Piekniek by Hangklip 'n seepgladde plesier

  • 0

Piekniek by Hangklip
Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156035
Prys: R220.95

Klik hier en koop Piekniek by Hangklip nou van Kalahari.net!

 

Deel 1

Waarin Die Resensent Enkele Agtergrondsgegewens Verskaf en Vuriglik Hoop dat dit Die Leser nie sal Verveel nie

Vanaf die oomblik dat ’n mens op die titelblad van Kerneels Breytenbach se roman Piekniek by Hangklip lees dit is “Die Geskiedenis van die Avonture van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Geskryf in Vae Navolging van Die Styl van Henry Fielding, Outeur van Joseph Andrews. In Een Volume”, weet jy hier kom ’n ding.

Henry Fielding, wat eintlik ’n dramaturg was, het begin om romans te skryf toe hy wou reageer op die buitensporige sukses van Samuel Richardson se melodramatiese briefroman Pamela, or Virtue Rewarded van 1740, waarin die jonge Pamela Andrews ’n eindelose stryd het om haar kuisheid teen haar werkgewer te verdedig. Fielding se parodie met die titel An Apology for the Life of Mrs Shamela Andrews het gewys dat die kuise Pamela eintlik glad nie so voorbeeldig was nie. Sy daaropvolgende roman, Joseph Andrews,wat handel oor Pamela se broer, het begin as parodie op die literêre konvensies en vals moraliteit van sy tyd, maar gou ontwikkel tot roman uit eie reg waarin hy allerlei sake van die dag bespreek.

Die verwysing na Fielding is ’n belangrike wenk, omdat dit ’n mens voorberei op die roman se klugtigheid en onder-die-rok-humor, byna paradoksaal gekombineer met ernstige filosofiese uitweidings, ’n besondere vertoning van erudisie en ’n diskoers oor sosiale kwessies. Wanneer die roman se motto dan ook nog gehaal word by die 18de-eeuse Engelse digter Alexander Pope, meester van die “mock heroic” waarin ’n banale gegewe in die verhewe styl van die heldeverhale uit die Klassieke tyd aangebied word, weet jy dat jy jou maar kan regmaak vir ’n tong-in-die-kies avontuur.

Deel 2

Waarin Die Resensent Probeer Vertel wat in Die Roman Gebeur Sonder om ’n Spoiler te Wees

Die twee hoofkarakters in Piekniek by Hangklip is Sonja Griessel, ’n jong Gautengse prokureur, en Joshua Gumbo, oorspronklik van Zambië en lid van die Lucky Thirteen-misdaadsindikaat in Johannesburg. Hulle lewensverhale raak verweef wanneer Joshua op ’n dag die motor probeer steel waarin Sonja en haar ouers by hulle huis aankom. In ’n toneel wat herinner aan Quentin Tarantino op sy absurde en gewelddadige beste skiet hy per abuis Sonja se ouers dood wanneer sy uit die motor struikel en onbedoeld ’n soen op sy mond plant, ’n daad waarmee sy hom onwetend van sy mojo beroof. Na die tragiese gebeure pak Sonja alles in Gauteng op om ’n nuwe lewe in die Overstrand-gebied te begin. Joshua volg haar spoor na die Kaap. Hy het haar net rakelings in die donker gesien, maar hy onthou haar reuk en hy begin soek na haar om sy mojo terug te kry. Op haar beurt soek Sonja na ’n eerlike eiendomsagent en ’n behoorlike argitek sodat sy haar met styl in Bettysbaai kan vestig.

Uit hierdie eenvoudige gegewe ontspring daar ’n reeks avonture waarby daar allerlei interessante karakters, onvoorsiene gebeure, vernuftige wendings, smaaklike maaltye en heelwat goeie seks betrokke is. Alhoewel sommige van die episodes net lossies met die sentrale intrige skakel, is daar op storievlak heelwat om die leser besig te hou. Die verteller se beskrywings is raak en spitsvondig (die een karakter se ken het byvoorbeeld “iets Brits in die teruggehoue plasing onderaan die skedel”). Daarby het hy ’n goeie oog vir besonderhede en ’n fyn oor vir dialoog.

Die roman eindig met ’n uitspattige partytjie by die Hangklip Hotel waar Sonja die voltooiing van die planne vir haar huis wil vier en tegelykertyd ook wil wraak neem op die drie mans wat ’n weddenskap oor haar verleibaarheid aangegaan het. Soos dikwels in romans en films, is dié partytjie die karnavaleske hoogtepunt waarheen al die gebeure in die roman opbou. Al wat ek van die partytjie mag verklap, is dat dit sommige van die roman se plotlyne bymekaar bring en afbind sodat die leser ten minste ’n gevoel van (voorlopige) sluiting ervaar. Soos ander Afrikaanse skrywers voor hom betuig Kerneels Breytenbach met die beskrywing van hierdie partytjie sy skatpligtigheid teenoor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins wat as ’t ware die oermodel geword het vir alle partytjies in die Afrikaanse letterkunde. Leroux se roman word ook in herinnering geroep deur die talle filosofiese gesprekke tussen die karakters. (Van die weeïge Victoriaanse atmosfeer van die Australiese roman en film met die soortgelyke titel Picnic at Hanging Rock in daar in hierdie hoogtepunt nie veel te bespeur nie.)

