Die naderende onheil hang vir dae soos ’n donker rookwolk oor die andersins rustige dorpie. Alles het begin nadat die vrou in die swart klere met haar swerm katte in die klein huisie, aan die onderent van Harmoniestraat ingetrek het. Die middeljarige skraal vroutjie wat elke dag van kop tot toon in swart geklee is; swart kopdoek, swart rok, swart sykouse en swart skoene. Kompleet of sy na ’n outydse begrafnis op pad is. Klein dorpies is snaakse plekkies. Die skindertonge begin met reëlmaat klap en die bejammerende geklik en geklak van die simpatiserende tonge het soos die klaagliedere van Jeremia deur die stil stofstrate gesweef. Die spotters tjank grynslaggend soos hiënas en nuwe grappies is ná die vrou se koms gebore. En toe volg die onvermydelike want grappies is alleen maar nie genoeg om al die behoeftes te vul nie. Soos die dreigende gerammel van donderweer het vreesvervulde inwoners opeens hul wapens begin regsit. “Hier is ’n heks in ons midde!” is die boodskap wat op die vlerke van die giftige wind van straathoek tot straathoek waai.
Oom Arrie Johannes, godvresende ouderling, gemeenskapsmens en wewenaar is die enigste wat dit naby die geheimsinnige vrou gewaag. Maar selfs hy, met sy sagte stem en deernisvolle oë waarin die empatie vir sy medemens vlak lê, kon in die begin nie enigiets met die katvrou uitrig nie. Sy nooi hom nie in nie, kyk hom nooit vol in die oë nie en al sy vrae antwoord ontwykend. Dit is natuurlik koningskos vir die skinderbekke. “Ou Arrie is soos ’n uit tyd uit bokram wat ’n nuwe ooi geruik het,” verkondig die giftonge dit as die heilige evangelie.
“Nee,” sê die jammerhartiges, “Broer Arrie ontferm hom maar slegs soos die Woord sê oor die wese en die weduwees.”
Nodeloos om te sê dat dit natuurlik olie op die vuur van die veglustiges is.
“Die Woord sê ook: ‘Die wat nie vir ons is nie, teen ons.’ So Arrie Johannes sal sy keuse moet maak. Die heks moet uit die dorp uit! En wie ons probeer keer, sal saam met haar moet bloei!”
Die spotters roep laggend uit: “Daar is nie wesies by daardie huis nie! Behalwe as ou Arrie die katte as wesies reken. Nee, hy is, is definitief agter die weduwee aan. Sy is ’n weduwee in rou en hy wil Jobstrooster speel!”
Die katvrou word die onderwerp van bespreking by elke byeenkoms in Gelukspoort. By die klein skooltjie met sy honderd leerders en drie opvoeders word haar koms selfs as mondelinge en opstelonderwerp ingespan. Die vroue wat soggens die vee veld toe druk, laat die lammers hulle oorsuip, want hulle vorm eers hopies om die nuutste oor die katvrou en oom Arrie te hoor. Die manne wat by die steengroef werk, laat die stene oorverhit en tot voos stof bak want hulle wil die heks in die steengroef se vuur verbrand. Die dorp gaan stil-stil, sonder dat iemand dit opmerk, agteruit. En deur populier, bloekom en treurwilger suis die wind telkens ’n ander deuntjie. Jy hoor goedige gespot, afbrekende geskinder, opregte bejammering en koue haat. Alles net oor die katvrou. Die swart katvrou en die vrome en Godvresende Arrie Johannes.
In Helshoogtestraat bid die Sustersbond vuriglik vir ’n teken, ’n openbaring wat die koms van die suster van die digte duisternis in die regte perspektief sal plaas. Na die lang gebede en temerige gesange eet hulle fyngebak en drink Engelse tee en beskinder die suster wat haar as ’n buitestander in hul boesem bevind. Daar word gewonder of sy nie Jesebel is wat in ’n ander vorm teruggekom het om hulle geloof te toets nie.
