Meditasie, tyd

  • 0

Tyd immer gekoppel aan ruimte: ’n sms van jou
op die Brooklyn-brug waar die stad op my wag.
Ek neem ’n foto van die sterk, grys kabels.
’n Brug, beweer Vladimir Propp in sy studie,
is ’n oorgang tussen twee ruimtes: ’n koppeling.
Ons sprokie is verby, weet ek, ten spyte van jou
uitreikings na my in ’n ander ruimte, ’n ander tyd.
Veel later analiseer ek ons in my hotel op Times Square:
absentasie of vertrek uit ’n bekende omgewing (ek),
en ’n oortreding van jou versoek om nie te vertrek;
o ja, ek is die triekster wat inligting bekom het
oor jou dubbel-lewe en, in jou afwesigheid hier,
dit punt vir punt soos die kabels van die brug natrek.
Propp praat verder van die moeilike taak of opdrag,
die uiteindelike rekonsiliasie én transfigurasie.
Helaas wys dié gedig te veel van sy kabels en bane.
Morphology of the Folktale het ek by my terugkeer
soos ’n wafferse filoloog langsaam en liniêr bestudeer.
Met die Brooklyn-brug as ’n desktop background.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top