Elias P Nel praat met Naomi Meyer oor die nuwe organisasie ASEM, waarvan Elias die uitvoerende voorsitter is.
Elias, ek hoor van ’n nuwe organisasie in die Afrikaanse skrywersgemeenskap. ASEM is die akroniem. Waarvoor staan hierdie letters?
ASEM is die akroniem vir Afrikaanse Skrywers en Mentors.
As ek ASEM hoor, dink ek aan ’n vars bries. Ek dink aan nuwe lewe en suurstof. Ek dink ook aan die gebeure in die VSA, waar Eric Garner gesê het: “I can’t breathe.” Wat beteken die naam vir jou?
INDERDAAD!
............
ASEM wil ’n vars briesie vir die Afrikaanse skrywerskorps wees; nuwe lewe in publikasiegeleenthede vir skrywers, die byeenkomste van skrywers, en die groter Afrikaanse gemeenskap blaas. So ook ’n nuwe lewe (leeservaring) vir die lesers skep. ASEM wil hard en in geen onduidelike taal uitbasuin: ons haal ASEM, want ons LEWE!
............
ASEM wil ’n vars briesie vir die Afrikaanse skrywerskorps wees; nuwe lewe in publikasiegeleenthede vir skrywers, die byeenkomste van skrywers, en die groter Afrikaanse gemeenskap blaas. So ook ’n nuwe lewe (leeservaring) vir die lesers skep. ASEM wil hard en in geen onduidelike taal uitbasuin: ons haal ASEM, want ons LEWE! En ja, daar waar skrywers nie ASEM kry nie as gevolg van die wurggreep van kwynende publikasiegeleenthede (om verskeie en soms ook legitieme redes), om daardie behoefte innoverend te vervul. Ook waar die Afrikaanse skrywers en gemeenskap sukkel om asem te haal as gevolg van ons regering se drakoniese knie wat die lug uit ons longe pers, wil – NEE: MOET – ons suurstof wees wat lewe gee! ASEM moet dus ’n stem wees teen ongeregtighede, nie net vir die Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar ook vir die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap.
...........
ASEM moet dus ’n stem wees teen ongeregtighede, nie net vir die Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar ook vir die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap.
.............
Wie is die lede van die direksie en betrokkenes by hierdie nuutgestigte organisasie?
Hier is ons direksie:
Op ons nuwe Facebook-muur is daar talle skrywers wat hul belangstelling in ons organisasie getoon het en ons hoop/weet dat die getalle gaan groei namate ons projekte begin aanbied.
Wat is ASEM se hoofdoelstellings? En hoe het julle almal mekaar se pad gekruis en besluit: ja, dit is die organisasie wat ons wil stig?
ASEM wil ’n ruimte vir alle Afrikaanse skrywers wees. Laat ek dit onomwonde stel daar sal ook van tyd tot tyd interaksie met ander taalgroepe wees. In die tuiste wat ASEM bied, moet die gevestigde sowel as die aspirantskrywer ewe tuis voel. Die interaksie/kruisbestuiwing tussen gevestigde en opkomende skrywers is van kardinale belang vir beide. So leer die beginner en die kenner kry die geleentheid om sy/haar kennis te deel.
Die behoefte vir ’n organisasie waar alle skrywers tuis voel en bemagtig word, word reeds lank uitgespreek. Met die spesifieke fokus – nie die belangrikste en enigste fokus nie! – op bemagtiging, bied ASEM gevestigde skrywers om as mentors ’n onontbeerlike diens in die bemagtigingsproses te lewer. ASEM het juis ontstaan as gevolg van die noodroep van aspirantskrywers.
Is daar enige skrywers wat julle reeds raakgesien of geïdentifiseer het en saam met wie julle ’n pad wil stap? Ek wil ook vra: is daar jong skrywers wat dalk hier lees wat vir julle hul skryfwerk kan stuur, of kan hand opsteek en kennis maak en sê: ek wil graag kom kennis maak?
Soos genoem is daar intense belangstelling om meer oor ASEM se bedrywighede te wete te kom. Ons gaan hierdie behoeftes begin vervul sodra ons voldoende borgskappe bekom het. Hiermee saam wil ons met almal wat Afrikaanse skryfwerk en Afrikaans wil bevorder, vennootskappe en samewerkingsooreenkomste sluit en saam op weg gaan. Daar is enkele jong skrywers betrokke en ook hier sal daar ’n spesiale fokus wees om jong skrywers te betrek. Tans is ons besig om aan ’n projek vir beide laer- en hoërskole te werk wat ook na tersiêre instellings uitgebrei gaan word. Geleenthede vir ontmoeting, sowel as manuskripontwikkeling gaan van stapel gestuur word, sodra die broodnodige befondsing gevind word.
