VersKliniek: Joan Hambidge

  • 0

1. Wat maak ’n gedig goed?

Elke gedig skep sy eie verwagtings, maar nuutsegging, ’n onverwagse blik op sake en dubbelsegging maak van ’n gedig iets besonders. Daar is nie ’n “one size fits all” nie, maar die goeie gedig maak die klip klipperiger, soos die Russiese Formalis Victor Sklovský beweer het. Robert Pinsky skryf anders as Elisabeth Bishop; Opperman doen iets anders as Van Wyk Louw. Maar al hierdie digters vang iets primordiaals vas. Iets wat jou lewe verander en jou help om ánders na alles om jou te kyk. Dit is dikwels beter om nie digters te ontmoet nie – lees eerder hul verbluffende gedigte. Groot digters het dikwels groot ego’s en die inbuig van die digter se aanwesigheid kan ’n gedig verklein.

2.  Watter vyf boeke dink jy behoort alle digters te lees?

Ottone M Riccio se The intimate art of writing poetry, NP van Wyk Louw se Tristia, die hele Groot Verseboek 2000, die Tibetaanse Boek van Lewe en Dood en beslis Die Bybel of Koran. Beslis Halleluja-liedere en die FAK-liedereboek. Jy moet die woorde ken van “Boetie sy’s ’n perskeblom”...

3. Jong digters maak al hoe meer gebruik van die vryeversvorm. Is rym oudmodies? Dink jy dit is nodig om rym, ritme, metrum en ander tegniese vaardighede te bemeester en te beoefen om ’n goeie digter te wees?

Ek dink dit is goed dat digters met rym en ander vorme eksperimenteer. Ek dwing my studente om sonnette te skryf of ’n pantoen te skep. So leer ’n mens die vormvaardighede aan wat jy eers onder die knie moet kry alvorens jy die vryeversvorm kan bemeester. Hierdie vorm het in elk geval uiterse eise – soos Robert Frost opgemerk het, dit is soos tennis speel sonder ’n net. ’n Haikoe stel ander eise as ’n tanka of rondeel. Brooks, Purser & Warren se An approach to literature is in hierdie verband my Bybel, juis omdat hulle jou leer om na elke gedig te kyk en sy unieke samestelling raak te sien.

4.  Word mens gebore as digter, of is die digkuns iets wat ’n mens kan aanleer?

’n Mens word waarskynlik gebore om ’n digter te wees, maar ek het al opgemerk dat die werklike digter die een is wat bereid is om te leer. Daar is waarskynlik digters met geweldige talent, maar sonder emosionele deursettingsvermoë. Soos Mark Strand aan die jonge Erica Jong geskryf het: “You have not been fucked by poetry yet.” En sy het teruggekeer en verander aan haar verse ná sy opmerking. As die digkuns nie ’n obsessie is nie, kan jy dit vergeet. Digters word waarskynlik gebore, maar hulle word ook “gemaak”, veral met harde werk, deursettingsvermoë en deur selfontdekking. Daar is bitter min romantiek aan die skryfproses – vir party mense is die “digterspersona” van groter belang as die digter. Anne Sexton en Sylvia Plath se gedigte word oorskadu deur hul tragiese eindes: hulle gedigte is “wonde”, testamente, vooruitskouings. Ek keer altyd terug na die manuskripte – stapels daarvan – in my studeerkamer.

5. Is dig vir jou ’n emosionele of ’n logiese ding? Het jy met ander woorde eers inspirasie nodig om te kan dig? Wat dryf jóú om te dig?

Vir my is dit veral ’n emosionele obsessie. Ek skryf om myself en die wêreld beter te verstaan. Dit is vir my persoonlik ’n wonderlike ervaring om elke Vrydagmiddag met vier talentvolle digters te werk en hulle emosionele en tegniese vordering waar te neem. En om elke digter te leer om by sy/haar besondere “Fach” uit te kom. Die een skryf oor die binnespraak; die ander een kyk met ’n ysere blikhoek; die ander een ontdek die haikoe; en vir die ander is die goddelike ruimte in alles aanwesig. Ek lei, stuur, laaf, druk. Daar ontstaan in sodanige klasse ’n sekere energie wat tot gevolg het dat studente mekaar emosioneel beïnvloed. En ook tematies. ’n Soort groepsdinamiek bring sekere verse na vore.

Sangers weet te vertel dat as jy nie reg staan nie, kry jy nie die regte note uit nie. Dieselfde geld die digkuns: jy moet vas op die konkrete aarde staan en die abstraksies in voelbare, tasbare beelde vertaal. Dit het DJ Opperman ons in sy letterkundige laboratorium geleer.

Lees Joan Hambidge se gedig "Die Anatomie-les van dr Tulp"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top