Sel(f)portret op 55, ’n meditasie
In watter hotelkamer,
op watter vreemde kontinent
het hierdie foto
uit my Fuji geklik?
Gepofte oë (ja watter on-lieflikheid
is sy nie hier nie?), wrewelmond,
ysterdraadhare,
gekleurde wenkbroue
en huilsakke onder die bril
geplaas op ’n snuffelende neus.
Gordyne effens oopgeskuif,
hempkraag ópgeslaan.
Voetjie-vir-voetjie word jy emigrant,
verwys jy na Eybers tevergeefs,
selfverraaier, uitgevang met Nixon-wenkbroue,
skryn daar selfs ’n helder lig in selfondervraging
oor die objek genaamd: bedrywer van die halwe rym
of waarheid: ’n blikstem roep,
“This is your wake-up call”,
dis nou of nooit; vergeet van VWL en Eybers.
Luister na JdL se raad oor die sinergie
tussen foto en selfportret:
“You never finish a poem, just abandon it”
in hierdie digterlike Watergate.
In watter hotelkamer,
op watter vreemde kontinent
loop die muses so bakhand met die woord?