Onlangs het ek ’n artikel deur Valda Jansen geplaas, waar sy oor Diana Ferrus se rol in die Afrikaanse letterkunde skryf (hier is die toespraak, soos by ’n SBA-geleentheid gelewer). Dit is so dat wit, Afrikaanssprekende skrywers nie altyd bewus is van die uitdagings waarvoor skrywers van al die variëteite van Afrikaans te staan kom nie. Wat is jou gedagtes hieromtrent en het die stigting van ASEM enigiets hiermee te doen, al is dit ook net losweg?
ASEM is ’n inklusiewe ruimte vir alle skrywers waar geen diskriminasie op grond van kleur, geslag, godsdienstige oortuigings of seksuele oriëntasie geduld word nie. Hier gaan skrywers nie in kompartemente ingedeel word as gevolg van die taalvariëteit waarin hul skryf nie.
............
ASEM is ’n inklusiewe ruimte vir alle skrywers waar geen diskriminasie op grond van kleur, geslag, godsdienstige oortuigings of seksuele oriëntasie geduld word nie. Hier gaan skrywers nie in kompartemente ingedeel word as gevolg van die taalvariëteit waarin hul skryf nie.
...............
Ons moet juis nou DF Malherbe se 1924-stelling ’n werklikheid maak en wegbeweeg van die gewaande “Algemeen Beskaafde Afrikaans” en al die variëteite as deel van Afrikaans aanvaar, soos Malherbe dit bykans ’n honderd jaar gelede al bepleit het: “Wie op die terrein van ’n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink; die wye see, riviere, fonteine en syfergate …”
En dis ASEM se strewe om ’n TUISTE vir alle skrywers en alle taalvariëteite te wees!
Twee van jou eie jongste digbundels het onlangs die lig gesien. Watter pad het jy gestap om tot hier te kom, wat het op die roete verander sedert jy ’n jong skrywer was, en hoe dink jy kan jy dinge vir nuwelingskrywers vandag help verander?
Net vir duidelikheid, daar het vanjaar twee bundels onder my naam verskyn. In Mei het my omdigting van sekere bybelse tekste Die Jirre is my Wagter by Lux Verbi verskyn. In November het Naledi ’n versameling gedigte Woordenaars uitgegee. Woordenaars is die produk van ’n skrywerswerkswinkel wat deur Dagbreek Trust geborg is. Ander digters is gewerf en uit ’n totaal van net onder die 200 is 24 gekeur vir publikasie. Aangesien dit hoofsaaklik beginnerskrywers was, moes ek innoverend dink om die uitgewer te verseker dat die bundel wel sal verkoop. Ook was daar die strewe dat die digbundel so bekostigbaar moontlik aan veral ’n nuwe leserskorps beskikbaar gestel moes word. Weer eens het Dagbreek Trust nie teleurgestel nie en die kostes van die publikasieproses geborg. Intussen moes die bydraers by wyse van voorlesings in hulle eie gemeenskappe en op sosiale media die bundel bemark. Ten tye van die bekendstelling van die bundel was daar reeds meer as 50% van die eksemplare verkoop en betaal! Tans staan die totale verkope op net onder 80%!
Wat is ASEM se planne vir die jaar 2023 en verder?
ASEM beplan grensverskuiwende projekte vir 2023/24. Meer besonderhede sal op ’n latere stadium bekendgemaak word sodra die nodige borgskappe ontvang is. Indiwidue en organisasies wat meer oor ASEM en haar beoogde projekte te wete wil kom, is meer as welkom om met my in verbinding te tree: eliasp.nel@gmail.com; 072 482 8033.
Kommentaar
Ek's dankbaar vir die organisaie se stigting om weer lewe te gee aan skrywers wat skryf uit die hart, maar wie se werk ook goed genoeg is vir die boekemark.
Ek's dankbaar vir die stigting van ASEM; dit skep 'n platform vir skrywers soos ons wat vanuit die hart skryf, ons mense se stories.
Elke nuwe inisiatief vir die bevordering van inklusiewe Afrikaans noet bevorder word. Asem dra my stem. Verskillende pogings om veral Inheemse Afrikaanse Skrywers se werk te druk en versprei het reeds sukses behaal. Ons moet vertroue by jong skrywers kweek dat hul pogings met begrip van afkoms en deernis vir sukses hanteer sal word. Asem kan sekerlik ook help om die "Afrikaanse Taalfabriek" meer blootstelling te gee. Woorde en instellings soos ATM en LitNet moet ons moedersmelk vir Afikaans word.
Ek sal baie graag meet te wete wil kom oor ASEM.