|
Sêgoed van Elias P Nel “Ek sien myself as ’n skrywer en verpes enige verwysing na my velkleur. Daar is nog diegene wat hulleself as verlig beskou, maar wat die apartheidsterm gebruik om na ons as ‘kleurlingskrywers’ te verwys. Hierdie onderskeid wat daar tussen skrywers getref word, versterk die wanpersepsie dat die werk van niewit skrywers minderwaardig is.” (Die Burger, 26 Junie 2001) “Die Afrikaanse letterkunde is nog te geïsoleerd. Indien Afrikaans in Afrika wil oorleef, sal noodwendig nuwe beweegruimtes betree moet word.” (Die Burger, 26 Junie 2001) “En as ek deesdae by Verneukpan kom, gaan sit ek nog steeds lekker op die grond by die ooms en tannies en gesels. Met hulle is dit soos die gesegde: as iemand doodgaan, gaan ’n hele biblioteek van kennis tot niet.” (Rapport, 23 September 2001) “Dis tyd dat ons moue oprol en begin werk, eerder as om te kla. Eers as ons dit doen, sal ons nie meer met paranoia die Afrikaanse boek se dood om elke hoek en draai sien skuil nie.” (Volksblad, 5 April 2003) Beskou hy homself as ’n soort bewaarder van verhale wat andersins verlore mag gaan, wou Herman Wasserman weet: “Ja, ek ag dit my selfopgelegde taak om die deugde, die eksentriekhede, die soet en die suur van die lewe van die mense op te teken en dit aan die groter Afrikaanse gemeenskap bekend te stel. Die karakters waaroor ek skryf is meestal analfabete en word daarom met minagting bejeën. Met die toenemende werkloosheid en die ontvolking van die platteland bestaan die gevaar dat die ouwêreldse waardes verlore kan gaan.” (Die Burger, 26 Junie 2001) Elias P Nel, wat al 30 jaar besig is om die streekstaal van die Namakwaland neer te pen, sê: “Die stemlose mense kry stem deur my skrywes. Afrikaans is veelkantig en ons moet daai diversiteit nou uitbring. Ek glo as jy die taal kan praat, kan jy daarin skryf.” (LitNet, Woordfees 2022) “Alle mense, ook die ‘hofnarre’ – moet ’n ingeligte mening hê. Dit is nie ’n grap om mense te laat lag nie. Om dit te probeer doen sonder om jou gehoor – en hulle leefwêreld – te verstaan en te respekteer, is ’n belediging vir hulle.” (Lig, Desember 2009/Januarie 2010) Elias P Nel het in 2002 met Zelda Jongbloed gepraat oor waar die stem van bruin en swart Afrikaners in die taaldebat is: “Daar is goeie rede vir taal-apatie aan bruin kant. Aan die een kant van die spektrum staan die oorgrote meerderheid van die Afrikaanse spraakgemeenskap wat in ’n daaglikse stryd om oorlewing gewikkel is. Hier is Afrikaans se behoud nie die oorwegende prioriteit nie. Dit kan hulle dus nie skeel of ’n produk op ’n winkelrak in Engels bemark word nie.” (Rapport, 17 November 2002) Tydens die laaste lesing van Die Burger se lesingreeks op die KKNK van 2003 getiteld: “Die laaste (Afrikaanse) boek”: “Ek kry die gevoel dat ons dikwels by mekaar verbypraat, eerder as om met mekaar te praat. Ek kan met ’n redelike mate van sekerheid verklaar dat ons nog ligjare ver van die laaste Afrikaanse boek is. Mits die wil daar is om in Afrikaans te skryf, Afrikaanse boeke te publiseer, en om die boeke te koop, te lees en sinvol te bespreek.” (Volksblad, 5 April 2003) “Indien ons verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Afrikaanse kuns en kultuur aanvaar, moet ons toesien dat die Afrikaanse gemeenskap – veral daardie groeperinge wat nie deel was van die vorige bevoordeling van Afrikaans nie – hul regmatige deel van die koek kry.” (Volksblad, 5 April 2003) |
Gebore en getoë
Elias P Nel, of Jassie soos hy in die omgang bekend staan, is op 17 April 1954 op Verneukpan in die distrik Kenhardt gebore as die naasoudste van sewe seuns en een dogter. Sy ouers is Jan Cornelius Nel wat op 27 Julie 1926 gebore is en Sophia van Wyk wat op 14 September 1926 gebore is. Sy is op 30 Mei 1993 oorlede.
In 1968, toe Elias veertien is, verhuis die gesin na Kraaifontein, waar hy vandag nog bly. Hy begin sy skoolloopbaan op Verneukpan en matrikuleer aan die Hoërskool Kraaifontein.
Verdere studie en werk
Ná skool begin Elias werk as ’n meubelverkoopman en daarna gaan werk hy by die Wes-Kaapse Administrasie as ’n pakhuisbestuurder. Intussen studeer hy deeltyds en in 1989 verwerf hy sy BA-graad, asook sy honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland deur deeltydse studie. Vanaf 2001 is hy ’n klerk by die Paaie-afdeling in Bellville-Suid.
Hy gaan werk later as projekorganiseerder by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) in Kaapstad waar hy amper eiehandig verantwoordelik was vir die herlewing van die rieldans. Hy het die ATKV gevra om te help om dié danssoort te red. Hy het geld ontvang en in 2006 is die eerste rieldanskompetisie in die Paarl aangebied. Sewe groepe en 105 individue het aan hierdie eerste kompetisie deelgeneem. In 2015 was daar 82 groepe en 1230 individue.
Die Nuwe Graskoue Trappers is in 2015 na die 18de Internasionale Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste waar hulle etlike medaljes ingepalm het en as wêreldkampioene na Suid-Afrika teruggekeer het. Elias is in 2016 deur die ATKV gehuldig vir sy groot bydrae tot die herlewing van hierdie tradisionele dansvorm. Dit is een van sy gewildste projekte en, behalwe vir die twee jaar van die Covid-pandemie, word die Rieldansfees jaarliks aangebied.
Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake het in 2014/15 Elias P Nel vereer deur ’n toekenning aan hom te gee vir sy nasionale en internasionale bydrae op die gebiede van die kunste en kultuur, taal, erfenis, geografiese name, museums, biblioteke en argiewe.
Elias is die stigter en voorsitter van die hulpvereniging Vriende van Verneukpan, wat in die lewe geroep is om die nood van die mense in Verneukpan te verlig. Hy dien ook op die direksie van LAPA Uitgewers, asook op die raad van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl.
Elias is ’n baie gewilde rubriekskrywer in verskeie publikasies soos Volksblad, Die Burger en Taalgenoot. Ook tree hy gereeld op as storieverteller en was hy ook ’n mentor vir ongepubliseerde skrywers in die Sanlam-LitNet aanlyn skryfskool en in 2015 lei hy die Universiteit Stellenbosch se skeppende skryfwerksessie vir kontreiverhale.
Hy is getroud met Julia (’n nooi Engelbrecht van Nababeep en ’n onderwyseres), en hulle het drie seuns.
Aanvanklik publiseer Elias van sy verhale in die Tydskrif vir Letterkunde en in Rooi Rose. Van sy verhale word ook opgeneem in bloemlesings soos Indaba, Storie-sjêmpyn en Die stukke wat ons sny. Sommige verhale in Iets goeds uit Verneukpan? is in die storievertelprogram Sak Sarel! oor Radio Sonder Grense vertel.
Elias het juis sy Verneukpanstories neergeskryf omdat hy nie wou hê iemand anders moes kom en die stories opteken nie, vertel hy aan Hanlie Retief (23 September 2001): “Dis immers my mense, my stories. Ek het ’n eksemplaar van my boek by die skooltjie op Verneukpan gaan afgee. En omdat die meeste van die mense nie kan lees of skryf nie, het meester saans in die skoolsaal voorlesings uit die boek gehou.
“Ek kry nou nog hoendervleis as ek onthou hoe die antie of oom daar gesit het en hoor het: maar dis mý naam daai – al is dit ook ’n liegstorie wat verderaan vertel word. Dit gee ’n stem aan daardie mense wat net van dag tot dag bestaan. As klein seuntjie het ek by die groot ooms en anties gesit en tande tel en geluister na die stories.”
In 1998 word Elias P Nel se eerste bundel kontreiverhale by Tafelberg uitgegee onder die titel Iets goeds uit Verneukpan?
Albert Crafford het Verneukpan vir Rapport van 21 Maart 1999 geresenseer en hy meen dat ’n mens nie van daardie geweste af hoef te kom om hierdie verhale oor sy mense te waardeer nie: “Maar ’n boorling voel nader aan hierdie sout-van-die-aarde-mense wat op hulle manier, soos deur Nel weergegee, hul stories vertel. (…)
“In hierdie vertellinge is daar humor, aardsheid, deernis en taal nes dit gepraat word. Daar is karaktertekening sonder skroom of versiersuiker, soos net ’n Elias P Nel dit kan doen met ’n blik van binne af.”
Ook Henriette Grové (Beeld, 8 Maart 1995) is vol lof vir Iets goeds uit Verneukpan?: “In sy ‘Inleiding’ stel die skrywer Verneukpan en sy mense formeel aan ons voor. Dis die wêreld ook van sy jeug en hy vra pertinent (soos baie ander ook): ‘Kan daar iets goeds uit so ’n plek kom?’
“Dit klink nogal ietwat vergoeilikend, uit die hoogte selfs, so asof die plek en sy mense in beskerming geneem moet word. Ook ’n bietjie lerend. Daar is dan ook van die verhale wat wil, wil didakties word, soos wanneer die skrywer aan die einde van ’n storie bewus probeer saamvat met so ’n stukkie laaste wysheid.
“En dit lyk my glad nie nodig nie. Die karakters het geen ekskuus-tog-dat-ek-leef-verdediging nodig nie. Hulle lééf hulle aarde vol, al is daardie aarde armoedig en bitter-brak, ’n afgeleë oord vol vreemde spieëlings wat onkundige dorstiges na hulle einde kan lok.
“En dan hulle spraak. By die lees besef jy opnuut, of dit nou Brakfontein of Babilon is, ’n mens is ’n mens en die groot verskil tussen hom en die ander gewerwelde geskapenes is dat hy kan praat. En dit doen die mense van Swartkop (Verneukpan se dorpie) met oorgawe en smaak. Dis lospraat en liegpraat, grootpraat en vaspraat en in-’n-vou-druk-praat.
“Die praat is ’n fees vir die oor. Ou waarhede en wyshede kry ’n nuwe klank. Geykte frases en uitdrukkings word kop na sitvlak omgekeer. (…) En tog, deur die verdraaiings word die uitdrukkings paradoksaal opnuut waar, opvallend, konkreet, reëel en van toepassing binne die bepaalde situasie. (…)
“Vanweë die sterk aksent op die dialoog en die stel van karakters teenoor mekaar word verskillende stories dramas in die kleine. Mens kom teenoor mens te staan en soos hulle met mekaar praat, ontwikkel die vertelling tot ’n humoristiese, wrang slot, ander kere tot ’n onverwagse ommekeer. (…) Voorwaar ’n lekker lees. Jy ruik die vars grond.”
Ook Hennie Aucamp was beïndruk met Iets goeds uit Verneukpan? in Die Burger van 9 Desember 1998: “Verlede en hede word nie teenoor mekaar gestel in Iets goeds uit Verneukpan? nie. Tradisie, folklore, idioom leef voort in ook die eietydse verhale van Elias P Nel. Die kragtigste bindmiddel in dié verband is taal self; ’n taal so wild soos ’n riel of ’n uitskopseties, en so eerlik soos roosterkoek en karringmelk. Nel se bundel verhale is ’n kuur vir alle skrywers wat losgeraak het van die mondelinge tradisie. Met elke bladsy in Nel se bundel weet die leser opnuut hoe ‘eufories helder water skop’. Met Iets goeds uit Verneukpan? word in Bybelse trant ’n vraag gestel waarop hierdie leser geesdriftig sê: O ja, van ganser hart, ja.”
