Gesprek tussen Estelle Kruger en Elias P Nel oor die bloemlesing Woordenaars wat hy saamgestel het. Dit is gepubliseer deur Naledi.
Verskeie gedigte uit die bloemlesing en hul klanopname word ook geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.
Welkom, Elias. Jou digbundel se titel het my dadelik opgeval – dit het my laat dink aan wat die Nederlandse digter Martinus Nijhoff geskryf het oor poësie: “Lees maar, er staat nie wat er staat” (1960). En dit is wat jou titel gedoen het aan my – ek moes twee keer kyk om seker te maak dit is nie wat my eerste gedagte was nie! Hoe het jy aan hierdie titel gekom?
By ’n saamgestelde bundel vir beginners is dit myns insiens raadsaam om nie een van die bydraes as titel te gebruik nie. Ek het dus op ’n neutrale titel besluit. Daarom hierdie dubbelsinnige titel omdat daar woorde gepleeg word.
Hoe het jy hierdie digters in jou bundel met hulle puik gedigte in die hande gekry? Was daar ’n skryfskool of iets in dier voege?
Ek ontvang gedurig tekste om kommentaar daarop te lewer. Gedurende 2021 het ek om ’n borgskap by Dagbreek Trust aansoek gedoen. Dit is toegestaan en ek kon 10 aspirantskrywers (uit ’n totaal van meer as 80) na ’n weeklange werkswinkel in kreatiewe skryfwerk nooi. Tydens die werkswinkel is die wens uitgespreek dat daar ’n skrywersliggaam, wat veral aspirant- en opkomende skrywers moet bemagtig, gestig behoort te word. Met ’n borgskap van die ATKV is ’n dinkskrum gehou en is ASEM (Afrikaanse Skrywers en Mentors) as ’n maatskappy sonder winsbejag gestig.
Dit lyk of jy ’n legende is oor die ontwikkeling en bevordering van Afrikaans, spesifiek kontreiverhale wat handel oor die lewe en kultuurgoed van Boesmanland, veral van Verneukpan. Wat was jou persoonlike hoogtepunt in al jou vele publikasies?
Ek sal myself nie as ’n legende beskryf nie, eerder iemand wat graag ander wil bemagtig. My leuse is: ”Doen aan ander ...”
Ja, inderdaad het my vormingsjare op Verneukpan die basis gelê vir dit wat ek later in my lewe moes doen – die streeksverhale en die herlewing van die riel. Mense wat in klein gemeenskappies bly, is op een of ander manier op mekaar aangewese en diesulkes dra die verantwoordelikheid om na mekaar uit te reik en vir mekaar te sorg. Ek glo hierdie soort manier van lewe het die bemagtigingsdrang in my geplant.
Hoe het jy te werk gegaan om gedigte en digters wat geskik is, te soek vir ’n bundel – wat is die proses?
Bekendmaking op verskillende Facebook-groepe, asook persoonlike versoeke aan persone met wie ek vroeër paaie gekruis het in die vele skryfskole wat ek al aangebied het.
Ná die ontvang van meer as 100 digters se gedigte is dit gelees en in drie kategorieë ingedeel, te wete: die meeste potensiaal; minder potensiaal maar met moontlikhede om te verbeter; die wat nie redbaar is nie. Verslae met kommentaar en aanbeveling is aan elke indiwidu gestuur.
Talle wou nie verbeteringe aanbring nie en het onttrek. Ander het ná etlike herskryfpogings nie die gewenste resultaat gelewer nie en het hul dus self van verdere deelname gediskwalifiseer. Ná nog etlike herskryfpogings kon ek slegs 23 digters vind wat ek vir publikasie kon aanwend.
Dink jy hierdie gedigte het plek in die Afrikaans kurrikulum op hoërskool? Verduidelik asseblief.
BESLIS!! Dit is ’n absolute moet dat daar oor Woordenaars vir die skolemark besin moet word!
Omdat hierdie bundel ’n potpourri van uiteenlopende temas, fokusse en nuanses is, sal baie leerders daarmee kan identifiseer. En dis een van die mens se grootste begeertes: om met ’n bepaalde tema te identifiseer/assosieer om daardie gevoel van geborgenheid te ervaar.
