'n Gesprek tussen Hambidge en De Villiers rondom die verskyning van Vervreemdeling

  • 0

Vervreemdeling
IL de Villiers
ISBN: 9780624046394
Formaat: Sagteband, 110 pp
Publikasiedatum: 7 April 2008

 

Joan vra vir IL …

Hoe oud was jy toe jy vir die eerste keer begin gedigte skryf het?

Ses. Vir die Klein Burger. En vier sjielings en ses pennies. Toe af en toe vir die skooljaarblad en veral weer op universiteit. Die gedigte uit daardie tyd is almal asblik toe. Leitourgos het letterlik een nag begin toe ek in die donker wakker geword het en oor die ou "disciplina arcani", die Christene in hul donker byeenkomste, begin dink het. En toe word dit skielik poësie.

Hoe voel jy oor die etikettering van digters as gay/religieus/Zen-Boeddhisties of wat nog?

Dit irriteer my. Wat jy leef is jou ervaring van dinge en sal natuurlik neerslag kry in wat jy skryf. Of in die temas wat jy pak. As jy 'n aanhanger is van een of ander geloof, sal dit natuurlik in jou werk uitkom. Jou twyfel ook. Nes jou sinisme. Wie van ons is volkome gelukkig in ons eie vel? Dis die gehalte van die vers wat saak maak. Klaar. En van gay gepraat: die hele debat verveel my al baie lank. Mense is mense en hul voorkeure of afkeure raak my nie. Ek aanvaar 'n vriend(in) as 'n vriend(in). Maar 'n "vegetariese digter" of 'n "skrynwerker-digter" of 'n "animistiese digter" of 'n "owerspelige digter"? Hoe gek. Die vraag is: Het die persoon iets te sê en wat het hy/sy te sê? En hoe sê hy/sy dit?

Jou verse, veral jou jongste bundel, tref om die geweldige tegniese beheer. Jy wend veral die distigon en tersine aan. Bestudeer jy hierdie vorme of ontspring dit spontaan?

Ek weet nie. Die vorm kom eintlik spontaan en dan volg harde werk om die skurwe plekke glad te kry. Ek kan byvoorbeeld nie metafore inryg soos stringe pêrels soos Breyten op sy beste doen nie. Dis of elke bundel sy eie vorm(e) bepaal. In Jerusalem tot Johannesburg het die sonnet oorheers. Nou is dit weer die distigon en tersine. Dalk steek daar iets in dat 'n gedig sy eie wil het.

Wie is jou gunsteling-digters in enige taal?

TS Eliot, Heine, Schiller, Plath (maar ek het haar effe "ontgroei"), Sexton, Van Wyk Louw. In die VSA is daar 'n hele paar jong digters aan die kom. Die poësie is daar aan die blom met tydskrifte, skryfskole, leeskringe, ens. Ek glo sekere nasies is meer poëties as ander: die Persiërs of Irannese, byvoorbeeld – trouens die hele Midde-Ooste – maar ek lees te min van hul vertalings. Ek is spyt dat my gebrekkige Frans nooit die Franse poësie vir my oopgesluit het nie. Ronsard byvoorbeeld, kan ek net in vertalings lees, Baudelaire en kie.

Hoe skryf jy 'n gedig?

Eers 'n gekrap van 'n paar woorde hier en daar, dan in 'n oefenboek en dan gaan ek direk na die rekenaar. Die rekenaar is vir my 'n geweldige hulp omdat jy die vorm gou kan skaaf. Soms skryf ek 'n gedig binne 'n dag. Aan 'n gedig in Vervreemdeling, "Chicago", het ek 'n goeie vyf jaar gewerk. Dalk het die gedig vir sy eie lêplek gesoek? Dis nou die slotgedig van Vervreemdeling.

Droom van Chicago

Jy was 'n somer van 'n plek waar vreugde soos ryp takke perskes hang
oor elke straat; die Watertoring waak en Sears & Roebuck dag en nag bly wink.
Jy was my hele buurt. Eendag het ek seepblasies met kinders probeer vang:

Wij blazen bellen aan de afgrond … Sondae was daar die Chicago Symphony,
die kunsvendusies - Renoir, Dali - vaarte op die meer, net om jou kimlyn te beleef: dit het in son en kleure uitgevlam, Monet se Rue Saint-Denis - die fees van 30 Junie.