In 2001 word Mafoiing en ander gelofietjies gepubliseer. Elias vertel aan Elize Parker (Sarie, 19 September 2001) dat die titel verwys na bygelowe rondom komende onheil: “om mafoiing te maak beteken in Boesmanland om onheil nader te tart deur jou gedrag. Ek glo die gemak waarmee ek dié stories vertel, toegeskryf kan word aan my goeie geheue. Ek het grootgeword in die era toe kinders nog gesien en nie gehoor is nie. Die vertellings het my juis bygebly omdat ek meer moes luister as praat.
“Mafoiing is ’n boek wat praat wanneer dit hardop gelees word. Ek kry kritiek oor fonetiese spelling in my boeke. Ek pleit dat die lesers die boek hardop sal lees. Dan kom die verstaan makliker.
“Sulke streekverhale lees dikwels bedrieglik maklik, maar soms het ek net ’n enkele feit om mee te werk – soos ’n bygelofie – en daarrondom moet ek dan ’n verhaal bedink. Bygelofies is juis die spil van vele van die verhale.”
Hennie Aucamp was ’n groot aanhanger van Elias P Nel en sy verhale soos hy dit duidelik gestel het in sy resensie van Mafoiing (Die Burger, 9 Julie 2001): “Daar is skrywers van wie jy voel dat hulle altyd deel was van die literêre toneel. Só ’n skrywer is Elias P Nel. Sy debuutbundel het dadelik verder dekking gekry deur bloemlesings waarin verhale uit Verneukpan opgeneem is, en bowenal deur Jean Lombard se doktorale tesis oor die waterslang in mites en sprokies, veral in Afrika-verband.
“Dié dekking verklaar net ten dele hoekom Nel se stem so vertroud klink. Ek wil ’n verklaring waag: Sy stem sluit by ’n verteltradisie aan wat teruggevoer kan word na Jakob Platjie, en oor Langenhoven, Boerneef en Poon Meyers van Witwater se mense loop. Nel is, in die Jungiaanse sin, ’n oer-verteller, iemand wat geskool is in die idioom en oorlewerings van ’n taalgemeenskap wat oorwegend op die orale vertelling ingestel is. (…)
“Soms wil dit klink of Elias P Nel ’n bandopnemer gebruik, wat natuurlik ’n gewettigde skrywerpraktyk is, maar ek twyfel of dit die geval is. Hy ken die volkstaal tot in sy fynste geledinge toe. Ook is hy veel meer as net ’n optekenaar. In elke vertelling is ’n sentrale intelligensie wat tempo en ’n afwisseling van stemme beheer. Die dramatiek in ‘Die openbaring’ lê juis hierin dat die slotparagraaf in ’n neutrale stem vertel word. (…)
“Van die leser wat Mafoiing lees, word verwag wat van alle lesers van sprokies verwag word: ‘the willing suspension of disbelief.’ Hy word ryklik beloon, want hy is skielik in ’n wêreld waar alles moontlik, en dalk nog waar ook, kan wees: ’n Wêreld van towery, swartkuns, spoke.
“Dis juis die surrealistiese elemente in Mafoiing wat so boeiend is. Die vertelling ‘Die openbaring’ begin met drie openbarings wat nét so uit die Bybel en Jeroen Bosch kon gekom het. (…) Mafoiing van Elias P Nel is die Red Bull wat Afrikaans op die oomblik dringend nodig het. Dit laat die taal vlieg.”
Ampie Coetzee het in De Kat van Mei 2001 geskryf: “Elias Nel se nuwe bundel kortverhale is ’n voortsetting van die vertellings vanuit die gemeenskap van Verneukpan in Boesmanland. In die taal van die mense, en uit die hart van hulle kultuur.
“Dit gaan hier oor bygeloof, toordery, spoke. Miskien is dit die versinsels van liggelowiges en bygelowiges; maar miskien is dit ook die waarheid, wat hulle vir hulleself oor hulle wêreld versin het, is immers die waarheid waarvolgens hulle leef. (…)
“Dis nie net die vertellings en die verdigsels wat hier boei nie, dis ook die taal van die mense waarin dit vertel is. Nuwe on-standaardafrikaans. En woorde wat ons miskien nog nie so gehoor het nie, soos ‘miskierig’, ‘ongehoorsamig’, ‘harrelyfgeit’, ’n ‘gaajietrap-bokker’, ‘harrehoedjies’ (polisie), ‘klossie’ (‘closet’).
“Deur die – miskien onbewuste – aansluiting met die Dwaalstories van Marais het ons hier die voortsetting van ’n ou tradisie. Maar tegelyk is dit ook ’n uitbreiding van daardie ‘Boesmanstories’ – en ’n ryk toevoeging tot die register van die Afrikaanse letterkunde.”
In Beeld (22 Oktober 2001) was Cecile Cilliers die resensent en sy het haar bespreking só afgesluit: “Maar wat die leser van Mafoiing op die keper bybly, is nie die verhale of hulle inhoud nie, maar die manier waarop Elias P Nel met die taal omgaan. Dáárom word hy gelees, en hoort hy gelees te word – vir sy vrolike, lewendige, en bowe-al éérlike taalgebruik.”
Tien jaar ná die publikasie van Mafoiing word Elias P Nel se volgende bundel vertellinge Bek sonner brieke by Protea Boekhuis uitgegee. Die stories het vroeër in Taalgenoot, maandblad van die ATKV, as rubrieke verskyn, maar Pieter Strauss (Rapport, 2 Oktober 2011), wat ook ’n kontreiverhaalskrywer is, beskou hierdie humoristiese volksvertellinge nie as konvensionele rubrieke nie.
“Buiten die eerste, inleidende ‘Landskap vir my siel’ – waarin Nel sy hartsbetrokkenheid by dié deel van die Boesmanland en sy mense roerend bely – tree hy, as reële skrywer, op die agtergrond.