Ek is vas oortuig dat Woordenaars hierdie behoefte sal vervul. Meer nog, dit sal vir diegene buite hierdie spektrum ook ’n venster op die beter verstaan van medeland- en -taalgenote se lewens gee. Ek is oortuig dat skrywers – veral die Afrikaanse skrywerskorps – meer kan doen vir nasiebou en burgerlike samehorigheid as die regering se afgewaterde poginkies.
Ons kan ook die steeds-gefragmenteerde Afrikaanse spraakgemeenskap help heel deur ons stories vir mekaar te vertel en baie belangrik om ook na mekaar te begin LUISTER!
Jy het baie toekennings ontvang, spesifiek van die Wes-Kaapse Departement van Kuns, Kultuur en Sport (2011, 2015); ook van die ATKV vir jou inisiatief om die rieldans te laat herleef. Geluk daarmee!
Waarvoor sal jy graag in die volksmond wil bekend staan?
Daar was ook nog die toekenning van die Afrikaanse Taalraad (2015) vir my bemagtigingswerk op die literêre- en kultuurgebied. Ek het egter geen begeerte om vir enigiets onthou te word nie. Sou ek slegs daarop fokus om te gis oor hoe ek onthou sal word, sal ek nooit die werk wat vir my uitgesit is, kan doen nie!
En ná alles, die keuse lê immers nie by my oor hoe mense my sal onthou nie. Sommiges mag my dalk met dankbaarheid onthou, terwyl ander geen snars sal omgee oor my doen en late nie. Ek doen in iedere geval wat ek doen, nie vir vererings/toekennings nie. Tog ontvang ek dit wel in nederige dankbaarheid.
Ek doen wat ek glo reg is om te doen. En in die gees van Max Ehrmann se woorde in Desiderata (1927):
“If you compare yourself with others you may become vain and bitter; for always there will be greater and lesser persons than yourself.”
Hiermee wil ek nie te kenne gee dat iemand nie ’n positiewe selfgeldingsdrang behoort te hê nie! Dis die negatiewe selfgeldingsdrang waar daar ten koste van ander gehandel word wat ek verafsku!
Ek sien jy het aanvanklik relatief-nederige werk gedoen, soos ’n klerk (by die Departement van vervoer), ’n besprekingsklerk (by Transnet), verkoopsman (by Lewis Stores).
Vertel ons hiervan en hoe die oorgang na onderwys verloop het.
Dit was ’n lang en moeisame pad sedert ek direk ná matriek die arbeidsmark moes betree. My deeltydse voorgraadse studies het baie, baie jare geneem om te voltooi. Maar deur volharding kon ek op 56-jarige ouderdom my honneursgraad voltooi. Die “nederige” werk was edel werk en het my geleer om te alle tye ook nederig te bly.
Ek vermoed jou onderwyservaring en woon vir 14 jaar in Verneukpan het vir jou baie insig in die lewe gegee, en die kultuurgoed van Boesmanland het jou toegerus om daaroor te skryf en dit oor te dra aan die Afrikaanssprekende publiek. Vertel vir ons asseblief daarvan.
My hele lewe tot dusver was ’n leerproses wat ek glo tot aan my einde sal voortduur. Ek was altyd gefassineer deur die stories van Verneukpan, Brandvlei, trouens die groter Boesmanland se vertellers.
Hou ook in gedagte dat hierdie vertellers non-lesers was, maar enige storie uiters oortuigend kon vertel. Ek het grootgeword in die era van “Algemeen Beskaafde Afrikaans” waar die gebruik van streekstale verbode en ’n ongewenste vervloeking was. Die gebruik om te etiketteer het my op ’n latere stadium in my lewe geweldig gepla. Dit het geïmpliseer dat nie net die gebruikstaal nie, maar ook die sprekers daarvan dus onbeskaafd is.
My strewe om hierdie streeksvariëteit in my skryfwerk te gebruik, is aanvanklik deur die werk van Adam Small beïnvloed. Nog later het ek met DF Malherbe se 1924-aanhaling kennis gemaak:
“Wie op die terrein van ’n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink; die wye see van die lewende volkspraak, die riviere en spruite, die fonteine en syferplekke ...”
