Vir hulle skryf ek dan my gedigte

  • 0

Vir JdL en die hele santekraam

  the love and legal verbiage of another will,  
  boxes of pictures of people I do not know.
  I touch their cardboard faces. They must go.
Anne Sexton

 

Hitchcock het glo warm sjokolade
in plaas van bloed in Psycho gebruik
en Virginia Woolf het elke dag Proust gelees.

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

Eybers kon haar daagliks oorgee aan woorde
en met ironiese afstand tussen twee lande
(en twee tale) uitroep: “Dis kruis of munt.”

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

Jonger digters dans ’n pirouette, lig die lem
vir ’n nadoodse ondersoek, ontwikkel foto’s
met byskrifte en onderskrifte in ’n donkerkamer.

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

Die lewe tussen pikkewyne en adders,
in die tyd van uile of toevallige tekens
hoor die gegrom van slapende honde.

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

Digters, soos modes, kom en gaan, kom en gaan.
Die een loop doekvoet, doekvoet met die dood,
die ander een smag na vlerke vir ’n houteend.

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

’n Ander een sing ’n bitterbessie in haar keel,
’n ander dans in die Tsitsikamma op ’n wilde maat,
toe dit nog vroeg was, vroeg was met ’n tempermes.

Maar dis break, blow, burn in dié bedryf.

Die gedig is ’n reis na vreemde beserings,
na ongekaarte streke, word ’n diorama
vir die speurende leser se oogensiklopedie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top