“En dan word hierdie as ’t ware ’n soort ‘uitstalkas’ vir die orale tradisie en die eiesoortige taalgebruik van Bel se sout van die aarde mense, meer spesifiek oom Goliat Tross, ‘een van Verneukpan se grootste spekskieters’. (…)
“Die taalgebruik wat Nel sy karakters in die mond lê, is immers al beskryf as ‘so wild soos ’n riel of uitskopseties, en so eerlik soos roosterkoek en karringmelk’. Voorbeelde hiervan is ook in sy nuwe bundel te kies en te keur. (…)
“Of dié bundel Nel se reputasie as kontreiverhaalskrywer van gehalte deurgaans gestand doen, en soos die lokteks op die agterplat dit wil hê, ‘’n moet vir die fynproewer’ is, is wel ’n perd van ’n ander kleur. Veral literêr-geskoolde lesers kan dalk meen van die ‘rubrieke’ doen veels te fasiel aan, dat die slot van die verhale nie bevredig nie, dat dit geyk of geforseerd is, of dat daarin ’n te didaktiese, selfs pedantiese toon te bespeur is. Werklik ernstige temas word nooit aangeroer nie.”
Joan Hambidge was in haar resensie in Volksblad (1 Oktober 2011) nie té beïndruk met Bek sonner brieke nie. En sy beskou haarself nie as die teikenleser van hierdie bundel nie, maar sy erken dat dit in die smaak van andere mag val – veral van taalkundiges wat baie plesier sal hê aan die taalverskynsels soos dit in Bek sonner brieke verskyn.
In Woord en Daad van Lente 2011 is Franci Greyling die resensent. En sy skryf as volg: “Alhoewel die vertellings kort is, sommige storielyne aan die yl kant is en daar soms op geykte grappies gesteun word, kan hierdie eenvoud bedrieglik wees. Met die dat die vertellings in PraatAfrikaans geskryf is, moet die leser fyn lees en die ore spits vir die eiesoortige dialek van die Boesmanland, want ‘hier word ’n Afrikaans gepraat wat so vars en koel is soos ’n gorra se waters’ (p 8). Die grootste bydrae van die bundel is dan ook in die besondere wyse waarop die mondelinge oorlewering en taalgebruik ontgin word.”
’n Volle elf jaar gaan verby voordat Elias se volgende boek, Die Jirre is my Wagter: Psalms en inkele annerlike tekse ytie Bywel yt, in 2022 deur Lux Verbi uitgegee word.
Op ’n vraag van Engela Duvenage (Lig, 7 Julie 2022) vertel Elias ietsie meer oor die inspirasie agter Die Jirre is my Wagter: “Sedert ek in die jare negentig van die vorige eeu begin het om my met die Boesmanlandse tongval van Gariepafrikaans besig te hou, was die begeerte altyd daar om die Bybel in die gebruiktaal van my grootwordjare op Verneukpan neer te pen. As gevolg van die piëteit, dit is die heilige verering wat ek – en ek glo baie ander gelowiges – vir die Woord het, het ek dit aanvanklik slegs in my kop ‘geskryf’.
“Eers in 2003, ná Hans du Plessis se transponering van die Bybelse teks in die omgangstaal van die Kalahari, het ek anders daaroor begin dink. Maar ek wou dit nie destyds doen nie, omdat dit myns insiens te veel na na-apery of beterweterige wedywering sou lyk. Sedert 2004 het ek Hans se werk, met sy toestemming, voorgedra.
“In 2017 het ek ’n laagtepunt in my lewe bereik, met drome, idees en beloftes wat nie wou realiseer nie. Bykans twee jaar lank het ek my eenkant gehou, en slegs op my vrou, ons seuns en ons kleinkinders gefokus. In 2020 blaai ek moedeloos deur die Bybel, op soek na antwoorde. En ek lees Psalm 6, met as opskrif in die 1933/1953-vertaling: ‘’n Boetepsalm in groot benoudheid’. My geestestoestand verhelder en ek begin met ’n intense lees van die psalms.
“Dit was toe dat die oorbekende Psalm 23 se ewigheidswaarde my opnuut tref. As ’n kind van die Noord-Kaapse skaapwêreld ken ek ’n trop skape of bokke, met iewers in die agtergrond ’n wagter, ’n oppasser. En ek besef: Wat is die Bybel anders as God, ons getroue Wagter, se bemoeienis met die mens? Een wat in Genesis begin met die vraag: ‘Mens, waar is jy?’ (Gen 3:9). Een wie se sorg soos ’n goue draad reg deur die Bybel loop.”
Elias het in Februarie 2020 aan Die Jirre is my Wagter begin werk en die eerste proewe is in Augustus 2021 aan Lux Verbi gestuur. Hy vertel verder aan Duvenage dat daar veral twee uitdagings was: “Die eerste was om die Bybelse milieu na dié van Verneukpan en die groter Boesmanland te transponeer. Dit was op sigself ’n half onbegonne taak. Maar die grootste uitdaging was ’n deurgaans konsekwente fonetiese spelling.”
Oor hierdie spesifieke Bybelse tema wat in een bundel verskyn, sê Elias aan Duvenage dat hierdie tekste vir hom van groot geestelike waarde is: “Dit bevestig die Here se Wagterskap, sy Oppassersrol, in my nietige lewe. Wanneer ek byvoorbeeld oor die verlore seun in die omdigte vorm lees, hoor ek my mamma en pappa praat, hoor ek hul vermanings in hierdie streektaal. Hier is ’n uittreksel:
“… want hierdie broer van jou was so goed soos doodt en nou lewe hy weer, hy was ve’loor-weg gewees en nou’t ons hom mos weer triggerkry!”
Elias dra die bundel nie net aan een persoon op nie, maar aan ’n hele paar. Sy redes daaragter sit hy aan Duvenage uiteen: “Ek dra eerstens die bundel op aan my Here God, wat my nou reeds 68 jaar lank oppas, ten spyte daarvan dat ek, soos in Koos du Plessis se lied, ‘elke afdraaipaadjie ken’. Daar is darem ook: ‘Elke keer het U my iewers kom haal …’ Daarvoor verdien die Here alle lof, eer en aanbidding. Altyd!
