Joan Hambidge praat met Louis Esterhuizen oor skrywersverhoudings, spontaneïteit en skaak

  • 0

Ons is tydgenote doer uit die tagtigerjare. Ek, jy, Johann de Lange, Theunis Engelbrecht, Lucas Malan, Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, onder andere, het so om en by dieselfde tyd op die toneel verskyn. Hoe onthou jy ons debute?

Die tagtigerjare was nogals ’n opwindende tydperk. Dit was die tyd van Taurus en Stet, van Vrye Weekblad, Graffier, ensovoort, Spado en ’n swetterjoel ander little magazines. Om nie eens van die skrywersberade en die wakkerword van alternatiewe Afrikaanse musiek en die uiteindelike Voëlvry-toer te praat nie! Alles was gevaarlik beklemmend vanweë die politieke klimaat van die tyd, en tog terselfdertyd ongelooflik dinamies en uitdagend. Asof enigiets moontlik was. En ons alles wóú. Die vernaamste dinamo’s in hierdie tye was sekerlik Johan van Wyk in Johannesburg, Johann Lodewyk Marais in Pretoria en Etienne van Heerden met sy Kaapse Groep in die suide. Vele inisiatiewe is deur dié drie van stapel gestuur waarby ons almal sonder twyfel gebaat het.

Teen dié agtergrond het die debute van die digters na wie jy verwys, verskyn, en wat onmiddellik opgeval het, is hoe verskillend dit onderling van mekaar was en terselfdertyd ook van die sewentigerjare se werk. Van ’n homogene groep of beweging was daar geen sprake meer nie, ten spyte daarvan dat daar waarskynlik meer onderlinge kontak en skakeling was as wat die geval vantevore met enige ander sogenaamde “groep” was.

Afgesien van die ontploffing van nuwe temas was daar die voorkeur aan ’n meer afgeronde, amper klassieke vers: jy en Johann de Lange wat gay-literatuur vestig; Theunis Engelbrecht met sy emosioneel-verwilderende verslag van tiener-angst; en Lucas Malan en Johann Lodewyk Marais met hul sobere, hoogs verfynde verse wat op daardie stadium breëbors kon staan tussen die beste wat hier ter lande óf in Nederland verskyn het. En natuurlik Daniel Hugo, met sy unieke voorkeur vir die korter vers, wat die flikkerende kers van humor en parodie (soos jy óók) in ons geledere lewend wou hou. Hemel, ek besef meteens hoe érnstig ons was! Selfs dít kan seker maar toegeskryf word aan die beklemming van die tagtigerjare ... Beslis was dit nié ’n speelse tyd nie; spuls ja, maar speels? Nooit.

Hoe beïnvloed jou werk as boekhandelaar jou digterskap? ’n Mens kry die indruk dat jy by Protea geweldig baie doen om ander skrywers se werk te bemark: onder andere is daar dikwels onderhoude, praatjies op ’n Saterdagoggend. Maak dit nie inbreuk op jou skryftyd nie of gee dit jou juis vlerke, hierdie kontak met ander skrywers en digters?

Kontak met anders skrywers, asook die boekbedryf, was nog altyd vir my belangrik, Joan. Selfs tydens my vorige lewe as onderwyser in Pretoria het ek en Henning Pieterse maandelikse voorlesings in nagklubs en ander opwindende plekke gereël. Die Bekgevegte was uiteraard ’n verdere uitvloeisel hiervan. In hierdie tyd het ek selfs op deeltydse basis by ’n boekwinkel in Sunnyside gewerk. Al dié aktiwiteite, tesame met my beroep, het egter tot gevolg gehad dat ek by tye geweldig versplinterd gevoel het; die boekwinkel op Stellenbosch stel my in staat om al dié uiteenlopende aktiwiteite byeen te bring in ’n enkele fokus. Die feit is dat ek my tans in ’n besonder gelukkige posisie bevind, ook ten opsigte van my eie skryfwerk. Normaalweg skryf ek soggens voor ek winkel toe gaan; so die besigheid benadeel nié my skryftyd nie.

Jy is getroud met Marlise Joubert, ’n mededigter. Hoe sien jy so ’n skrywersverhouding?