Hoe wáár was jy: 'n stad waar moorde ook mooi name kry: Saint Valentine -
jy van die Bunny Girls, die olie-en-effektebeurs, die Sun Times en die brug wat lig,
romantiese rampokkers, ou Mayor Daley se klein huisie met die breë Stars & Stripes?

Nou is jy na die jare net 'n manjifieke bouval van 'n droom, my stad.
Ek weet ook dít sal alles wegkwyn in die wanhoop van die noordewind.
Ek hoor in nanagte die meer se kabbels fluister waar ek oor die kuspad stap;

die eggo’s klink al hoe gedempter in die woude van my winterhart.
Die treintjies ratel nog, maar dof, hoog oor die strate winkels, aan 'n ysterspoor.
Graffiti op 'n muur – Alice, please phone Daddy! – snik 'n pa se smart.

Die aandverkeer kruip aan in rooi remligte, stringe soos 'n Kersfeesboom.
Alarmklokke lui langs die rivierkanaal, 'n boot seil op, die brug gaan oop.
Straatligte bewe dounat; ek slenter saam met ander anorakke langs die stroom.

(Daar was soms optogte: aborsie, doodstraf, pikante moelahs teen die sjah -
die sweet het in hul baarde afgetap, elk met sy tjips en Coke en hamburger,
en met een vuis gebal. Hoe ver, onwerklik, was Iran, Irak, Suid-Afrika.)

Het ek jou in my hart gebou? My vliegtuig het geluier op O’Hare se aanloopbaan.
Het ek jou toegedraai in blinkpapier? Waar is die glans, die perskes aan die tak?
Eenkant in 'n verligte saal het ek-in-jonkheid vir myself gewuif én daar bly staan.


Dink jy Auden was reg toe hy gelamenteer het dat die digkuns niks regkry of herstel nie?

Wel, ek dink darem deesdae baie aan sy woorde, "Intellectual disgrace/ Stares from every human face ..." Ek dink hy was maar in 'n swart bui. Daar is natuurlik heelwat digters wat net mooi niks te sê het nie. Ek vra my af of die bundel net sal sterf sonder 'n rimpeling, selfs met 'n prys of twee? 'n Tydjie gelede het ek gelees dat 'n taal doodgaan as dit geen poësie oplewer nie. Ek onderskryf dit. Daarom is ek bly dat dit lyk asof die poësie herleef. Ongelukkig bly dit ook 'n gawe van weiniges vir weiniges. Die poësie is van die groot spykers waaraan die muurbehangsel van 'n kultuur hang. Ek het geen "oplossings" vir my wêreld nie. Maar ek kan darem my belewenis daarvan in verse "uitdraai" en met ander deel.

Wat lees jy behalwe poësie?

Speurverhale, rillers, biografieë, 'n bietjie teologie. Alles oor die geskiedenis wat interessant lyk. Ons einde lê immers in ons begin. Soms kry die gier my beet om net poësie te lees. Maar nooit wanneer ek self skryf nie.

Hoe het jou wonderbaarlike bundel, Vervreemdeling, ontstaan? Met ander woorde, wat was die prikkels, die stoornisse wat agter die boek opgesluit lê?

Toe ek staan en kyk het na die foto van Big Chief Sitting Bull baie jare gelede. Ek het notas daarvan gemaak en nou, na jare, weer oor hom nagelees. Dis of ek met hom 'n soort "kinship" aanvoel, asof ek leef in 'n kulturele Umwelt wat besig is om te sterf. My naderende dood bring natuurlik ook afstand: ek is daarvan bewus dat ek oor 70 is en dat die Skeidsregter op sy horlosie begin kyk en sê: Nog net beseringstyd. Maar dis of ek nou vir die eerste maal my lewe in 'n soort "balans" kry, asof ek iets deur die spieël in 'n raaisel begin sien. Van my kindsdae af het ek my altyd effe eenkant gevoel. Dit word net erger namate jy ouer word en jy beskou die lewe uit 'n hoek wat jy nie altyd besef het bestaan nie. Daarom giggel ek soos 'n tiener wanneer 'n jong "denker" van "die ou ballies met hul idees van gister" praat. Hulle sal nog leer. Ek is nou eers baie, baie jammer dat ek nie meer van die antieke wêreld bestudeer het nie. My teleurstelling in mense, veral politici en kie, verwerk ek met 'n soort humor. En ek hoop ek waarsku genoeg: ek voel ons is in die kulturele wilsand met Engels wat oorneem.