“Tweedens dra ek dit op aan die sprekers van dié besonderse streektaal, mense wat, jammer genoeg, ál minder word namate die ouer garde uitsterf. Die jonger geslag wat na omliggende dorpe en groter stede uitwyk, kontamineer die unieke spreektaal en bedreig ál meer die outentieke spreekwyse se voortbestaan.
“Laastens dra ek dit op aan my vrou Julia, my beste maat vir byna 45 jaar. Sy ondersteun my deur dik en dun.”
Dit is vir Elias baie belangrik om die gedigte in die Boesmanlandse tongval van Gariepafrikaans te skryf, aangesien streektaal nog steeds in vandag se tyd gemarginaliseer word en daar ’n stigma aan kleef. “My poging oor die afgelope 30 jaar om dié marginalisering en stigmatisering te bestry, sluit aan by die bekende D F Malherbe wat in 1924 gesê het: ‘Wie op die terrein van ’n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink: by die wye see van die lewende volkspraak, by riviere en spruite, by die fonteine en syferplekke van die volk se verre verlede …’ In my oë is die Boesmanlandse streektaal, vergeleke met die ander streekvariëteite, die syfergat of gorra wat die ontginning en die daaropvolgende bekendheid daarvan betref.
En dis tyd om deeglik van hierdie omgangstaal kennis te neem! Dis ryk en vindingryk. Daar is, byvoorbeeld, dubbele verkleining, soos ‘voëltjietjie’, ‘kossietjies’. En ‘interstrip’, my pa se geliefkoosde woord, is afgelei van die Engelse woorde ‘interfere’ en ‘disturb’. Dit word gebruik wanneer iemand jou pla, maar veral wanneer jy in die rede geval word.”
Elias sien homself nie as ’n vertaler van die Bybel nie. Hy is slegs besig “om ’n intertalige teks daar te stel, aangesien hierdie publikasie vanuit die een variëteit van Afrikaans na ’n ander variëteit van dieselfde taal oorgedra is.”
Sy doelwit met Die Jirre is my Wagter is “om die Woord van God op ’n ander manier aan te bied. Met die vurige bede dat lesers die ewigheidswaarheid daarin kan raaklees, dit wil sê God se voortdurende betrokkenheid in ons lewe.
“Die sekondêre doel is dat ek graag wil hê dat lesers nie streektaal as ’n kuriositeit of snaaksigheid moet bejeën nie; dat hulle dit sal omarm as deel van Afrikaans se groter geheel.
“Met respek: Afrikaans is inderdaad ’n huis met vele kamers. Prof Nico Koopman, vise-rektor aan die Universiteit Stellenbosch, het in sy praatjie na Die Jirre is my Wagter verwys as ‘’n evangelie vir menswaardigheid en diversiteit’.” (Lig, 7 Julie 2022)
In Kerkbode van 13 Julie 2022 skryf Rethie van Niekerk as volg oor Die Jirre is my Wagter: “In Die Jirre is my Wagter slaag Elias P Nel uitsonderlik goed in sy doelwit om ‘met die kyk deur ’n nuwe taalbril die oorspronklike inhoud weer nuut, fris en vars te maak, sodat die waarde hernieud ontdek kan word.’ In die Afrikaans van sy grootwordwêreld omdig hy gunstelingpsalms en ander bekende Bybeltekste, wisselend van Samuel, deur die Evangelies tot Romeine en Openbaring.
“Nel spreek in sy voorwoord die hoop uit dat hierdie omdigtings die leser juis dieper in die Skrifgedeeltes – en dan ook in gesprek met God – inneem. Die verrassende tongval kry dit inderdaad reg om ’n mens ou bekende tekste nuut, dikwels verrassend te laat hoor. Dit dwing jou om stadig te lees, jouself dieper in die teks in te dink.
“Die aardsheid van die geloof wat die Bybelteks verwoord, saam met die rykdom van die woordeskat en die Boesmanlandse idioom, laat geliefde Skrifgedeeltes treffend tuiskom. Die emosie van Psalm 30 word byvoorbeeld treffend verwoord: ‘nog net gistraand het ek in trane gesitte skrou / en vimore, vimore ka’ ek weer lekker plesierag lag!’ Die metafoor van Psalm 42 praat bekend met jou hart: ‘soos rooikop boerbok innie agtermarrae / virrie krippe mettie waters skrou en blêr, / so is my siel ok diepdoers na my God.’ In Spreuke kan jy die mense van die Noord-Kaap in jou gedagtes sien praat: ‘lyaard, hoe lank wil jy nog oenerie velkrosse lê / wannir wil jy ’n slag opstaan en ok lewe?’ (Spreuke 6).
“Nel staan in die tradisie van Adam Small en Hans du Plessis, maar bring ’n unieke, kosbare bydrae tot beide die omdigting van Skrifgedeeltes, asook die beligting van ‘die soepele diversiteit van Afrikaans’”.
In 1999 is Elias verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging, wat gestig is om beginnerskrywers uit voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe op die pad te plaas en Afrikaans sodoende oor die wye spektrum van alle Afrikaanspraters te laat práát.
In ’n onderhoud met Herman Wasserman (Die Burger, 26 Junie 2001) vertel Elias meer oor die stigting van die ASV: “Dit is gestig om skrywersbelange te bevorder, maar ook spesiale aandag aan skrywers uit histories benadeelde gemeenskappe te gee. Hierdie bemagtigingsaksie het ten doel om te werk sodat publikasies verteenwoordigend van die totale Afrikaanse skrywerskorps kan wees.
“Benewens ons maandelikse skrywersbyeenkomste waar daar op ’n verskeidenheid van sake gefokus word, hou ons ook gereeld skrywerswerksessies.”
Oor die meningsverskil onder die “voorheen benadeelde” skrywers was of daar so ’n onderskeid getref moet word, het Elias voorts gesê: “Ek dink nie dit gaan hier om ’n duidelike onderskeid te tref tussen die velkleur van skrywers nie, dit gaan eerder oor die gruwelike miskenning van sekere skrywers.”
