Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.
Luister hoe Dewald Jacobs "ons shalom" voorlees.
Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.
ons shalom
ek is op reis
na my huisie
langs die see
nee
my tweeverdiepinghuis
met ’n swembad op die dak
wat uitkyk oor walvisse van welvaart
oor Hermanus se strand
my reis bring my tot my salige vrede
maar as ek verder reis
ontdek ek ’n afskuwelikste skok
hoe kan mense só lewe
in strukture van sinkplaat asbes en seil
ruimteloos aaneengestrengel
op vuil stinkende vullishope
krap uitgeteerde kinders
en nog meer uitgeteerde honde
hoopvol op soek na iets te ete
langs die moederstad se hoofpaaie
verbly Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Blue Downs
hier is lesse vir ons kinders te leer
die barbaarse leefstyl is die produk
van onbeholpe regerings
van toe en van nou
die gedreun van die ystervoëls
wat tydig en ontydig rus verstoor
wat moeë werkerslywe soos brood benodig
hul reis ons reis
na tevergeefse vrede
want wyl ons versadig snoesig slaap
veg hul onverpoosd teen winterkoue
knaende hongerpyne
ons is op reis na
ons ewigdurende ontwykende shalom