Uit Woordenaars: my laaste wens

  • 0

Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.

Luister hoe Elize Willems "my laaste wens" voorlees.

Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.

my laaste wens

as my horlosie se tik-tok wegsterf
my uurglas se laaste korrel val
        sou ek graag
        as ek kon
my eie kruikie as wou dra
tot daar
waar my kinderspore lê
oral waar my onthou loop
wil ek my stofstreep los
sodat
        die vygie en gousblom
        nooit sal ophou groei
        die fluitjiesbos jaar na jaar
        sagte geel tregters baar
daar in die ou bokkraal
waar die warm mis
my koue voete louwarm getroos het
wil ek sprinkels van my strooi
        sodat die lammerooie se roep
        altyd weer sal eggo
        oor die klipkoppies
in die droë rivierloop
waar oupa wurgpampoen geplant
en die suurvye se gladde pitjie kwyl onthou lê
        daar strooi ek van myself
        sodat my kinders kan proe
        hoe smaak pampoen en vleis
as my horlosie se tik-tok wegsterf
my uurglas se laaste korrel val
                laat my tog rus
                in stof en as
                daar in die skoot
                van ons flentertjie plaas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top