vir Coenie de Villiers
I
Op YouTube in swart geklee
staan jy soos die Pied Piper
in swart geklee met jou viool.
Vrolike, spelende kinders volg jou
in jou hortende dans op ’n treinspoor.
Daar is baie footage van jou
wat internettoeriste kan besoek;
ons leef in die tyd van beeldverkwisting,
van die buiteblik, van die óópmaak,
die uitstal – tog hoe meer
ons voor die uitgesponne beelde vertoef,
hoe minder verstaan ons:
waarom het jy die ligtende trein verlaat,
afgeklim op ’n stasie-sonder-naam
met ’n tyd-verstreke eenrigtingkaartjie
op ‘n plek waarheen niemand nou kan reis?
II
Nou het jy ’n tas vol geheime
en ’n donker viool agtergelaat,
op YouTube kan ons steeds
jou donker klanke hoor,
dit wat jou weggelok het,
terwyl ons wag vir die towerspreuk
om die sleutel van jou vertolking te ontsluit,
daardie ingewikkelde partituur.
Ons kyk na jou einde
soos na ’n wasige film met montage
en ’n hortende storielyn in medias res
onverwags gebreek met wuiwende mense
op ’n perron, ’n vertrekkende trein
met een passasier
en ’n stom kondukteur
wat vergeet om jou eenrigtingkaartjie te knip:
III
in ’n onderhoud na Otto e mezzo,
’n film in die middel van sy lewe,
staan Federico Fellini
neffens sy ewebeeld
Marcello Mastroianni,
die wroegende filmmaker, Guido
met “director’s block”.
Die onderhoudvoerder vra in
en uit oor die verlore slot van dié film,
daardie een van die trein,
die ongelukkige einde.
Dis die ekstra tot die film,
die nawoord, die endnoot,
die terloopse opmerking wat alles
in ’n ander, donker perspektief plaas.
Party deelnemers kan dié slot nie onthou
nie; ander meen ja, die treintoneel,
dit was daar: op stel gebou
met al die karakters in een eetwa
op pad na hul einde.
Kyk weer na die laaste toneel,
die gelukkige een, amper soos ’n sirkus-
toneel waar almal in gelid stap
rondom ’n ruimteskip op ’n strand
en hoor Fellini se woorde:
La dolce vita.

