Uit Woordenaars: wie of wat is jy?

  • 0

Hierdie gedig uit die bloemlesing Woordenaars en die klanopname word geplaas met vergunning van Naledi en die skrywer. Klik hier om die bloemlesing aan te koop.

Luister hoe Sandy Adams-Martinus "wie of wat is jy?" voorlees.

Op sommige Apple-toestelle mag dit nodig wees om te stop en die podsending weer te speel voordat dit werk. ’n Alternatiewe opsie: laai die Audiomack-toep af en luister na die podsending op die toep. Klik op die Audiomack-logo op die podsending hierbo om die toep af te laai.

wie of wat is jy?

donker tentakels skuif geruisloos nader
klouende vingers gryp stewig vas
wurgend pers hy elke asemteug
uit protesterende longe
angstig tas sy prooi
na bevryding
tevergeefs!
op hierdie kiem se pad
lê verwoesting lyke grafte
kreungeluide pyn lyding wanhoop
o Heer
te veel smart
die mensdom
       verswelg in wrede wurggreep
       wenend wreed oopgeskeurde menswees
die vryheid van gister
slegs ’n hersenskim
dit lê ver anderkant ons onthou
dis verby onherroeplik die verlede
die wêreld wankel
wie of wat is jy?

êrens vanuit die donker chaos
’n geruis
       “moenie bang wees nie
       hier is Ek
       by jou
       My onuitblusbare lig omvou jou”

die skynglans van son
breek granaatagtig oop en deur
       en jy 
       is vry
van pes en kiem
om dansend vrolikvry te leef!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top