Ballade van die Getroue Digters
Vir Elize Botha

  • 0

Op die maat van Peter Blum & Breyten Breytenbach, ‘n parodie

vir Elize Botha (1930 - 2007)

Die blare val, die water gly;
ek sit by Tante en drink gin;
Sy hou die “tagtiger”-bundels uit na my.
“Wat het geword van onse digkuns?”
“Julle dig onveilig en botterspuls.
Nog ‘n bietjie gin, Joan?” “Dankie, ja!”
“Gaan kyk gerus na Dirk der Duisende ...”
Wat het geword van veilig dig?

Die intertekste is veel én grys boonop.
“Lees gerus weer Wyk oor naak word ...”
My Tante praat - haar geduld is op.
“Wat het geword van vrye denke, vaderland?”
“Ag tog. Gee my Tristia ...
of TS Eliot se The waste land!”
Hét ons dan nét verbrou?

Ek sms vir Je-dee-eL.
Ek dink aan Henning en Daniehel.
“Kyk na Johann Lodewyk Marais.
Hy dig soos dit hoort! Netjies hoor!
Nog ‘n bietjie gin, my ding?” “Akkoord!”
“Hou emosies én opsture in beheer!
Poësie as Noodluik of Neerslag.”
Wat het geword van Stet of Koekie Z?

L’envoi

Ons bundels het ek steeds behou.
Wat het geword van kanonisering?
Ek sit by Tante en drink my gin;
Sy gee my hoop, al draai my kop.
Dit was nie alles tevergeefs!
Ons Tante bewaar ons al soveel jaar!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top