Joan Hambidge se Vuurwiel: verse wat skroei uit die hart

  • 1

Titel: Vuurwiel
Outeur: Joan Hambidge
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150613
Publikasiedatum: Maart 2009
Aantal bladsye: 128

Klik hier om Vuurwiel nou van kalahari.net te bestel!

 

 

... O woorde, stukkende woorde
wat ek heel timmer op die roete,
die lang pad na die groot vergeet.

Joan Hambidge, "Ek is niks" uit Vuurwiel (2009:31)

I

In die mooi gedig "O, wat het geword van Freda Plekker?" uit Joan Hambidge se twintigste bundel, Vuurwiel (2009), merk die digter op:

Party digters sterf salig-salig soos 'n pietsnot;
ander sommer-sommer net aan 'n suurstoftekort. (64)

Hierdie koeplet is beslis nie op Hambidge se eie digterskap van toepassing nie. In 'n soms benouende letterkunde eis sý nog gereeld (en soms gulsig) die nodige suurstof op. En salig of pietsnottig sal sy die vergetelheid nooit beërwe nie - daarvoor sal haar reputasie as digter, akademikus, resensent, mentor (noem maar op) sorg. Lesers het besliste menings oor Joan Hambidge, en gevolglik ook oor haar poësie. Hoeveel van hierdie opinies egter op 'n deeglike kennis van haar digwerk berus, is 'n heel ander vraag. Die skerpsinnige LitNet-blogger Crito betreur dit dat Joan Hambidge se manier van dinge doen so baie mense se nekhare laat rys en hulle dus verhinder om "onbevange na haar digkuns te kyk". Tog blyk Hambidge van hierdie vooropgestelde idees deur lesers bewus te wees en dit selfs strategies te betrek by die voortgesette spel wat sy in bundel na bundel speel. Daarom dat sy in "Ek is niks" opmerk:

Ek is niks sonder my woorde
nie. My woorde is niks sonder
my nie ... (31)

Maar dan moet die leser versigtig trap en ook ag slaan op die waarskuwing dat gedigte nie getuigskrifte is nie, dat daar vele "ekke" in Hambidge se verse is en dat sy doelbewus 'n persona skep waardeur sy werk. In baie gevalle word die leser juis die "sleuteldief" tot die uiteindelike betekenis van die gedig, met die gevolg dat verwysings na die werklikheid noodwendig verwring word.

Vuurwiel is 'n bundel wat om verskillende redes die aandag van gedigliefhebbers verdien. 'n Diepgaande kennis van die Afrikaanse poësie is nié 'n voorvereiste nie, hoewel dit die leeservaring heelwat prettiger sal maak.

II

Die bundeltitel Vuurwiel roep die titel van die tweede afdeling van 'n vorige bundel, Ruggespraak (2001), in herinnering. Soos in daardie afdeling, is die titel - veral vanweë die ryk simboliek van vuur en wiel - 'n belangrike aanduiding van die groot verskeidenheid tematiese perspektiewe wat ook hier geopen word. Met vuur én wiel word daar gesinspeel op herskepping, verandering en die nuutmaak van dinge - soos byvoorbeeld die herinterpretasie van klassieke versvorme, die poëtiese insigte van mededigters en selfs aspekte van Hambidge se eie skryfwerk. Vuur hou veral met die seksuele verband (liefdesverhoudings word dikwels in terme van vuur beskryf), terwyl wiel aan die sirkelgang van lewe en dood herinner, maar ook kan dui op die digter-reisiger se heimwee na verre plekke. Verwysings na "Karmawiel" en die "Derwiese dansers/ in 'n sirkelgang/ soos 'n sissende slang/ met rokke wat swaai" (112), bring die bundeltitel ook met die spirituele, die gedagte van suiwering en die aflegging van selwe in verband. In 'n literêr-teoretiese konteks vorm die "Vuurwiel" (Wheel of Fire) deel van die Aristoteliaanse interpretasie van die tragedie, waar dit spesifiek verwys na die reeks onvoorsiene en onaangename gevolge wat 'n enkele besluit of handeling vir die tragiese held(in) kan inhou.

Daar sou beweer kon word dat die digter met Vuurwiel (onder andere) poog om uiteenlopende, soms teenstrydige, aspekte van haar persoonlikheid met mekaar te versoen. Die twee oënskynlik onversoenbare motto's - een deur die selfonthullende Adrienne Rich en die ander deur Dorothy Parker, wat eerder met satiriese vindingrykheid verhul - is reeds vroeë aanduidings van dié teenstrydigheid.

