Elias, jy is bekend as skrywer van kontreiverhale. Wat onderskei kontreikuns van ander tipe stories en verhale?
Kontreikuns of streeksletterkunde word gekenmerk deur die doelbewuste geografies-ruimtelike plasing. Binne hierdie geografies-ruimtelike plasing fokus die teks op die alledaagse binne ’n bepaalde gemeenskap. Dit gaan hier veral om die gebruike, tradisies en taaluniekhede van landelike of kleindorpiese gemeenskappe wat onder die soeklig geplaas word. Kontreikuns werk egter baie goed wanneer dit universele kwessies wat die mensdom oor die eeue heen interesseer, aanspreek.
“Die heks van Gelukspoort” is nog nie voorheen gepubliseer nie, maar dit is ’n klompie jare gelede tot ’n TV-drama verwerk en op kykNet uitgesaai. Was jy betrokke by die omskakeling van die teks? Hoe is die verhaal deur kykers ontvang?
Ten spyte van my uitdruklike versoek om by die omskakeling betrokke te wees, is skrywers klaarblyklik nie toegelaat nie. Die vervaardigers het nie ’n aanduiding gegee hoe die kykers die uitsending ervaar het nie. My vriende en kennise, asook onbekendes, het aangedui dat die drama vanweë die emotiewe aard daarvan baie goed ontvang is.
Jy is alreeds ’n paar jaar lank in die bevoorregte skoene van ’n afgetredene. Waarmee hou jy jou deesdae besig?
Ek probeer my groentetuin wat weens my vorige druk werkprogram heeltemal tot niet gegaan het, weer aan die gang te kry. Tot op hede nie juis suksesvol nie! Verder poog ek om ’n prospektus vir ’n testigte rielakademie te skryf om die gemors wat tans in die beoefening van die riel aangaan, teen te werk. Ek doen ook navorsing oor die redes vir die ineenstorting van voorheen funksionele Khoekhoen-gemeenskappe.
Lees Elias P. Nel se kortverhaal, “Die heks van Gelukspoort”, hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar: