Joan Hambidge (1956– )

  • 0

Gebore en getoë

Joan Helene Hambidge is op 11 September 1956 in Aliwal-Noord gebore, naasoudste van vier dogters. Haar pa se voorgeslagte was Iers en haar ma Afrikaans.

Sy begin haar skoolloopbaan in Aliwal-Noord, maar omdat haar pa in die versekeringsbedryf was, trek hulle baie en gaan sy skool in Witbank en Pretoria (Hoërskool Wonderboom) en matrikuleer aan die Hoërskool Standerton. In standerd 4 (graad 6) skryf sy in vir die Transvaler se poësiewedstryd en wen R5 met ’n gedig wat begin met “die verlange passeer vannag in my”. Dit is ook dan voorlopig die einde van haar digwerk.

Joan vertel tydens die Woordfees van 2014 dat haar eerste reise as kind per bus van Pretoria se middestad na Sunnyside was. Sy het vir haar pa by sy werk gaan kuier en terwyl sy gewag het, het sy hierdie reis in die kleine aangepak.

Op skool is Joan ’n stil, introverte kind en in standerd 8 besluit sy al manier waarop almal haar gaan uitlos, is as sy begin presteer. In matriek ontvang sy die beheerraadsmedalje vir die beste matriekuitslae. Sy besoek die biblioteek gereeld en lees al die “wilde” stories wat hulle as kinders nie mag gelees het nie, soos Konsalik en die fotoverhaal Die Ruiter in swart. Dit het egter gou tot haar deurgedring dat kinderboeke nie die werklikheid aanbied soos wat dit is nie. Terwyl sy ’n jong student was, het sy vakansies die platteland besoek met boeke uit die klassieke wêreldliteratuur onder haar arm.

Verdere studie en werk

Joan gaan na die Universiteit Stellenbosch vir verdere studie en in 1979 verwerf sy haar BA Honneursgraad daar. Sy voltooi haar MA-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van Elize Botha; haar tesis is getiteld “Die ek-verteller in die belydenisroman”. Sy skryf haar in vir ’n PhD aan Rhodes-universiteit en onder André P Brink se leiding verwerf sy dit in 1985 met haar tesis “Die metaroman – ’n dekonstruksie-ondersoek”.

Van 1980 tot 1992 doseer sy algemene literatuurwetenskap aan die Universiteit van die Noorde. In 1990 word sy aangestel as hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van die Noorde, en in Julie 1992 as senior lektor in Afrikaanse poësie aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy tot vandag haar kennis met studente deel. Vandag doseer sy egter kreatiewe skryfwerk in poësie aan nagraadse studente. In 2007 was sy ook direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes, en benewens die kursus in kreatiewe skryfwerk bied sy ook kursusse in gender en letterkunde aan.

In 2006 word Sean O’Toole, ’n student van Joan, se kortverhaal “The road to Rephile” aangewys as wenner van die SA Pen literêre prys. Joan het ook ’n ruk lank aan die Universiteit van Yale in die VSA navorsing gedoen oor literêre teorie. In Mei 2003 lewer sy haar professorale intreerede aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar rede is “Whose inaugural is it anyway? Modern criticism in crisis”.

In 2001 behaal Joan haar tweede doktorsgraad, dié keer in kultuurstudies, aan die Universiteit van Kaapstad. Die titel van haar proefskrif was “Gender-konstruksie in die Afrikaanse letterkunde: ’n ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk”.

Binne vyf jaar na haar studies bou Joan vir haar ’n reputasie op as een van die mees omstrede literêre figure in Suid-Afrika. Sy skroom nie om haar sê te sê nie en is altyd gereed om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuigings te verdedig. Volgens Louise Viljoen is dit “vir enige letterkunde gesond om so ’n uitgesproke persoon met so ’n sterk strydende ingesteldheid te hê. Dit keer dat mense selfgenoegsaam word, en wys ook die letterkunde is nie ’n keurige, hoogheilige bedryf nie.”

Joan wou advokaat word, en ook mediese dokter, maar gelukkig het haar ouers haar na die letterkunde toe gedwing, wat sy vandag as die regte keuse beskou. Sy beleef die lewe ten volle, is versot op reis en gaan elke jaar oorsee – om die lewe te sien. Haar ouma Hannah Loubser, ’n suster van Maggie Laubser, het ook die wêreld vol gereis en dit is dalk by haar dat Joan haar reislus geërf het.

Reis het die sentrale metafoor van haar lewe geword: “Dis wonderlik om die wêreld te sien, maar daar’s ook die innerlike reis, om tot ’n soort persoonlike klaarheid te kom.” Joan het ook gereeld vir Die Burger se bylae By ’n reisrubriek, “Wegkomkans”, geskryf.

