Joan Hambidge in gesprek met Marlise Joubert oor haar jongste bundel Passies en Passasies

  • 0

Jy het in 1971 gedebuteer met ’n Boot in die woestyn en jou jongste bundel, Passies en Passasies, ’n lywige bundel van 128 bladsye, het verlede jaar verskyn. Dis ’n lang periode van sewentig tot nou. Hoe sien jy die verskille tussen die sewentigerjare se digkuns en nou?

Ek is helaas geen letterkundige wat die verskille van toe en nou volledig kan ontleed of verwoord nie. Ek kan maar slegs op my eie algemene waarnemings/ervarings gaan. In die sewentigerjare het ’n ontploffing plaasgevind ten opsigte van die digkuns. Digbundels is nogal maklik gepubliseer, miskien ook tot nadeel van sommige digters. Die uwe ingesluit. Daar moes sekerlik ’n sterker keuring gewees het. Meestal is die digkuns van daardie tyd beïnvloed deur tendense en temas uit die sestigerjare. Die surrealisme en die belydenispoësie, asook die beeldrykheid onder die invloed van Breytenbach en Ingrid Jonker het sy invloede gehad. Heelwat eksperimentele poësie het ontstaan. In die jare wat volg, was daar weer ’n neiging na ’n harder soort vers, meer rasioneel, meer konkreet. Hedendaags het wêreldpoësie deur middel van goeie vertalings ’n groter invloed op ons digkuns as tóé en ek is oortuig daarvan dat die Afrikaanse digkuns vandag van die mees dinamiese ter wêreld is.

’n Resensent het jou jongste bundel gekritiseer en gevoel daar moes minder verse wees. Ek meen egter jy is besig met ’n soort tapisserie in hierdie bundel en dat elke vers as’t ware inspeel op ’n ander. Het ek gelyk dat die Sanskrit-simbool op die voorblad alreeds ’n eiesoortige leesstrategie opeis?

Ek verstom my maar altyd dat dit ook onder andere ’n kriterium vir ’n digbundel kan wees, die lywigheid van ’n bundel, al dan nie. Of soos die resensent dit stel: “Vermoedelik sal baie lesers egter nie die geduld hê om enduit te bly lees nie. ” Dan moet hy liefs nie Die Windvanger van BB probeer nie – dis byna 200 bladsye! Persoonlik verkies ek ’n digbundel wat lyf het, wat genoeg bied om dae lank aan te lees en waarop jy wil teruggaan. Ek wil nie slegs drie maal inasem en uit en dan is die pamflet op sy einde nie! Ek geniet veral versamelings van ’n digter se werk baie. Jy kan die hele jaar lank daaraan lees. Ek lees geweldig baie ander vroulike digters. In Engels by hoofsaak. En ek lei daaruit af dat die vrou vandag haar lewe en werk as digter kan balanseer en met selfvertroue kan uitleef en beoefen. Sy reeds ’n eiesoortige stem gekry.

Hopelik gee my jongste bundel (in sy omvang) méér vir die leser en dek ek voldoende (seker nooit genoeg nie) aspekte van die vrou en hoe sy haar wêreld beleef en sien, watter ervarings vir haar belangrik is, hoe haar waarnemings inmekaar sit, hoe sy verskillende gestaltes kan aanneem. Dit is dus beslis ’n soort tapisserie wat ek beoog het, en die verse speel noodwendig ook in op mekaar. Selfs die mandala is ’n vroulike simbool en verwys na heelwording, na die Kora van die vrou, soos jy in een van jou resensies genoem het. Dit verwys ook na hoe die lewe in terugkerende siklusse ervaar word, wat lig en donker insluit, en dualiteit wil ophef. Ek spreek hoofsaaklik vroulike kwessies aan. Die afdeling met inkantasies was ook vir my ’n noodsaaklike onderdeel van die landskap van vrouwees.

Jy het die eerste openlike lesbiese roman, Klipkus, in Afrikaans geskryf. Trouens, jy is digter én romanskrywer. Hoe beïnvloed dit jou werkswyse; met ander woorde, sou jou romans daar anders uitgesien het as jy nie ’n digter was nie? Hoe sou jy nou die lesbiese tema aanpak?

