Parys lê grys en verslete langs die Seine toe ek dou voor dag op Charles de Gaulle neersak met die son wat op die horison beur. Ek is vir die eerste keer hier op ‘n maand lange besoek en gaan die stad stukkie vir stukkie verken en soos ‘n legkaart herinneringe opbou.
My verblyf is in Versailles. Die lughawe lê noord-oos van die stad en ek moet suid-wes van die stad kom.
Die metrokaart is die eerste stukkie kopkrap op my pad. Twintig verskillende lyne loop vervleg deur die stad en dit lyk na ‘n riller. Dit is ‘n hoop gekleurde spaghettitoutjies in ‘n doolhofpatroon. As mens hier by die regte plek gaan uitkom, sal dit ‘n wonderwerk wees, maar die trein is baie effektief en uiters betroubaar. Jy moet net weet in watter rigting jy gaan en sorg dat jy op die regte kleurroete is. ‘n Oranjekaart is geldig vir ‘n week en dan kan jy onbeperk op die treine en busse ry.
Van die metrostasies wat ‘n indruk gemaak het, is die Louvre-Rivoli wat jou tot binne die museum neem. Die perron is met beelde uit Egipte versier. By Hôtel de Ville pryk Nelson Mandela se gesig in ‘n advertensie teen die muur.
Die Tour de Eiffel is ‘n besienswaardigheid wat jy nie kan vermy nie. Dit is só Parys soos wat dit Afrika ook is – geïnspireer deur ‘n kameelperd. Wie onthou nog tolletjie-brei? Die houtgaretolletjies met vier spykertjies en wol wat al in die rondte gebrei word. Dit word eintlik French knitting genoem en hierdie toring is ‘n tolletjiebrei wat onderstebo gehou word. Hierdie fenomeen van ‘n stuk gevlegde metaal staan wydsbeen en jy skrik half vir die hoogte wat dit inskiet.
Die heel lekkerste van Parys is die brasseries op die sypaadjies waar jy kan sit met jou cappuccino en croissant – and watch the world go by! Dit is juis hiervandaan wat jy kan sien hoe die mense hulle motors buffer teen buffer parkeer. Dit is die heel ingewikkeldste daad in Parys.
‘n Besoek aan die Louvre is onvermydelik, maar ongelukkig kan jy dit nie alles in een dag doen nie. Op sekere dae bly die museum oop tot 21:00 en van 18:00 is die tarief dan ook verlaag. Die meeste ander museums is toe op ‘n Maandag, maar die Louvre is weer toe op ‘n Dinsdag. Jy kan ‘n museumkaart koop wat vir drie dae geldig is en toegang tot 60 geboue bied, maar dit is nie ‘n goeie opsie nie, want dan kan jy nie gehaltetyd deurbring nie. Boonop moet jy dan baie fyn beplan, want sommige plekke is net eenvoudig toe. Ander het om die een of ander onverklaarbare rede weer gratis toegang.
Oorspronklik het Parys op die eiland in die Seinerivier ontstaan en die Notre Dame is die eerste gebou wat opgerig is. Lees jy die geskiedenis van Parys, kom daar ‘n paar “erre” op wat ‘n groot rol gespeel het. Ek noem dit in Engels – revolution, resistance, royalty en religion. Die een Paryse figuur wat ek sal onthou, is Saint Dennis. Sy kop was afgekap, maar hy het die Montmartre-bult afgestap met sy kop in sy hand, dit nog êrens in ‘n fontein afgespoel en ‘n paar myl verder dood neergeval. ‘n SaintDennis-standbeeld kry jy by baie kerke met sy kop in sy hand.
Ook nie ver hiervandaan nie is die Moulin Rouge wat so half skuins teen die bult af lê. Paryse kunstenaars het almal hier uitgehang en vandag kos dit R1 000 of meer vir ‘n aand se vermaak. Dit is opvallend dat die winkels in hierdie buurt se koopware verband hou met vermaak en plesier.
‘n Besoek aan afdelingwinkels is ook interessant. L’Samaritaine was gesluit weens veiligheidsredes. Die gebou verkrummel, maar mag nie gesloop word nie, en om dit te restoureer, sal te duur kos. Galeries La Fafayette bied afslag aan en jy kan ook nie in een enkele dag deur al die afdelings kom nie.
Kuns en vermaak in Parys is nie beperk tot klubs, teaters en museums nie. Ek het na ‘n wonderlike balletuitvoering gaan kyk met dansers uit ses lande, en die Franse fliek “Le Parfum de la Dame en Noir”. Verder is daar oorgenoeg straatteater wat jy elke dag raakloop en selfs ‘n kunstenaar wat in die Louvre sit en skilder.
Die stalletjies-mense is ook volop in Parys. Al langs die rivier af het elke smous sy houtkis met deksel en slot waaruit hy sake bedryf. Hier het ek ‘n CD met Franse musiek gekoop.