Oor haar reistasse skryf Joan in 2003 in Die Burger: “My eerste reistassie op ouderdom vyf dra ek elke dag saam. Vreemd genoeg, nooit weggeloop met hierdie boksbruin tassie. Binne-in toebroodjies, ’n pen en een van my pa se boeke, nogal ’n roman van Graham Greene. Later sou ek lees hoe hy vertel dat ’n kind reeds vroeg sy lot aanvoel en op die banke van die Oranje-rivier – kwalik ses – wou ek my susters op ’n wintersdag teen die verbeelde vloed beskerm. Later sou ek ver reis. Van my ouerhuis met ’n bloedrooi stel vinieltasse op die Trans-Karoo. Die ‘vanity case’, eerste oorbodig, soos ’n hoededoos. My klere gemakliker en losser. Dié rooi reistasse karwei universiteitsvakansies vele boeke vir ’n somer op die Hoëveld. ’n Leertas in Griekeland, ’n ekstra sak in Amsterdam wat ruik na jenewer, ’n gekleurde Benetton (geskenk van ’n minnares), ’n duur ‘state of the art’-tas wat ’n ander een abba reis saam oor verre oseane en gebergtes. In Egipte aanskou ek woedend hoe ’n werker my leertas in rooisand neersmyt; besef onthuts ’n kamera is uit my sak geskaai. Nooit ’n tas verloor of toegelaat dat iemand vir my tas dra. Reis dikwels weg om iemand uit my hart te weer. Op die sjinkansen met die abba-tas op die rug pendel ek van Tokio na Kioto na Osaka. Slenter deur Suid-Amerika met net ’n nylonsak. Koop na vyf weke splinternuwe klere in Rio de Janeiro. In elke tas of sak ’n potlood en notaboek vir die neerpen van’ 'n verdraaide raaisel. Oor hierdie geslote baan veelvuldig gedig. ‘Travelling light’ my motto al was die hart hoe swaar. Soveel hemde, broeke pas netjies presies in die tas se lyf: amper nes ’n mens se bont binnegoed. Vreemd ook, geen tas ooit weggegooi al is dit hoe verslete want daardie tas is ’n dagboek, ’n memento, ’n opgaarder van al my drome, ’n argief van helder herinneringe: soos die geheime onbewuste.”

Na die eerste poging in haar laerskooljare begin Joan weer in 1983 ernstig poësie skryf. Sy debuteer in 1985 met Hartskrif en dit is die begin van ’n baie produktiewe skryfloopbaan. Die pryse het nie agterweë gebly nie. In 1986 wen sy saam met Deon Opperman, die dramaturg, die Eugène Marais-prys; haar wenbundel is getitel Bitterlemoene (1986). In 1999 volg die Litera-prys van die letterkundige tydskrif Literator vir haar gedig “Eugène N Marais (1871–1936)” en sy ontvang ook die Poetry Institute of Africa se tweede prys vir "’n Gedig plagiariseer die werklikheid".

André Brink beskryf Joan in ’n Rapport van 1987 as “een van die heel beduidendste stemme van die Tagtigs”. En in dieselfde jaar praat TT Cloete van haar “ryp, boeiende visie”. Vroeg in haar skrywersloopbaan vertel sy dat sy tussen drie-uur snags en sesuur soggens skryf, want “wanneer die ritme van die liggaam op sy laagste is, is ’n mens die naaste aan jou onbewuste”. Temas waarna sy gereeld terugkeer in haar poësie, is familie, die dood, die digkuns, reis, portrette van digters en bekendes.

Oor Bitterlemoene skryf Pieter van der Lugt in Die Burger (26 Februarie 1986) dat dit tematies by Hambidge se debuut, Hartskrif, aansluit en dat dit veral handel oor “the unbearable lightness of being single”, of so iets. “Sowat van verwikkeldheid sien jy selde,” skryf Van der Lugt. “Helfte van die verse vreet deur die draad aan die (dikwels groener) gras van ander se werk. Die res roep na kraalmaats met eenderse gene in een van die bundel se elf afdelings. Byna al haar ervarings word aan die hand van aanhalings en verwysings verwoord. Sy roep soveel gevormde kuns op voor sy háár kunsies wys, dat sy uiteindelik doer op die plato-rand van die Ideëryk bly staan. Tensy ’n mens daarvan hou om vangtoue om verwysings van eenderse vere te gooi of graag peins oor allures en aanhalings, voel ’n mens ontuis in dié bundel.”

Joan het in ’n brief aan Die Burger vir Van der Lugt ligweg oor die vingers getik omdat hy na haar mening verkeerde aannames gemaak het.

In Die Burger van 3 Maart 1988 het Van der Lugt hom redelik kras uitgespreek oor Palinodes (1987) en te kenne gegee dat daar nie veel nuut in die bundel is nie. Die bundel bevat “hoogstens klemverskuiwings. Daar is ook geen besonderse verandering van styl of vorm nie, hoewel die taal nog meer gestroop is en die verse nog strakker word. ’n Mens soek verniet hier na iets wat jy nog nie by Hambidge gesien het nie. Die verse eindig nog steeds almal in mineur-sleutels van versugting, gelatenheid of frustrasie. En dit wemel nog van aanhalings. Alles verloop ou stryk. Net een voorbeeld. In die bespreking van Hambidge se vorige bundel, Anatomie van melancholie, is gewys op ’n opwindende tegniek, waarmee ’n skelle paradoks in een treffersin saamgevat is. Maar kyk hoe kragloos herleef dié truuk hier: Liberace, die koning van swier, se lyk word in ’n blou sak verpak ... (‘Le Clochard’). Dis mos oppervlakkige sentiment, dié. (...) Die meer emosionele gedigte (behalwe darem ‘Ballade van my troue vriende’, wat – selfs titel in ag genome – deklameer soos ’n NTO-voordragstuk!) is in hierdie bundel die hoogtepunte. In Hambidge se vorige werk was hulle min – en dit is hulle nog. Maar namate ’n mens uitgeput raak weens die (dikwels gevaarlik naby aan irrelevante) verwysings en aanhalings, word dié bietjie hartstog ’n toevlug.”

Geslote baan het in 1988 verskyn en hierdie keer is dit Helize van Vuuren (Die Burger, 15 Desember 1988) wat kritiek daarop het: “Tiperend van hierdie versameling gedigte is ’n steriele ‘geslotenheid’, wég van die lewe, iets wat al voorheen in haar poësie te sien was. Dit lyk asof Hambidge net een tema het, en dit is die poësie. Geslote baan is ’n yl bundel, met ’n atmosfeer van selfkoestering en steriliteit." 