In Klipkus het ek wel my hand gewaag om oor die liefdesverhouding tussen twee vroue te skryf, maar dit het ook meermale vir my gegaan om ’n identiteitskrisis van die hoofkarakter en oor ’n alter ego. Dit dan op ’n tweede vlak. Ek twyfel of ek vandag weer so ’n tema sal aanpak, aangesien daar vele self-erkende gays is wat hierdie aspek van menswees sedert my roman met groot sukses oopgeskryf het. Destyds kon ek nie verstaan waarom daar geen gay-romans in Afrikaans was nie, ten spyte daarvan dat dit ’n integrale deel van ons samelewing was. En ten spyte daarvan dat soveel oor hierdie tema reeds in Engels of ander tale verskyn het. Sensuurwette, asook selfsensuur, het natuurlik bygedra daartoe. My skrywe oor hierdie tema het enersyds uit empatie ontstaan en andersyds omdat ek gevoel het dat dit belangrik is om ook dié aspekte van mens e se voorkeure te verken. Deesdae verkies ek egter om nader na myself toe te skryf, om eie ervarings dus te fiksionalis eer, hoewel dit ook geen riglyn vir alle skrywers hoef te wees nie.

Ek hou daarvan om verskillende genres aan te pak. Prosa trek my ook van meet af aan. Dit sou sekerlik anders daar uitgesien het as ek nie digter ook was nie – hoe, weet ek egter nie. Prosatekste deur digters is seker meer poëties, sou ek wou dink. In die eerste plek bly die dig kuns my voorkeur; ek keer altyd daarna terug. Ek twyfel of ek weer ’n roman sal aandurf. Daarvoor moet jy baie geduld aan die dag lê, waarvan ek deesdae veel minder het! Ek geniet dit nog om dialoog te skryf, daarom is die radiodramas nog steeds ’n aanloklikheid. Tans skryf ek al vir ’n volle jaar lank geen gedigte nie. Dit hinder my ook nie. Ek is gepreokkupeerd met waterverwe, en vind dit enorm bevredigend om nou net te skilder.

Jy is met die digter Louis Esterhuizen getroud. Raak ’n digter nie soms besitlik oor haar digterlike ruimte en idees nie? In The savage god skryf Al Alvarez dat daar waarskynlik tussen Sylvia Plath en Ted Hughes ’n onbewustelike kompetisie móés wees; dalk selfs onsekerheid oor wie ’n bepaalde idee dalk vir wie gegee het ... (Hierdie soort verhouding fassineer my, omdat my partners dikwels die skryfproses as bedreigend of as ’n soort kaping beskou van hul privaatheid of psiges.)

Daar is talle kunstenaarpare wat ’n emosionele verbintenis sluit, wat aangetrokke tot mekaar raak juis vanweë hulle gesamentlike passies wat aansluiting vind bymekaar. Jy sal dit by musikante vind, by akteurs, skilders, ens. Sommige werk uit, ander nie. Daar is mos geen waarborge nie. Ek dink wel dat dieselfde passies nie noodwendig die knoop gaan deurhaak nie! Maar dat jou hele persoonlikheid betrek word in ’n verhouding, dat dit om veel méér gaan as net die drang of uitlewing van ’n spesifieke vorm van kreatiwiteit. En dat die "besitlikheid" oor die digterlike ruimte waarna jy verwys, nie noodwendig in alle gevalle ’n probleem word nie. Beslis nie in my geval nie. As ek my onttrek om te skryf, weet ek minstens daar is begrip daarvoor ( die geliefde doen dit tog self) en daar word ruimte in oormaat gegun.

