Digkuns, ’n meditasie

  • 0

Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
en sy worsteling met die groot stiltes.
Hoe verwoord ’n mens dit, die grootste Abstraksie?
Vir bykans twintig jaar, word vertel, geen woord
op papier na die dood van sy mentor, Mallarmé.
Stilte en dood, sou my mentor waarsku,
is die vyand van hierdie gedig; dus, wis uit.
Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
se worsteling met sy sonderlinge stilstuipe.
Die groot beoefenaar van die Simbolisme
se kondisie word ’n skelm, sikkeneurige stillewe.
Stilaan begin die vers uit stilte stoel,
’n stolrots ontspruit immer uit ’n stimulans.
In Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-
woordeboek (met antonieme) sketter ’n motto:
“All that lives must die
passing through nature to eternity.”
Pampoengeel-boek van JL van Schaik,
helaas nou onbekombaar, gepubliseer in 1981.
Voor daardie groot Stilte my doodsmoor,
gee ek my oor aan konkrete beelde
- vermy abkrete en luister na konstraksies -
hier laatnag in Chicago, my kind of town,
in fyn afwering én balans met die groot Abstraksie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top