Joan se volgende twee bundels, Donker labirint en Kriptonemie, toon vir Van Vuuren (Die Burger, 4 Januarie 1990) ’n "stygende lyn van gehalte", maar sy “wonder hoe lank die digter nog met dié tematiek (van die ek-spreker wat nie raad weet met haar gebroke hart nie, en beurtelings verlangend of verbitterd terugdink oor die verlore geliefde) wat as ‘muse’ of ‘katalisator’ van haar poësie fungeer, kan volhou sonder om alle lesers te verloor."

Oor Gesteelde appels,wat ook, soos die twee bundels in bostaande paragraaf, in 1989 gepubliseer is, skryf Etienne Britz (Die Burger, 7 Desember 1989): "Die bundel met sy aantreklike mengsel van grimmige spot en sielesmart het van my finaal ’n Hambidge-fan gemaak. Dit is ’n bundel met parodieë op gedigte uit Groot Verseboek, en sy word onweerstaanbaarder as ooit. Haar 'bandelose spot met self en ander' – soos sy dit in 'Writer’s block' noem – is selfs aansteeklik."

By die bekendstelling van Die somber muse en Tachycardia in Augustus 1990 in Pretoria het JC Kannemeyer (Beeld, 24 Augustus 1990) gesê: “As Joan in Nederland gewoon het, was haar bynaam sekerlik De Bezige Bij, want sy is in werklikheid ’n hele uitgewery wat in slapbandboeke in ‘pocket’-formaat publiseer. Die slapband is trouens die enigste slap aspek van haar poësie, want verder is haar verse gespanne, trillende snare.

“Die preutses onder ons wat haar soort liefdespoësie moreel afkeur, sal miskien sê: ‘De Bezige Bij blijft smerig’, maar ek bespeur in so ’n uitspraak onder meer ook die jaloesie van sommige van haar tydgenote wat met hul beskeie oeuvres en skrywerskrampe hul frustrasies liefs in kort stukkies joernalistiek in alternatiewe blaadjies uitflap.

“Om tot 'n bietjie meer erns by dié geleentheid te kom: Joan Hambidge is tans ons produktiefste digter wat haar met ’n monomaniese oorgawe aan die poësie wy. ‘Ek lewe met ’n drif/ ter wille van die skrif,’ sê sy in een van haar bundels – ’n aanduiding van die hartstog waarmee sy haar, om Eybers se woorde te gebruik, oorgee aan
die ‘wrede beleg van die woord’.”

Die hooftema van Tachycardia is, volgens Kannemeyer, die afloop van ’n verhouding en die pyn wat daarmee saamgaan "en soos telkens vroeër in haar oeuvre word die liefde in terme van die literatuur beleef met ’n obsessionele, obstinate dwingendheid en ’n monotonie wat met dié van Achterberg vergelyk kan word.

"Soos in Donker labirint, haar bundel van 1989, is die liefdesgeskiedenis in Die somber muse nie net tot een rubriek beperk nie, maar staan die hele bundel in die teken van die liefde, iets wat meebring dat die sterk intellektuele inslag van Hambidge se poësie met sy talle verwysings, toespelings en die gesprekke met kunstenaars en kunswerke hier enigsins getemper word, met ’n persoonliker tipe vers as resultaat," het Kannemeyer verder gesê.

“Die bundel handel oor ’n liefdesgeskiedenis wat met groot pyn afgeloop en onherroeplik verby is. Die verse staan meestal in die teken van verlies, al word die liefde ook hier gesien as ’n impuls vir die poësie en gee die sprekende digteres aan haarself feitlik die opdrag om haar poëties en wetenskaplik teen die verdriet te staal.

Veral die twee slotafdelings van die bundel bevat sterk verse as daar van die uitdrywing van duiwels sprake is, as sy van vergiffenis praat, as die woord as surrogaat verskyn en as daar selfs 'n minagting vir die geliefde intree. Toenemend na die einde toe staan alles in die teken van die woord, selfs al besef sy dat die verwydering via die woord juis ’n ‘bestendiging’ impliseer en dat ‘verlangens ... net deur intense pyn ... vergestalt’ word. As verslag van ’n liefdesgeskiedenis is Die somber muse een van Hambidge se mees deurgekomponeerde bundels.”

Joan waag haar hand nie net aan poësie nie, en ’n hele aantal romans het al uit haar pen verskyn, soos Swart koring en Die swart sluier, albei parodieë van die hygroman, en Die Judaskus. In 2001 haal Skoppensboer die Sanlam/Insig-romanwedstryd se kortlys.

In ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 29 Januarie 1997) vertel Joan hoekom sy Swart koring geskryf het: “Ek wou nog altyd ’n roman skryf. Tewens [sic], toe almal blinkoog in DJ Opperman se letterkundige laboratorium met die digkuns gespeel het, was ek aan ’t prosa skryf. Beeld had ’n aandeel in die vorming van dié boek: ek het ses jaar lank die rubriek Op my literêre sofa geskryf waarin ek my satiriese kragte getoets het en besef het dat onse lesers nie juis ’n humorsin het nie. Ek het ook deur ’n persoonlike transformasie-proses gegaan en ek verwerk alles wat met my gebeur in tekste. Ek het gevoel dat my poësie nie die regte medium sou wees om ’n dramatiese proses te verwerk nie.”

Oor wie heel moontlik Swart koring gaan lees en wie nie, was Joan se antwoord aan Engelbrecht: “As jy poësie skryf, weet jy nooit hoe jou leser lyk nie. Dis ’n stiller medium. Ek het ’n roman geskryf wat vir sowel die gewone leser as die ingeligte leser bedoel is. Dis ’n grappige send-up en ook ’n boek waarin baie pyn lê. My onwaarskynlike leser? Iemand wat die boek as ’n paint by numbers gaan lees en (probeer) herlei na hierdie/daardie insident. Ek fiksionaliseer gebeure.”