III

Die simboliese implikasies van vuurwiel, die sikliese aard van talle gedigte en die feit dat daar juis sewe afdelings in die bundel is, skep die indruk van uiteindelike integrasie, versoening en voltooiing. Dié skyn bedrieg egter. Die "vuurwiel" wat enersyds die indruk van 'n ononderbroke sirkel skep, maar terselfdertyd ook uit afsonderlike "uitwaaierende" dele bestaan, behoort as ambivalente simbool gesien te word. Aan die een kant is dit opvallend dat die verskillende temas waaroor Hambidge dig - verlies, afskeid, reis, liefdesverhoudings, die "binnekamer", herinneringe, die mitologie (waarom word slegs "Mnemosyne" in 'n voetskrif toegelig?) - al hoe meer geïntegreerd en saam-gedig raak, soos duidelik blyk in "In Jaipoer", "Villanelle vir haar" en die uitstekende "Stilfoto: Hotelkamer Hong Kong". Aan die ander kant word alle teenstrydighede in die bundel nié met mekaar versoen nie en bly finale sluiting of integrasie uit. Dié gedagte word veral ondersteun deur die talle onopgeloste, terugkerende elemente wat in die bundel eggo (hoewel woorde soos "palindroom" en "stiekem" dalk té veel herhaal word). Afdeling I word byvoorbeeld voorafgegaan deur die gedig "Sê groete vir Elisabeth Eybers". In Afdeling IV ("Toespelings") kom daar 'n verdere drie gedigte vir Eybers, naamlik "Digteres as huisvrou", "Elisabeth Eybers (1915-2007)" en "Nogmaals Eybers", voor. "Minivers" in die Afdeling I vind weerklank in "Sy in 9 Easy Steps" (Afdeling V). Die hele Afdeling I ("Klaagsange") word - soos die bundels Ewebeeld (1997) en En skielik is dit aand (2006) - opgedra aan 'n kollega en vriendin, Lisbe Smuts-Smith, wat in 2005 wreed in haar eie huis met 'n skroewedraaier vermoor is. In Afdeling IV kom daar egter nog 'n gedig ("Villanelle vir haar") voor wat eweneens betrekking op Smuts-Smith sou kon hê. Afdelings vorm dus nie netjies voltooide eenhede nie, maar klink dikwels in volgende afdelings (en bundels dalk?) op.

IV

Ten spyte van 'n aantal speelse parodieë is Vuurwiel 'n bundel met 'n sterk elegiese inslag. Die digter voer gesprekke met geliefdes, mentors en geesgenote van wie sy afskeid moes neem, maar wie sy nie uit haar gedagtes kan (of wil) weer nie:

My beste vriendin
lê gemessteek ses voet diep;
my pa is wég na 'n ander oord.
My eks-girlfriend versaak my,
nee, ek verlaat háár. (75)

Dit is juis Afdelings I en V, wat direk met afskeid en vertrek gemoeid is, tesame met die elegiese verse uit Afdeling IV ("Jy't weggegaan", "Ballade van die Getroue Digters", "O, wat het geword van Freda Plekker?", "Villanelle vir haar"), wat onder my persoonlike gunstelinge in die bundel tel. Die twaalf gedigte in Afdeling I ("Klaagsange - Vir Lisbé") hoort tot die sterkste én roerendste gedigte in Hambidge se oeuvre. Sentimentaliteit en stilistiese eenselwigheid word behendig gesystap deur 'n humoristiese, selfontluisterende ingesteldheid (gaan kyk maar hoe draai Hambidge in die slotstrofe van "N.a.v.: 'n Latter-day Petrarca aan die woord" die mes op haarself in) en 'n merkwaardige verstegniese veelsydigheid. Hier is 'n digter aan die woord wat haar poëtiese stof met erns, maar genadiglik sonder "'n ekkerige geknetter" of stroperige selfkoestering benader. 'n Groeiende ontnugtering met vervlietende vleeslike ervarings en 'n bewuswees van die naderende dood blyk ook duidelik uit gedigte soos "Dizain", "Himne vir my Harem" en "Ek is niks".

