ABSA Ketting: Joan Hambidge in gesprek met Daniel Hugo

  • 0

Ek en jy het so ongeveer dieselfde tyd op die toneel van die Afrikaanse digkuns verskyn in die tagtigerjare. Hoe dink jy het die digterlike toneel die afgelope paar jaar “verander”? Is daar beduidende nuwe stemme tans aan die werk? Of voel jy daar word te freneties na “nuwe stemme” gesoek?

 
Die Afrikaanse digproduksie is deesdae baie meer verbrokkel as in die tagtigerjare, toe almal se gedigte in dieselfde drie tydskrifte (Stet, Graffier, Ensovoort) verskyn het en almal se bundels deur dieselfde drie uitgewers (Tafelberg, Human & Rousseau, HAUM-Literêr) gepubliseer is. Ons was baie bewus van die akademiese biskoppe wat as kanoniseerders opgetree het. Deesdae is dinge publikasiegewys vloeibaarder en daar klink meer teenstrydige stemme in die literêre kritiek op. Dit laat groter kreatiewe ruimte, maar skep ook groter verwarring en onsekerheid.
 
Goeie poësie is nie noodwendig “nuut” nie. Carina Stander en Sarina Dönges se “tradisionele” liriese verse is ewe goed as Danie Marais en Loit Sôls se “byderwetse” praatpoësie. Ek stem nie saam met Alfred Schaffer se Laelandse aandrang op vernuwing nie. Dit inhibeer jong digters eerder as om hulle aan te moedig. Met die dwang van nuut-te-alle-tye beland ’n mens baie gou in ’n doodloopstraat, want daar is weinig Picasso’s onder ons digters, dws kunstenaars wat hulself voortdurend kan vernuwe of “herontwerp”. In Afrikaans sou ’n mens seker NP van Wyk Louw en Antjie Krog kon uitsonder, maar hulle is nie vanselfsprekend groter digters as Elisabeth Eybers of Breyten Breytenbach, wat stilisties redelik eenselwig gebly het nie. (Terloops, ’n vernuwer wat klaarblyklik in ’n cul-de-sac beland het, is Gert Vlok Nel.)
 
 
Jy is ’n tegnies-vaardige digter. Hoe skryf jy ’n gedig? Het jy ’n rymwoordeboek? Sit jy met Eksteen se Sinoniemwoordeboek langs jou? Of is jy soos iemand wat blokkiesraaisels doen en jou brein kan spontaan hierdie reëls uitwerk? ’n Logies-wiskundige brein dus? Of nie?
 
Daar is baie min dinge wat “spontaan” gebeur wanneer ek skryf, maar ek gebruik nie rym- of sinoniemwoordeboeke nie. Al my rymwoorde is selfbedink! Dit is natuurlik nie so moeilik in ons rymarme taaltjie nie. Verklarende woordeboeke (soos die WAT en HAT) is wel baie nuttig om die betekenismoontlikhede van woorde na te gaan. As ek ’n logies-wiskundige brein gehad het, sou ek vandag ’n ryk rekenmeester gewees het en nie ’n armlastige omroeper nie. Net soos my sente tel ek die lettergrepe van elke gedig, want ek glo neuroties aan die parallellie en simmetrie van versreëls.
 
 
Jy is ’n uiters behendige vertaler van veral skrywers uit die Lae Lande. Hoekom vertaal jy Nederlandse en Vlaamse digters?
 
Wat die digters betref, het ek nog net een van elk vertaal: Herman de Coninck (Vlaams) en Gerrit Komrij (Nederlands). Om poësie te vertaal is vir my ’n tegniese en taaluitdaging. Daar is meer onvertaalbare as vertaalbare gedigte op aarde, daarom maak ek ’n baie beperkte keuse uit die werk van digters wat ek aandurf.
 