Joan meen dat die wêreld behep is met seks. "Swart koring stuur dié 'beheptheid' met seks op. Die hygromans in Afrikaans het kwansuis seks óóp geskryf, maar dis maar mak teen buitelandse produkte." Oor of sy behep is met seks, sê sy dat behep klink asof 'n mens moet skuldig wees oor seks of verhoudings. “Ek is openlik gay – my verhoudings met mense is dus duidelik. Niemand wat met my ’n verhouding sluit, kan agterna beweer hulle is ‘mislei’ nie. Maar my verhoudings is eerder emosioneel. Ek is behep met die grammatika van emosies.”

In 1998 verskyn beide Die swart sluier en Die Judaskus. Hieroor vertel Joan aan Beeld Plus (16 September 1998): “Ek skryf geweldig gedissiplineerd. Ek werk elke dag aan ’n studie oor gender en sorg dat ek elke dag ’n aantal woorde skryf. Dit is ’n vorm van selfdissipline. Ek funksioneer op my beste wanneer ek skryf. Die Judaskus word as ’n ‘rara avis’ beskou: ’n postmodernistiese roman, ’n liefdesbrief, literatuurteorie, ’n digter se werkwinkel, ’n individuasie-proses, ’n Boeddhistiese bedevaart, ’n reisverslag. Ek het hierdie roman geskryf ná ’n bloedige oorlog tussen my en ’n ‘geliefde’. Ek wou die hele proses van liefdesverraad deurgrond van hoe iemand wat eens by jou betrokke was, jou grootste vyand kan word. Verraad van ’n bekende is erger as van ’n onbekende, juis omdat daardie persoon jou Achilleshiel ken. Ek het die hele proses uit my geskryf: die woede, die verdriet. Daar is niks oor nie. Net ’n gevoel van: dit was ’n suiweringsproses. Die roman gebruik vanselfsprekend net die werklikheid as vertrekpunt, want as ’n mens ’n boek skryf, dan neem die skryfproses jou op ’n eie koers. Dit is waarskynlik soos ’n skip op die oseaan. Die stormwaters kan die skip van koers af gooi.”

Die swart sluier het in dieselfde tydperk as Die Judaskus ontstaan. Dit dryf die spot met gewilde fiksie – meer bepaald met die hygroman as ’n tipe van kultus in Afrikaans. "Almal lees, of het in hul verlede, ontsnappingstekste gelees. Dit bepaal ons leespatrone en dikwels hoe ons na die werklikheid kyk."

Die skrywer skeer dus die gek en lewer kommentaar op die karakters en die gebeure wat plaasvind. Sonja Verbeek bevind haar in Welkom, waar sy ’n lesing by ’n seminaar moet lewer saam met DF Malherbe. Die rekenaars van die hotel het egter ’n virus onder lede en het die besprekings deurmekaar gekrap. Sonja is saam met Salome van Sewe dae by die Silbersteins in die kamer en ander karakters uit ander romans is ook daar: Dalene Matthee se olifant en Lettie Viljoen se slang, asook Madeleine van Biljon. Dit is ook deels ’n plaasroman en Sonja het ’n verhouding met die weduwee Viljee wat sy wil verlos van die verkeerde opvatting "dat sy net ’n parodie is in ’n speurverhaal en spookverhaal".

Die resensies oor die romans was redelik uiteenlopend. Stephan Bouwer (Rapport, 22 November 1998) het geskryf dat Joan met Sluier "vernuftig met genres en subgenres mors", terwyl Willie Burger (Beeld, 19 Oktober 1998) gewonder het oor die "mark vir dié soort teks en dat op die duur die baldadigheid net nie meer so snaaks is nie en hopelik bly Sonja Verbeek nou maar liewer in die VSA".

Judaskus is vir Helize van Vuuren (Die Burger, 5 Augustus 1998) ’n "onderhoudende en geslaagde roman, veral om die meelewing met die hoofkarakter en die afwisseling in teksture wat die verwewing van intertekste meebring en hoewel die roman met veel van die gegewe van Hambidge se poësie werk, is dit hier besonder oortuigend en meer verwikkeld aangebied."

In Volksblad (5 Oktober 1998) sê Mathilda Smit dat "Hambidge se bedrewenheid as teoretikus, kritikus en akademikus uit hierdie fiktiewe teks spreek. Die teks leen hom tot interessante speurtogte in hoe werklikheid, fiksie en teorie geknoop word."

Lykdigte, wat in 2000 gepubliseer is, het Hambidge nege maal oorgeskryf. Sy het in 1997 daaraan begin skryf na die dood van die digteres Rika Cilliers. Daarna het verskeie ander digters, soos Johann Johl, Patrick Petersen, Stephan Bouwer en Ernst van Heerden, ook te sterwe gekom.

Die gewildheid van Lykdigte, waarvan die herdrukke reeds die aantal maande wat dit beskikbaar was, oorskry het, was iets wat Joan baie bly gemaak het. "Vir my is dit nie digters nie," vertel sy vir Roline Norval in Die Burger van 6 November 2000, "maar die digkuns wat saak maak." Sy haal Neruda aan wat gesê het daar is nie digters nie, net digkuns. “Alle digters het ’n verbintenis met die poësie. Dit is soos ’n tapisserie waaraan jy help weef.

"Met hierdie digbundel het ek met myself klaargespeel. Die lykdigte het nie net op ander se dood betrekking nie. Dit is die afsterwe van die ou self.”

Die populêre ontvangs van Lykdigte kan gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat dit meer toeganklik is. “Dit is nie so vol intertekste en so intellektueel ingestel nie,” en ook die tema is anders – voorheen het haar gedigte meer oor die liefde gegaan en in hierdie bundel gaan dit oor die dood. En vir Joan is dit een van die hoofredes hoekom die bundel so gewild is. “Dit vind aanklank by alle mense. Dit is ’n tema wat niemand kan ontglip nie. Die dood, die lewe en die liefde is verskillende kante van dieselfde munt,” sê sy aan Norval.