Dit is ook ’n fout om te dink dat twee kunstenaars wat getroud is, heeldag en aldag oor hulle skeppinge gesels. Om die waarheid te sê, hierdie egpaar gesels bo en behalwe oor boeke en skrywers en eie werk veel meer oor Zuma en Zimbabwe en mooi films, die tuin wat plante kortkom, die duiwe in die wilgerboom, reise en resepte, krieket en kinders, ens , ens, as oor die digkuns! As ek besig is om te skryf, skryf ek meestal alles eers klaar . Ek mik dus na die hele digbundel, roman, of radiodrama oor ’n gegewe tydperk voordat ek dit uit die oond haal en wys aan die medeskrywer en eerste leser in die huis. En as ons dan gesels daaroor, is dit natuurlik uiters stimulerend om ’n maat te hê wat weet waarvan jy praat, waarmee jy worstel, of wat jou kan help om ’n idee uit te bou; of kan waarsku waar dit moontlik kan sneuwel en hoekom. Dis natuurlik ’n bonus in ’n verhouding! En dan, jou beminde hoef natuurlik nie noodwendig self ook skrywer te wees om dit te doen nie!

Ek vermoed dat Plath en Hughes se probleme meer emosioneel van aard was; miskien was hulle meer egosentries ingestel. Miskien was hulle te jonk om hulle suksesse en verwagtings te hanteer. Die tragiek in verhoudings is dikwels juis oor die besitlike aard daarvan, die anneksasies wat plaasvind in stede van dat jy die verhouding sien as ’n vermeerdering en ándersheid van mekaar.

In ’n bespreking in Die Volksblad skryf ek: " Die volledige landskap van vrouwees word geskilder: jong meisie tot versmade vrou wat uiteindelik geluk en vervulling vind. Dit is eg-vroulik en ’n pendant vir die woedende verse van Antjie Krog." Hoe voel jy oor hierdie stelling? Is daar iets soos vroulike poësie? ’n Mens dink hier aan ’n manlike kritikus se reaksie op Anne Sexton se gedigte en die versugting dat sy eerder haar verse tussen aanhalingstekens moes ge plaas het, omdat dit te blootstellend was.

Op ’n manier kan ek hiermee saamstem. Ek dink dat Hennie van Coller ook in ’n resensie oor Ateljee van Glas daarna verwys het as ’n vroulike teks. Ek is egter nie seker hoe ’n mens dit onderskei nie. Dis ’n terrein vir die letterkundiges . Sou dit maklik wees om te weet of ’n teks vroulik of manlik is indien jy die naam van die skrywer weglaat? Ek vermoed die vroulike teks het sekere herkenbare eienskappe, ten spyte daarvan of die skrywer manlik of vroulik is. ’n Man kan mos ook ’n eg-vroulike teks lewer en omgekeerd . Wat ek wel weet, is dat ek verkies om uit ’n vroulike perspektief te skryf, en dat geslag wel ’n belangrike rol speel in hoe verre ek my wêreld om my ervaar en definieer. Om aan te haal uit ’n teks deur Linda France wat handel oor vrouedigters en dalk meer lig sal werp : “Despite our differences, our concerns are essentially very similar. The same themes occur: love, death, work, family, childhood, art, time, memory, place, nourishment and dreams; above all, transformative acts of the imagination.”

In jou werk is daar dikwels verwysings na Amichai se tekste en jy herdig op ’n lieflike wyse Peruviaanse en Meksikaanse tekste. Wat is die funksie van hierdie soort gesprek/weefwerk vir jou?

Daar is ’n velerlei ander skakels voor my; die geskiedenis van taal en poësie kan en mag ook ’n invloed hê op jou eie skryfwerk. Ek lees wyd en hou daarvan om nuwe digters ( mans en vroue) te ontdek, sonder om die geliefkoosde s uit te skuif. Toe ek die transkripsies van oertekste en kriptogramme gelees het in die lywige Technicians of the Sacred , het dit my so aangegryp dat ek so geheel en al deel daarvan gevoel het, dat die stemme en ritmes oor soveel eeue heen steeds met my hiér kon saampraat en gevoelens en onbewuste elemente kon losmaak. Ek het sommige sange " omgedig’" as eksperimente en daarna het ’n paar uit willekeur ontstaan. Ek dink die ritme en primitiewe aard daarvan het veral tot my gespreek. En sommiges was vir my uiters feminiene tekste wat dan aangesluit het by die verse waarmee ek besig was. Die verskuiwing van betekenis se wat in die lied opgesluit is rondom ’n enkele reël of sentrale gedagte/uitgangspunt was vir my interessant. In die praktyk word die enkele reël dus herhaal in veelvuldige vorme of inhoude of " afdraaie" totdat die totale " gewig" daarvan uitgeput word. Dis waaroor die chant dan gaan. Dit sleur mee totdat alles daarvan "ontwapen" of " leeggemaak" is. Vandaar die eie skepping van ’n titel vir daardie afdeling as " Sleursange" . Dit was net nog ’n vorm waarin ek die vroulike psigiese elemente in kon verwoord.

