Resensie: Matriks deur Joan Hambidge

  • 0

Matriks
Joan Hambidge
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169622

I
Die stofsuiertjie in die gedig “Huishoudelike oorlog” in Joan Hambidge se nuutste bundel, Matriks (2015:128), het my onwillekeurig aan die titel van Andries Bezuidenhout se tweede bundel, Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014), laat dink. In Hambidge se gedig is die digter, metafories gesproke, nie ’n spons of deurlaatbare membraan wat alles in sy/haar omtes simbioties binnelaat nie, maar ’n stofsuier met “attitude”; ’n “klein blou Bosch-krokodil” wat “(on)vermoeid sonder slag of stoot/ (...) elke onsigbare stoffie” opsúíg. (Die gulsige stofsuier word nie toevallig as “’n ekstensie van sy eienares” beskryf nie.)

Wanneer die “pensie” van die stofsuier jare later “ontsluit” word, lewer dit nie net die reste van ’n beëindigde “liefdespel” op nie, maar ook:

verlore versreëls: ’n ietsie van Eybers,
’n skeutjie somber Spies,
’n krieseltjie woedende Krog
en veral ’n flentertjie eiegoed:
“Jy’t weggegaan
en jy bewoon
’n stowwerige katakombe
van ’n blou bedonnerde Bosch-stofsuier
sonder ’n wakende kat
met twee Russiese munte
op jou blinde oë.”

Op metatekstuele vlak dien hierdie versreëls as ’n sleutel tot die poëtikale werkswyse wat in die bundel gevolg word: ’n byeenbring van en besinning oor ’n wye verskeidenheid invloede en insette, uit sowel Hambidge se eie werk as dié van ander, wat ’n matriks vir die digterlike uitweidings in hierdie bundel vorm. Of soos die digterlike ek dit uitdruklik in die titelgedig “Matriks” (9) verwoord:

Ek is ek is
op pad om te sien
hoe die digkuns
se matriks
die gietvorm
moedervorm
deur letterparades
van die Ek
ontset word.

Hoe moeilik dit soms is om ’n klinkklare onderskeid tussen die sogenaamde “letterparades/ van die Ek” en die “digkuns/ se matriks” te probeer aantoon, blyk kostelik uit die laaste gedeelte van “Huishoudelike oorlog”, waarin die ek-spreker ná ’n opnoem van digterlike voorgangerstemme (daardie epigone waarvan Bloom in sy The Anxiety of Influence melding maak) ook ’n “flentertjie eiegoed” aanhaal. Wat veronderstel is om dus heel oorspronklik te wees, is uiteindelik slegs ’n verskrywing van die insetkwatryn van ’n bekende Van Wyk Louw-gedig:

Jy’t weggegaan en jy bewoon
’n silwer herberg in die sneeu
jou vensters kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein.

II
In ’n onderhoud met Willem de Vries (2015) beskryf Hambidge haar 25ste digbundelas ’n eenheidsbundel waarin sy die verskillende betekenisse van die begrip matriks ontgin. Presies hoe betekenisryk die bundeltitel is, blyk onder meer uit die metafiksionele gedig “Doubling the point” in die elfde afdeling van die bundel. In hierdie gedig “goegeloer” die poëtiese ek “(a)anlyn soekend na inspirasie” totdat sy uiteindelik op die webblad http://www.merriam-webster.com/dictionary/matrix vind waarna sy soek: ’n literêre omskrywing van die konsep matriks, wat sy dan verbatim aanhaal ten einde ’n “dubbele” punt te maak: aan die een kant lig sy die leser op dié wyse ondubbelsinnig in oor die ordeningsbeginsel wat sy in Matriks volg; aan die ander kant rig sy daarmee ook ’n waarskuwing om die betekenisimplikasies van die titel nie te eng of te rigied te beskou nie.