Die bundel was ook ’n vredemaakproses. Die bekende digters, wat ook vriende was, soos Johann Johl, Rika Cilliers, Stephan Bouwer en Ernst van Heerden, wat kort na mekaar oorlede is, het haar laat besef dat alles in die lewe met ’n doel gebeur. "My Boeddhistiese ingesteldheid maak my bewus van die interafhanklikheid van dinge. Ek beskou die dood nie as die einde nie. Dit is deel van ’n proses, ’n groot reis, ’n veranderde toestand.”

Die lykdigte is nie net ’n afskeid van dié wat reeds oorlede is nie, maar ook geskryf aan dié wat nog lewe, en een van die afdelings is gewy aan digters soos Sheila Cussons en Elisabeth Eybers, wat op daardie tydstip nog gelewe het. "Dit is ’n soort bestekopname van almal wat ’n invloed op my lewe gehad het. Dit is ook ’n liefdevolle geskenk aan diegene vir wie ek iets te sê het voor dit te laat is – ook diegene met wie ek ’n bloedband deel soos in 'My Ouers'. Poësie is ’n proses. ’n Gedig skryf homself. Die digter is net die medium,” sê Joan aan Norval.

In 2006 is Joan se pa oorlede en na haar pa se dood word haar negentiende bundel, Dad, gepubliseer. Slegs die eerste reeks gedigte in dié bundel is na haar pa se dood geskryf. Hierdie bundel gaan oor haar verhouding met hom, oor die vader-kind-verhouding in die algemeen, en oor die verhouding met vaders binne ’n bepaalde digkuns.

Joan vertel aan Jo Prins (Die Burger, 12 Julie 2011): "Dad is ’n bundel gedigte rondom die vader wat die kinders grootmaak. Dit beeld ook die ervaring van sy dood en die nadraai daarvan uit. Dit gaan verder oor die gesprekke wat ’n mens as kind met die ouer het en ook beeld die gedigte die kind se vroeëre rebelsheid teen die pa en dan later die aanvaarding uit. Behalwe bogenoemde gaan Dad ook oor die vaderskap van die gedigte – die gedigte wat in gesprek tree met die Vader-digters in Afrikaans."

In 1999 behartig sy saam met Ingrid Gouws en Marlene van Niekerk ’n week lange kursus in kreatiewe skryfwerk aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth en in 2008 lewer sy waardevolle insette tydens ’n kreatiewe beraad aan die Universiteit van die Vrystaat.

Joan se gedigte is ook al vir ander fasette van die kunste aangewend. In 2003 bied die La Rosa-geselskap vir Spaanse dansteater ’n dansproduksie getiteld Elementos aan in die KunsteKaap-arena. Die eerste deel van die produksie heet “Imagenes” en is gebaseer op gedigte uit Joan se bundel Ewebeeld. Die gedigte word deur Nicole Holm gesing en voorgedra met kitaarbegeleiding terwyl dit deur flamenkodansers uitgebeeld word. Dié gedeelte van die produksie is ook in 2001 by die KKNK aangebied.

Joan is ook ’n gereelde bydraer tot rubrieke in koerante en tydskrifte. So het sy in “Op my literêre sofa” in Beeld met haar vlymskerp kommentaar gesorg vir vele polemieke en briewe aan die pers. Sy skryf ook gereeld “Kopstukke”, ook in Beeld.

In ’n onderhoud met Hettie Scholtz in Insig van Junie 2000 bieg Joan dat sy van eerstes hou: "die eerste PhD oor dekonstruksie, asook ’n eerste studie oor postmodernisme in 1995. In my skryfwerk is daar ook ’n eerste beskrywing van liefdesverbintenisse tussen vroue, ’n eerste gay-parodie in Afrikaans (Swart koring, 1996) gevolg deur Die swart sluier (1998).” Ook in haar roman Die Judaskus (1998) word die lesbiese psige verken. Die eerste internetroman in Afrikaans is ook uit Joan se pen – Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het – ’n gesprek met Jan Lion Cachet se Sewe duiwels.

"Joan glo in holistiese genesing en in tarotkaarte wat sy self kan lees; en ander dinge wat haar besig hou, behalwe reis, is lees en die skryf van literêre kritiek. Laasgenoemde is ook een van dié dinge wat haar so bekend (of is dit berug?) deur Suid-Afrika gemaak het. Sy skroom nie om in haar resensies reguit te skryf wat sy van die betrokke boek dink nie, hetsy goed of sleg, en bevind haar dan heel dikwels midde-in ’n polemiek in die dagpers waaraan almal met groot genoeë kan deelneem of lees. Hambidge is sinoniem met die polemiese. Sy deins nie daarvoor terug nie en erken sy is ‘vlymbekkig’. In dieselfde asem maak sy dit duidelik dat sy nie kleinserig is nie” – in it ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger, 9 Februarie 2007.

“Joan Hambidge is ook ’n soort taalstryder, iemand wat deur haar literêre bydrae, haar kritiese werk, haar satiriese send-ups en haar polemieke die taal op verskeie fronte aan die gang en lewend hou. Onder hierdie wakende oog sal Afrikaans nie in die vergetelheid verdwyn nie, al is dit net omdat sy altyd die laaste woord moet hê,” skryf Hettie Scholtz in Insig, Junie 2000.