Die Pompidou-galery lyk amper soos ‘n psychedelic Caltex-olieraffinadery met al die pype en skoorstene aan die buitekant. Hier wag toe ‘n verrassing uit Afrique du Sud. In die eerste lokaal ontmoet ons Marlene Dumas se kunswerk getiteld “Mixed Blood”. Haar CV lees dat sy in Suid-Afrika gebore is met ‘n Franse van, en dat sy Afrikaans praat. Die ses portretstukke van gesigte beeld die teenstrydighede in die wêreld waarin sy leef uit. Kyk net hoe teenstrydig is hierdie gebou in vergelyking met al die ander museums in Europa.
Net om die draai van die Pompidou gaan kyk ons na ‘n tegnologiemuseum, Musée des Arts et Métiers. Hier is die ontwikkeling van kameras, radio’s, motors en nog baie meer agter glaspanele uitgestal. Heel teen die einde kom ons in die kapel uit by Foucault se pendulum wat die draai van die aarde bevestig, en die metrostasie oorkant die pad is ewe tegnies versier met koperplate en ’n duikbooteffek.
Kunswerke, veral beelde, is nie net tot galerye beperk nie. ‘n Besoek aan twee begraafplase het vir my nog stukkies intrigeslaat ontvou. Hierdie begraafplase is goed versorg en jy kry ‘n inligtingkaart met die bekendes se name en aanduidings waar die graf is. Die grafstene trek baie aandag. By Montmartre kry jy name soos Jacques Offenbach, die komponis, en Fernando Sor, die kitaarspeler. Aan die ander kant van die stad ontdek ek in die Montparnasse-begraafplaas ‘n beeld van Brancusi met die titel “Die Soen”. Hierdie Italiaanse beeldhouer lê ook self hier te ruste.
Van die stukkies geskiedenis wat jou lekker laat rondsnuffel, is wie waar begrawe is. By die militêre museum Les Invalides lê Napoleon begrawe. Hitler het nie ‘n graf nie. Victor Hugo lê by die Pantheon. Marie-Antoinette se tronksel het ek gaan besoek en vir Joan of Arc het ek voor die Sacré Coeur ‘n saluut gestuur.
In die katakombes lê ses miljoen mense se beendere en kopbene in rye en rye in kilometer lange tonnels.
Nog ‘n laaste besoek ondergronds bring jou by die rioolwerke uit. Hier is nog ‘n stad onder die stad. Parys het ‘n baie unieke rioolstelsel om die Seine skoon te hou, en daar is meer as 2 000 kilometer tonnels wat die riool wegvoer.
Die Sacré Coeur is die witste katedraal in Parys en lê dramaties teen die horison bo-op die bult in Montmartre. Die bult van smarte kan jy dit ook noem. Picasso het hier swaar gekry, De Toulouse-Lautrec se ouma het hom kleintyd al wyn gevoer omdat hy so hiperaktief was en Van Gogh het ook ellendige dae agter die bult deurgebring.
Die Sacré Coeur is met kalksteen gebou. Wanneer dit reën, word die gebou sommer vanself skoon gewas. Daarom dat dit so wit vertoon. Staan onder die boog voor die deur en kyk op, dan sal jy sien hoe vuil dit daar is. Die reën kom nie onder die boë in nie.
Jy sal baie geboue in Parys aantref wat skoongemaak word. Al ooit daaraan gedink hoe hulle dit doen? Veral as jy na die katedrale kyk met al daardie ingewikkelde torinkies, krulle en draaie. Ek het eers gedink hulle gebruik tandeborsels, want dit neem gewoonlik so lank, maar nee, dit is ‘n dun laserstaal wat gebruik word.
By Rodin se museum stap ek in ‘n netjiese Franse tuin rond en besigtig al die beelde. By die ingang stap jy verby “Die poorte van die hel” en tref later “Die denker” tussen mooi ligroos rose en helder blou lug aan.
In die Cluny-museum fassineer die tapisserieë my. “The Lady with the Unicorn”-reeks verbeeld al vyf sintuie – gehoor, reuk, sig, smaak en gevoel. Die sesde tapisserie beeld ‘n geheime begeerte van die “The Lady with the Unicorn” uit. Dit laat jou met ‘n raaisel, want jy kan nie uitmaak wat haar begeerte is nie.
Die laaste Sondagmiddag van die vakansie in Parys gaan woon ek ‘n kerkdiens by. Dit is in die Trinity International Church of Paris, in Rue de Madame naby die Luxemborg-tuine. Die gemeente hier is baie klein, maar kleurryk. Amerikaners, Britte, Chinese, Europeërs, Marokkane, Indiërs en Franse aanbid hier almal saam.
Au revoir, Paris!
Una Beukman