Skryf jy soms 'n gedig vir of oor 'n persoon wat jy nie publiseer nie?

O ja. 'n Hele paar. Dis ten minste 'n soort ontlading. Ek wou een van hulle in dié bundel opneem, maar is deur 'n keurder afgeraai, "omdat dit klink of jy 'n byltjie te slyp het". Korrek, ek het 'n jarelange minagting vir die man - én vir sy kornuite - en ek wens hy wil hom onttrek aan openbare debat. Daar is ander sulke gedigte ook. Maar 'n digter moet versigtig met awersie werk en keer dat die awersie nie oorneem nie. Dit lei tot swak poësie. (Terloops, daardie genoemde gedig het ek tog by 'n byeenkoms van Sarie-lesers voorgelees en ek was verbaas oor hoeveel mense my gevra het vir 'n afskrif!)

Maar nou wil ek jóú 'n paar vrae vra …

IL vra vir Joan …

Wat maak jy met verse wat nié werk nie? Hou jy hulle tot later, of gaan dit asblik toe?

Vuurwiel het ongeveer 80 verse beslaan. Ek het meer as twintig uitgegooi. Ek hou verse in die katakombe van die onbewuste. 'n Vers meld sig aan wanneer die tyd ryp is.

Ons het albei goeie verhoudings met ons ouers gehad: jy veral met jou pa en ek met my ma. Is dit vir jou 'n soort fondamentsteen in jou skryfwerk? Ek dink byvoorbeeld my ma sou geskok gewees het oor 'n hele paar verse in Vervreemdeling!

My verhouding met my ouers was kompleks, maar ek het deur die jare 'n werkbare verhouding uitgewerk met twee mense wat ek respekteer en begryp teen die agtergrond van hul opvoeding en leefwyse. Ek dink ''Dad" beskryf dit. Daar is vir my niks erger as volwasse mense wat nie tot rus kan kom oor vermeende ongeregtighede nie. Ek is 'n Boeddhis in hierdie opsig en jou ouers is 'n karmatiese verbintenis wat jy gekies het. Oor my ma dig ek soos volg:

Ma

Jy kry altyd so koud:
somers in en winters uit.
Verlangend, vér van jou Wellingtonse
suiker by die trippens die pond.
Altyd sente vir dadels omgedraai,
gespaar vir later, 'n bekommerde eendag.
Nou verwarm ek jou in hierdie gedig,
in die amper-herfs van my lewe
met 'n durende verlossing
uit dáárdie verdroomde Wellington.

Hoe kry jy dit reg om 'n gedig so maklik te laat klink en bind, terwyl ek weet daar sit 'n hengse klomp werk in?

Hoe makliker en vlotter die gedig klink, hoe harder het jy gewerk daaraan. Ek herskryf/skaaf. Vuurwiel het haar beslag al in 2004 gekry. Ek het die bundel meer as vyf keer oorgeskryf.

Daar is 'n ou gesegde: "Teaching kills poetry." Jy doseer dit, onder andere. Is jy bewus van gevare, of is dit gewoon onsin?

Absolute snert. Hoe meer jy lees, hoe beter dig jy. My kreatiewe werkswinkels het my enorm veel geleer van vorme soos die distigon, rondeel, kwatryn se eise. Hier doseer ek die gedigte van groot digters en 'n mens probeer agterkom wat die fabrieksgeheime alles behels het. Deur iemand anders te leer, beteken dat jy jouself leer. Dis soos om iemand anders te masseer; dit is helend vir jouself, terselfdertyd.

Jy het dit met jou poësie gewaag met uitstekende verse waar min mense dit sou waag. Kritiek was volop. Hoe beleef jy kritiek? Ek vra, want vir my kry 'n bundel sy eie lewe en dan kan mense maar sê wat hulle wil.