En dit doen Woordenaars, want die bundel is ’n taaltapisserie wat die totale Afrikaanse taallandskap verwoord: Standaardafrikaans, Gariepafrikaans (Boesmanlandse en Namakwalandse tongvalle) en Kaaps.
Ek wil met my streeksverhale ’n stem aan die stemloses gee. My grootste begeerte is om nog volledig navorsing oor die verskeidenheid van die Boesmanlandse streekstaal te doen. Hierdie besondere streeksvariëteit is besig om al meer in onbruik te raak namate die ouer garde uitsterf. Die jonger geslag migreer tussen die streek en groter dorpe en kontamineer die outentieke streeksvariëteit.
Ek het baie respek vir jou ongelooflike kreatiwiteit en kapasiteit om innoverend te dink en die idees na die praktyk deur te voer. Jou toekennings gee duidelike bewyse daarvan.
Het jou kinderjare iets hiervan ingebou? Ook jou latere poste as klerk en onderwyser?
Ek glo so. Soos vroeër verduidelik, was my lewe ’n (harde) leerskool wat ek hoop my lewe en my besluite positief beïnvloed het.
Ek wil jou salueer met al die vererings en toekennings wat jy ontvang het van die Wes-Kaapse Departement van Kuns, Kultuur en Sport; ook kry jy die spesiale toekenning van die ATKV vir jou inisiatief om die rieldans te laat herleef sodat hierdie dansvorm nasionaal en internasionaal ’n kultuuraktiwiteit is.
Vertel vir ons hoe dit gebeur het dat die rieldans internasionaal ’n kultuuraktiwiteit geword het?
Ek het as kind met die riel grootgeword en die energieke en pronkerige passies het my intens gefassineer. Ook die feit dat die musikante – non-lesers – by magte was om liedjies (weliswaar net een strofe!) te komponeer.
Met my vele besoeke aan die Boesmanland het ek gevind dat hierdie kultuuraktiwiteit al minder beoefen word. Ek het lank probeer om gemeenskappe te oorreed om weer die riel te dans, maar was nie baie suksesvol nie. Dis toe dat ek besef het iets drasties moet gedoen word om te verhoed dat die riel in die niet verdwyn.
Die ATKV het ingekoop vir die idee om ’n jaarlikse kompetisie aan te bied. Die proses het in 2006 met slegs sewe groepe begin. 10 kompetisies later met my aftrede in 2015 was daar meer as 100 groepe op die ATKV se databasis.
Een van die groepe wat aanvanklik nie die mas kon opkom binne die struktuur van die kompetisie nie, was ’n groep van Wuppertal in die Sederberge. Hulle was kranige dansers en met begeleiding het hul stelselmatig die toneel begin oorheers en was drie keer as junior kampioene bekroon. Hulle het aan ’n nasionale, tradisionele volksdanskompetisie deelgeneem en is as die nasionale kampioen bekroon. Dit het die weg gebaan dat hulle in Julie 2015 aan die internasionale kompetisie in Los Angeles kon deelneem. Hier het hulle die strawwe kompetisie uitgestof en is as die wêreldkampioen in tradisionele volksdans bekroon! Só het hierdie groep nie net ’n gesogte nasionale nie, maar ook ’n internasionale gesogte kultuuritem geword.
Jammerlik het die riel, weens ’n gebrek aan kennis van die outentieke riel, ontaard in rondspringery waar al die groepe se passies presies eenders is. Die riel is ’n individualistiese dans waar die danser die passies uitvoer waarmee hy of sy gemaklik is. Die kleredrag herinner deesdae ook meer aan die Kaapse Klopse as die tradisionele rieldanskleredrag.
Wat jy doen, lyk en klink vir my baie na die werk wat David Kramer doen en gedoen het – het julle paaie iewers gekruis?
Ek het David Kramer by die kompetisie betrek deur hom te versoek om twee trofees vir die beste rieldansmusikant en een vir die beste rieldansliedjie te borg. Hy (en soms met sy orkes) het ook gereeld by die rielfinaal in die Paarl opgetree. Hy het ook by twee-drie geleenthede slypskole vir rielmusikante en -sangers aangebied.