In 2008 verskyn Kladboek by Protea Boekhuis, en die dubbeldoor Palindroom, ’n roman, en Koesnaatjies vir die proe (gedigte), saam in een band by Genugtig!. “Maar,” sê Hambidge, “die drie babas is allermins ’n drieling. Kladboek strek verder terug. Dit het ongeveer drie jaar lank by die uitgewershuis gewag. Ook Koesnaatjies vir die proe is ’n bundel wat sowat vier jaar terug geskryf is. Maar ek is bly dit verskyn saam. Op ’n manier praat die tekste met mekaar. Kladboek word ’n soort rigtingwyser vir Palindroom en andersom” (aan Denver Kisting in Rapport van 8 September 2008).

Basies is die storie van Kladboek die begin en afloop van ’n liefdesvierhoek: daar is die verhouding tussen Die Skrywer en Die Geliefde wat sneuwel omdat eersgenoemde Die Vrou ontmoet. Dan ontmoet die leser ook Die Man, vorige geliefde van Die Vrou, en hy raak betrokke by Die Geliefde.

Oor Palindroom en Koesnaatjies skryf Petra Müller in Rapport (5 September 2008): "Joan Hambidge speel in ons lettere tans die rol van die kwajong, die breker, die raasbek, die grensoorskryder, dié vroumens van vele gedaantes. As daar al ooit ’n stormvoël was, is dit sy.

“Maar sy bedryf ook, veral in haar romans, die ‘ligtende erns’ – ’n noodsaak in ons somber omtes. Haar nuutste romanwerk, Palindroom, is ’n dubbeldoor: jy kan hom (haar?) van al twee kante aanvat. Een deel is prosa-boek; jy draai hom om en begin daar lees: nou is dit ’n digbundel. Dié twee lê ingekrul en opgekooi, onder die teken van die Koningin van Harte.

“Dié prosateks is ’n uitgesponne, laat-moderne reverie oor onaanraakbaarheid, waarin deur ’n delikate web van e-pos vertel word van ’n moontlike kuberromanse. Dit bestaan uit huiweringe wat selfs, en veral, nié in hierdie teks tot rus sal kom nie – nie deur skrywer of deur leser nie. (...)

“Nou draai ons die boek om – ek gaan nie uitwei oor die omdraaistorie nie – en begin lees aan die poësieteks wat opduik as Koesnaatjies vir die proe. Dit word genoem ’n parodie op die voorgaande, en is ’n karnavaleske viering van die lyflikheid wat uit die voorgaande geweer is. (...)

Koesnaatjies is ’n lyfteater – en net hier begin dit neuk met hierdie omdraaiteks. Vir my gevoel is dit meer satire as parodie, ’n ruimhartige en soms ook groteske opgaaf van katelwerk waarin elke ding op sy voornaam genoem word en waarin die verskrikte klein kwelknaap Eros haastig by die venster uitglip na ander weidings toe. Want die smagting word smak en die sondes, genoeglik soos dit is, nie spitsvondig genoeg nie. (...)

“Ek draai my boek dus weer om, en begin weer lees aan Palindroom. Nou sien ek op die baie toepaslike buiteblaaie se eenderse afbeelding van die Koningin van Harte dat haar mooi gesig steeds halfpad versluierd bly.”

In 2012 verskyn Lot se vrou en oor die titel en hoe dit in die bundel neerslag vind, vertel Joan aan Louis Esterhuizen op Versindaba: “Ek verwys uiteraard na die Bybelse figuur wat vlug uit die stad van Sodom en teen waarskuwings in, terugdraai en in ’n soutpilaar verander. Ook Ado of Edith in die Hebreeus en die verhaal-gegewe staan opgeteken in Genesis 19. Ek gebruik haar as ’n simbool vir die terugkeer na jou jeug, na pynlike ervarings en insidente. Die hele bundel is geïnspireer deur ’n uitnodiging na my skoolreünie en is dus ’n terugkeer na dit wat ’n mens meen jy verlaat het, maar tog paradoksaal jou lewensuitkyk bepaal het. Ek speel dan voortdurend ook met die idee van lot (fata) en my persoonlike verbintenis tussen die Christendom enersyds en die Boeddhistiese aanvaarding van jou lewenslot. In ’n reisverslag wat nou onlangs in BY verskyn het, koppel ek sekere Boeddhistiese beginsels aan my reisbesoek aan vreemde, dog bekende stede.”

Esterhuizen is veral beïndruk met die besondere wyse waarop Joan met klassieke versvorme omgaan – iets wat in Lot se vrou opvallend is. Joan se reaksie hierop is: “Wel ek doseer kreatiewe skryfkuns. Ek meen dat ’n mens geweldig leer wanneer jy klassieke vorme (soos die rondeel, villanelle, distigon, of watookal) kan skryf. Skryf ’n gedig eers in ’n formele vorm en maak dit daarna ’n vrye vers. Dan kan jy sien wat jy nie kon of wou sê nie. Ek skryf tans ’n handleiding (so tussen alles deur) vir jong digters.”

In 2012 wen Joan die ATKV-Poësieprys vir Visums by verstek, ’n keur uit haar reisgedigte. "Die bundel bied ’n waardige blik nie net op haar ­gedigte nie, maar ook op haar skryfvermoë en digterskap. Beslis ’n bundel wat ’n toe­kenning vir 'uit­nemende Afrikaanse poësie' werd is," sê die beoordelaars, Marius Crous, Karen de Wet en Danie Marais.

Marius Crous skryf in Beeld (7 Maart 2011) oor Visums by verstek: “Deur die jare het Joan Hambidge bekendheid verwerf vir haar besoeke aan verre plekke en vir die verse wat sy daaroor skryf. In haar digbundels het sy ons op reise geneem deur Nederland, Skandinawië, Japan, Indië, die VSA, Europa en na Egipte en Zanzibar op die Afrika-vasteland. (...)