Die Afrikaanse taal skep veral die volgende probleme as ’n mens vanuit Nederlands vertaal. Omdat ons woorde nie die infinitiewe en meervoudsuitgang -en het nie, kom ’n mens altyd lettergrepe te kort. In streng formele gedigte soos dié van Komrij veroorsaak dit ‘n eindelose geworstel by hierdie lettergreepteller. Die korter Afrikaanse woorde gee ook ’n strakker ritme aan versreëls wat in Nederlands dikwels pragtig vloeiend is. Die grootste speek in die verswiel is ongetwyfeld ons dubbele negatief. Dit is erg onelegant om ’n reël op nie te laat eindig; en op nie kan ’n mens nie rym nie. Die gebruik in die ouer Afrikaanse digkuns om die tweede nie te laat verval,is vir my onnatuurlik en gekunsteld. Die gevolg is dat hierdie vertaler soms gedwing word om negatiewe stelwyses as positiewe stellings te herskryf – waarmee die gevoelswaarde van die reël of frase weer aangetas word. Omdat ons nie die literêr-gebruiklike onvoltooide verlede tyd (imperfek) in Afrikaans het nie, moet gedigte meestal in die hede of in die voltooide verlede tyd (perfek) herskryf word. En daardie het ge- van die perfek is byna net so lomp soos die dubbele negatief! (Ek sal my nie verwonder as Nederlandstaliges dink dat Afrikaanse digters in ’n durende, optimistiese hede leef nie.)
 
 
Jy is ook ’n skerpsinnige kritikus. Jy was nou onlangs uiters krities oor die Versamelde gedigte van Sheila Cussons. En tereg ook. Dink jy dat uitgewers hulle nie meer steur aan die digkuns nie, of was dit gewoon ’n (menslike) flater?
 
Alle flaters is menslik, maar nie alle flaters is vergeeflik nie. Die verskyning van ’n digter se versamelde werk is ’n groot gebeurtenis in die klein Afrikaanse letterkunde – veral ook omdat dit meestal ’n eenmalige gebeurtenis is. Versamelde gedigte word selde herdruk en moet daarom onverbeterlikheid nastreef. Die samesteller moet ’n kundige literator wees, nie ’n vryskut-amateur nie. Die uitgewer moet ‘n fanatiese perfeksionis wees.
 
In 2004 is die derde uitgawe van Elisabeth Eybers se Versamelde gedigte ewe slordig uitgegee. Human & Rousseau / Tafelberg het toe die verskoning gehad dat die boek in Nederland geset en geproeflees is. Dit bly egter onverskoonbaar dat dié boek, net soos Sheila Cussons se Versamelde gedigte, sonder blik of bloos of regstelling aan die publiek opgedis word. In die geval van Cussons het nóg die uitgewery (Tafelberg) nóg die samesteller (Amanda Botha) op die kritiek gereageer. Miskien is dit so dat uitgewers die digkuns nie ernstig opneem nie.
 
 
Jy is ’n uiters produktiewe digter. Hoe voel jy word die digters van tagtig gekanoniseer in Kannemeyer se blou boek?
 
As die blote noem van jou naam in Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004 (Human & Rousseau, 2004) van jou ’n gekanoniseerde maak, is daar min digters wat rede tot klagte het. In die laaste afdeling van die boek, “Die hedendaagse Afrikaanse Letterkunde (1976 – Hede)”, noem Kannemeyer die name van 104 digters. Hiervan word slegs agt uitvoerig bespreek (IL de Villiers, Petra Müller, TT Cloete, Lucas Malan, Rosa Keet, Johann van Wyk, Johann de Lange en Johann Lodewyk Marais).
 
Hoe gedateer Kannemeyer se poësie-opvatting is, getuig uit die opskrif “Van amorfe vers tot verantwoordeliker gebonde poësie” (p 689). Die “amorfe”, vrye versmakers gaan dus “onverantwoordelik” met die digkuns om, terwyl die “gebonde”, formele digters die verantwoordelike burgers van die Republiek der Letteren is. Kan jy nou meer!
 
Maar nog vreemder is die feit dat Kannemeyer vir Daniel Hugo en Joan Hambidge, wat onderskeidelik in 1981 en 1985 gedebuteer het, plaas in ’n afdeling wat hy noem “Die digkuns van Laat Sestig en Sewentig”. Op dié manier word hulle gegroepeer saam met mense soos Wilma Stockenström, Antjie Krog, Lina Spies en Fanie Olivier – terwyl hulle inderwaarheid hoort by die “Tagtigers” Lucas Malan, Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Peter Snyders, André Letoit en Louis Esterhuizen.
 
Samevattend sou ek sê dat Kannemeyer se oorsig oor die hedendaagse digkuns te min literatuurgeskiedskrywing bevat en te veel persoonlike opinie. Hy het gevorder van verantwoordelike geskiedskrywer tot amorfe kritikus.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top