Yehuda Amichai is bloot een van my geliefde digters, wie se werk ek altyd na teruggaan omdat ek dit geniet en omdat sy soort beeldspraak en atmosfeer wat hy uitbou tot my spreek. Soos Neruda en Paz en Breytenbach ook. Enkele verse van hom het ek dan ook gebruik as “skepe” of “sandale” waarin ek my eie “ vrag ” of “ voete ” kon skuif . Sommige resensente het natuurlik altyd ’n probleem daarmee. Hulle hou nie van omdigtings nie, selfs al gee jy erkenning aan jou bron, en tog is dit ook deel van die kreatiewe prosesse in elke skrywer ( soos ook die postmodernisme in die skilderkuns) , en is die intertekstualiteit tog iets wat baie skrywers oor eeue heen bedryf het. By ons Uys Krige en Krog en jy, om maar drie te noem. Jy sal weet van meer! Naudé se vertalings van sy een digbundel na Engels toe, is eintlik ook omdigtings omdat dit geen streng en nougesette vertaling is nie. As jy in die holte van iemand se taal inklim, gaan jy noodwendig aanpassings moet maak, sal jy noodgedwonge na ’n ander manier van segging moet kyk om net iets van daardie afskynsel beter vas te vang. Of jy kan dit geheel en al herskep met jou eie idees en beeldspraak.

’n Mens sou hierdie bundel as ’n verslag van jou eie individuasie kon sien (onder andere met die mandala op die voorblad). Lees jy Jung se werk of het jy gewoon kreatief (onbewustelik) in hierdie proses inbeweeg?

Ek het baie lank gelede Jung se werk gelees. Vyftien of meer jare terug? ’n Skrywer ondergaan tog seker ook styl- en tematiese veranderings, ens - ’n groeiproses vind soms ( ook nie altyd nie!) plaas, onbewustelik, miskien, en soms weer pynlik bewustelik. Ek is bly dat jy dit as ’n individuasie kan sien. Dit help seker as mens jou kreatiwiteit vreesloos kan benader. Idees, gedagtegange en selfs drome wil en kan ontgin. Die binnewêreld word in " afgereis" en teenoor die buitewêreld weer opgestel. Tematiese verruiming hang seker af van waarmee jy jou op ’n gegewe moment preokkupeer of waarop jy wil fokus.

“(T) ussen dooies is daar vrede/ En gryswit stiltes in albasterkruik” dig jy. In ’n ander lykdig oor Lisbé Smuts, ’n gemeenskaplike vriendin, karteer jy die verlies wat haar dood vir ons inhou. Dink jy, soos Auden, “For poetry makes nothing happen”, of is daar heling opgesluit in hierdie intieme proses van dig?

Gedigte is onder andere ook ’n manier van dink, ’n manier om ons werklikheid mee te konfronteer en ’n bepaalde belewenis sinvol te probeer orden. In hierdie opsig is die digproses dan wel helend, omrede jy al skrywende in nouer kontak kom met jou eie emosionele landskap en hopelik in ’n mate ’n beter “greep” daarop kry . Ongelukkig is dit al wat dit bied. Troos in ’n mate, aangesien ’n gedig ook maar net ’n taalkonstruksie is. Met al die variasies én beperkings wat taal aan ons bied. Ek ervaar dit ook so in die skilderkuns. Ek is nie seker in watter konteks Auden hierdie stelling gemaak het nie. ’n Gedig oor verlies sal nie noodwendig ’n verlies afsluit of heelmaak nie. Niks gebeur nie. Die konfrontasie met jou self rondom gebeure is bloot ’n herskepping of groter bewuswording van hierdie verlies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top