoper soos die Harry Potter-boeke, of gekoppel is aan groot internasionale konglomerate, sal mens vind dat die vertaler uit die staanspoor ingelig word dat hy/sy ’n eenmalige betaling gaan kry en dat die kopiereg in die vertaling dié van die outeur word. Nóg die vertaler nóg die plaaslike uitgewer het diep genoeg sakke om hulle daarteen te verset.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top