“En ons leef in tye waar ons stryd nie teen mense en owerhede is nie, maar teen die magte van die duisternis,” teem suster Martha Volmoed, die leier van die Sustersbond, wat die byeenkoms belê het. “As ons nie wakend en biddend bly nie, word ons kerk en ons dorp ’n tweede Sodom en Gomorra. En die ding dat Arrie Johannes so danig met die vrou is, staan my glad nie aan nie! Wat weet ons wat hy met haar agter daardie toe deure doen? Nee, my susters, ons moet saamstaan soos die vroue van Joppe en die onheil uit ons midde wegbid.”
Sy lek haar poffervingers waaraan die stroop van die koeksuster nog kleef. Van die ander susters kug aamborstig en kyk vinnig na mekaar.
“Haai, ja reken so ’n katvrou! En hier vertel jy ons nog nou die anderdag dat jy en Arrie se gebooie een van die dae in die kerk gaan loop! En nou boer hy daar by haar en haar swetterjoel katte en kom nie eens meer by jou uit nie. Jy’s reg, my suster. Ons sal eendragtig moet bid. Nie net vir jou en Arrie se geluk nie, maar ook vir ons getroude vrouens se onthalwe. Julle weet moes hoe die mansgeslag is. Vreeslik nuuskierig. En net oor Arrie nou daar uithang, wil al wat ’n man is sien wat nou so danig wonderlik aan die katvrou is! En voor ons vir ons kom kry, sit al wat ’n getroude vrou is, sonder ’n man!” kla suster Hanna Smartryk.
En net daar begin ’n gebed- en skindersessie waarvan die gelyke nog selde hier op aarde gevind is. Dis bid en bid en bid, kla, skinder en meer skinder en dan tee en soetgoed verorber en weer bid, kla, skinder en eet. Dag in en dag uit. Die ander take by die huis en kerk kry nie meer aandag nie. Alle energie en aandag word op die katvrou, die wewenaars en getroude mans spandeer.
Die sitkamer van die klein skakelhuisie in Vredestraat is volgepak. Mans, vrouens en kinders luister grootoog na die hoof van die huis. Jonatan Dawids, die man wat ’n paar jaar gelede uit die kerkraad geskors is en nou al jare lank probeer om as parlementslid vir die omgewing verkies te word, se gesig vertrek en die spoeg spat in alle rigtings soos hy driftig sy stelling maak.
“Ek sê vir julle, die Here is my getuie. Suster Martha het my gisteroggend vertel sy het self met haar eie oë gesien hoe die katvrou ’n kat teen sononder op ’n altaar agter haar huis offer. Gaan ons dit in ons dorp toelaat? Gaan ons as pligsgetroue Christene en ouers van kinders toelaat dat Satan uit die duistere hel hier in ons midde aanbid word en dat bloedoffers helder oordag gebring word?”
“Nee!” skree die see van gesigte om hom. Die bedompige reuk van menslywe brand in hul neuse maar niemand kom dit agter nie. Die vyand is prioriteit nommer een. Die vermetele vyand wat dit waag om katte aan die heerser van die duisternis te offer.
“Nee!” gil die skare weer.
“Want vandag is dit katte, môre is dit jou of my kind!”
By die aanhoor hiervan krimp die kinders ineen en begin hardop snik en huil. Jonatan Dawids praat afgemete en met ’n drif wat hyself nie eens geweet het hy oor beskik nie. Sy klein ogies flits soos die van ’n slang as hy voort tier: “Suster Martha het gesien hoedat die katvrou gister laatmiddag ’n kat in haar agterplaas op die altaar doodmaak om vir die duiwel te offer. Oor drie dae gaan ek daardie vrou uit die dorp uit dryf. Oor drie dae, dit maak nie saak of ek alleen staan nie! Oor drie dae gaan ek haar uit die dorp dryf. Lewendig of dood. Staan ek alleen? Staan ek alleen om ons dorp, ons kerk, ons Christelike waardes en ons kinders, die vrug van lende teen die duiwel en sy bose magte te beskerm? Staan ek alleen?”
