Keerweer

  • 0


Keerweer

Op die hoek van Dunbarton en Wisconsin, Washington
verloor ek ’n gedig oor Chicago.
Daardie gedig, dit weet ek,
sal my agtervolg soos ’n slegte gewete
of ’n droom van iemand, iewers op ’n hoë gebou
wat val en woordeloos roep om hulp.
Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)
in ’n ander vorm, langs ’n ander roete,
kopsku die opwagting maak: “Hier’s ek.”
Dalk het daardie vers
beland op ’n ander busroete
of dalk gaan asiel soek by die Ambassade?
Of vermoeid en rooi-oog
’n naam op die waglys geplaas:
“Ek was in Chicago,
’n bootvaart meegemaak,
bewonderend gestaar na Mies van der Rohe se geboue,
die koue waters voel rinkel
soos ys in ’n glas, verby die Chicago Tribune,
die speakeasies,
van die boot afgeklim,
na links gestaar na ’n standbeeld
van Marilyn Monroe in haar bekende pose,
my glas gelig op Chicago:
“My kind of town.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top