Koos Prinsloo - 'n naam gekoppel aan omstredenheid

  • 0

Die naam Koos Prinsloo was en is gekoppel aan omstredenheid. Koos Prinsloo was ’n tydgenoot in die onrustige tagtiger- en negentigerjare toe almal aan almal se kele was. Nie alleen was dit die tyd van apartheid, noodtoestande en seksuele ontdekkings nie, maar dit was eweneens ’n tyd van polarisasie. Skrywers is opdrag gegee deur die ANC se "cultural desk" om oor ongeregtighede te skryf. Johann de Lange se Nagsweet is deur ’n beswaarde resensent teruggestuur oor die openhartige besinning van lyflikheid.

Dit was die tyd van Stet, die letterkundige tydskrif waar digters soos Koekie Ziervogel baljaar het en bandeloosheid, seksueel en polities, aan die orde van die dag was.

In hierdie tyd was daar die figuur Koos Prinsloo, wat met sy debuut Jonkmanskas (1982) opslae gemaak het. Oor die gedurfde verhale, die vermenging van feit en fiksie. Die kritiek op die patriargie. Hierteenoor was daar ánder kortverhaalskrywers, soos Alexander Strachan, die voormalige recce, se ’n Wêreld sonder grense en Lettie Viljoen (nou Ingrid Winterbach) se Klaaglied vir Koos. En Etienne van Heerden se My Kubaan.

By Koos Prinsloo was daar woede, vreesloosheid, gedurfdheid, ’n soort "dirty realism", en die verhale het al hoe feller en meer meedoënloos geraak. Met Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) was Prinsloo gevestig as kultusfiguur. Met vele omstrede gebeure:

  • Die Rapport-prys is hom ontneem omdat hy, by monde van ’n karakter, PW Botha as ’n meidenaaier uitgeskel het – hierteen het hy geappelleer en wel uiteindelik die prys ontvang.
  • Johannes Kerkorrel het homself herken en letterlik in ’n verhaal ingeslaan.
  • ’n Literator, Tom Gouws, het vir weke se vermaak gesorg toe hy ’n foto in ’n Prinsloo-teks verkeerd kodeer het.
  • Prinsloo het op ’n onromantiese en vreeslose wyse oor Vigs geskryf en familiegeheime en –opstande uitgelap om sy leser onrustig te maak.

Waarskynlik is die beste wyse waarop ’n mens Prinsloo se nalatenskap kan takseer, in Johann de Lange se Vreemder as fiksie (1996) opgeteken. Hier versoen De Lange die twee groot gay-skrywers, die mentor (Hennie Aucamp) en die mentee (Koos Prinsloo) op ’n verbluffende wyse met mekaar. Ook gee sy verhaal ’n besondere blik op die komplekse verhouding en word ’n gedurfde eksperiment in die grense, en grensloosheid, van die postmoderne verhaal, waar voetnote, werklike en fiktiewe karakters, aanhalings uit briewe, kortverhale, vermeng word om ’n blik te gee op vaderskap (letterkundig en andersins) om ’n eie identiteit uit te werk.

Koos Prinsloo was en bly ’n gedurfde skrywer, ’n knap stilis wat die leuens van sy samelewing met ’n rapier aan flarde kon sny.

Ironies genoeg lees jong lesers hom moeilik, omdat hy as tipiese eksponent van die postmodernisme geanker was in sy tyd en sy angste. Vele van die tersydes en voetnote – om van die skinderstories as interteks nie te praat nie – is vir die meeste lesers vandag gewoon onbekend.
Tog is daar verhale wat buite die kontensieuse óm bly bestaan, soos “Klara se klokkies”, “In die kake van die dood”, en “Die wond”, om enkeles uit te sonder.

Hoe, wonder hierdie leser, sou sy verhale nóú daar uitgesien het?

Of kon so ’n driftige skrywer net vir ’n kortstondige tyd bly leef? Of sou hy sterf aan sy eie ontgrensing?

Hoe ironies dat die Pop Ster ook nie meer met ons is nie.

Al lê die berge nog so blou.

 

<< Terug na die Koos Prinsloo Miniseminaar <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top