Voorts besin die digter ook oor die etiese implikasies daarvan om juis in gepubliseerde skryfwerk van 'n geliefde afskeid te neem of om intiem oor iemand anders se lewe te dig. Op dié wyse tree die digter op interessante wyse in gesprek met The Work of Mourning (2001), 'n versameling van 14 elegiese essays wat Jacques Derrida tussen 1981 en 2000 in reaksie op die dood van 'n aantal goeie (en bekende) vriende geskryf het. Derrida is van mening dat rou/verdriet nie net iets is wat op die dood volg nie, maar reeds aanwesig is by die ontstaan van elke menslike verhouding. In Politics of Friendship (1997) beweer hy dat ons die dood van 'n vriend (maar ook van 'n geliefde) kan bedink en ervaar selfs vóórdat die verlies plaasvind. Hierdie gedagte word treffend verwoord in die vierde en sesde dele van "Stilfoto: Hotelkamer Hong Kong":

IV

Ek bly in die kamer ronddwaal:
'n speurder by 'n misdaadtoneel
tel 'n haar of enigiets wat DNA verraai
sorgvuldig op in plastiek toegedraai.
Ons was lankal verby; "tog steeds".
Kyk, die foto weet dit reeds:
Net jy wou my nie laat gaan.
dis dié dat alles so bly draal ...

VI

Wanneer ek deesdae 'n vrou ontmoet,
en met 'n liefdesavontuur begin,
vra ek dieselfde vraag:
hóé gaan die einde yk?
Wie gaan boet?
Wie sal verdring?
Wie sal kopsku en traag
hierdie hotelkamer verlaat soos 'n lyk?

Derrida begin talle van sy elegiese essays deur te erken hoe moeilik dit is om oor die gestorwe vriend (geliefde) te skryf en veral die regte woorde vir jou verdriet te vind. Op soortgelyke wyse merk die digter in die vyfde deel van "Stilfoto: Hotelkamer Hong Kong" op hoe swaar dit is om hoegenaamd iets oorspronkliks oor die beëindiging van 'n verhouding te sê wanneer daar reeds soveel oor dood en verlies geskryf is:

V

Daar is soveel wendinge in 'n moord-
of speurverhaal: die dénouement veral
waarom alles vir die speurder draai.
Met die liefde, glo my, is dit dieselfde gesteld.
Daar is beperkinge rondom 'n droom
of versugting: die einde of slot al
deur vele verdroom, verdig, vermeld.

In talle gedigte kom die digter tot die besef dat alhoewel taal eintlik al is wat ons het om oor ons ervarings en verhoudings na te dink, dit insgelyks ook wesenlik ontoereikend is om dié belewenisse voldoende en volledig te verwoord:

... Wat buite ironie of spel lê,
is dat ek jou lank vóór jou uittog
verloor het
aan die dood van woorde. (24); en

... So laat ons nog 'n mislukte sonnet skryf,
nog 'n plek herbesoek en die hereweet,
dankbaar wees vir dit wat buite benoeming lê. (48)

Net soos Derrida, is die digter in Vuurwiel ook intens bewus van die moeilike keuse tussen eerbetoon aan die oorledene (afwesige) en die oneer wat haar deur sentimentele huldeblyke aangedoen kan word. Sy probeer dus doelbewus waak teen swak smaak, ongevoeligheid, of om die dood van die vriendin (geliefde) vir selfsugtige oogmerke aan te wend, soos duidelik uit "Murder she wrote" (Afdeling I) blyk:

My uiters private
toegedoekte
stil vriendin,
op die agtergrond,
wars van die kalklig,
soeklig,
boksmaat en skermmaat
se lewe word gehang
aan die groot klok:
asof sy in 'n TV-speurverhaal optree.
... Dalk is dit die ergste?
Hoe die binneste uitwaaier
na die ruimte van die buitenste?
Met hierdie vers
vra ek vergifnis vir die betreding
(liggaamlik en geestelik)
én oortreding:
'n durende uitkenningsparade.

V

In 'n onderhoud met Louise Viljoen (LitNet, 2 Augustus 2005) verwys Joan Hambidge self na hoe die wiel oor die jare in haar oeuvre gedraai het: "Ek dink my eerste verse was uit die hart. Toe het ek in die middelperiode speelse parodieë geskryf, en nou is ek weer terug by die hart. By dit wat werklik saak maak." Hierdie resensent dink sy had gelyk! Hambidge dig in Vuurwiel met 'n deurleefdheid en innigheid wat selfs sinici se monde sal snoer. Dit is 'n bestendiging en verdieping van 'n omvangryke en dikwels onderskatte oeuvre!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top