Behalwe jou betrokkenheid by die ATKV, en die kortverhaal- en digbundels wat jy saamstel, was jy ook samesteller en medesamesteller onder andere vir die Afrikaanse Skryfvereniging – dit het Afrikaanse, Nederlandse en Engelse kortverhale en gedigte ingesluit. Hoe het jy by ál hierdie projekte betrokke geraak?
Ek hou maar altyd my oor op die grond en benut elke geleentheid wat moontlike publikasiemoontlikhede kan meebring.
Ek sien dat jy op verskeie openbare geleenthede opgetree het – spesifiek die Woordfees en Klein Karoo Nasionale Kunsfees – as voorleser uit jou eie werk; Maak ’n las, die program waar jy kontreistories vertel; mentor vir ongepubliseerde skrywers by die Sanlam-aanlynskryfskool; en op die direksie van verskeie rade. Dit lyk sowaar of jy ’n hoogaangeskrewe en populêre kunstenaar is. Hoe voel jy daaroor?
Hoe pas jou gesin daarby aan?
Soos voorheen aangedui, benut ek elke geleentheid. Ek is veral dankbaar dat ek op die verskillende rade/direksies en feeste ’n bydrae tot die bevordering van Afrikaans kon lewer.
My vrou Julia is my grootste ondersteuner en ook my klankbord met wie ek my idees kan bespreek en verfyn. My drie volwasse seuns ondersteun my ook graag en my vyf kleinkinders is uiteraard baie trots op hul oupa. (Die oudste kleindogter was vanjaar in graad 11 waar een van my gedigte voorgeskryf is.)
Ek het dadelik aanklank gevind by die aanloklike voorblad van Woordenaars – dit wys mooi die soort kort gedigte en aspekte van gedigte. Die twee mense wat na mekaar toe kyk en dat dit alles in die vorm van ’n kruik aangebied word, is vir my treffend.
Ook die kleur is uitnodigend – helder turkoois soos ’n edelgesteente en sonder dat dit skreeu. Google sê vir my dat turkoois ’n kalm, vriendelike, en vrolike kleur is; dit straal die rustigheid van blou uit, die groei van groen en die energie van geel.
En dit is presies wat die bundel vir my bied. Die gedigte wat ons gaan gebruik in die gesprek, praat ook met hierdie skakerings van betekenis.
Ek kan nie agterkom wie die kunstige illustreerder is nie en wonder of jy enige sê gehad het in die ontwerp van die omslag?
Jy slaan die spyker op die kop met jou interpretasie van die enigmatiese voorblad.
Is dit nie ’n besondere stukkie kunswerk nie? Ek het ’n idee gehad van twee persone wat met mekaar in gesprek is oor die verskillende digvorms en dan poëtiese terminologie met mekaar deel. Juis omdat dit beginners is wat hier publiseer, moet hierdie gesprek voortgesit word en hulle moet die verskillende digvorms ontleed en ook die terme begin gebruik.
Naledi se kunstenaar Karen Cronje se eerste proefweergawe het my verwagtinge oortref en ek het die ontwerp dus daar en dan aanvaar!
As ek kyk na al die betekenis wat jy bydra tot die integrasie van lewe, taal en kultuurgoed van Boesmanland, wonder ek of jy enige verdere projekte in die toekoms het, of idees wat jou lok om dit uit te voer?
Ek sou graag ’n intertalige en meertalige woordelys van die Boesmanlandse tongval van Gariepafrikaans wil saamstel. Ek wil dus die streekstaal na die standaardvariëteit vertaal en dan uit die standaardtaal na byvoorbeeld Engels en selfs Nederlands vertaal. Só sal ek verseker dat hierdie streeksvariëteit se ryk- en vindingrykheid verewig word.
Elias, jy het drie doelstellings met Woordenaars vir jouself gestel – vertel ons asseblief daarvan en in watter mate die bundel volgens jou daarin geslaag het.
Die doelstellings is die volgende:
- Om beginnerskrywers se werk te publiseer. DIE BUNDEL HET VERSKYN!!