En oor die verdeeldheid in die Afrikaanse taalgemeenskap sê hy: “Daar is ongelukkig nog ’n groot mate van verdeeldheid in die Afrikaanse taalgemeenskap te bespeur. Ek dink dit het grootliks te doen met die bewoë geskiedenis van ons land. Die wantroue, meerderwaardigheid en plain snobisme is van die wrang vrugte van apartheid wat ons nou pluk.
“Daar is goddank ’n groot mate van welwillendheid in die Afrikaanse gemeenskap om dié geskiedenis te herskryf. Dit gaan egter moeilik wees. Soos Christa van Louw haar uitgedruk het: ‘Daar is mense wat baklei om die naam gemmer op die houertjie terug te kry. Daar is ook mense wat nie eens die woord gemmer kan lees nie. Solank dié teenpole in die Afrikaanse gemeenskap bestaan, gaan daar botsende belange wees.”
Benewens die neerpen van stories uit Verneukpan se wêreld is Elias se ander liefde die Afrikaanse Skrywersvereniging: “Ek wil hom graag vertroetel, en laat groei, en deel in die grootwordvreugde.” (Rapport, 23 September 2001)
Met die jaarvergadering van die ASV in 2001 beland Elias pens en pootjies binne-in die spervuur toe een van die lede van die ASV voorstel dat hulle Alan Boesak moet nooi om die jaarvergadering toe te spreek, Elias het gemeen dat Boesak dalk meer mense sou trek, maar toe draai dit in ’n openbare en by tye rassistiese gekibbel.
Hanlie Retief skryf in haar onderhoud met Nel in Rapport (23 September 2001) dat Rachelle Greeff en Braam de Vries – albei lede van die ASV – “in die media hoog neus opgetrek het oor dié uitnodiging. E-posse het heen en weer gevlieg wat Nel letterlik in trane gehad het.”
Retief gaan voort: “En toe gebruik Boesak boonop die kans om kookwater uit te giet oor die koppe van ‘hoogheilige wit’ skrywers wat, sê hy, ‘oor ons (bruine mense se) ellendes en afsterwes geskrywe het asof hulle self by was en uit ons pyn en gebroke drome geld, faam en naam gemaak het’.”
Dit het vir Elias Nel baie ontstel, want hy moet probeer om die vrede tussen die twee kante te bewaar, maar “in die proses word hy gereduseer tot iets papperig en smeerbaar. En dit terwyl die ASV vir hom soos ’n eie baba is.”
“As jy uit Verneukpan kom, en iets soos die voorsitterskap kom oor jou pad, gryp jy dit met albei hande aan,” verduidelik hy aan Retief. “Tydens my voorsitterskap die afgelope twee jaar het dit merendeels fyntrap gekos om mense wat oor onbenullighede verskil, bymekaar te hou. Iets is nie pluis in die huis van die Afrikaanse skrywers nie. Want as jy ernstig is oor jou taal, gaan iets soos jou afkeer van ’n gasspreker, jou nie laat struikel nie.”
Vir hom was die hele kabaal een groot jammerte, want in die proses het daar belangrike dele van Boesak se toespraak heel verlore gegaan, soos byvoorbeeld die versoeningsrol wat Afrikaans kan speel en die Afrikaanssprekendes se bydrae tot die Afrika-renaissance.
In 2002, na drie jaar as voorsitter, tree Elias uit tydens die Afrikaanse Skrywersvereniging se jaarvergadering in Bloemfontein.
In 2007 was Elias P Nel weer in die kollig toe hy beswaar aangeteken het teen die toekenning van die Patrick Petersen-prys aan Willem Fransman jr wat op daardie stadium voorsitter van die ASV was. In ’n brief aan Die Burger (27 Oktober 2007) het Nel geskryf dat dit nie etiket is om die prys in ontvangs te neem as jy deel was van die paneel wat dit toegeken het nie.
Nel het verder geskryf: “’n Mens kan natuurlik enigiets van ’n groot deel van die huidige bestuur verwag, want die meeste van hulle is die spreekwoordelike vierkant in ronde gate – uit hul diepte. Baie van hulle is nie eens skrywers nie, terwyl ander nie eens weet wie Patrick Petersen was nie. (…)
“Indien Fransman nie meer in die bestuur was nie en ander mense het hom vereer, sou daar uiteraard nie besware kon wees nie. Maar van sy bestuurslede weet nie eens wie deel was van die paneel wat oor sy toekenning besluit het nie.
“Hoe gouer die ASV ontbind, hoe beter sal dit wees. Die ASV doen in ieder geval niks vir Afrikaanse skrywers nie en het nie ’n mandaat om namens die Afrikaanse skrywers te praat nie.”
Ná sy uittrede as voorsitter van die ASV skryf die skrywer Johnita le Roux in ’n brief aan Die Burger van 21 November 2002 as volg: “Die breër belange van Afrikaans is bevorder deur Elias Nel, wat pas as voorsitter van die ASV uitgetree het. Hy was daar om te dien, en nie om gesien te word nie.
“Klappe het hy wel gekry. Sommige voorheen bevoordeelde skrywers sê hy het nie na hulle omgesien nie. Uit eie geledere is hy verkwalik omdat hy as skrywer sy wêreld se mense laat praat het presies soos wat hulle dit so ongeveins doen.
“Maar Elias se vernaamste bydrae was dat hy potensiële skrywers wat voorheen buite gestaan het, help inkom het om hulle kosbare stories te kom vertel. Hy het publikasiegeleenthede beding vir beelde, klanke en kleure wat Afrikaans ’n wulpse riel deur die wingerde heen tot in Europa laat dans. Self het hy onvergeetlike karakters en hul fabelagtige stories laat boek word, en woorde soos ‘mafoiing’ van uitsterwing gered.
“Voorheen bevoordeeldes is gekoöpteer om beginnerskrywers, onder wie selfs pensioentrekkers, te help ontwikkel. Soms het dit na ‘afwikkel’ gevoel wanneer ’n kortverhaal 72 bladsye lank was, en het die helper begin wonder of sy nie met ’n gawe glimlag deur Elias Nel gemafoiing is nie.
