- 'n hartseerballade
Gesigslose, verwaarlose Freda Plekker
o waar is jy nou?
Is jy dalk in die diepsee-waters,
saam met skulpfluisteraars
in 'n klein submarien soekend na die Titanic
se oorblyfsels?
Is jou gesig perdalks
weggevreet deur skulpe,
seewier en klein vissies?
Of is jy miskien by Peggy's Cove
besig om 'n grys poskaart te versend?
Of in Halifax
in die skeepskaptein se log-boek opgeskryf:
"hou één kamer oop in jou hart".
O Freda Plekker,
jy het nie saam met die Titanic gesink;
ek lees jou SOS'e,
dra die "vermoeide bagasie" van jou woorde.
L'envoi
Party digters sterf salig-salig soos 'n Piet Snot;
ander sommer-sommer net aan 'n suurstoftekort.