Die antwoord op hierdie vraag kan nié los staan van my antwoord by jou vorige vraag nie; dit gaan oor gemeenskaplike belangstellings, fokus en passie. Onthou, ek en Marlise het die boekwinkel saam begin hier op Stellenbosch (in samewerking met Nicol Stassen, uiteraard) en alles wat tot stand gekom het, is as gevolg hiervan. Ek dink byvoorbeeld nie dat ek oor genoeg selfvertroue sou beskik het om my rug op 25 jaar in die onderwys te draai ten einde die besigheidswêreld te betree as dit nie vir Marlise was nie. Daarom – ek vind my lewe saam met Marlise ongelooflik stimulerend én vervullend, aangesien sy vir my die ruimte skep om myself te kan wees en my idealisme uit te leef. Enersyds omdat sy dit verstaan en andersyds, omdat dit terselfdertyd ook vir háár belangrik is. Maar natuurlik, dit is nie ál waaroor ’n verhouding handel nie; daar is ook soveel ánder aspekte wat belangriker is as byvoorbeeld ’n gedeelde belangstelling in die letterkunde wat ’n verhouding laat werk, al dan nie. Ek dink hoegenaamd nie dat ons verhouding noemenswaardig anders is as enige ander verhouding nie. In soverre die feit dat ons albei skrywers is, kan ek net noem dat ek en Marlise eintlik uiteenlopende werkswyses en -prosedures het; maar omdat ons begrip het vir dit waarmee die ander een besig is, lê dié verskille naatloos langs mekaar. Glo my, dit is gewoon lekker om ’n huis met jou eerste leser te kan deel.

In ’n literatuurgeskiedenis word jy die verwyt gemaak dat baie van jou verse deur abstraksies bedreig word (JC Kannemeyer in Die Afrikaanse literatuur 1652–2004, p 698). Gaan jy hiermee akkoord, of dink jy dat daar wel digters is wat abstrak dig en dit geslaagd doen, soos onder andere Wallace Stevens?

Alhoewel dié opmerking eintlik niksseggend is, stem ek in beginsel tog daarmee saam. Hoe dan anders?! Digwerk is gewoon ’n ambag soos enige ander en in ’n poging om relevant te bly én tred te hou met nuwe ontwikkelings binne jou ambagsveld probeer jy voortdurend nuwe tegnieke en invalshoeke. Uiteraard vat jy kanse; somtyds werk dit en soms minder. Om die waarheid te sê, met enige gedig is daar sommer baie ánder dinge wat dit kan “bedreig”. Anders sou ons digkuns darem alte veel soos verlede week se komkommerslaai in die yskas gewees het. Knus en veilig. Indien hierdie opmerking van dr Kannemeyer egter op ’n persoonlike voorkeur ten opsigte van ’n bepaalde tipe digkuns gebaseer is, het ek ’n probleem daarmee, want ’n gedig is ’n taalkonstruksie en taal is immers die abstrahering van indrukke, hetsy konkreet óf abstrak. Taal is nié net kognitief nie; dit is ook emotief en hierdie aspek durf nié geïgnoreer te word nie. Die vraag behoort dus nie te wees: Is hier te veel abstraksies in dié vers nie? maar eerder: Word die abstraksies in hierdie vers met sukses hanteer, al dan nie? Terloops, in die wêreldpoësie is daar die afgelope drie dekades al ’n kragtige wegbeweeg van die ouderwetse “gestaltevers” na ’n tipe vers wat meer betogend en soepel van aard is; iets wat uiteraard abstraksies in die hand werk. En ja, dit kan nie ontken word nie: soms sleep dié wind ’n mens na aan die rotse verby.

Jy het ’n bundel geskryf met die titel Patzers (1997), ’n woord wat beteken "swak skaakspeler of knoeier". Speel jy skaak?

Ja, maar ek is wérklik ’n patzer. Daar bestaan ’n enorme verskil tussen kennis van die spel en om dit op die bord te kan toepas. Ek was byvoorbeeld vir etlike jare ’n skaakafrigter, maar wanneer ek speel, speel ek vir die plesier. Terloops, tans speel (en verloor) ek uitsluitlik teen Marlise, wat ’n besonder goeie speler is.

Amichai tref ons dikwels in jou verse aan, of herdigtings van sy verse. Waarom juis sý verse?

Amichai is een van daardie digters wie se verse jou dwing om weer en weer daarnatoe terug te keer. Ek is gek na die temas wat hy hanteer, maar nog meer oor die manier waarop hy dit doen: gestroop, en tog ook met enorme sensualiteit en oorspronklikheid. En die humor! Min digters kan hom dit nadoen. Ja, beslis, is hy ná bykans twintig jaar steeds my gunstelingdigter.

Dink jy dat wanneer ’n digter palinodeer of in gesprekke tree met ander digters dat dit as "afgeleide" kuns beskou moet word? Of dink jy dat hierdie woord-en-wederwoord-aanslag juis deel is van die postmodernisme?

