Kô laat ons riel

  • 1

ATKV-Rieldanskompetisie
Afrikaanse Taalmonument, amfiteater, Paarl
Saterdag, 3 Desember 2011
R40 per volwassene, R10 per kind
Kaartjies by hek beskikbaar vanaf 16h30
Kompetisie begin stiptelik om 19h00

Hallo Ellias, baie dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vir diegene van ons lesers wat nog nie gesien het hoe ’n lekker riel Elias Nel kan dans nie, vertel ons asseblief van die rieldanskompetisie. Wat is dit?

Die riel kan met redelike sekerheid as die oudste dansvorm in Suidelike Afrika beskou word. Die hedendaagse vorm van die dans kan direk herlei word na die danse wat die Khoe en San vanmelewe al sirkelend om die vuur na ’n goeie jagtog of oes of by een van die vele godsdienstige rituele en feeste gedans het. Baie van die passies word vandag nog steeds in ’n sirkel gedoen. Dit is onbekend wat die oorspronklike naam van die riel is, maar ons weet wel dat in Nama as die ?khapara bekendstaan.

Khapara is afgelei van die woord ?khapas wat “hoed” beteken. Die hoed van die man is ’n nuttige artikel wat ingespan word om ’n dame se hand te wen. In Afrikaans het die dans gewoon die “riel” geword vanweë die sterk ooreenkomste wat dit met die “Scottish reel” het. Die mees uitstaande kenmerk van die riel is die vernuftige voetwerk en die energieke pas waarmee dit gedans word.

Rieldans het veral in die veertiger-, vyftiger- en vroeë sestigerjare hoogty gevier. Die hedendaagse dansers probeer dan ook iets van die era weergee deur hulself soos die werkersklas van die tydperk te klee. Die dans was veral gewild onder plaaswerkers en skaapskeerders. Vandag nog is die oorgrote meerderheid deelnemers van die verarmde werkersklas.

Die riel het veral te make met die liefdespel tussen man en vrou. Om dit uit te beeld word diere en voëls nageboots soos byvoorbeeld die skoenlapper, haan met sy vlerksleep, volstruismannetjie of kalkoen. Daar is ook die immer gewilde bobbejaandans of uitbeeldings van die werkomgewing, soos die perdegalop of die bokwagter. Alledaagse gebruike vind neerslag in die askoek, waar die regtervoet sekuur bokant die linkerknie – of omgekeerd – geklap word om te demonstreer hoe oortollige as van die askoek verwyder word.

As gevolg van verstedeliking en die aanhang van die Amerikaanse popkultuur het die rieldans op die randjie van uitsterwing gehuiwer. Danksy die betydse ingryping van die ATKV in 2006 – toe ons met moeite sewe groepe bymekaar gebring het -beleef dit tans ’n ongekende opbloei. In die 2009-kompetisie, wat oor drie uitdunne en ’n finaal gestrek het, het 56 groepe deelgeneem, waarvan 41 junior groepe is. Vanjaar strek ons deelnemende groepe ver oor die 60, met ’n deelnemergetal van 1 000 mense. Die oudste deelnemer was die 80-jarige ouma Toesie (Sarah Fortuin) van Spoegrivier in Namakwaland, en die vierjarige Talitha Syster van Calvinia was die jongste. Die gemiddelde ouderdom van die deelnemers was 14 jaar. Deesdae is die riel vir alle sfere van die samelewing aanvaarbaar en talle professionele mense is in ’n leidende hoedanigheid daarby betrokke, en tieners op hoërskool neem ywerig deel. In een geval – baie spesiaal vir die ATKV en nasiebou in Suid Afrika – is die wit skoolhoof van Merweville die leier wat selfs ywerig haar relasies doen!

Uit die rieldansgemeenskap is daar talle getuienisse van hoe deelname aan die ATKV-kompetisie help meewerk het dat mense weer hul selftrots en eiewaarde herwin het. Die kompetisie is vanaf 2006 tot 2008 in een afdeling aangebied en sedert 2009, vanweë die geweldige groei, ding die groepe in ’n junior en senior afdeling mee. Die rieldanskampioene sedert die begin van die kompetisie is Wupperthal (2006), Vredendal (2007), Bitterfontein (2008) en Calvinia Sitstappers (junior kampioen) en Witzenberg (senior kampioen) in 2009. In 2010 het die nuwelinge Boesmanland Stoftrappers van Loeriesfontein die junior titel ingepalm, terwyl Witzenberg hul titel as senior kampioen suksesvol verdedig het.

Die rieldans kan met reg as die oudste danssoort in Suid-Afrika gereken word, omdat die hedendaagse vorm direk na die Khoe-San, die eerste bewoners van die streek, herlei kan word. Vanmelewe het die Khoe-San na ’n goeie oes of jagtog, en by hul verskeie feeste, al sirkelend om die vuur gedans. Baie van die passies word vandag nog steeds in ’n sirkel gedoen. In Nama word die dans die Ikhapara genoem en is veral bekend vir die vernuftige voetwerk en energieke pas waarmee dit gedans word. In Afrikaans het dit die “rieldans” geword vanweë die ooreenkomste wat dit met die Skotse “reel” het. Die rieldans het veral in die veertiger-, vyftiger- en vroeë sestigerjare hoogty gevier. Die dansers wat die dans vandag beoefen, probeer dan ook deur middel van die kleredrag iets van daardie era weergee. Die riel het veral te make met die liefdespel, en om dit te illustreer word diere en voëls nageboots. Daarom kry jy die skoenlapperdans, die vlerksleep (kalkoen of volstruis), met ook ander uitbeeldings. soos die bobbejaandans, perdegalop en selfs die bokwagterdans. Die askoekslaan is ’n bekende deel van die rieldans, waar die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bokant die linkerknie geplaas word. Die rieldans is in die verlede veral in die Noord-Kaap en Karoo en enkele ander streke deur hoofsaaklik die werkersklas gedans. Die situasie is egter besig om vinnig te verander en talle professionele mense is vandag in een of ander hoedanigheid by die riel betrokke. Op Merweville in die Karoo is die wit skoolhoof, Gina Mans, die leier wat self ook haar rielpassies kan maak!

Die kompetisie het in 2006 die lig gesien toe sewe voorafgeïdentifiseerde groepe op Saterdag 9 Desember by die Taalmonument in Paarl byeengekom het. Die hoofdoel was om die kultuuruiting aan die jeug bekend te stel. Hiermee was die projekspan redelik suksesvol, want die 17 junior spanne van 2008 het in 2009 dramaties na ’n duiselingwekkende 41 vermeerder! Die kompetisie het die eerste vier jaar, sonder enige manipulasie, konstant met 100 persent gegroei:

2006 – 7 groepe
2007 – 14 groepe
2008 – 28 groepe
2009 – 56 groepe.

In 2010 het 63 groepe ingeskryf en het altesaam 760 mense aan die drie uitdunne deelgeneem, en die ouderdomme het gewissel van so jonk as vyf jaar tot by ’n hupse 85 jaar!

Die rieldans word ál meer gewild, want versoeke vir opleiding en die stigting van nuwe rieldansgroepe word gereeld ontvang. Hierbenewens tree die ATKV-rieldansers gereeld by feeste soos die KKNK, Cederbergfees, Kreebergfees, Williston Winterfees, Hantam Vleisfees en die Solms-Delta Oesfees op.

Dit raak ’n gewilde item by verskeie instansies wat wissel van die parlement tot gevangenisse, hospitale, ouetehuise, skole, kerke, kunsuitstallings en korporatiewe funksies. 

Waarom die rieldanskompetisie?

Om die kwynende inheemse kultuurskat van ondergang te red, te bevorder en te laat ontwikkel.

Hoe lyk vanjaar se riele, in vergelyking met ander jare s’n? Wat is die maatstaf van ’n “goeie” riel?

Daar word nog steeds soos in die verlede op egte tradisionele rielpassies gedans, maar daar is 'n klemverskuiwing, waar ou passies of uitbeeldings, soos die askoek, deur sommige groepe op 'n meer vernuwende wyse uitgevoer word.

Ek dink aan volkspele, of aan Ierse danse soos in die Riverdance-produksie, albei danssoorte met kulturele konneksies. Sou jy sê die riel is ’n universele dans, of ’n kultuurdans?

Dis 'n inheemse kultuurdans – met sy oorsprong in die KhoeSan – maar tog met universele elemente soos byvoorbeeld die "hat dance". Die hoed is 'n belangrike middel in die man se hand om die hand van 'n dame te wen.

Ek sien die hekke maak al halfvyf oop en die kompetisie begin om sewe-uur. Is die rieldanskompetisie ’n geleentheid vir mense om lekker saam te kuier, of is dit ’n plek waar mense in alle erns kom dans?

Die hekke open om 16:30, omdat kaartjies op hierdie stadium nog net by die hek beskikbaar is. Die gedagte is dan dat daar so 'n feestelike atmosfeer moet opbou na 19:00 toe, wanneer die kompetisie begin. En ja, vir die rieldansers is dit 'n ernstige saak! Maar hulle is op hul gemak en kuier lekker met ou en nuwe bekendes saam.

 

  • 1

Kommentaar

  • Hekke sal eintlik al vroeër oop wees, want ons kon dit wat nog moes gebeur na 'n vroeër tyd skuif.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top