“Maar só het weergalose geestesgoed op papier gekom, en is Afrikaans die bevoordeelde party. Dankie aan die heer Nel.”
Publikasies:
Publikasie |
Iets goeds uit Verneukpan? |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
0624037304 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Bakkies Bakoor |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798657014 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Mafoiing en annerlike gelofietjies/Mafoiings op Verneukpan |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
0624039382 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Bek sonner brieke |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9781869194604 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kortprosa |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Jirre is my Wagter: Psalms en inkele annerlike tekse ytie Bywel yt |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9780796322906 (sb) |
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi |
Literêre vorm |
Godsdienstige werke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Elias P Nel as samesteller:
- Boekbekendstelling: Woordenaars: ’n versameling nuwe Afrikaanse gedigte
- Nuwe woordtowenaars verskyn op die horison
- Woordenaars: ’n versameling nuwe Afrikaanse gedigte. Kaapstad: Naledi, 2022 [ISBN 9781776172603 (sb)]
- Wyngaard, Heindrich: ’n Nuwe asemteug vir Afrikaanse beginnerskrywers. LitNet, 11 November 2022
Elias P Nel as mede-samesteller:
- Palawer van die woord. Saamgestel deur Elias P Nel en Willem Fransman. Kaapstad: Afrikaanse Skrywersvereniging en !Xthorro Publikasies, 2003 (ISBN 0620305614)
’n Keur van artikels oor Elias Nel:
- ASV nie sterwend, sê Elias P Nel. Die Burger, 15 Oktober 2002
- Azar-Luxton, Grizéll: Bekendes se bestes. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 2001
- De Jager, Barbara: “Dit sal beter gaan met SA en Afrikaans as mense meer lag”. Die Burger.
- De Vries, Anastasia: Skrywers “dobber rond” ná stormagtige vergadering. Die Burger, 16 Julie 2002
- Elias P Nel
- Geen karkas te vind van “sterwende” skrywersunie. Beeld, 21 Oktober 2002
- Hendricks, Frank: Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P Nel. LitNet, 11 April 2014
- Hendricks, Frank: Name as regionale merkers in die prosa van Elias P Nel: ’n Linguisties-onomastiese verkenning. In: Taalkundige essays: ’n gerf uit die vroegskemer. African Sun Media, 2017
- “Kom vertel jou storie, die volk luister”. Volksblad, 13 Desember 2008
- Le Roux, Johnita: Elias Nel laat Afrikaans riel dans [brief]. Die Burger, 21 November 2002
- Merton, Millicent: Milborrow wou net leen. Die Burger, 15 Desember 2005
- Merton, Millicent: Nóg ’n digter van plagiaat beskuldig. Die Burger, 14 Desember 2005
- Meyer, Naomi: Kô ons riel: onderhoud met Elias P Nel. LitNet, 30 November 2011
- Myburgh, Melt: Heupvuur-vrae aan Elias P Nel. LitNet
- Nel kap doemprofete. Volksblad, 15 Oktober 2002
- Retief, Hanlie: Ná die Boesaksage voel Verneukpan se man … wel, verneuk. Rapport, 23 September 2001
- Schoeman, Le Roux: Nel deurkruis platteland om vertellers se stories te haal. Die Burger, 12 Maart 2009
- Sichel, Adrienne: Stamping up identities. Star, 19 April 2011
- Wasserman, Herman: Meerderheid stemme in Afrikaans steeds stil. Die Burger, 26 Junie 2001
’n Keur van artikels en rubrieke deur Elias P Nel:
- Adamsgeslag-onvermoë [rubriek]. Volksblad, 12 Julie 2000
- Advertensie en reaksie [rubriek]. Volksblad, 8 Maart 2000
- Afrikaans in die nuwe millennium [rubriek]. Taalgenoot, April 1999
- Alles net vir sensasie [rubriek]. Volksblad, 1 November 2000
- Armes en goeie Samaritane [rubriek]. Volksblad, 5 Junie 2001
- ASV moet eerder ontbind [brief]. Die Burger, 27 Oktober 2007
- ’n Bek sonder brieke [rubriek]. Taalgenoot, Julie/Augustus 2006
- Beste mense verdien beste [rubriek]. Volksblad, 24 April 2001
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 18 Desember 2000
- Bynes in die anner land [rubriek]. Taalgenoot, September 2006
- ’n Dans uit die voorste mores [rubriek]. Die Burger, 16 November 2006
- Deel Afrikaans vir lewe [rubriek]. Volksblad, 26 Januarie 2000
- Die laaste (Afrikaanse) boek? OuLitNet, Die Burger-Lesingreeks
- Die lewe se ashoop [rubriek]. Taalgenoot, Februarie 2008
- Die mishope van afstigting. OuLitNet, 2004
- Die Oujaarsdiens [rubriek]. Volksblad, 30 Desember 1999
- Die pantoffelregering [rubriek]. Volksblad, 24 Mei 2000
- Die verlore stad. LitNet, 24 November 2008
- Die wit waarheid [rubriek]. Taalgenoot, Mei 2009
- Dis spoke hierie! [rubriek]. Taalgenoot, Maart 2008
- Ek sê, encore [rubriek]. Taalgenoot, Mei 2006
- En nou, ’n Storiewerf [rubriek]. Volksblad, 3 Julie 2001
- Engels laat meester sweet [rubriek]. Volksblad, 22 September 1999
- Gevolge van onnodige pyn [rubriek]. Volksblad, 26 Augustus 1999
- Handdoek halfpad ingegooi [rubriek]. Volksblad, 11 Augustus 1999
- Die heks van Enkor [rubriek]. Taalgenoot, Julie 2007
- Die heks van Gelukspoort [kortverhaal]. LitNet, 26 Augustus 2020
- Hemelse paradys [rubriek]. Taalgenoot, Junie 2009
- Hoe gemaak met dié drome? [rubriek]. Die Burger, 23 Oktober 2001
- “Hoeka” hoeka al ou sê-ding [rubriek]. Volksblad, 6 Oktober 1999
- Humor om die kerk [rubriek]. Volksblad, 24 Januarie 2001
- Ja vir Woordfees [rubriek]. Die Burger, 10 Maart 2005
- Jan Bam en koelie rooioog [rubriek]. Volksblad, 15 Desember 1999
- Japie en Hendrik [rubriek]. Volksblad, 10 Januarie 2001
- Japie se “êrrempleim” [rubriek]. Volksblad, 7 Februarie 2001
- Jou lekker ding [rubriek]. Volksblad, 6 September 2000
- Kassief se wonderpil [rubriek]. Volksblad, 13 Februarie 2001
- Kinder: kroon of kruis? [rubriek]. Volksblad, 23 Augustus 2000
- Kom ons maak uit in Afrikaans [rubriek]. Die Burger, 11 Maart 2004
- Korona-kortverhaalfees: Elias P Nel oor “Die heks van Gelukspoort”
- ’n Landskap vir my siel [rubriek]. Taalgenoot, Mei 2005
- Langasem steel jou asem [rubriek]. Volksblad, 17 November 1999
- Lied wonder van ons bestaan [rubriek]. Die Burger, 18 November 2004
- Loerbroer en Bin Laden [rubriek]. Die Burger, 9 Oktober 2001
- Mense sonder mense [rubriek]. Volksblad, 27 Maart 2001
- Met die maan gepla [kortverhaal]. Tydskrif vir Letterkunde, 2003
- Met die maan gepla [rubriek]. Taalgenoot, Desember 2007/Januarie 2008
- Misverstand en gevolge [rubriek]. Volksblad, 10 Mei 2000
- Moenie jou naam laat val nie [rubriek]. Volksblad, 8 September 1999
- Mous die Ys word skeel [rubriek]. Volksblad, 1 Desember 1999
- Musiek en stories skep harmonie [rubriek]. Die Burger, 5 Mei 2005
- Nagmerrie van geweld [rubriek]. Volksblad, 28 Julie 1999
- Om te kus of nie in die nuwe SA [rubriek]. Volksblad, 17 Julie 2001
- Onderhoud met Hans du Plessis oor Karos orie dyne. Versindaba, 25 Junie 2012
- Oom Andries en die sleutel [rubriek]. Volksblad, 31 Julie 2001
- “Oom hoefie vir oom te warrie nie” [rubriek]. Volksblad, 28 Februarie 2000
- Oorie liefde [rubriek]. Taalgenoot, Februarie 2009
- Op pad na die groot versoening. OuLitNet, Skrywersberaad
- Opsetlike mense [rubriek]. Volksblad, 7 Junie 2000
- Ouderling en die hond [rubriek]. Volksblad, 30 Junie 1999
- “Partners change!” ou maat [rubriek]. Volksblad, 22 Mei 2001
- Pasop vir die paaiboelies! [rubriek]. Volksblad, 20 Oktober 1999
- Plesier in oorvol treine [rubriek]. Volksblad, 26 Julie 2000
- Preek oor ’n bobbejaan [rubriek]. Volksblad, 9 Februarie 2000
- Skeppingsdrang blom in dorre streke [rubriek]. Die Burger, 20 Mei 2004
- Skrywersgilde was anders as ASV wat wil bemagtig. Beeld, 11 Junie 2002
- Sleepsel agter sprinkaan [rubriek]. Volksblad, 28 Augustus 2001
- Slegasems [rubriek]. Taalgenoot, Mei/Junie 2010
- Soek navolgenswaardige mense nader aan huis [rubriek]. Die Burger, 26 April 2007
- Sonder menslikheid dans ons dood [rubriek]. Die Burger, 4 Mei 2006
- Spog oor swaarkry [rubriek]. Volksblad, 11 Januarie 2000
- ’n Sterk vertaling … [rubriek]. Volksblad, 13 Maart 2001
- Stories om die vuur gee sin, maak almal gelyk [rubriek]. Die Burger, 7 September 2006
- ’n Strewe na groter eenheid: Verwelkomingsrede, Nasionale beraad van die Afrikaanse Skrywersvereniging. OuLitNet, 5 November 1999
- Toe waai hy vir Boetie [rubriek]. Volksblad, 8 Mei 2001
- ’n Troppie spoke [rubriek]. Taalgenoot, April 2008
- Uncle Rhodes, hier loop hy! [rubriek]. Volksblad, 19 Junie 2001
- Verbeeldingsvlug straks rieldans-fees [rubriek]. Die Burger, 15 Julie 2004
- Vergeet om te vergeet [rubriek]. Volksblad, 14 Augustus 2001
- Verlange soos miswolk [rubriek]. Volksblad, 15 November 2000
- Verwelkomingstoespraak by die AJV van die Afrikaanse Skrywersvereniging, OuLitNet
- Vleis is kos vir mense [rubriek]. Volksblad, 22 Maart 2000
- ’n Voorslag hond [rubriek]. Taalgenoot, Oktober 2007
- Waan onder sprekers [rubriek]. Volksblad, 18 Oktober 2000
- Waar ’n wieldop veilig is [rubriek]. Volksblad, 14 Julie 1999
- Wanneer twee wêrelde bots [kortverhaal]. OuLitNet
- Waterslang vat vrou [rubriek]. Volksblad, 3 November 1999
- Wekroep vir Afrikaanses oopgevlek. Rapport, 4 Mei 2007
- Willem Jaars en dood [rubriek]. Volksblad, 9 Augustus 2000
- Witkopdonkie [kortverhaal]. OuLitNet
- Wolfskop-spookmeisie [rubriek]. Volksblad, 20 September 2000
- Wollie se krismis [rubriek]. Taalgenoot, Desember 2008/Januarie 2009
Elias P Nel se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2007-11-05 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Naandsê, Oom, ek sal graag u weereens wil ontmoet en so bietjie gesels oor die boek Bek sonder brieke. Dit klink 'n bietjie so na hoe ek op gegroei het...
Ek het mos ook voor u opgegroei daar in Kraaifontein.