- Om boeke so bekostigbaar moontlik in gemeenskappe beskikbaar te stel. DANKSY DIE GEWAARDEERDE BYDRAE VAN VERAL DAGBREEK TRUST EN DIE ATKV IS DIE IDEAAL BEREIK. Woordenaars kos ’n skamele R130.00. Daar is bundels met ’n veel swakker inhoud wat dubbeld soveel kos! En weer eens hiermee gee ek nie voor dat Woordenaars ’n virtuose stukwerk is nie. Maar dat dit gaan om dit wat in die onderskeie gemeenskappe gebeur, onder die soeklig te plaas.
- Om die totale Afrikaanse gemeenskap aan die lees te kry. Die proses wat ek gevolg het, was dat digters ná die finale teks aanvaar is, voorlesings in eie gemeenskap moet hou en ook die gedigte op Facebook moet plaas. Die werkwyse het meegebring dat daar reeds ten tye van die bundel se verskoning net oor die 50% van die eksemplare verkoop is. Die totale verkope staan tans net onder 80%! In ’n land waar werkloosheid en stygende pryse mense se lewenstandaard negatief beïnvloed, moet daar innoverend gedink word as dit by publikasies kom. Meer nog, mense wil met sekere onderwerpe identifiseer en ek glo Woordenaars het tot ’n groot mate aan daardie behoefte voorsien.
Ek hou van jou woorde in die voorwoord dat hierdie bundel gedigte pleit: “Gun ons die vryheid om ons eie stories, ons eie verwoording van ons belewenisse te vertel: om soos die voëls van die aarde in verskillende harmonieë ons lief en leed te besing.”
Ek merk ook dat daar party gedigte is teenoor bostaande wat spreek van nuuskierigheid, mense van buite wat hierdie gemeenskap se stories uitbuit vir eie gewin (dalk navorsers, joernaliste wat van dit voorstel as kuriositeit).
Dit is ’n algemene tendens dat mense wat slegs ’n blik van buite op ’n gemeenskap het, hulself as kenners voordoen en die intellektuele eiendom van gemeenskappe approprieer. Dit is een van die groepe se grootste bekommernis dat hulle later nie hul eie stories kan vertel nie. My raad aan hulle is: sorg jy dat jy jou gemeenskap se stories boekstaaf en sorg dat jy dit wat die wêreld as kuriositeit bejeën, met waardigheid weergee.
Ek merk op dat verskeie temas van die gebrokenheid van ons wêreld soos ’n goue draad deur die gedigte loop – bepeinsing oor en ervaring van dood van familie en vriende; COVID-19 en die ervaring en gevolge daarvan; dwelmverslawing en rehabilitasie daarvan; onwettige diamantdelwers; die kontras tussen stinkryk en brandarm; sosiale en morele verval van eens hegte gemeenskappe; en les bes die liefde.
Sal jy asseblief verduidelik hoe die titel van jou digbundel ’n onbedekte pleidooi is om eerder woorde as moorde te pleeg.
In Woordenaars word die lewe met sy positiewe en negatiewe aspekte onder die loep geneem en verwoord. Die soet, die suur/bitter, maar ook die mooi en die afgryslike word in woorde weergegee. Die lewe in woorde en lewe met sy uiteenlopende fasette word in woorde gepleeg en die digters is die woordenaars. En in ’n land waar wetteloosheid hoogty vier en moorde aan die orde van die dag is, klink die noodkreet van hierdie bundel op: kom ons pleeg liewer woorde as moorde!
Baie dankie vir ’n heerlike gesprek. Jou wens dat die bundel gemeenskappe aan die lees kan kry, eggo in my hart vir jou. Ek wens vir jou voorspoed met allerlei nuwe projekte. Lyk my jy is nie net die kreatiewe gees met innoverende gedagtes nie, jy is ook die uitvoerder van jou planne.
Baie dankie vir die geleentheid om aan my hartsmense hierdie blootstelling te gee. Dit word opreg waardeer!
Dit was ’n heerlike avontuur!
Lees ook:
Korona-kortverhaalfees: Elias P Nel oor “Die heks van Gelukspoort”
Kommentaar
Dankie.