“Wat hierdie bundel so genoeglik maak, is dat nie al Hambidge se reisverse ingesluit is nie, maar dat die leser getrakteer word op ’n ‘persoonlike keuse’. Ek sou selfs nog van die ingeslote verse uitgehaal het, want veral die verse oor Zanzibar laat my dink aan foto’s wat uit fokus geneem is en liefs nie in die album opgeneem moes word nie.

“Kenmerkend van Hambidge se oeuvre is die skryfproses en die besinning oor die skryf van gedigte en die neerpen van indrukke oor besoekte lande sentraal. Saam met die besienswaardighede, die nalees van die stad se geskiedenis en die etimologie van stede se name word die stad dikwels bestempel as ’n metafoor vir die metapoëtiese besinning van die digtende reisiger.”

Joan se volgende bundel was Meditasies, wat in 2013 verskyn het. Dit is geskryf nadat sy en ’n vriend besluit het om ’n “reis-om-die-aarde” in 2011 aan te pak. “Dit was tydens ’n sabbatsverlof en ek wou weer stede besoek waar my eerste gedigte ontstaan het, te wete die VSA. My gedigte is gevestig in ’n sterk Amerikaanse tradisie, ­spesifiek Ooskus-Amerika, en my eerste bundel, Hartskrif (1985), het in ’n koue winter in New Haven ontstaan. Ek het die VSA op verskillende tye besoek en die Brooklyn-brug kan gelees word as ’n simbool hiervan. ’n Ingaan in New York, ’n hartstad, ’n stad waaroor ek dan ook dig vanaf my eerste bundel tot nou. Ek was in die VSA net voor 9/11 en het vir jare weggebly, omdat ek nie die stad weer kon aanskou nie. Twee jaar terug ervaar ek dan die letsels van 9/11,” vertel Joan aan Willem de Vries in Die Burger van 10 Januarie 2014.

Die foto op die buiteblad van Meditasies het Joan self geneem van onder die Brooklyn-brug tydens bogenoemde reis.

In dieselfde onderhoud wou Willem de Vries by Joan weet of die feit dat reisigers en toeriste verskil, verband hou met die gedigte in Meditasies.

Joan: “Digters is altyd reisigers: Jy besoek die stad op ’n werklike, reële vlak; hierna in die ­ver­beelding, in die herinnering, in die gedig. Toeriste neem net foto’s.”

Willem: “Die gedigte in Meditasies staan in die teken van brûe; ook dat jy geen rivier op dieselfde plek twee keer kan oorsteek nie. Was die skryf van enige van die gedigte wel ’n poging om dit te doen?”

Joan: “Absoluut. Jy is in die kol. Ek het probeer om die jong digter wat ek was, weer te begryp. Die verwondering van die eerste keer New York meemaak; ook die verwondering van ’n mens se eerste digterlike pogings. Hierna word jy slu. Jy dig met woordeboeke en handleidings. Dit staan alles in die gedig oor ‘Los Angeles’ en die leser word versoek om die weerlose, jong digter genadig te wees.”

Oor Meditasies het Henning Snyman op LitNet geskryf: “Soos gewoonlik by Hambidge is daar talle verwysings, maar die gedigte gee genoeg sleutels aan die lesers om die geheime te ontrafel. In sy geheel is Meditasies ’n kragtoer van die digter om soveel teenstellings, sulke ryke en geskakeerde bronne van materiaal in ’n gedugte en vernuftige ewewig te hou. Teenstellings soos realiteit teenoor drome en illusies, mens teenoor woord en digter teenoor wrede werklikheid word soos deur ’n meesterhand tot sintese gebring. Sekerlik is hierdie bundel ’n hoogtepunt in die werk van Hambidge.

“Naas Ewebeeld en Lykdigte is hierdie bundel, in my lesing daarvan, Hambidge se beste werk nog. En vergeet nie van die voortreflike Lot se Vrou nie. Nie alleen is dit ’n voortreflike bundel gedigte nie, maar die digter lewer ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse leksikon deur die gebruik van woorde waaraan sy ’n nuwe betekenisverruiming gee, soos byvoorbeeld die begrip ‘meditasies’. Maar uiteindelik en selfverduidelikend:

Ars Poetica

Stilte, eensaamheid 
dryf haar van geboorte af 
van wieg tot kis: 
soekend na ’n ander 
se aanraak of troos. 
Op verskeie reise, 
vlugtend van om verlaat-te-wees, 
weg van pynlike ervarings, 
terug tot in ’n andersoortige kissie: 
hierdie klein brose ding, 
genaamd ’n gedig, 
nes die amberkamer 
in die Hermitage. 
Te vertelle, 
eenling is jy gebore, 
En só sal jy die gom 
van die bome sny. (85)

In ’n onderhoud in Die Burger (12 Julie 2011 – onderhoudvoerder se naam nie vermeld; vermoedelik Jo Prins) is aan Joan gevra of mense haar kritiek te dikwels en te maklik as persoonlik ervaar. “Ons het ’n probleem in die Afrikaanse letterkunde: Omdat dit ’n klein bedryf is en mense mekaar ken, kan mense dikwels nie die persoonlike van die akademiese skei nie. Hóé mense [my kritiek] ervaar, kan ek my nou regtigwaar nie oor skeel nie.

“My standpunt is baie eenvoudig: As jy iets publiseer – hetsy ’n resensie of ’n digbundel of wat ook al – en jy hou nie van die kritiek of die reaksie daarop nie, dan moet jy in die eerste plek nie skryf of publiseer nie. Ek dink kritiek is baie nodig in ons bedryf. Wat ek nogal ’n bietjie onrusbarend vind in die Afrikaanse letterkunde, is dat mense baie dikwels private stellings maak – jy weet, met ’n mens saamstem – maar nie bereid is om dit in die openbaar te sê nie. Ons het dit baie meer nodig om vir mekaar goed reguit te sê.”

