In die skadu van Machu Pichu

  • 0

In die skadu van Machu Picchu
vind die temalied van Il Postino my:
die storie van ’n eenvoudige posman,
wen haar hart met Pablo se verse,
verby die vloei van die Urubamba,
in knetterende klanke van verlange.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
glip ’n skaars vlinder verby my hand.
Die ruïnes van ’n verlore Inka-stad
herwin in ’n argeologie van woorde:
die digter, ’n latter-day Bingham.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
volg ek getrou Pablo Neruda se reis
na die herwonne Inka-stad,
’n wêreldwonder van graniet en klip.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
daal stilte soos stof oor die ruïnes.
’n Fluit eggo, draal van berg tot berg
waar die Grootste Digter ’n vers skryf:
soekend, speurend ’n stil boodskap ontsyfer.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
soggens maagde tot ’n songod geoffer.
Wat is ons offergawe hier, in ’n ruimte
waar God en natuur volledig één word?
Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?
In die skadu van Machu Picchu,
Ja, in die skadu van Machu Picchu

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top