Vir my is kritiek 'n lewensaar. AP Grové het daarop gewys dat ek dikwels 'n kritiese beswaar ondervang in 'n volgende bundel en dat my bundels 'n teoretiese probleem uitwerk. Met die digkuns is dit soos met klere, kos, motors: 'n kwessie van smaak. As iemand nie van jou werk hou nie, is dit gewoon hoe dit is. As iemand dink dit is te veel, is dit nie 'n werkbare beswaar nie.

Dit lyk my jy floreer in enige polemiek. You give as good as (and better than) you get. Kommentaar?

Die kritikus en digter is die verskillende kante van dieselfde munt. Die een teer op die ander. Ek is enersyds intellektueel/openhartig/robuust; andersyds digter/teruggetrokke/verwond. Dalk het die jin/jang-verbintenis te make met my opvoeding waar ek as gay kind nie my ware identiteit kon uitleef nie (onthou ek is 50 jaar gelede gebore), en moontlik is skryf by my 'n soort regstellende aksie teen repressie. Verder hou ek van polemiek. En garde!

Dink jy daar is lyne wat selfs 'n digter nie mag oorsteek nie?

Opperman het gemeen - en ek onthou dit uit sy letterkundige laboratorium - dat die digter nie morele besware die oorhand moet laat kry nie. As ek wel dink dat 'n boek my moeder sou ontstig, versoek ek haar om dit nie te lees nie. Vir die res is dit 'n onmoontlike opgaaf omdat jy nie kan voorspel hoe lesers - en vermeende geskryfdes - sal reageer nie. Hierom my mantra: 'n gedig is nie 'n getuigskrif nie. In Bitterlemoene het drie mense hulself herken. Sela. As jy 'n gedig skryf waarin jy iemand met opset seer maak, sal die gedig in elk geval misluk. Goeie verse is selfde voertuie vir vendettas.

Jy het as digter 'n geweldige aanhang, beslis nie sonder rede nie. Van jou jongste verse is van jou heel bestes. Dit lyk asof jy as digter geweldig groei met die jare. Maar jy het eenmaal geskryf dat 'n sekere digter "te laat" gedebuteer het. Wat bedoel jy daarmee?

As 'n mens te laat debuteer, dan loop jy die gevaar dat jy belangrike kritiese besware of kanttekeninge gaan misloop. 'n Digter se ouderdom word gemeet aan die datum van die debuut, nie aan die chronologiese ouderdom nie.

'n Mens groei deur kritiek.

En daar is mos vir alles 'n "regte" tyd. 'n Klimaat waarin iets moet gebeur. My vroegste liefdesgedigte sal nou as te skroomvallig afgemaak word. In die tagtigerjare was dit skokkende materiaal.

As professor en kritikus: Hoekom verswak sommige digters se werk ná 'n hengse debuut met feitlik elke volgende bundel? En is pryse werklik (soos jy al geskryf het) 'n kus van die dood?

Waarskynlik omdat hulle dan aan 'n soort ''stage fright'' ly: "Gaan ek ooit weer so geapploudisseer word? Gaan ek ooit weer die regte noot slaan?" Ek dink wel Cussons het na haar puik debuut met Plektrum net groter geword in aansien.

'n Mens behoort nie vir pryse te skryf nie. Pryse = aanstellingskomitees. En 'n letterkundige klimaat verander. Onthou, een van ons grootste digters, Peter Blum, is onderskat.

And the joke is on them.

Wederom

Vir IL de Villiers

Die eerste keer leer ek jou ken
in 'n geskifte blou verseboek:
die dominee op huisbesoek.

Toe later sien ek jou, tersluiks,
op 'n loom namiddag in 'n hotel
waar jy sonder eerbied, die hof hou.

Die derde keer, beleef ek jou,
by die erediens van 'n digter –
in 'n ryk geëmbosseerde toga.

Gister sien ek jou, met 'n pers hemp
en swierig bypassende das, waarop
jy, per abuis, 'n druppeltjie mors.

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.
En ek haal my groen verbeelde hoed af,
vir 'n manjifieke digter en vriend,

wat van hierdie gegewe, 'n volmaakte,
rymende tersine of distigon sou maak!

Joan Hambidge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top