In 2015 verskyn Matriks by Human & Rousseau. In Die Burger van 9 Maart 2015 vertel Joan aan Willem de Vries dat die gedigte in Matriks oor 'n lang tyd hulle bestaan gehad het. "Verse wat uit ander bundels gehaal is, kon hier ’n rusplek vind."

Sy noem ook aan De Vries dat dit ’n "eenheidsbundel" is "waarin ek die verskillende betekenisse van die begrip matriks ontgin, soos die leser kan aflei uit die gedig 'Doubling the point'. Gedigte binne bundelverband kry altyd ander betekenisse wanneer dit ’n familieskap sluit met gedigte róndom hulle. Só wen hulle aan betekenis. Dit bly egter die leser se voorreg om gedigte saam te snoer en Keanu Reeves te speel."

Matriks het ’n baie opvallende omslag en Joan vertel aan De Vries dat dit ’n foto van ’n deur is wat sy afgeneem het in Ljubljana op ’n reis deur Serwië en Kroasië. "Ek neem altyd deure af in vreemde ruimtes en hierdie pragtige deur het mý afgeneem, soos iemand opgemerk het. Ek het eers later gesien wat alles daarop uitgekerf is: die hele lewe is hierin opgesluit, soos die moeder en die kind, die priester, die geliefdes, foltering ... Al die belangrike argetipes dus."

Joan verduidelik ook verder aan Gisela Ullyatt op Versindaba: "Al die temas van my bundel is hier saamgesnoer. Skryf as verset teen, maar skryf ook as oorlewing. Om by iets diepers uit te kom. As kind het ek nie binne die strukture ingepas nie en as volwassene besef ek al hoe meer hoe dankbaar ek moet wees hiervoor. Dit het my geleer om die enkelstaat met volledigheid te omhels. En vandat ek dit regkry, is my verhoudings met ander sinvoller."

In dieselfde onderhoud sê Joan Matriks is ook ’n "liefdesbrief aan my moeder. My moeder wat my intellektueel gestimuleer het en met wie ek – soos met my vader – ’n volgehoue gesprek voer in my digkuns. Die verse in hierdie bundel gaan oor meer as my biologiese moeder. Dit gaan oor moeders (soos Dorothy Parker se verhouding met haar moeder) en die komplekse verhouding wat veral die gay-vrou met haar moeder het, met moedertaal, met identiteit, met jou posisie binne die kanon en hoe manlike digters vir lank die kanon oorheers het."

Sy is ook reeds aan die skryf aan ’n nuwe bundel met die voorlopige titel Indeks waarin TS Eliot ’n rigtingwyser is, vertel sy aan Ullyatt.

Ná die polemiek wat as gevolg van Charl-Pierre Naudé se resensie van Susan Smith se digbundel In die afwesigheid van sin­ ontstaan het, het Joan die volgende te sê gehad (Beeld, 3 Februarie 2013): "Polemieke rondom resensies is nie onbekend aan ons literatuur nie. So elke dan en wan is daar ’n onrustigheid. My gevoel oor resensies is soos volg:

"1. Dis die eerste mening van ’n ingeligte, belese letterkundige.
2. Indien die resensent verkeerd is, sal die tyd dit uitwys. ’n Resensent is geregtig op ’n mening en hoef nie elke keer ’n slopemmer oor die kop te vrees as hy/sy eerlik is nie.
3. Om ’n debuut as 'meesterlik' te tipeer, is oorhaastig. Dit is sleg vir die digter wat nog baie te lere het. Trouens, geen digter hou ooit op om te leer van ander digters of tegnieke nie.
4. ’n Kritiese resensie, een wat sowel die goeie as swak punte uitwys, is iets waarby ’n digter kan baat vind. As die Pegasus-perd jou afgegooi het, klim weer dadelik op.
5. Ons beleef tans ’n kultuur van instant gratification; die sogenaamde Moi.Inc-digter wat dink alles moet positief, in die oortreffende trap én jubelend wees. Selfs Carol Ann Duffy is nou onlangs gekritiseer vir haar liefdesgedigte – en sy kan volgens my werklik dig!
6. Nie alle lesers of kritici kan ewe veel van alle soort digkuns hou of dit begryp nie, maar om in elegiese ge-yl in te gaan oor een negatiewe resensie klink vir my belaglik. Veral as ’n bundel nog nie die toets van die tyd deurstaan het of nie eintlik ander debutante van die afgelope tyd die loef afsteek nie.
7. Kom ons vra eerder vir ’n lys van uitmuntende debute in Afrikaans en vergelyk dié debuut daarmee. Smith se debuut bevat ’n handvol pragtige verse."

In Volksblad (16 Augustus 2014) vertel Joan van een van haar gunstelingboeke: "Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit uit 1937, is my gunsteling. Dit is ’n dagboek- en briefroman, puik gekonstrueer met kammabriewe. Maria en Marie (du Toit), twee kante van die persoonlikheid, ego en alter ego, met die verlange na die digter Johan ... Die verhouding tussen Johan en Du Toit word uiters subtiel vertel met die klimakstoneel wanneer sy een nag na sy ouerhuis gaan ... Dit is ’n kragtoer in onbeantwoorde liefde en hierom het ek haar vereer as romankarakter in my roman Swart koring.”

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Publikasie

Kladboek: ’n hibridiese roman

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869190828 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuurwiel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150613 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Visums by verstek: ’n keur uit die reisgedigte van Joan Hambidge

Publikasiedatum

2011

ISBN

97807981

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Poësie 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lot se vrou

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156875

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meditasies

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798165075 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Matriks

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Joan Hambidge op die internet beskikbaar

’n Keur van artikels deur Joan Hambidge beskikbaar op die internet

Gedigte:

Artikels op LitNet:

’n Keur van artikels in koerante:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top