Die sitkamertjie is meteens te klein vir al die mense wat beur om orent te kom, wat skreeu en vloek. “Fok die heks! Maak die duiwelsaanbidder vrek!”
Jonatan Dawids glimlag tevrede, hy het sy doel bereik. Die katvrou is geskiedenis. Oor drie dae sal sy die stof van hierdie dorp van haar voete afvee en Gelukspoort sal weer die vreedsame dorpie van vroeër wees.
Onbewus van Jonatan Dawids se opswepende toespraak, maak Arrie Johannes ’n paar middae later ’n onverwagte deurbraak. Nie dat hy hom aan die geskorste diaken en kamma-politikus sou gesteur het nie. Hy het nog altyd vir Jonatan en sy party die grootste minagting gehad. Iets wat hy ook openlik in die dorp verkondig het.
Arrie Johannes spits sy ore om die fluisterstem van die geheimsinnige vrou ten volle in te neem. Hy is skoon verbaas toe sy hom met die knik van die kop na die voordeur beduie. Hy laat nie op hom wag en vleg sy weg tussen die drie, vier pikswart katte deur na die netjiese sitkamer.
Die skraal vroutjie sit oorkant hom en begin fluisterend praat met die drif van iemand wat iets uit haar gestel wil kry. Hy sit arms oor sy boep gekruis en rus sy ken in sy regterhand. Voor hom het ’n storie wat hy ’n jaar of wat vantevore in die koerant gelees het, ontvou. Maria Blom vertel sonder ’n sweempie emosie op haar gesig, wat haar ’n jaar gelede te beurt geval het.
“My man, Jacobus Blom, was ’n predikant van die AGS kerk in Bonteheuwel in die Kaap. Dit het goed met sy bediening gegaan en ons het ten spyte van vele ander ontberinge daarin geslaag om ’n verskil in die omgewing te maak. Soos jy weet is Bonteheuwel soos baie ander buurte op die Kaapse Vlakte die broeines van bendes, dwelms, aanrandings, verkragtings en moord. Maar ons was geseënd, Jacobus het daarin geslaag om die strydende bendes bymekaar uit te bring en daar was vrede in die grootste gedeelte van die area. Die ander kerk- en gemeenskapsleiers het sy sukses gesien en almal het saamgewerk om nie net van Bonteheuwel nie, maar van al die ander woongebiede ’n beter plek te maak.”
Sy bly vir ’n oomblik stil, vee met die agterkant van haar hand oor haar mond. Dan lyk dit of sy iets prewel, maar Arrie kan nie hoor wat sy wil sê nie. Hy buig vorentoe, raak liggies aan haar hand. Maar ruk sy hand onmiddellik terug. Die vrou se hand is net vel en been! Hy voel hoedat ’n deernis groter as hyself oor hom spoel. Dan staan hy traag op en gaan langs haar op die rusbank sit. Hy plaas sy arms saggies om haar skouers en voel hoe die vreemde vrou onder sy aanraking ruk. Hulle sit vir ’n rukkie in stilte en dan beur sy orent en praat verder. Arrie haal nie sy hand van haar skouer af nie.
“Jacobus was gerespekteerd en geliefd oral waar hy gegaan het. Van die regeringsinstansies het hom later as raadgewer in bendegeteisterde gebiede gebruik om plofbare situasies te ontlont. Ons vier kinders, drie dogters en die laatlam seun het ons in alles ondersteun. Ja, dit mag klink of ek romantiseer, maar ons was werklik gelukkig. Ons kinders was ’n absolute plesier en ons saamwees was met een woord wonderlik! Tot op die ongelukkig dag. Die dag wat ek met my hele wese wegwens, wat ek nie uit my geheue gevee kry nie. Dit was twee dae voor Kersfees en ons ses was in die Kaapse middestad. Nadat ons klaar met die inkopies was, besluit ons om iets by die Waterfront te gaan eet. Jacobus het voor ’n bank in Adderleystraat stilgehou sodat ons gou kontant kon onttrek. Omdat hy dubbel geparkeer het, vra hy dat ek gou die onttrekking moes doen. Die kinders het nog gespot dat ek moet gou maak. Joshua het laggend gesê: ‘Mammie moet gou maak want anders is ons weg as Mammie eendag uitkom!’
