Die Anatomie-les van dr Tulp (1632)

  • 0

Ou ydeltuit Tulp
tesourier, burgemeester
versoek ’n groepsportret.
’n Bloedjonge Rembrandt van Rijn
skamel ses-en-twintig
boorling uit Leiden
student van Lastman
- navolger van Caravaggio
se chiaroscuro -
opgemerk deur Huygens
oorgedra aan Uylenburgh
en aanbeveel ...

En só
van mond na
oor tot oog
en hand
aanvaar die jongeling
’n groepsportret:
’n teken van sosiale sukses.

A, die Amsterdammers
wou met praal en prag
graag die lewe in ’n spieël
sien ...

Maar agter die spel met lig
en donker: skadu en son,
sou ons u moes toelig
dat net twee van die toeskouers
geneeshere was; die res staan skouer
aan skouer met dr Tulp se openbaarmakende
anatomie-les

met ’n doktersgilde wat slegs één
disseksie per jaar sou toestaan
(in die winter, bewaring ontwille)
van ’n opgehangde, verskopte skurk,
ene Aris Kindt,
rower

se lyf gedief
vir hierdie simmetriese
skildery perfek
(wie kyk na wie?
wie kyk na wat?)
lewe/dood,
lig/donker,
sukses/mislukking.

Die eintlike punt
- meen ek –
is dat ons kyk
na ’n ánder anatomie-les
van dr Sebastian Egbertsz
deur Thomas de Keyser
waar ’n geraamte
stilswyend hang.

So wie is die grootste dief?

Die gewapende rower
of die skilder?
Of dalk die digter?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top