Full Definition of MATRIX

1
something within or from which something else originates, develops, or takes
form
2
a: a mold from which a relief surface (as a piece of type) is made
b: die 3a(1)
c: an engraved or inscribed die or stamp
d: an electroformed impression of a phonograph record used for mass-producing duplicates of the original
3
a: the natural material (as soil or rock) in which something (as a fossil or crystal) is embedded
b: material in which something is enclosed or embedded (as for protection or
study)
4
a: the extracellular substance in which tissue cells (as of connective tissue) are
embedded
b: the thickened epithelium at the base of a fingernail or toenail from which new nail substance develops
5
a: a rectangular array of mathematical elements (as the coefficients of simultaneous linear equations) that can be combined to form sums and products with similar arrays having an appropriate number of rows and columns
b: something resembling a mathematical matrix especially in rectangular arrangement of elements into rows and columns
c: an array of circuit elements (as diodes and transistors) for performing a
specific function
6
d: a main clause that contains a subordinate clause

Die semantiese sinrykheid van matriks stel die digter dus in staat om gedigte oor oënskynlik nieverbandhoudende onderwerpe op verrassende wyse tematies saam te snoer. Sy slaag byvoorbeeld daarin om steekse pasmaats soos Reeva Steenkamp en Michael Jackson, ’n hotelkamer in Istanboel en Hemingway in Hanoi, asook die digterlike terme analepsis, anadiplosis en amfibrag met mekaar te rym.

Terselfdertyd is sy haar pynlik bewus van die gevare verbonde aan haar digterlike projek, soos duidelik uit “Die digter as akteur in Venezia” (32) blyk:

“Om poësie te skryf, is om dood
te gaan”, staan dit opgeteken (...)
Die grootste vrees
in die digterlike bestaan
’n gedig as konterfeitsel
of blote naskryfsel:
replikas van brons perde (...)
of flets vertalings
van tekste
sonder die polsende krag
van die oerteks.

Dit beteken egter nie dat Hambidge enigsins skroom om met groot kunstenaarstemme in gesprek te tree nie. Naas eksplisiete verwysings na digters soos Elisabeth Eybers, Eveleen Castelyn, Lina Spies, DJ Opperman, NP Van Wyk Louw, TT Cloete, Antjie Krog, Emily Dickinson en Anna Akhmatova is daar in gedigte soos “Ek skryf omdat ek moerig is”, “O Roos van my hof”, “Ballade van die grysland”, “Gebed om die gebeentes”, “Met hulle is ek”, “Olympia” en “Vir die bysiende leser” ook meer subtiele inspelings op die werk van voorganger- en mededigters.

Geen ander digter word egter so uitgebreid aangehaal, aangespreek en om hulp aan geroep as Johann de Lange, Hambidge se werklike vriend en digterlike broer nie (vergelyk in dié verband byvoorbeeld “Met hulle is ek”, “Olympia”, “Marilyn Monroe”, “Puntdigte”, “Om ’n uitskotvers oor die landskap van Kroasië te skryf”, “Weer eens” en “Poësie is verbittering”). Veral in “Brief vir JdL” (82) word die ek-spreker se agting vir De Lange as vriend, mededigter, kritiese leser én lotgenoot treffend onder woorde gebring:

Teen die dors soos ’n akwarel,
van ’n woestyn sonder water,
bly jy jou, nes ek, verweer.

Die aarde is nie eenvoudig
nie, leer ’n ouer digter:
die rym neem ’n hele lewe

in beslag, konstateer
’n ander. En nou?
Goedskiks drie dekades

later meen jy ék is taaier,
meer opgewasse en gedrewe
vir hierdie ding, ’n tweede natuur,

vir hierdie proses, hierdie
verwonding, dieper as ’n vleis-
wond, sneller as ’n fix.

raadsamer as terapie,
dog ’n bitter judaskus,
’n snel grys fantoom:

ja daar waar die melkweg straal
o bokkie dit moet jy verstaan
ons sal soos die maan ondergaan.

Teenoor die uitdaging om op digterlike wyse reg te laat geskied aan voor- en meegangerstemme staan natuurlik ook die gevaar dat die “matriksteks” op gekunstelde wyse tot iets bykans ongeëwenaard of onaantasbaar verhef kan word.

Hambidge staan egter (gelukkig) nie onkrities teenoor die lewens- en poësietekste wat sy hier as sogenaamde “matrikse”aanwend nie. In byvoorbeeld “Ballade vir die grysland” en “Gebed om die gebeentes” tree die digter-spreker nie net in gesprek met twee van DJ Opperman se bekendste gedigte nie, maar word haar “blatante plundering/ en misdoen in die skoene van die grote” ook ’n subtiele afrekening met die skadu wat hierdie vader-mentor oor haar werk bly gooi. Selfs nie haar eie digwerk is verhewe bo selfkritiek nie. In “Analepsis” (84) laat sy haar soos volg oor haar eie skrywershebbelikhede uit:

Verslaaf aan die parentese, dit is ek,
wagtend op die finale punt, ook dit is ek,
Niks word ooit opgehef, niks word vergeet,
aan herinneringe vasgebind soos jy weet.
Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.
Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?
Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.
Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.
Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.