“Die bank se outomatiese tellers is langs die hoofingang in ’n steeg. Terwyl ek besig was met die transaksie, hoor ek skote en hoe mense gil. Ek het onmiddellik platgeval en my gesig bedek. Dit … dit het soos ’n klein oorloggie geklink met al die skote wat afgegaan het. Ek het so onopsigtelik moontlik na die straat geloer en toe sien ek dit … Die rowers harloop skie … skietend uit die bank en skiet na die oorkant van die straat waar die polisie intussen stelling ingeneem het. Ek het van hulle herken, dit was van dié wat uit Bonteheuwel padgegee het, toe die gemeenskap se druk onder Jacobus se leiding teen hulle te sterk geword het.
“En die polisie skiet terug en … en ja, Jacobus en my … my … kinders is tussen die skietende faksies vasgekeer. Ek het reg langs my ’n vrou oorverdowend hoor gil. Later het ek agtergekom dis … ekself.
“Toe word dit stil, ek het opgestaan, die geld net daar gelos en na buite gehardloop. My … my lewe het tot … stilstand gekom.”
Maria begin saggies huil en Arrie voel hoe haar tenger skouertjies onder sy hand ruk. Hy laat haar begaan. Toe sy ophou snik, vertel sy met moeite verder: “Ons motor … ons motor was ’n wrak wat uit een of ander Amerikaanse rolprent kom, stukkende ruite, koeëlgate oral in die bakwerk en … bloed … bloed net waar jy kyk. Ek het struikelend na die motor gesukkel. Asof in ’n droom het ek na … my vier … lewelose kinders gekyk. Joy, Ray, Hope en Joshua. Die oë wat oomblikke vantevore nog geblink het, was nou leweloos en het na die flenter ruite gestaar. Jacobus het nog geroggel, maar toe ek sy hand in myne neem, het dit slap geword.
“Ek weet nie hoe lank ek daar in die motor op die bebloede lyke gelê het nie. Ek weet nie wat ek alles in die tyd gedoen of gesê het nie. Maar een ding onthou ek baie goed: Ek het God vervloek! Ek het Hom vervloek omdat hy toelaat dat gewetenlose rowers my man en my kinders doodskiet. Soos reddelose diere kort voor Kersfees doodskiet. En Hy doen niks om dit te keer nie! Hy doen niks om te sorg dat daar vrede op aarde is en ’n welbehae in die hemel nie! Of skep Hy ’n welbehae daarin dat ’n pa en sy kinders sonder rede tereggestel word? Ek is van God verlate, Arrie, ek dink nie ek kan Hom vergewe dat Hy dit aan my gedoen het nie.
“En weet jy wat is die ergste? Die verdagtes het na sewe maande skotvry uit die hof gestap. Te min getuienis! En toe hulle verby my loop, het een die vermetelheid om my in die oë te kyk en te grynslag. Hulle het goed geweet wie hul slagoffers was. Dis hoekom ek swart dra. Om te rou, om my lewe om te rou omdat my man en my kinders onnodig vermoor is. En dis hoekom ek vyf swart katte het. Elke kat moet my aan hulle herinner. Aan my Jacobus, my Joy, my Ray, my Hope en my Joshua!
“Ek het ’n jaar probeer uithou, probeer aangaan, probeer leef, maar ek kon nie, want ek was dood. Dis toe dat ek begin soek het na ’n rustige plattelandse dorpie waar ek dalk weer heel kon word. Ek het gereken dalk is Gelukspoort die poort wat my weer na geluk sou neem. Maar as ek sien hoe word ek bespot, bejammer en openlik gehaat, lyk dit eerder of die poort van geluk finaal vir my gesluit is.”
