Lot se vrou intens menslik en deernisvol

  • 0


Titel: Lot se vrou
Skrywer: Joan Hambidge
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156875
Prys: R135.95

Klik hier om Lot se vrou te koop by Kalahari.com.

In Joan Hambidge se oeuvre is daar ’n aantal bundels wat hoogtepunte registreer – bundels soos Verdraaide raaisels, Ewebeeld, Lykdigte en Visums by verstek". Met Lot se vrou bereik Hambidge ’n nuwe hoogtepunt in haar digkuns.

Kritici het dikwels daarop gewys dat Hambidge se bundels eenselwig is en telkens terugkeer na bekende temas: verlies van ’n geliefde, vorme van afskeid neem en selfgerigte verse. Dat haar temas in onderskeie bundels ander nuanses en ander vorme van diepgang verkry, is gereeld misgekyk. Op stuk van sake: Skryf digters en skrywers nie maar ’n lewe lank een bundel en een roman nie? In "Fonteine van Tivoli" (Dolosse) merk DJ Opperman in gesprek met Aristoteles op:
 

... met die verkenning van terrasse
word jy aanvanklik om elke draai
deur skynbaar nuwe skeppinge verras,

tot jy besef dis ’n beperkte spel
waar ten spyte van die druk en storms
in die kunstuin die waters wissel,
maar min of meer konstant die vorms.

Die titelgedig van die bundel word tipografies onderskei van die bundelgeheel en val buite die nege afdelings. Dit inisieer ’n terugblik oor die drie muses, nou in die gestaltes van ’n Medusa wat "grys en bitter lag oor my donker woorde", die "onwillige muse wat ruggespraak hou oor ons" en die "donker skikgodin wat my in die openbaar verguis". Die "ons" is die digter en haar digkuns en Medusa word die aanklaer. Die onwillige muse verklap geheime en die skikgodin pleeg verraad. Die digter -

O ek is Lot se vrou.
Lot se vrou.

Die drie muses word inkantasies van die personae van die digter en al drie voer gesprek met die digkuns. Anders gestel: die digter moet rekenskap gee van haar digterlike bedryf en sy staan aangekla, verraai en blootgestel aan skimme uit die verlede. Dit is tyd vir bestekopname, ook tyd vir afstand neem van haar geliefdes, van haarself en van haar kunstenaarskap. Die tema wat die tekste bind, is ’n gesprek tussen die digter, die kuns en rasionele menswees. "Nee, Arie," sê Opperman aan Aristoteles, "die tuit en drif bepaal hoedat die waters eiesoortig druppel." Die kuns bepaal nie uiteindelik die kuns nie, maar die essensie van die mens en sy drifte praat steeds saam.

Hierdie gesprek het Hambidge alreeds gevoer, maar nou staan die ego terug en word alles deur ’n self-ironiserende lens bekyk. Die nege afdelings is kundig gerangskik en beweeg van kunstenaars en hulle kuns geleidelik deur tot die terugkeer by die gewoon menslike, die familie. Vir die digter is kunstenaars en hulle kuns geselskap en verestetiseerde familie, maar die laaste woord word gespreek deur die pa, ma en susters, hoe menslik krities hulle ook geteken word. Die hele bundel is ’n proses van afstandneem, maar soos die sterwe weer nuwe lewe inlei, so sluit dinge af, maar word opnuut weer tot lewe gekondisioneer.

Die muses kry ook ander gestaltes: Meditasie, Herinnering en Lied. Dit is dan ook die onderbou van die digterlike struktuur in hierdie bundel. Die meditasie is die terugkyk met nuwe begrip en ook met weemoed; die herinnering betrek evarings tot ’n persoonlike vlak; en die lied word die lofdigte op ’n aantal kunstenaars. In elkeen van hierdie lofdigte bring die swakhede en aard van die kunstenaars begrip vir hulle kuns. Die perfeksie bestaan in die kuns, maar die mens bly blootgestel. Per slot van rekening, die gode duld geen perfeksie nie. Hierdeur lewer die digter ook selfkritiek, die digter word die kitaarspeler in Opperman se "Kaapse Draaie": "sal alles doen en selfs verraai net dat ’n nuwe deuntjie in my draai".

In "Lot se vrou" kom Hambidge se presiese omgang met die betekenis van ’n woord besonder sterk na vore. Dit is woordverse sonder dat die idee ondergeskik gestel word aan die woord. In "Die intieme aard van die digkuns" vra sy in ’n selfgesprek: "Hoe weet ek, vra jy my, ’n argument in ’n vers werk of nie? "

Jy soek ’n reël, eis jy dringend; die juris
vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.

By Rembrandt se "Die ontering van Haman" staan die digter verwonderd: 

... en in die meester
se fyn balans tussen donker en lig,
weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.
’n Gedig word voltrek in stille toeval.

In "Lot se vrou" beweeg Hambidge binne die terrein van die "gevaarlike woord" (Etienne Leroux se formulering). Nie die woord wat skok of ontstel nie, maar die woord wat die kuns én die woord self bevraagteken. Alleen die volwasse digter waag dit hier. Die woord is die teken van die digkuns, dit is die digkuns se begin en einde. In die meesterlike reeks gedigte oor kunstenaars word hierdie begrip stelselmatig ontwikkel. In die gedig "Ava Gardner" word die aktrise in ’n raamwerk van ’n bulgeveg verken. Haar hele passievolle bestaan word in die bewegings van ’n stiergeveg gechoreografeer en ten slotte:

Soveel passies, soveel tandas.
Die tercio de varas:
Emfiseem.
Nogmaals blaas die beul.
Haar Estocada?
Bloedblomme op ’n donker limousine.

In lofdigte oor bekende sangers van weleer is daar "Maria Callas" wat "’n noot steel soos ’n gypsy, bronstig ómklem soos ’n munt"; "Joan Sutherland" "kou aan die hoogste note soos blaartjies"; en by "Leontyne Price", sy "wat klanke soos duiwe uit ’n hok laat vlug", word "elke noot opreg geteel, vrygelaat in volledige beheer". Alhoewel talle gedigte handel oor die kuns en die kunstenaar, verval dit nie in ’n trant van die digter wat al sprekend oor die kuns gesels nie. Dit word ’n besinnende stem wat haar gedigte en haar temas laat praat sonder om weerbarstiglik in te meng en die gesprek tussen gedig en leser te ondermyn. Die reeks gedigte oor Greta Garbo en haar vertolking van Anna Karenina word ’n verhaal waar Garbo en haar geheimsinnige persoon ’n spil word waarom weerloosheid, arrogansie, nederigheid en liefde wentel en wat menswees in verskeie dimensies openbaar.

Die slotgedig van die bundel is soos ’n teleskopiese blik op die lewe wat eindig in die "Wagkamer": die seun van veertien, die een betrap deur die sluipende gewas, die ander ’n ouer dame tandeloos tevrede "’n Mens word moeg van leef, my kind" en die digter met amptelike brief, paspoort en foto's:

In elkeen se hand ’n nommer
vir daardie Beurt: die onderhoud met ’n Beampte,
toegesluit agter glas,
wat moet bepaal, met priemende vrae,
of die Visa goedgekeur sal word
vir Hemel, Hel of Purgatorium.

Lot se vrou is ’n bundel wat enersyds intens menslik en deernisvol is, andersyds die kuns van sy afsydigheid bevry.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top