III
Wat Hambidge se vorige werk betref, is dit veral die lykdig, die beeldgedig, die reis- en liefdesvers, asook die ars poëtikale gedig wat hier as matriks vir nuwe variasies en improvisasies dien.

Slegs in enkele gevalle kry die leser die indruk van nuwe woorde op bekende deuntjies.

Of Hambidge nou dig oor die dood van beroemde kunstenaars (skeppend en uitvoerend), poëtiese gesprekke aanknoop met lewende en gestorwe skrywers, die aanhef of die afloop van ’n liefdesverhouding verwoord of eksotiese reise oor die aardbol heen karteer, is dit telkens veral daardie gedigte wat ’n duidelike ars poëtikale of selfrefleksiewe dimensie bevat wat tot my gespreek het. So byvoorbeeld staan die gedigte “Lucian Freud, ’n selfgesprek” en “Elisabeth Eybers” kop en skouers bo die ander beeldgedigte uit, terwyl dit veral die lykdigte aan Eveleen Castelyn, IL de Villiers (veral “Shevirat ha-Kelim”), Hannes Meiring en Robin Williams is wat om soortgelyke rede die grootste indruk gemaak het. Ditto “You never finish a poem, you just abandon it”, “Liefdesgedig as reisgedig” en “My hart” wat die reis- en liefdesgedigte in die bundel betref.

O ja, en dan is daar ook die mooi ars poëtikale wending in die slotstrofe van “Jackie O” wat ’n mens nie onaangehaal kan laat wegkom nie:

Lap nooit uit
blad voor die mond
oor daardie af-gryslike
durende wond.

IV
Terwyl die vader, en veral die vader-dogterverhouding, in Hambidge se bundel Dad (2006) sentraal staan, val die fokus in Matriks veral op die verhouding tussen moeder en dogter (daardie sogenaamde matrixial bonds waarvan die digter as dogter deel vorm). Wat titel betref, “Chora” aan by Julia Kristeva se gedagte van die chora – die prelinguale ontwikkelingstadia van ’n kind waartydens daar geen onderskeid tussen die self en die moederfiguur ervaar word nie – terwyl gedigte soos “Tweetalige woordeboek”, “Op die mat” en “So dan” weer in gesprek tree met Bracha Ettinger se konsep van die sogenaamde “matriksiale blik” of matrixial gaze, waarin die matriks gebruik word as ’n tipe ommekering van die (manlike of falliese) Lacaniaanse blik.

Dit sal die leser egter nie loon om die moeder-dogterverse in Matriks as sogenaamde egodokumente te lees nie, soos veral duidelik blyk uit “Dorothy Parker onthou:” (147–8), waarin ’n opsigtelik gefiksionaliseerde “ek” van die afkeurende moederblik bewus raak:

i Sy wag my in (...)
Ek vermy haar oë
Konsentreer op die oomblik sopas uit
my arms vrygelaat.

Die sifdeur klap
’n tronkdeur
agter my toe

haar oë blits
moenie-die-deur-klap-nie ...

ii Voor die spieël

Sy kyk na my
sit voor haar spieëltafel,
borsel in die hand.
Ek sien myself verklein,
half uitgesny. Amper
nes my suster
se papierpoppe. Voel
haar deurtastende blik,
terwyl ek toekyk hoe sy
haar swart hare terugborsel (...)

Hoewel voorgaande bespreking dalk die indruk mag skep dat hierdie gedigte besonder ingewikkeld of selfs serebraal is, is juis die teendeel waar. Saam met die verse in die negende afdeling, “Terugflitse”, verteenwoordig dit die hoogtepunte in die bundel.

V
Matriks behels enersyds die aangrypende naspoor van die uiteenlopende invloede en patrone wat ’n skrywerslewe help vorm het. Andersyds behels dit ook ’n skrywende sinmaak, ’n (net soms te) uitvoerige joernaal hou, van die verwarrende tydsgewrig waarin ons woon en die uitdagings wat ons daagliks die hoof moet bied.

Hambidge gaan haal haar verse ver en wyd, maar slaag telkens daarin om elke een daarvan op kenmerkende wyse haar eie te maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top