Arrie kry met moeite ’n vraag deur sy toegetrekte keel geuiter: “En die offer van die kat dan?”
“Nee,” antwoord sy bitter, ek het nie ’n kat geoffer nie. Ek het die kat wat op een of ander manier bosluise opgetel op die wastafel in die agterplaas het, behandel. Ek het gesien hoedat Martha Volmoed my deur die ruie plante beloer het, maar ek het haar ignoreer. En nou is ek ’n heks wat offerandes aan die duiwel bring. Ek kan nie nog die verwerping van die dorp ook deurleef nie. Dis die einde van my pad hier in Gelukspoort. Ek kan nie meer nie, Arrie, die Here hoor my, ek kan nie meer nie!”
En toe bly sy stil. Arrie Johannes het ook nie woorde nie, hy hou haar net stywer vas en toe so bly sit.
Die sterre hang groot soos blink gevryfde borsspelde aan die hemelruim toe Arrie Johannes vroegaand Maria Blom se huis verlaat. Verbeel hy hom of is dit vanaand stiller as gewoonlik? Hy sidder by die gedagte dat dit die stilte voor die storm kan wees. Nee wat, probeer hy homself troos, ons dorpie se mense is meer bek as binnegoed. Hulle sal raas en blaas, dalk ’n oorlas van hulself maak, maar hulle sal nie iemand leed aandoen nie. Sy gemoed word deur iets anders oorheers: twyfel. Twyfel oor die sin van die lewe. Twyfel oor die rol wat God, wat jou onwrikbare geloof moet speel om die gebeure in Maria Blom se lewe te verstaan en te verwerk. Hoe kan die Skepper van lewe, die een wat Liefde is, stilswyend toekyk hoe menselewens vernietig word? Die lewens van die vermoordes, ja, maar ook van Maria Blom.
Hy voel weer hoe haar uitgeteerde skouers onder sy aanraking ruk en beef. En in sy hart stem hy met haar saam, sy leef nie meer nie. Asemhaal, ja, maar nie leef nie. Hy weet dat die mededeling van vandag hom vir die res van sy lewe mank sal laat loop.
Arrie Johannes raak heelwat later aan die slaap. Hy word wakker toe hy ’n gehamer aan sy voordeur hoor.
“Oom Arrie! Oom Arrie, oom moet kom kyk! Daar moeilikheid by die katvrou!”
Hy spring orent, pluk klere aan en hardloop na buite. Die straat wat vroeër so stil was, is nou vol mense.
“Here,” bid hy hardop, “wees die arme vrou genadig!” Hy kom uitasem voor die eenkant huisie in Harmoniestraat tot stilstand. Voor hom in die straat is Jonatan Dawidse en ’n hele klomp mans, vrouens en kinders. Hulle is met elke denkbare wapen toegerus: grawe, besemstokke, bakstene, klippe, tuinvurke en toue.
Hulle skreeu almal saam: “Kom uit, jou Satanis! Vanaand vrek jy en Satan!”
“Broeders en susters!” probeer Arrie Johannes bo die geraas pleit.
“Asseblief, in die naam van die Here smeek ek julle! Dink net hoe beangs moet die stomme mens nie nou wees nie? Gee my kans, ek sal met haar praat. Haar oortuig dat sy die dorp moet verlaat. Asseblief, moenie dat ons onskuldige bloed op ons hande kry nie?”
Dit wil lyk of hy tot hul deurdring, want daar daal ’n stilte oor die onrustige gepeupel neer.
Arrie loop na die huis, maar steek in sy spore voor die voordeur vas. Langs die deur is een van Maria se katte vasgespyker. Die bloed drup op die sementstoep.
Jonatan Dawids grynslag in die donkerte en mompel by homself: “Praat maar, jou ou hoogheilige Fariseër! Jy moenie dink ek het vergeet hoe jy my van die kerkraad laat skors het oor my kamtige misstappie met die meisie in my wyk nie. Jy’t mos gemeen om hoofouderling te wees maak van jou ’n soort godjie! Vanaand vrek jy en die katvrou.”