Deel 3

Waarin Die Resensent Plesier Het aan Verskillende Dinge

Die vlot verloop van die intrige is nie al wat hierdie roman het om te bied nie. Soos in die geval van Fielding se roman bied dit eintlik ’n kapstok waaraan die besinning oor allerlei onderwerpe gehang kan word. ’n Wildernis onderwerpe word opgeroep deur die verhaalsituasies, in die gesprekke van die karakters en in die verteller se kommentaar: misdaad, gholf-ontwikkelings, die Afrikaanse letterkunde, argitektuur, die aard van kitsch, munisipale korrupsie, reparasie en restitusie, die posisie van vroue in die samelewing, charismatiese kerke, hiperverfynde restaurante in die styl van Ferran Adria en Heston Blumenthal, die huidige politieke bestel, en nog vele meer.

Die probleem van misdaad in Suid-Afrika, wat nie meer te verklaar is deur rasionele denke nie, word byvoorbeeld aangespreek deur die optrede van Joshua Gumbo en sy teenstanders Craig Joubert en Stef Hofmeyr (op die oog af respektabele agente van die Max Planck-instituut vir Diëte!). Sienings oor die argitektuur word aan die orde gestel deur die argitek Tertius von Tlön, wat Sonja se huis vir haar gaan ontwerp. Die Afrikaanse letterkunde en kritiek word ten tonele gevoer deur die kritikus en biograaf Rick Santorum, wat ’n nogal toevallige verbintenis met Joshua het. Santorum het een of twee geheimpies van sy eie (let onder andere op sy naam) wat hom ’n veelseggende verteenwoordiger van die Afrikaanse literêre toneel maak. Die verskil tussen restitusie en reparasie word bespreek in ’n restaurant-gesprek waar ’n netjiese plan daarvoor bowendien op die tafel gesit word deur ’n eksapartheidsagent wat nou ’n godsman geword het.

Een van die plesiere van die lees van hierdie roman is om te sien hoe vernuftig Breytenbach ’n omvangryke verwysingsnetwerk in sy teks inweef. Soms is dit ’n terloopse verwysing wat die leser se wenkbrou laat lig (soos in die naam Rius Alvaraalto of die reëls uit Van Wyk Louw se “Ballade van die bose”). In ander gevalle is die implikasies van die verwysing meer uitgebreid (soos in die naam van die argitek Tertius von Tlön en sy firma wat sinspeel op Borges se wonderbaarlike verhaal oor ’n alternatiewe wêreld). Met Groot verseboek in die hand en Google as soekenjin het ’n mens nie te veel moeite om die verwysings op te spoor nie. Wat oorbly, is die plesier van herkenning en die genot van ’n goed-verweefde verwysingstelsel.

’n Mens put ook heelwat komiese genot uit die verteller se toetredes tot die teks, wat meestal geskied in die spottende styl van Henry Fielding. In kwasivername taal dryf hy die spot met allerlei literêre konvensies terwyl hy algaande vir die leser sy werkswyse verduidelik. ’n Mens moet dit ook noem dat die verteller nie verhewe is bo ’n paar geforseerde skuiwe nie, soos wanneer die geskiedenis van Darius en Xerxes du Plooy, wat ’n rakelingse verband met Joshua Gumbo het, as die visioene van Joshua se hospita in Woodstock die verhaal binnegebring word. In die verteller se satiriese styl, afgekyk by Fielding, lê hoogdrawende sofistikasie ook gemaklik langs kruheid. Daarom maak die skrywer ruimskoots gebruik van die geleentheid om in die ruigste gedeeltes van die Afrikaanse woordeskat te delf, in so ‘n mate dat sensitiewe lesers se ore (by wyse van spreke) mag tuit. Die jukstaposisie van hoë erns en die banale is egter meestal skreeusnaaks.

Deel 4

Waarin Die Resensent oor Een of Twee Dinge Wonder

Sonder om die verhaal se afloop te verklap, wonder ’n mens waarom die skrywer ten slotte die een misdadiger laat wegkom terwyl hy die ander afmaai. Wil hy daarmee kommentaar lewer op grade van misdaad of die feit dat misdaad so dikwels ongestraf bly in Suid-Afrika? Nog iets waaroor ’n mens wonder, is waarom die skrywer Joshua se verlore mojo so ’n bepalende rol in die verhaal laat speel. Mojo, weet ons, kan verwys na ’n mens se selfvertroue, selfagting en seksuele aantrekkingskrag, maar ook na ’n soort bonatuurlike towerkrag. Dit mag wees dat die roman met ’n siniese oog op die werklikheid wil sê dat die meeste van die dinge wat rondom ons gebeur, net so bisar en onverklaarbaar is soos die konsep mojo.

Ten slotte toon die roman egter veral dat erns nié die enigste manier is waarmee jy gewigtige sake kan aanroer nie. Klugtigheid en spot is eweneens wapens in die stryd om die behoud van goeie waardes, esteties bevredigende argitektuur, opbouende literatuurkritiek, onpretensieuse eetgewoontes en volhoubare maatskaplike verandering.

Wat ’n seepgladde plesier was dit nie om hierdie roman van Kerneels Breytenbach te lees nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top