Sekerlik is dit deel van die postmodernisme, maar as sodanig is dit ook glad nie iets nuuts nie. Vir my is dit ’n heel natuurlike proses, aangesien ’n mens se idees vir ’n gedig op verskillende maniere by jou uitkom; een daarvan is sekerlik terwyl jy besig is om iets te lees, byvoorbeeld. Voorts bevind ons ons tans in dié gelukkige posisie dat ons waarskynlik die eerste geslag digters is wat met “klassieke” Afrikaanse tekste kan begin werk deur hulle te herkontekstualiseer. Hierdie “gesprekke” tussen tekste is noodsaaklik vir die revitalisasie van bepaalde ouer tekste. Net soos die beswaar teen sogenaamde “abstraksies”, moet kritiek teen hierdie prosedure nie prinsipieel wees nie, maar eerder hoe suksesvol dit hanteer word, al dan nie. Dit is en bly ’n belangrike, dog riskante, onderdeel in die arsenaal van die digkuns.

In 1986 was daar Stilstuipe, toe Op die oog af (1988), Die Onderwaterweg (1996), Patzers (1997), Opslagsomer, Liefland (2004) en nou onlangs Sloper. Dit is dus binne die ontvangsgebied van die Afrikaanse letterkunde ’n besonder produktiewe digterskap. Skryf jy met die oog op ’n kritiese ontvangs en die verwagtings (bewus/onbewus) wat gekoester word, of dig jy spontaan, kom wat wil?

Normaalweg bou ek ’n bundel rondom ’n sentrale idee en hierdie konsep dikteer grotendeels die aard, tematies sowel as stilisties, van die verse. Ek skryf dus nie heeltemal “spontaan” nie, maar beslis sonder gedagtes oor “kritiese ontvangs” of verwagtings in my kop. Dít sou ek as uiters verlammend ervaar het. Die vreugde van die skryfproses lê uit en uit vir my in die maak van die verse: om met elke bundel iets anders te probeer ten opsigte van tema en aanbod. Die publikasie (en ontvangs) daarvan is gewoon die voltooiing van dié proses.

In jou jongste bundel gaan jy ver terug, na vele vlakke van onthou. Jy dig oor ’n mynwerker. Kan ’n mens ooit as digter jou jeugervarings of -herinneringe ontglip? Waarom dig jy oor jouself in die derde persoon, soos hier onder?

Soms word sy kinderjare onthou as ’n wind

wat kragtig die boom in die voortuin

heen en weer skarnier tot ’n tak swig en hy

holderstebolder na die leë gloed

van ’n winterhuis vlug.

(p 44)

Dit is eers die afgelope paar jaar dat ek gemaklik daarmee begin voel het om bepaalde aspekte uit my jeug via die digkuns te konfronteer. Die maak van ’n gedig is immers nie net ’n manier van kyk of dink nie, maar ook terapeuties van aard, is dit nie? Nietemin, aangesien die verse erg persoonlik van aard was, het ek verskillende tegnieke gebruik ten einde ’n mate van afstand te verkry, soos byvoorbeeld die gebruik van ’n alter ego, Egbert, asook die gespreksopset en wisselende perspektief. Sedert ek in my laaste bundels ’n voorkeur begin gee het aan die parlandostyl (praatstyl), het perspektief vir my belangrik begin word, aangesien ’n gedig ook ’n manier van praat is en dit intimiteit dus kan verhoog óf verminder. Die toon van ’n vers is gewoon anders wanneer jy van die eerste na die derde persoon verander, en soos ek vroeër genoem het: die toon van die vers is van kardinale belang.

In “Sakrament” (p 24) bely jy:

Gebreekte woord en wyn,

die sakramente van verwisseling

en hoop. Dít is ’n gedig.

Is dit hoe jy die digkuns sien?

In ’n mate ja, maar nie uitsluitlik nie. Die digkuns het ook vele ánder funksies. Binne die konteks van hierdie bundel, waar tyd as “sloper” opereer, is dié siening (hopelik) sinvol, juis vanweë die Bybelse toonaard en verwysings. Ek wou met dié vers die reismotief in die bundel aktiveer; met die invalshoek dat bepaalde ervarings in ons verlede latent teenwoordig bly ten einde ook toekomstige ervarings te kleur óf te sloop. Daarmee berei dit ook die middelste afdeling voor wat by uitstek ’n terugkyk is wat ’n mens laat “versteen”. Iets wat veral weerklank vind in Deel XV (p 60) en XVI (p 61) van “Langnagvure”. In ’n ander bundel met ander kontekstualisering sal die digkuns waarskynlik weer anders “gesien” word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top