Agter hom begin die Dawids-bende weer bloeddorstig uitroep: “Kom uit, jou fokken Satanis! Vanaand vrek jy!”
Arrie skop die deur oop en gaan die donker vertrek binne. Sy hand soek-soek in die donker na die skakelaar en vind dit.
Maria Blom hang leweloos aan ’n tou om die dalkbalk van die sitkamer. Die bloed drup klewerig in ’n plas onder haar voete. Haar lyf is op talle plekke oopgekloof. Langs haar staan die leidster van die Sustersbond met ’n byl in die hande.
Arrie Johannes, die vrome kerk- en gemeenskapsmens kyk met ongeloof in sy oë na Martha Volmoed en vra: “Here-Here, Martha, hoe kon jy?”
“Sy het al gehang toe ek hier kom, maar jy … jy …” uiter sy skor.
Die volgende oomblik kloof die byl sy voorkop oop.
Twee dae later rapporteer Die Koerant oor die gebeure op Gelukspoort:
BISARRE PASSIEMOORD TREF RUSTIGE DORPIE
Inwoners van die rustige plattelandse dorpie, Gelukspoort, naby Oral, is geruk deur die bisarre selfmoord van twee bejaarde verliefdes. Volgens mev. Martha Volmoed (58), ’n bekende gemeenskapsleier, het die vermoorde mev. Maria Blom (56) sowat ses maande gelede haar intrek op Gelukspoort geneem. Daar het ’n verhouding tussen haar en een van die dorp se gesiene inwoners, mnr. Arrie Johannes (60), ontstaan.
Die verhouding het die gemeenskap geskok, want alle aanduidings dui daarop dat Blom ’n Satanaanbidder was wat gereeld katte vir die Prins van die Duister geoffer het.
Volgens die leier van ’n groep besorgde inwoners, mnr. Jonatan Dawids, het hulle vroeg Saterdagaand in die straat voor haar huis byeengekom om te bid en die bose geeste uit die dorp te verdryf. Hulle was veral besorg omdat daar, sedert haar koms, oral op die dorp duidelike agteruitgang ingetree het. Die steengroef wat ’n sleutelbedryf in die dorp is, het op ’n onverklaarbare wyse groot bestellings verloor en die kleinboere het ernstige skade gely weens lammervrektes.
Terwyl hulle voor die huis gebid het, het hulle gesien hoedat Blom ’n kat in haar agterplaas op ’n altaar offer. Die bebloede kat het sy later uitdagend en ten aanskoue van die drukgroep, teen haar voordeur vasgespyker. Met die aankoms van Die Koerant het die dooie kat steeds langs die deur gehang.
Die polisie vermoed dat die verhouding skeefgeloop het vanweë Blom se betrokkenheid by Satanisme, en Johannes, ’n gerespekteerde kerkleier, se afwysing daarvan. Johannes het vermoedelik die weduwee aan die balk in die huis se voorkamer opgehang en haar liggaam met die byl wat vir die offerande van die kat gebruik is, vermink.
Hierna het Johannes klaarblyklik nie kans gesien om die gevolge van sy daad te dra nie en homself op ’n bisarre wyse met die byl om die lewe gebring. ’n Passiemoord en -selfmoord het die polisie se segspersoon verklaar. Volgens die polisiewoordvoerder het Johannes op sy rug met die byl stewig in sy hande vasgeklem, gelê.
Daar heers ’n stille verslaenheid oor die gemeenskappie. Van die talle onuitgesproke vrae is: Wie was die heks wat Gelukspoort van sy geluk kom beroof het?
Lees ’n kort onderhoud met Elias P. Nel oor “Die heks van Gelukspoort” hier:
Korona-kortverhaalfees: Elias P. Nel oor “Die heks van Gelukspoort”
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar: